Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 12/8 bl. 4-7
  • Hoe het Jesus gelyk?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe het Jesus gelyk?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat die sekulêre geskiedenis sê
  • Die Bybel en Jesus se voorkoms
  • Jesus nie tingerig nie
  • Is sy voorkoms belangrik?
  • Hoe het Jesus regtig gelyk?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Hoe het Jesus gelyk?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wie was Jesus Christus?
    Ontwaak!—1998
  • “Dáár is die mens!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 12/8 bl. 4-7

Hoe het Jesus gelyk?

DIE sekulêre geskiedenis se getuienis oor hoe Jesus gelyk het, word in ’n groot mate deur verskeie faktore beïnvloed. Dit het daartoe gelei dat hy op uiteenlopende maniere in kunswerke uitgebeeld is.

Twee faktore is die kultuur van die land en die tydvak waarin die kunswerk gedoen is. Hoe Jesus uitgebeeld is, is boonop beïnvloed deur die godsdiensopvattings van die kunstenaars en diegene wat hulle die opdrag gegee het.

Deur die eeue heen het bekende kunstenaars soos Michelangelo, Rembrandt en Rubens baie aandag op Christus se fisiese voorkoms gevestig. Hulle werke, wat dikwels met simbolisme en mistisisme versier is, het ’n groot invloed gehad op die algemene begrip van hoe Jesus gelyk het. Maar waarop was hulle interpretasies gebaseer?

Wat die sekulêre geskiedenis sê

Kunswerke wat dateer uit die tyd voor die Romeinse keiser Konstantyn, wat van ongeveer 280 tot 337 G.J. gelewe het, beeld Jesus dikwels uit as ’n jeugdige “Goeie Herder” met óf kort hare óf lang krulhare. Maar die boek Art Through the Ages sê hiervan: “As ’n tema kan die Goeie Herder teruggevoer word deur [heidense] Grieks-Argaïese tot Egiptiese kuns, maar hier word dit die simbool van die lojale beskermer van die Christenkudde.”

Met verloop van tyd het hierdie heidense invloed selfs duideliker geword. “Jesus”, voeg die boek by, “kan maklik geïdentifiseer word met die bekende godhede van die Mediterreense wêreld, veral Helios (Apollo), die songod [wie se stralekrans later aan Jesus en toe aan die “heiliges” gegee is], of sy verromeinste oosterse eweknie, Sol Invictus (die Onoorwonne Son).” In ’n praalgraf wat onder die St. Pieterskerk in Rome ontdek is, word Jesus in werklikheid uitgebeeld as Apollo “wat die perde van die sonstrydwa deur die hemele dryf”.

Hierdie jeugdiger gestalte was egter van korte duur. Adolphe Didron sê, in sy boek Christian Iconography, wat gebeur het: “Die voorkoms van Christus, wat eers jeugdig was, word van eeu tot eeu ouer. . . namate die Christelike godsdiens self ouer word.”

’n Dertiende-eeuse teks wat glo ’n brief is van ’n sekere Publius Lentulus aan die Romeinse Senaat gee ’n beskrywing van Jesus se voorkoms en sê dat sy “hare die kleur van onryp haselneut [ligbruin] was en glad was tot amper oor sy ore, maar van die ore af het hy ietwat donkerder lokke met meer glans gehad wat golwend oor sy skouers was; en met ’n middelpaadjie . . . , ’n vol baard die kleur van sy hare, nie lank nie, maar ’n bietjie gesplits by die ken; . . . die oë grys . . . en helder”. Hierdie onjuiste beskrywing het later baie kunstenaars beïnvloed. “Elke tydperk”, sê die New Catholic Encyclopedia, “het die soort Christus geskep wat dit wou hê.”

Wat waar van elke tydperk was, was ook waar van rasse en godsdienste. Godsdienskunswerke van die sendingvelde van Afrika, die Amerikas en Asië beeld die Christus van die Weste af met lang hare; maar soms het hulle hom die “gelaatstrekke van die inboorlinge” gegee, sê die ensiklopedie.

Die Protestante het ook hulle kunstenaars gehad, en hulle het Christus se voorkoms op hulle eie manier uitgebeeld. F. M. Godfrey sê in sy boek Christ and the Apostles—The Changing Forms of Religious Imagery: “Rembrandt se tragiese Christus is ’n uitbeelding van die Protestantse gees: droewig, bleek, ernstig, . . . ’n beeld van die selfondersoekende, selfverloënende Protestantse siel.” Dit word weerspieël, sê hy, in “die tengerheid van Sy liggaam, die selfverloëning van die vlees, die ‘eenvoud, aandoenlikheid en plegtigheid’ waarmee [Rembrandt] die Christenepos voorgestel het”.

Maar soos ons nou sal sien, is die tingerige, verfynde, treurige Christus met ’n stralekrans en lang hare, wat dikwels in die Christendom se kunswerke voorkom, nie akkuraat nie. Dit is in werklikheid nie naastenby die Jesus van die Bybel nie.

Die Bybel en Jesus se voorkoms

As “die Lam van God” was Jesus sonder gebrek; hy was dus ongetwyfeld ’n aantreklike man (Johannes 1:29; Hebreërs 7:26). En hy het beslis nie permanent die droefgeestige voorkoms gehad wat hy in volkskuns gegee is nie. Hy het weliswaar baie angswekkende oomblikke in sy lewe ondervind, maar wat sy algemene geaardheid betref, het hy sy Vader, “die gelukkige God”, volmaak weerspieël.—1 Timoteus 1:11; Lukas 10:21; Hebreërs 1:3.

Het Jesus lang hare gehad? Net Nasireërs moes nie hulle hare sny of wyn drink nie, en Jesus was nie ’n Nasireër nie. Sy hare was dus ongetwyfeld netjies gesny soos dié van alle ander Joodse mans (Numeri 6:2-7). Hy het ook wyn met matigheid geniet wanneer hy in ander se geselskap was, en dit ondersteun die gedagte dat hy nie ’n vreugdelose mens was nie (Lukas 7:34). Trouens, hy het deur middel van ’n wonderwerk wyn gemaak by ’n bruilof in Kana in Galilea (Johannes 2:1-11). En hy het blykbaar ’n baard gehad, wat gestaaf word deur ’n profesie aangaande sy lyding.—Jesaja 50:6.

Wat van Jesus se velkleur en gelaatstrekke? Dit was waarskynlik Semities. Hy sou hierdie gelaatstrekke van sy moeder Maria geërf het, wat ’n Jood was. Haar voorouers was Jode, van Hebreeuse afkoms. Jesus sou dus waarskynlik ’n velkleur en gelaatstrekke gehad het wat kenmerkend van Jode is.

Selfs tussen sy apostels was Jesus fisies waarskynlik nie opvallend anders nie, want Judas moes hom met ’n identifiserende soen aan sy vyande verraai. In ’n skare kon Jesus dus maklik onopsigtelik bly. En hy het, want by ten minste een geleentheid het hy onopgemerk van Galilea na Jerusalem gereis.—Markus 14:44; Johannes 7:10, 11.

Maar party maak die gevolgtrekking dat Jesus tingerig moes gewees het. Waarom sê hulle dit? Om maar een ding te noem, hy het hulp nodig gehad om sy folterpaal te dra. Hy was ook die eerste een wat gesterf het van die drie manne wat aan pale genael is.—Lukas 23:26; Johannes 19:17, 32, 33.

Jesus nie tingerig nie

In teenstelling met tradisie beskryf die Bybel Jesus nie as tingerig of swak nie. Dit sê eerder dat hy selfs as ’n jeugdige “toegeneem [het] in wysheid en in fisiese groei en in guns by God en die mense” (Lukas 2:52). Hy was amper 30 jaar lank ’n timmerman. Dit is nie ’n beroep vir iemand wat klein of swak gebou is nie, veral nie in daardie tyd toe daar nie moderne, arbeidbesparende masjinerie was nie (Markus 6:3). Jesus het ook die beeste, die skape en die geldwisselaars uit die tempel gedryf en die tafels van die geldwisselaars omgekeer (Johannes 2:14, 15). Dit dui ook op ’n manlike, sterk persoon.

Tydens die laaste drie en ’n half jaar van sy lewe op die aarde het Jesus gedurende sy predikingsreise honderde kilometers ver geloop. Tog het die dissipels nooit voorgestel dat hy ‘’n bietjie rus’ nie. Jesus het eerder vir hulle, van wie party geharde vissermanne was, gesê: “Kom julle alleen na ’n eensame plek en rus ’n bietjie.”—Markus 6:31.

Trouens, “die hele evangeliese verhaal”, sê M’Clintock en Strong se Cyclopædia, “toon dat [Jesus] liggaamlik gesond en sterk was”. Waarom het hy dan hulp nodig gehad om sy folterpaal te dra, en waarom het hy gesterf voor die ander wat saam met hom aan die pale genael is?

Een sleutelfaktor is uiterste benoudheid. Toe die tyd vir Jesus se teregstelling nader gekom het, het hy gesê: “Ja, ek het ’n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word ek totdat dit volbring is!” (Lukas 12:50). Hierdie benoudheid het “sielsangs” geword gedurende sy laaste nag: “Hy het in sielsangs geraak en voortgegaan om nog ernstiger te bid; en sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val” (Lukas 22:44). Jesus het geweet dat die mensdom se vooruitsig op ewige lewe afgehang het van sy onkreukbaarheid tot die dood toe. Wat ’n verantwoordelikheid om te dra! (Matteus 20:18, 19, 28). Hy het ook geweet dat hy as ’n ‘vervloekte’ misdadiger deur God se eie volk tereggestel sou word. Hy het hom gevolglik gekwel oor die feit dat dit oneer op sy Vader kon bring.—Galasiërs 3:13;Psalm 40:7, 8;Handelinge 8:32.

Nadat hy verraai is, het hy die een wreedheid na die ander verduur. In ’n skynverhoor wat lank ná middernag gehou is, het die vernaamste amptenare in die land hom bespot, op hom gespoeg en hom met hulle vuiste geslaan. Vroeg die volgende oggend is nog ’n verhoor gehou om ’n skyn van wettigheid aan die nagverhoor te gee. Daar is Jesus deur Pilatus ondervra; toe deur Herodus, wat saam met sy troepe die spot met hom gedryf het, en toe weer deur Pilatus. Uiteindelik het Pilatus hom laat gesel. En dit was nie gewone lyfstraf nie. The Journal of the American Medical Association sê van die Romeinse gebruik van geseling:

“Die instrument was gewoonlik ’n kort sweep . . . met etlike enkel of gevlegte leerriempies van verskillende lengtes, waaraan klein ysterballetjies of skerp stukkies skaapbene plek-plek vasgeknoop is. . . . Terwyl die Romeinse soldate met al hulle krag herhaaldelik op die slagoffer se rug geslaan het, het die ysterballetjies diep kneusplekke veroorsaak, en die leerriempies en skaapbene het in die vel en die weefsel onder die vel ingesny. Dan, terwyl die geseling voortgeduur het, het die skeurwonde tot in die onderliggende skeletspiere ingeskeur en bewende flenters bloeiende vlees veroorsaak.”

Jesus se lewenskrag het dus afgeneem lank voordat hy ingegee het onder die gewig van die paal wat hy gedra het. Trouens, The Journal of the American Medical Association het gesê: “Die liggaamlike en verstandelike mishandeling deur die Jode en die Romeine, asook die gebrek aan voedsel, water en slaap, het ook tot sy algemeen verswakte toestand bygedra. Selfs voor die eintlike kruisiging was Jesus se liggaamlike toestand dus ten minste ernstig en moontlik kritiek.”

Is sy voorkoms belangrik?

Van Lentulus se valse skriftelike voorstelling tot die werke van bekende kunsmeesters tot moderne gebrandskilderde vensters lyk dit of die Christendom bekoor word deur wat die oë sien. “Die besondere evokatiewe krag van die beeld van Jesus Christus moet bewaar word”, het die Aartsbiskop van Turyn, bewaarder van die omstrede Lykkleed van Turyn, gesê.

Maar God se Woord laat doelbewus sulke “evokatiewe” besonderhede oor Jesus se voorkoms uit. Waarom? Dit sou waarskynlik die aandag aflei van dit wat ewige lewe beteken—naamlik, Bybelkennis (Johannes 17:3). Jesus self—ons voorbeeld—‘sien’ of beskou nie “mense se uiterlike” as belangrik nie. (Matteus 22:16; vergelyk Galasiërs 2:6.) Om Jesus se fisiese voorkoms te beklemtoon terwyl daar geen melding daarvan in die geïnspireerde Evangelies is nie, sou in stryd wees met die hele gees daarvan. Trouens, soos ons in die volgende artikel sal sien, lyk Jesus nie eers meer soos ’n mens nie.a

[Voetnoot]

a In Bybelstudie is dit natuurlik nie verkeerd om prente te gebruik waarin Jesus voorkom nie. Sulke prente verskyn dikwels in die Wagtoringgenootskap se publikasies. Geen poging word egter aangewend om dit ’n mistieke betekenis te gee, die kyker te bekoor of onskriftuurlike begrippe, simbole of verering te bevorder nie.

[Prente op bladsy 7]

Die tingerige, bleek Christus soos hy deur kunstenaars in die Christendom uitgebeeld word, teenoor ’n voorstelling van Jesus wat op Bybelverslae gebaseer is

[Erkenning]

Jesus preek by die See van Galilea, deur Gustave Doré

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel