Chemiese stowwe—Vriend en vyand?
ONS neem baie besluite in die lewe deur voor- en nadele teen mekaar op te weeg. Baie mense koop byvoorbeeld ’n motor omdat dit gerieflik is om een te hê. Maar teen daardie gerief moet hulle die koste opweeg om die motor te besit—versekering, registrasie, waardevermindering—en om die motor padwaardig te hou. Hulle moet ook dink aan die risiko van beserings of die dood as gevolg van ongelukke. Die situasie met mensgemaakte chemiese stowwe stem baie hiermee ooreen—die voordele moet teen die nadele opgeweeg word. Beskou byvoorbeeld die chemiese stof wat MTBE (metiel- tersiêre butieleter) genoem word, ’n bymiddel by brandstof wat ontbranding verbeter en uitlaatgasse verminder.
Dit is gedeeltelik aan MTBE te danke dat die lug in baie stede in die Verenigde State die skoonste is wat dit in jare was. Maar “daar was ’n hoë prys verbonde aan” skoner lug, berig New Scientist. Die rede hiervoor is dat MTBE ’n potensieel kankerverwekkende stof is, en dit het uit tienduisende ondergrondse brandstofopgaartenks gelek en dikwels die grondwater besoedel. Gevolglik moet een stad nou 82 persent van sy water van buite kry, teen ’n koste van $3,5 miljoen (R22,3 miljoen) per jaar! New Scientist sê dat hierdie ramp “een van die ernstigste grondwaterbesoedelingskrisisse kan word wat Amerika in jare getref het”.
Sommige chemiese stowwe is verbied en van die mark af gehaal omdat hulle soveel skade aan die omgewing en ons gesondheid aanrig. ‘Maar waarom gebeur dit?’ vra jy dalk. ‘Word alle nuwe chemiese stowwe dan nie deeglik vir toksisiteit getoets voordat hulle beskikbaar gestel word nie?’
Probleme met toetse vir toksisiteit
In werklikheid is toetse vir toksisiteit op chemiese stowwe ’n mengsel van wetenskap en gissing. “Risikoberekenaars weet nie hoe om ’n duidelike onderskeid te tref tussen ‘veilige’ en ‘onveilige’ blootstelling aan enige chemiese stof nie”, sê Joseph V. Rodricks in sy boek Calculated Risks. Dit is selfs die geval met geneesmiddels, waarvan talle sinteties gemaak word. “Selfs die sorgvuldigste toetsprosedures”, sê The World Book Encyclopedia, “kan nie altyd die moontlikheid aan die lig bring dat ’n geneesmiddel dalk onverwags ’n nadelige uitwerking sal hê nie.”
Laboratoriums het sekere inherente beperkings. Hulle kan byvoorbeeld nie ten volle simuleer hoe ’n chemiese stof in die uiteenlopende en ingewikkelde buitewêreld sal reageer nie. Die wêreld buite die laboratorium wemel van honderde, selfs duisende, verskillende mensgemaakte chemiese stowwe, waarvan baie op mekaar sowel as op lewende organismes kan reageer. Party van hierdie chemiese stowwe is op sigself onskadelik, maar as hulle buite of binne-in ons liggaam met mekaar verbind, kan hulle nuwe, giftige verbindings vorm. Sekere chemiese stowwe word eers giftig, selfs kankerverwekkend, nadat die liggaam se metabolisme dit verwerk het.
Hoe probeer risikoberekenaars in die lig van sulke uitdagings vasstel of ’n chemiese stof veilig is? Die standaardmetode was om laboratoriumdiere ’n vasgestelde dosis van die chemiese stof in te gee en dan die resultate op mense te probeer toepas. Is hierdie metode altyd betroubaar?
Is toetse op diere betroubaar?
Om giftige stowwe op diere te toets, lewer meer op as net etiese probleme oor wreedheid teenoor diere. Verskillende diere het byvoorbeeld dikwels uiteenlopende reaksies op chemiese stowwe. ’n Klein dosis van die uiters giftige dioksien sal ’n wyfiemarmotjie laat doodgaan, maar daardie dosis moet 5000 keer groter wees om ’n hamster dood te maak! Selfs diersoorte wat na aan mekaar verwant is, soos rotte en muise, reageer verskillend op talle chemiese stowwe.
As die reaksie van een diersoort nie eens ’n definitiewe aanduiding is van hoe ’n ander soort sal reageer nie, hoe seker kan navorsers dan wees dat ’n spesifieke chemiese stof veilig is vir mense? Feit is dat hulle nie werklik seker kan wees nie.
Chemici het beslis ’n moeilike taak. Hulle moet die mense tevrede stel wat hulle produkte wil hê, diegene paai wat oor die welsyn van diere besorg is en hulle eie gewete oortuig dat hulle produkte veilig is. Om hierdie redes eksperimenteer sommige laboratoriums nou daarmee om chemiese stowwe te toets op menseselle wat hulle kweek. Maar die tyd sal leer of dit ’n betroubare versekering van veiligheid moontlik maak.
Wanneer laboratoriumtoetse misluk
Die plaagdoder DDT, wat nog steeds op baie plekke in die omgewing voorkom, is een voorbeeld van ’n chemiese stof wat verkeerdelik veilig verklaar is toe dit aanvanklik beskikbaar gestel is. Wetenskaplikes het later uitgevind dat DDT geneig is om lank in organismes te bly, wat ook met ander potensiële gifstowwe die geval is. Wat is die tragiese gevolge hiervan? Wel, die voedselketting, wat bestaan uit miljoene piepklein organismes, dan visse en uiteindelik voëls, bere, otters, ensovoorts, word ’n lewende tregter wat die gifstowwe in die laaste verbruikers konsentreer. In een geval kon ’n swerm duikertjies, ’n soort watervoël, meer as tien jaar lank nie ’n enkele kuiken uitbroei nie!
Hierdie biologiese tregters werk so goed dat sommige chemiese stowwe verstommende konsentrasies in die laaste verbruikers bereik, al kan dit skaars in die water bespeur word. Witdolfyne in die St. Lawrencerivier van Noord-Amerika is ’n goeie voorbeeld. Die vlak van gifstowwe in hulle liggaam is so hoog dat hulle as gevaarlike afval beskou moet word wanneer hulle doodgaan!
Daar is bevind dat sekere chemiese stowwe wat in baie diere voorkom hormone kan naboots. En wetenskaplikes het maar eers onlangs begin uitvind oor die sluipende vergiftiging wat hierdie chemiese stowwe kan veroorsaak.
Chemiese stowwe wat hormone naboots
Hormone is belangrike chemiese boodskappers in die liggaam. Hulle beweeg deur ons bloedstroom na ander dele van ons liggaam, waar hulle ’n sekere funksie stimuleer of onderdruk, soos liggaamsgroei of voortplantingsiklusse. Interessant genoeg, ’n onlangse persverklaring van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê “wetenskaplike bewyse stroom in” dat sekere mensgemaakte chemiese stowwe die werking van hormone belemmer wanneer dit in die liggaam ingeneem word, deur hulle op ’n nadelige manier na te boots of te onderdruk.
Die chemiese stowwe wat betrokke is, sluit in PCB’s,a dioksiene, furane en sommige plaagdoders, waaronder oorblyfsels van DDT. Hierdie chemiese stowwe, wat endokriene ontwrigters genoem word, het die vermoë om die normale werking van die liggaam se endokriene stelsel, die oorsprong van hormone, te ontwrig.
Een hormoon wat deur hierdie chemiese stowwe nageboots word, is die vroulike geslagshormoon estrogeen. ’n Studie wat in die mediese tydskrif Pediatrics gepubliseer is, gee te kenne dat die toenemende voorkoms van vroeë puberteit by talle jong meisies gekoppel kan word aan haarprodukte wat estrogeen bevat sowel as chemiese stowwe in die omgewing wat estrogeen naboots.
Dit kan ook slegte gevolge hê as ’n man op ’n kritieke tydperk in sy ontwikkeling aan sekere chemiese stowwe blootgestel word. “Eksperimente het getoon”, sê ’n verslag in die tydskrif Discover, “dat PCB’s wat op net die regte tyd gedurende die ontwikkeling van skilpad- en alligatormannetjies toegedien word hulle in wyfies of ‘intersekse’ verander.”
Boonop verswak chemiese gifstowwe immuunstelsels en maak dit diere vatbaarder vir virusinfeksies. Trouens, dit lyk of virusinfeksies verder en vinniger as ooit versprei, veral onder diere wat na aan die einde van die voedselketting is, soos dolfyne en seevoëls.
By mense het chemiese stowwe wat hormone naboots die grootste uitwerking op kinders. Kinders van vroue in Japan wat ’n paar jaar gelede PCB-besmette rysolie geëet het “se liggaamlike en verstandelike ontwikkeling was vertraag, hulle het gedragsprobleme, waaronder hipo- en hiperaktiwiteit, gehad sowel as abnormale klein penisse en IK-tellings wat vyf punte laer as die gemiddelde was”, berig die tydskrif Discover. Toetse wat op kinders gedoen is wat in Nederland en in Noord-Amerika aan ’n hoë vlak van PCB’s blootgestel is, het soortgelyke nadelige gevolge op hulle liggaamlike en verstandelike ontwikkeling getoon.
Die WGO berig dat die toename in “hormoonsensitiewe” kankers onder mans en vroue, soos bors-, testikulêre en prostaatkanker, ook aan hierdie chemiese stowwe gekoppel kan word. Daarbenewens kan die klaarblyklik voortdurende vermindering in die gemiddelde spermtelling by mans in ’n aantal lande sowel as die swakker gehalte van die sperm dalk aan die toenemende gebruik van chemiese stowwe gekoppel word. In sommige lande het die gemiddelde spermtelling in 50 jaar byna met die helfte verminder!
In die vorige artikel is die woorde van ’n dokter aangehaal wat gesê het dat ons “’n eksperimentele geslag” is. Dit lyk of sy reg is. Baie van ons chemiese uitvindsels was weliswaar baie nuttig, maar ander was nie. Daarom sal dit wys wees as ons ons nie onnodig blootstel aan chemiese stowwe wat ons moontlik skade kan aandoen nie. Verbasend genoeg kom baie hiervan in ons huise voor. Ons volgende artikel sal bespreek wat ons kan doen om onsself teen potensieel gevaarlike chemiese stowwe te beskerm.
[Voetnoot]
a PCB’s (polichloorbifeniele), wat sedert die dertigerjare algemeen gebruik word, is ’n groep van meer as 200 olieverbindings wat in smeermiddels, plastiek, elektriese isolasiemateriaal, plaagdoders, skottelgoedseep en ander produkte gebruik word. Hoewel PCB-produksie nou in baie lande verbied word, is daar alreeds tussen een- en tweemiljoen ton vervaardig. PCB’s wat weggegooi is en in die omgewing beland het, het vergiftiging veroorsaak.
[Prent op bladsy 7]
Hierdie dolfyne is so giftig dat hulle as gevaarlike afval beskou word wanneer hulle doodgaan
[Erkenning]
©George Holton, The National Audubon Society Collection/PR