Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 1/8 bl. 4-9
  • Die aarde se kwynende hulpbronne

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die aarde se kwynende hulpbronne
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is daar genoeg vir almal?
  • Verdwynende woude
  • Grond wat verdwyn
  • Water—gratis, tog van onskatbare waarde
  • Voortbestaan bedreig
  • Wat het van al die water geword?
    Ontwaak!—2001
  • Die verkragting van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
  • Waar die krisis ernstiger is
    Ontwaak!—1997
  • Wanneer sout ’n plaag word
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 1/8 bl. 4-9

Die aarde se kwynende hulpbronne

“In die natuur is alles verbind, en ons word nou aanspreeklik gehou vir ons flaters van die verlede.”—Die tydskrif African Wildlife.

SOMMIGE noem dit die ekologiese voetspoor. Dit is ’n maatstaf van die mensdom se verbruik van natuurlike hulpbronne in vergelyking met die aarde se vermoë om dit weer aan te vul. Volgens die Wêreld-natuurfonds toon die wêreldwye ekologiese voetspoor dat die mensdom sedert die 1980’s die aarde se natuurlike hulpbronne oorbenut.a Maar dit is slegs een aanwyser van die enorme druk wat op ons omgewing geplaas word.

Nog ’n maatstaf is die toestand van die aarde se ekosisteme. Die term “ekosisteem” verwys na die komplekse interaksie van alle organismes in ’n natuurlike omgewing, insluitende lewende en nie-lewende materie. Die algemene gesondheid van hierdie ekosisteme—wat gesien kan word in die aantal woud-, varswater- en mariene spesies wat daardeur onderhou word—word weergegee in wat die Wêreld-natuurfonds die Lewende Planeet-indeks noem. Tussen 1970 en 2000 het hierdie indeks met sowat 37 persent gedaal.

Is daar genoeg vir almal?

As jy in ’n Westerse land woon waar die winkelrakke vol is en ’n mens 24 uur per dag inkopies kan doen, is dit moeilik om te dink dat daar in die nabye toekoms ’n tekort aan natuurlike hulpbronne kan wees. Nogtans geniet net ’n minderheid van die aarde se bewoners sulke luukshede. Die meeste van hulle is vasgevang in ’n daaglikse stryd om oorlewing. Volgens skatting is daar byvoorbeeld meer as tweemiljard mense wat op drie dollar per dag of minder lewe en tweemiljard het nie toegang tot bekostigbare kommersiële elektrisiteitsdienste nie.

Party blameer die handelsgebruike van ryk lande vir die armoede van ontwikkelende lande. “Die wêreldekonomie”, sê Vital Signs 2003, “werk op verskillende maniere teen die belange van die armes.” Terwyl al hoe meer mense skarrel om ’n al hoe kleiner en duurder deel van die natuurlike hulpbronne vir hulleself te kry, kan die armes nie bekostig om om hulle regmatige deel mee te ding nie. Dit veroorsaak weer dat meer natuurlike hulpbronne beskikbaar is vir diegene wat dit kan bekostig—naamlik die rykes.

Verdwynende woude

Volgens skatting gebruik 80 persent van Afrika se bevolking hout vir kookdoeleindes. Daarbenewens “het Afrika die vinnigste bevolkingsaanwas [en] stedelike groei in die wêreld”, sê die Suid-Afrikaanse tydskrif Getaway. Gevolglik is die gebied om sekere groot dorpe in die Sahel, ’n wye strook halfdroë land op die suidelike grens van die Sahara-woestyn, 100 kilometer in alle rigtings ontbos. Daardie bome is nie sommer net afgekap nie. ‘Die oorgrote meerderheid van Afrika se bewoners vernietig hulle omgewing net sodat hulle kan oorleef’, sê professor Samuel Nana-Sinkam.

Die situasie is heeltemal anders in Suid-Amerika. Byvoorbeeld, in Brasilië is daar amper 7 600 geregistreerde houtkapmaatskappye in die reënwoud. Baie van hulle behoort aan ryk internasionale konglomorate. ’n Mahonieboom is vir ’n houtkapmaatskappy sowat R200 werd. Maar teen die tyd dat agente, handelaars en vervaardigers hulle wins gemaak het, kan daardie selfde boom meer as R850 000 werd wees voordat dit die vertoonlokaal van ’n meubelwinkel bereik. Dit is geen wonder dat mahoniehout groen goud genoem word nie.

Daar is al baie gepubliseer oor die vernietiging van Brasilië se reënwoud. Satellietbeelde toon dat daar tussen 1995 en 2000 elke jaar meer as 20 000 vierkante kilometer van die Brasiliaanse reënwoud vernietig is. “Teen hierdie skrikwekkende tempo van vernietiging beteken dit dat ’n deel van die woud so groot soos ’n sokkerveld elke agt sekondes verdwyn het”, berig die Brasiliaanse tydskrif Veja. Interessant genoeg, na bewering het die Verenigde State alleen in 2000 meer as 70 persent van Brasilië se mahoniehout ingevoer.

In ander wêrelddele is die situasie dieselfde. Byvoorbeeld, in die afgelope 50 jaar het die helfte van Mexiko se woude en oerwoude verdwyn. Die vernietiging van woude in die Filippyne is nog erger. Daardie land verloor elke jaar sowat 100 000 hektaar woudgebied, en in 1999 is daar geskat dat amper twee derdes van die land se woude binne ’n dekade uitgewis sal wees as daardie tempo volgehou word.

Dit kan ’n hardehoutboom van 60 tot 100 jaar neem om volgroeid te word, maar dit neem net minute om dit af te kap. Behoort ons dus verbaas te wees dat ons woude nie kan bybly nie?

Grond wat verdwyn

Wanneer grond van plantegroei gestroop word, droog die kaal bogrond uit en word dit deur die wind weggewaai of deur water weggespoel. Hierdie proses word erosie genoem.

Erosie is ’n natuurlike proses en is oor die algemeen nie ’n ernstige probleem nie—tensy die mens die proses laat versnel weens swak grondbestuur. Die tydskrif China Today sê byvoorbeeld dat sandstorms, tesame met ander faktore soos ontbossing en oorbeweiding, woestyngebiede “vinniger laat uitbrei het”. Ongewoon droë toestande in onlangse jare het China se westelike en noordwestelike provinsies vatbaar gemaak vir die koue Siberiese winde wat oor die land waai. Miljoene tonne geel sand en stof is verskuif, waarvan ’n deel tot in Korea en Japan gewaai het. Sowat 25 persent van die Chinese landmassa is nou woestyn.

Die vernietiging van Afrika se grond het soortgelyke oorsake. “Deur ’n woud uit te kap om graangewasse te plant”, sê Africa Geographic, “het boere die dun grondlae permanent verarm.” Daar word geraam dat ’n stuk grond wat ontbos word, binne drie jaar tot 50 persent van sy vrugbaarheid verloor. Die tydskrif voeg dus by: “Miljoene hektaar is reeds permanent beskadig en nog miljoene beweeg in daardie rigting terwyl landbou-opbrengste elke jaar in party gebiede afneem.”

Na bewering verloor Brasilië elke jaar sowat 500 miljoen ton grond weens erosie. In Mexiko sê die Departement van Omgewingsake en Natuurlike Hulpbronne dat grondverarming ’n nadelige uitwerking op 53 persent van die bosgebiede, 59 persent van die oerwoude en 72 persent van die woude het. As alles in aanmerking geneem word, sê ’n verslag deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram, “het erosie ’n nadelige uitwerking op moontlik tot twee derdes van die wêreld se landbougrond. As gevolg daarvan neem landbouproduktiwiteit skerp af, maar die aantal mense wat voedsel nodig het, word al hoe meer.”

Water—gratis, tog van onskatbare waarde

’n Mens kan omtrent ’n maand sonder kos aan die lewe bly, maar sonder water sal jy binne ’n week sterf. Kenners beweer dus dat die verminderende watervoorraad ’n toenemende bron van spanning in komende jare sal wees. Volgens ’n verslag wat in 2002 in die tydskrif Time verskyn het, is daar wêreldwyd meer as ’n miljard mense wat nie maklike toegang tot skoon drinkwater het nie.

Waterskaarstes kom om verskillende redes voor. In Frankryk speel besoedeling ’n rol en is dit ’n bron van toenemende kommer. “Franse riviere is in ’n uiters slegte toestand”, sê Le Figaro. Wetenskaplikes het vasgestel dat die probleem ontstaan weens nitraatryke afloopwater, hoofsaaklik as gevolg van bemestingstowwe wat in die landbou gebruik word. “In 1999 het Franse riviere 375 000 ton nitrate in die Atlantiese Oseaan gestort, amper twee keer soveel as in 1985”, sê die koerant.

In Japan bestaan daar ’n soortgelyke situasie. Om ’n bestendige voorraad voedsel in daardie land te voorsien, “moes boere noodgedwonge op kunsmis en plaagdoders staatmaak om aan die gemeenskap se aanvraag te voldoen”, sê Joetaka Oene, hoof van ’n niewinsgewende organisasie vir plaasveiligheid. Dit het tot die besoedeling van grondwater gelei—wat volgens Tokio se IHT Asahi Sjimboen “’n groot probleem regoor Japan is”.

In Mexiko word 35 persent van siektes “deur omgewingsfaktore veroorsaak”, berig die koerant Reforma. Verder het ’n studie deur die minister van gesondheid aan die lig gebring dat “1 uit elke 4 inwoners nie ’n rioolstelsel tot hulle beskikking het nie; meer as 8 miljoen hulle water uit putte, riviere, mere of strome kry en meer as eenmiljoen hulle water van tenkvragmotors kry”. Dit is geen wonder dat 90 persent van die gevalle van diarree in Mexiko aan besoedelde water toegeskryf word nie!

“Rio se strande bied meer as net warm sonlig, wit sand en blou see”, sê die Brasiliaanse tydskrif Veja. “Daar is ook hoë vlakke van fekale kolivormige bakterieë en soms oliestortings.” Die rede hiervoor is dat meer as 50 persent van Brasilië se rioolvullis direk in die riviere, mere en see invloei sonder dat dit behandel word. Die gevolg is ’n chroniese tekort aan skoon water. Die riviere om Brasilië se grootste stad, São Paulo, is so erg besoedel dat drinkwater nou van sowat 100 kilometer ver ingebring moet word.

Aan die ander kant van die aardbol is ’n belangrike oorsaak van Australië se waterskaarste ’n proses wat verbrakking genoem word. Landeienaars is dekades lank aangespoor om hulle grond van plantegroei te stroop sodat hulle gewasse kan plant. Omdat daar minder bome en struike was om die grondwater op te trek, het watertafels begin styg en duisende tonne ondergrondse sout na die oppervlak gebring. “Verbrakking het reeds ’n nadelige uitwerking op sowat 2,5 miljoen hektaar grond gehad”, sê die Wetenskaplike en Industriële Navorsingsorganisasie van die Australiese Gemenebes (CSIRO). “Baie hiervan is Australië se produktiefste landbougrond.”

Party meen dat die probleem van verbrakking vermy kon gewees het as Australiese wetgewers nie wins bo openbare belange gestel het nie. “Daar is reeds in 1917 vir die regerings gesê dat die grond in die koringgordel baie vatbaar is vir verbrakking”, sê Hugo Bekle van die Edith Cowan-universiteit in Perth, Australië. “Die impak van ontbossing op die soutgehalte van stroompies is teen die 1920’s gepubliseer, en die uitwerking daarvan op stygende watertafels is teen die 1930’s deur die Departement van Landbou aanvaar. In 1950 het die CSIRO met ’n uitvoerige studie vir die [Australiese] regering begin, . . . tog het regerings hierdie waarskuwings bly ignoreer omdat hulle wetenskaplikes as bevooroordeeld beskou het.”

Voortbestaan bedreig

Daar bestaan geen twyfel nie dat baie van wat mense gedoen het, goed bedoel is. Maar soos alte dikwels die geval is, weet ons eenvoudig nie genoeg omtrent die omgewing om die gevolge van ons optrede akkuraat te voorspel nie. Die gevolge is verwoestend. “Ons het die balans van lewe so erg versteur dat ons selfs die grond bedreig waarvan ons afhanklik is, en daardeur bedreig ons ons eie voortbestaan”, sê Tim Flannery, die direkteur van die Suid-Australiese Museum.

Wat is die oplossing? Sal die mensdom ooit leer om in harmonie met die omgewing te lewe? En kan die aarde gered word?

[Voetnoot]

a Daar word byvoorbeeld geskat dat die oorbenutting van natuurlike hulpbronne in 1999 20 persent bereik het. Dit beteken dat dit meer as 14 maande geneem het om die natuurlike hulpbronne te vervang wat mense gedurende daardie 12 maande gebruik het.

[Venster op bladsy 6]

Elke druppel maak ’n verskil

’n Paar eenvoudige stappe kan baie liters water spaar.

● Maak lekkende krane reg.

● Moenie lang stortbaddens neem nie.

● Draai die kraan toe terwyl jy skeer of jou tande borsel.

● Gebruik handdoeke twee of drie keer voordat jy dit was.

● Wag totdat jy genoeg wasgoed het voordat jy die wasmasjien gebruik. (Dieselfde beginsel geld vir outomatiese skottelgoedwassers.)

[Venster op bladsy 7]

Vandag vermorsing, môre verknorsing

● Al is Australië die wêreld se droogste vasteland, word meer as 90 persent van sy besproeiingswater “gebruik om gewasse deur eenvoudige vloed- en voorbesproeiing nat te lei”, berig The Canberra Times. Dit is dieselfde “tegnologie wat in gebruik was toe die faraos nog piramides gebou het”.

● Wêreldwyd is die gemiddelde hoeveelheid water wat elke persoon gebruik (insluitende water wat in die landbou- en nywerheidsektor gebruik word) ongeveer 550 000 liter per jaar. Maar die gemiddelde Noord-Amerikaner gebruik byna 1,6 miljoen liter per jaar. ’n Voormalige Russiese republiek gebruik die meeste, met gemiddeld meer as 5,3 miljoen liter water per persoon elke jaar.

● Volgens Africa Geographic “gebruik elke Suid-Afrikaner gemiddeld 4,0 globale hektaar per jaar terwyl die land slegs 2,4 globale hektaar per persoon per jaar kan bekostig”.

[Prent op bladsy 5]

Ontboste Sahel-landskap in Burkina Faso. Hierdie gebied was 15 jaar gelede dig bebos

[Erkenning]

© Jeremy Hartley/Panos Pictures

[Prent op bladsy 8]

Kap-en-brand-boerdery verwoes reënwoude in Kameroen

[Erkenning]

© Fred Hoogervorst/Panos Pictures

[Prent op bladsy 8]

Besoedeling deur voertuie is nog steeds ’n rede tot kommer in die Verenigde State

[Prent op bladsy 8, 9]

Tussen 1995 en 2000 is daar elke jaar meer as 20 000 vierkante kilometer van die reënwoud in Brasilië vernietig

[Erkenning]

© Ricardo Funari/SocialPhotos.com

[Prent op bladsy 9]

Meer as tweemiljard mense lewe op drie dollar per dag of minder

[Erkenning]

© Giacomo Pirozzi/Panos Pictures

[Prent op bladsy 9]

Die grondwater wat hierdie put in ’n Indiese dorpie van water voorsien, is deur plaaslike garnaalplase besoedel

[Erkenning]

© Caroline Penn/Panos Pictures

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel