Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 4/22 bl. 13-15
  • Wat hou die toekoms vir godsdiens in?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat hou die toekoms vir godsdiens in?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Ander godsdiensprobleem
  • Een van die teikens
  • Die aanval is ongeregverdig
  • Wat hou die toekoms in vir godsdiens?
  • Russe stel godsdiensvryheid op prys
    Ontwaak!—2000
  • ’n Lang regstryd eindig in ’n oorwinning!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Hoe godsdiens voortbestaan het
    Ontwaak!—2001
  • Die Sowjetaanval op godsdiens
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 4/22 bl. 13-15

Wat hou die toekoms vir godsdiens in?

GODSDIENS het op dramatiese wyse in die lande van die voormalige Sowjetunie herlewe. In Rusland alleen sê 50 persent van die bevolking nou dat hulle Ortodoks is, en miljoene is aanhangers van ander godsdienste. Islam, Judaïsme en Boeddhisme is onder dié wat die langste gevestig is, en Jehovah se Getuies het ook ’n lang geskiedenis daar.

Reeds in 1891 het verteenwoordigers van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies voor 1931 bekend gestaan het, Kisjinef, Rusland, (nou Tsjisinau, Moldowa) besoek. Daar het hulle vergaderinge saam met medegelowiges gehou. In 1928 het George Young, ’n spesiale verteenwoordiger van die Bybelstudente, met Sowjetamptenare in Moskou, Rusland, vergader om toestemming te kry om Bybellektuur in die Sowjetunie uit te gee. Later het die Getuies bekend geword weens die Sowjets se pogings om van hulle ontslae te raak.

Toe die Sowjetunie byna tien jaar gelede skielik ontbind is, het mense begin wonder: ‘Waarom het die Sowjets van godsdiens probeer ontslae raak?’ Baie wat dekades lank met ateïsme geïndoktrineer is, het nuuskierig geword oor wat godsdiens hulle moontlik kan bied. Het die Bybel, wat as verbode lektuur verbied is, dalk die antwoorde vir die probleme van die mensdom gehad? Die Russe het vir hulleself ondersoek begin instel.

’n Ander godsdiensprobleem

Omdat soveel mense in die Bybel begin belangstel het, het ’n ander soort godsdiensprobleem in die voormalige Sowjetunie ontstaan. Die Guardian van Londen, Engeland, het verlede jaar gesê: “Die ‘oorlog teen God’ is heel moontlik verby, maar net ’n dekade ná die vernederende val van die wêreld se eerste verklaarde ateïstiese staat, is dit dalk net die begin van ’n nuwe godsdienstige koue oorlog in Rusland.” Wat is hierdie sogenaamde godsdienstige koue oorlog waarna die koerant verwys?

Soos in ons vorige artikel genoem is, was die Russies-Ortodokse Kerk kop in een mus met die Sowjetleiers sodat hulle kon bly voortbestaan en voorregte kon ontvang. The Guardian beskryf hoe hierdie verhouding voortgesit word en verduidelik: “In die laaste 10 jaar het ons ook gesien hoe die kerk ’n ongemaklik hegte verhouding opbou met die grotendeels onhervormde staat waardeur dit voorheen onderdruk is, deur die Russiese regering gereeld te ondersteun (die Patriarg se steun van die oorlog in Tsjetsjnja), en in ruil daarvoor oefen hulle aansienlike politieke invloed uit.”

Die Los Angeles Times van 10 Februarie 1999 het die aandag gevestig op hoe die kerk politieke invloed uitoefen toe dit kommentaar gelewer het oor die Wet op Vryheid van Gewete en Godsdiensassosiasie. Die Los Angeles Times het gesê dat hierdie wet, wat in September 1997 deur die destydse president Boris Jeltsin onderteken is, “deur die Russies-Ortodokse Kerk bevorder” is. Die wet het die kerk voorkeurstatus gegee as ’n “tradisionele” godsdiens, saam met Islam, Judaïsme en Boeddhisme. Die wet het onder andere vereis dat godsdiensorganisasies in Rusland hulle weer laat registreer.

Die New York Times van 11 Februarie 1999 het berig dat “die Ortodokse Kerk aangehou het om druk op sy teenstanders uit te oefen” nadat die wet aangeneem is. Die Times het bygevoeg: “Verlede Augustus het Aleksis II, patriarg van die Russies-Ortodokse Kerk, daarop aangedring dat alle gelowe wat bekeerlinge maak, verbied moet word, veral dié wat mense van die ‘godsdienste van hulle voorvaders’ probeer weglok.” Sedertdien is pogings voortgesit om gelowe wat bekeerlinge maak, of sogenaamde proseliterende gelowe, te verbied, en dit het gelei tot wat as ’n “godsdienstige koue oorlog” beskryf is.

Een van die teikens

Jehovah se Getuies is een van die vernaamste teikens van die aanval wat deur die Russies-Ortodokse Kerk gelei word. Op 20 Junie 1996 het die aanklaer se kantoor in Moskou ’n hofsaak begin oorweeg wat deur ’n antikultusgroep, die Komitee vir die Beskerming van die Jeug Teen Valse Godsdienste, aanhangig gemaak is. Hoewel die saak herhaaldelik uitgestel is weens ’n gebrek aan bewyse van kriminele gedrag aan die kant van die Getuies, is dit elke keer weer voor die hof gebring.

Intussen het die Getuies die teiken van intense propaganda geword. Komsomolskaja Pravda, ’n Russiese koerant met ’n sirkulasie van 1 200 000, het in sy nommer van 21 November 1998 gesê: “Oor ’n tydperk van net twee jaar het die Russies-Ortodokse Kerk meer as tien boeke, brosjures en handboeke vrygestel wat aan die Jehoviste-gemeenskap ‘gewy’ is.” Waarom het die kerk hulle daarop toegespits om die Getuies se geloofwaardigheid aan te tas?

“Waarskynlik”, het Komsomolskaja Pravda verder gesê, “is dit hoofsaaklik omdat die organisasie se ledetal gedurende net die laaste sewe jaar tienvoudig toegeneem het, en die Russies-Ortodokse Kerk, soos enige hiërargiese organisasie, hou nie van mededingers nie.”

Vroeg in 1999 toe die hofsaak teen die Getuies weer voorgekom het, het dit wêreldwyd opslae gemaak. ’n Opskrif in die New York Times van 11 Februarie het gesê: “Moskou-hof oorweeg verbod op werk van Jehovah se Getuies.” Die artikel het gesê: “Die saak wat nou voor ’n siviele hof in Moskou verskyn en in ’n klein hofsaal verhoor word, word met groot belangstelling dopgehou deur godsdienstige en menseregtegroepe as die eerste betekenisvolle poging om die [Wet op Vryheid van Gewete en Godsdiensassosiasie] te gebruik om aanbidding te beperk.”

Ljoedmila Aleksejewa, president van die Internasionale Helsinki-federasie, het verduidelik waarom die Getuieverhoor met soveel belangstelling dopgehou word. Sy het gesê dat indien diegene wat Jehovah se Getuies probeer onderdruk “suksesvol is in hierdie saak”, hulle “maklik ander groepe sal aanval” wat ook as nietradisionele godsdienste geklassifiseer word. Die verhoor is egter weer eens tot 12 Maart 1999 uitgestel. Maar die volgende maand, op 29 April, het Rusland se Departement van Justisie ’n registrasiesertifikaat aan die “Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland” toegestaan.

Ondanks hierdie erkenning wat hulle van die regering ontvang het, duur aanvalle teen die Getuies en ander godsdiensminderhede in Rusland en ander voormalige Sowjetrepublieke voort. Lawrence Uzzell, direkteur van die Keston-instituut in Oxford, Engeland, het gesê dat “dit altyd die moeite werd is om Jehovah se Getuies dop te hou” omdat wat met hulle gebeur “as ’n vroeë waarskuwingsteken” dien. Trouens, noodsaaklike godsdiensvryhede vir tienmiljoene mense is op die spel!

Die aanval is ongeregverdig

In die eerste eeu het die hoofpriesters en ander godsdiensleiers Jesus se volgelinge vervolg (Johannes 19:15; Handelinge 5:27-33). Gevolglik is daar van die Christelike godsdiens gesê: “Waarlik, wat hierdie sekte betref, is dit aan ons bekend dat daar oral daarteen gespreek word” (Handelinge 28:22). Dit behoort dus nie verbasend te wees dat ware Christene vandag ook beswadder sal word nie, soos met Jehovah se Getuies die geval is.

Maar nadat hy die getuienis teen die vroeë Christene ondersoek het, het Gamaliël, die bekende Fariseër en onderrigter van die Wet, gewaarsku: “Moet julle nie met hierdie manne bemoei nie, maar laat staan hulle (want as hierdie plan of hierdie werk uit mense is, sal dit te gronde gerig word; maar as dit uit God is, sal julle hulle nie te gronde kan rig nie); anders kan daar miskien bevind word dat julle eintlik teen God stry.”—Handelinge 5:38, 39.

Hedendaagse kritici het Jehovah se Getuies ook al deeglik ondersoek. Wat het hulle gevind? Sergei Blagodarof, self ’n verklaarde Ortodokse gelowige, het in Komsomolskaja Pravda gesê: “Oor ’n tydperk van meer as honderd jaar kon nie ’n enkele land in die wêreld bewys dat lidmate van dié gemeenskap misdade gepleeg het of dat hulle bestaan onwettig is nie.”

Wat hou die toekoms in vir godsdiens?

Die Bybel praat van ‘suiwer godsdiens’ of ‘aanbidding wat rein en onbesmet is’. (Jakobus 1:27a; sien ook die King James Version.) Soos die vorige artikel gesê het, beskryf die Bybel die wêreldryk van valse godsdiens as ’n “groot hoer . . . met wie die konings van die aarde hoerery gepleeg het”. Hierdie simboliese godsdienshoer—“Babilon die Grote”—is “dronk . . . van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus”.—Openbaring 17:1-6.

Hoe goed pas hierdie beskrywing tog by godsdiens wat kop in een mus is met die politieke leiers van die wêreld met die doel om hulle eie bevoorregte posisie te behou! Maar die toekoms van hierdie groot simboliese godsdienshoer is verseël. “Haar plae”, sê die Bybel, sal “in een dag . . . kom: dood en verdriet en hongersnood, en sy sal heeltemal met vuur verbrand word, want Jehovah God, wat haar geoordeel het, is sterk”. Geen wonder die engel se waarskuwing is dringend nie: “Gaan uit haar uit . . . as julle nie ’n deel van haar plae wil ontvang nie”!—Openbaring 18:4, 7, 8.

Toe die dissipel Jakobus ‘suiwer aanbidding’ beskryf het, het hy gesê dit is “sonder vlek van die wêreld” (Jakobus 1:27b). Bowendien het Jesus Christus van sy ware volgelinge gesê: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Kan jy dus sien waarom Jehovah se Getuies weier om betrokke te raak by die verdorwe invloede van hierdie wêreld se politieke aangeleenthede? Hulle doen dit omdat hulle geheel en al vertrou op die Bybel se belofte: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.

[Prente op bladsy 15]

Die verhoor in Februarie 1999 in Moskou. Die verdediging (links), die regter (middel) en die aanklaer (regs)

[Prent op bladsy 15]

Die Bybel beskryf die toekoms van alle godsdienste

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel