Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 12/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Reënwoude aan die verdwyn
  • Vroue en hartsiekte
  • Gesinsverbrokkeling in Bolivia
  • Die neutrino het massa
  • Antieke nagemaakte klip
  • Voorsorgmaatreëls terwyl jy kosmaak
  • Moenie net die kinders stuur nie
  • ’n Blyk van liefde?
  • Musiek het ’n uitwerking op kopers
  • El Niño se goeie kant
  • Pogings om lidmate terug te lok
  • Wat is El Nino?
    Ontwaak!—2000
  • Die aarde se kwynende hulpbronne
    Ontwaak!—2005
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1996
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 12/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Reënwoude aan die verdwyn

Die Amasonereënwoud is teen ’n onrusbarende tempo aan die verdwyn. In elk van die afgelope drie jaar het 1,9 miljoen hektaar verlore gegaan, wat gelykstaande is aan ongeveer “sewe voetbalvelde per minuut”, berig die tydskrif Natural History. Nadat die waardevolle bome afgekap is, word die oorblywende plantegroei gewoonlik afgebrand om plek te maak vir landbou. Maar “wanneer bome en ander plante verbrand word of deur mikrobes ontbind word, stel hulle groot hoeveelhede koolstofdioksied, metaan en distikstofoksied in die atmosfeer vry, wat die kweekhuiseffek vergroot”. Die gevolg van hierdie vrystelling van gasse kan “gelyk wees aan die vernietiging van ’n bykomende 1 tot 3 miljoen acres [0,4 tot 1,2 miljoen hektaar] reënwoude elke jaar”, sê die tydskrif.

Vroue en hartsiekte

Tot in die sestigerjare was hartsiekte in Brasilië hoofsaaklik ’n gesondheidsprobleem onder mans, berig die tydskrif Veja. Maar dinge het begin verander toe vroue deel van die arbeidsmag geword het. Toe werkende vroue aan dieselfde “spanning, rokery en kitskosdiëte” as mans blootgestel is, het meer vroue hartsiekte ontwikkel. Hoewel sommige meen dat vroue ’n mate van hormonale beskerming teen koronêre probleme het, “begin die hormonale beskerming ná die ouderdom van 35 afneem en is die risiko vir vroue dan net so groot as vir mans”, sê die tydskrif. In 1995 het twee keer soveel Brasiliaanse vroue aan hartaanvalle gesterf as aan borskanker en baarmoederkanker tesame.

Gesinsverbrokkeling in Bolivia

Meer as 70 persent van Boliviane leef in armoede, berig die Bolivian Times. Gevolglik “verlaat [baie kinders] hulle gebroke gesin om in die potensieel wreder omgewing van die straat te leef”. Daar begin hulle kokaïen en inasemingsmiddels soos verdunningsmiddels en gom gebruik. Na raming word 88 persent van die dwelms in Bolivia deur jeugdiges tussen die ouderdomme van 5 en 24 gebruik. Onwettige dwelmgebruik het dus gedurende die afgelope 15 jaar met ongeveer 150 persent toegeneem. Volgens die Times “beskou baie die verbrokkeling van die tradisionele gesinstruktuur as ’n grondoorsaak van hierdie toename”.

Die neutrino het massa

Die neutrino is ’n piepklein subatomiese deeltjie wat geen elektriese lading het nie, byna teen die spoed van lig beweeg en baie selde op enige soort materie reageer. Na bewering kan neutrino’s maklik regdeur die aarde skiet sonder om teen ’n enkele atoom te bots. Hierdie ontwykende deeltjies het nietemin onlangs internasionaal die aandag getrek toe wetenskaplikes by Takajama, Japan, aangekondig het dat hulle bevind het dat die neutrino wel massa het. Aangesien die heelal van neutrino’s wemel, voer sommige wetenskaplikes aan dat hulle gesamentlike massa dalk genoeg massa by die heelal voeg om die uitdying daarvan te vertraag.

Antieke nagemaakte klip

Argeoloë het die eerste bewyse van mensgemaakte klip ontdek in Masjkan-sjapir, ’n antieke stad waarvan die ruïnes in die suidelike deel van die hedendaagse Irak is. Geoloë en argeoloë sê dat die klip gemaak is deur slyk uit die Tigris- en Eufraatrivier tot smeltpunt te verhit en dit dan stadig te verkoel “om ’n klipharde blok te maak wat soos ’n soort vulkaniese rots lyk en basalt genoem word”, berig The New York Times. Daar was ’n tekort aan natuurlike boumateriaal in die gebied, en daarom is nagemaakte basalt “blykbaar in redelike groot hoeveelhede as ’n plaasvervanger vir die natuurlike basalt gemaak”. Die mensgemaakte klip is sowat 4000 jaar gelede gebruik om Masjkan-sjapir te bou.

Voorsorgmaatreëls terwyl jy kosmaak

Van 1990 tot 1994 was die algemeenste doodsoorsaak onder vroulike brandwondpasiënte in die Sumner Redstone Brandwondeenheid by die Massachusetts Algemene Hospitaal klere wat aan die brand geslaan het terwyl die slagoffer kosgemaak het, sê Tufts University Health & Nutrition Letter. Die slagoffers was dikwels vroue wat in hulle sestigerjare of ouer was en wie se lospassende moue oor ’n stoof se vlam gehang het terwyl hulle ’n teepot probeer bykom het. Die volgende wenke is gegee om mense ernstige brandwonde te help voorkom. Terwyl jy kosmaak, (1) moet jy nie ’n kamerjas of ander lospassende klere dra nie, (2) moet jy wanneer moontlik die voorste brander gebruik om die moontlikheid te verklein dat jy brandwonde sal opdoen terwyl jy strek om potte en panne by te kom en (3) moet jy vuurvaste klere dra.

Moenie net die kinders stuur nie

Toe ’n graaddrieleerling in ’n godsdiensonderrigklas gekla het dat daar soveel reëls vir kinders is, maar niks vir grootmense nie, het die onderwyseres die klas gevra om hulle eie Tien Gebooie vir volwassenes neer te skryf. Volgens die Duitse Katolieke weekblad Christ in der Gegenwart was die meeste kinders besorg oor goedheid, vrede, regverdigheid, eerlikheid en waarheidliewendheid. Een kind se lys het so gelyk: “1. Moenie onregverdig wees nie. 2. Moenie so baie met ons raas nie. 3. Moet ons nie aanjaag nie. 4. Moet ons nie altyd pla nie. 5. Moenie vir ons lag nie. 6. Moet ons nie dwing nie. 7. Erken af en toe dat ons reg is. 8. Moenie julle eie reëls maak nie. 9. Kom oor die weg met mekaar. 10. Gaan self kerk toe, en moenie net die kinders stuur nie.”

’n Blyk van liefde?

“Vir jong mans gaan liefde en seksuele beskikbaarheid hand aan hand”, sê ’n verslag in die Witness Echo, ’n bylae by ’n Suid-Afrikaanse koerant, “en as tienermeisies omgang weier, sal hulle heel waarskynlik aangerand word.” Navorsing onder tieners in ’n woonbuurt in Kaapstad het aan die lig gebring dat “mans in beheer is van verhoudings, en hulle gebruik dikwels geweld om meisies te dwing om omgang met hulle te hê”. Een studie het getoon dat 60 persent van die meisies al deur hulle maats aangerand is, selfs net omdat hulle met ander mans gepraat het. “Liggaamlike aanranding is so algemeen”, sê die verslag voorts, “dat baie van hulle vriendinne dit as ’n blyk van liefde beskou.”

Musiek het ’n uitwerking op kopers

In Engeland het ’n span sielkundiges van die Universiteit van Leicester ontdek dat agtergrondmusiek ’n uitwerking kan hê op die keuse wat wynkopers maak. “Toe Franse trekklaviermusiek gespeel is, is daar vyf keer meer Franse wyn as Duitse wyn verkoop”, sê die tydskrif National Geographic. “Maar toe Duitse biersaalmusiek gespeel is, het kopers twee bottels Duitse wyn vir elke Franse bottel gekoop.” Dit is interessant dat slegs ’n paar kopers daarvan bewus was dat “musiek ’n rol in hulle besluit gespeel het”, sê een van die navorsers.

El Niño se goeie kant

Die warmwaterverskynsel wat El Niño genoem word, is al “vir alles blameer, van verwoestende storms in die Verenigde State tot veldbrande in Brasilië en swak koffie-oeste in Kenia”, berig Reuters. Maar ten spyte van die storms en droogte sê deskundiges dat El Niño ook ’n goeie kant het. Volgens die verslag sal Brasilië se koffieproduksie “hierdie seisoen na verwagting 35 miljoen sakke wees, die grootste oes in ’n dekade”, en “onverwagse reënval op onverwagse plekke het reservoirs en waterhoudende grondlae regoor die aarde weer aangevul”. Ants Leetmaa, direkteur van die Amerikaanse Sentrum vir Klimaatsvoorspelling, het gesê: “Water is ’n probleem in ’n groot deel van die wêreld. Baie van hierdie gebiede het water nodig gehad. . . . Waterbestuurders het uitgesien na El Niño.”

Pogings om lidmate terug te lok

Na raming verlaat 1500 mense elke week die kerke in die Verenigde Koninkryk. Alhoewel meer as 50 persent van die bevolking sê dat hulle Christene is, gaan net ongeveer 10 persent gereeld kerk toe. Waarom? Kerke in die Verenigde Koninkryk is al “dikwels daarvan beskuldig dat hulle irrelevant, uit voeling en vervelig is”, sê die geestelike Steve Chalk. In ’n poging om “mense aan te moedig om na die kerk terug te keer”, gee die Aartsbiskop van Kantelberg en die Aartsbiskop van Westminster nou “hulle goedkeuring vir ’n nuwe inisiatief wat daarop gemik is om die kerke te help om meer verwelkomend, relevant en uitdagend te wees”, berig die BBC News. Die kerke hoop dat hulle “10 praktiese doelwitte” teen 2 Januarie 2000 sou verwesenlik het. Dit sluit in: “Ons sal jou laat welkom voel, ons sal gesinsvriendelik wees, ons sal seker maak dat jy goed kan hoor, . . . ons sal jou die antwoorde op jou diepste vrae help ondersoek, . . . ons sal seker maak dat jou besoek nuttig maar uitdagend sal wees.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel