Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 12/22 bl. 20-22
  • Paaie—slagare van die beskawing

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Paaie—slagare van die beskawing
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van die vroegste paaie
  • Militêre belang
  • Padbou—’n kuns
  • Oorsaak van tragedies
  • Romeinse paaie—monumente van die antieke ingenieurswese
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Is alle godsdienste goed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Het alle paaie na Rome gelei?
    Ontwaak!—2004
  • Is alle godsdienste verskillende paaie wat na God lei?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 12/22 bl. 20-22

Paaie—slagare van die beskawing

VAN die vroegste tye af het mense met mekaar in kontak gebly deur middel van ’n groot netwerk van voetpaaie, paaie en hoofweë. Dit getuig van die mens se begeerte om te reis en handel te dryf—en ook om oorlog te voer en ryke op te bou. Ja, paaie openbaar ook ’n donker sy van die mens.

Die geskiedenis van paaie, van die tyd dat mense en diere die vroegste paaie uitgetrap het tot ons hedendaagse snelweë met hulle baie bane, is nie net ’n toer van die verlede nie. Dit is ook ’n studie van die gees wat die mens openbaar.

Van die vroegste paaie

“Die eerste ware padbouers”, sê The New Encyclopædia Britannica, “was waarskynlik die Mesopotamiërs.” Hierdie volk het in die gebied van die Tigris- en Eufraatrivier gewoon. Die paaie waar hulle optogte plaasgevind het, “was geplaveide paaie waarin gebakte stene en klippe in ’n bindmiddel van bitumen gelê is”, voeg hierdie bron by. Die beskrywing laat ’n mens dink aan wat die Bybel oor vroeë boumateriaal sê: “Bakstene het dus vir hulle as bousteen gedien, maar asfalt het vir hulle as messelklei gedien.”—Genesis 11:3, NW.

Paaie was noodsaaklik vir die eertydse Israeliete om hulle godsdiensverpligtinge na te kom. Bykans 1500 jaar voor die geboorte van Jesus Christus is die Israeliete beveel: “Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn [om ’n geestelike fees te vier] op die plek wat Hy sal uitkies” (Deuteronomium 16:16). Daardie plek was op die ou end Jerusalem, en hele gesinne het dikwels hierdie vreugdevolle geleenthede bygewoon. Goeie paaie was beslis nodig!

Die hoofverkeersweë is blykbaar goed gebou. Die Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus het van Salomo, wat duisend jaar voor die geboorte van Christus regeer het, gesê: “Hy het nie die paaie verwaarloos nie, maar hy het die roetes wat na Jerusalem gelei het met ’n laag swart klip bedek.”

Israel het ses vrystede gehad wat asiel gebied het aan diegene wat iemand per ongeluk doodgeslaan het. Die paaie na hierdie stede is ook in stand gehou. En Joodse tradisie toon dat daar by elke kruising padtekens was wat altyd in ’n goeie toestand gehou is en die rigting na die naaste vrystad aangewys het.—Numeri 35:6, 11-34.

Paaie het noodsaaklik geword vir die uitbreiding van die handel, en een van die gesogste verbruiksartikels van die ou tyd was sy. Die Chinese het na bewering lank voordat die Israeliete ’n nasie geword het, ontdek hoe om sy te maak van die draad wat deur ’n wurm gespin word, maar hulle het die vervaardiging daarvan tot ná die geboorte van Christus geheim gehou. Selfs voor daardie tyd het sy so gewild in die Westerse wêreld geword dat edikte uitgevaardig is “om mans te keer om dit te gebruik”, aangesien sodanige gebruik as “iets meisieagtigs beskou is”, aldus die boek A History of Roads, deur Geoffrey Hindley.

Die handelsroete waarlangs sy uit China vervoer is, het as die Chinese syroete bekend gestaan. Toe Marco Polo teen die einde van die 13de eeu G.J. op daardie roete na China gereis het, het dit reeds 1400 jaar bestaan. Die Chinese syroete was meer as 2000 jaar lank die langste pad ter wêreld. Die 12 800 kilometer lange pad het van Sjanghai, China, die tuiste van sy, tot by Gades (hedendaagse Cadiz), Spanje, gestrek.

Militêre belang

Die begeerte om ryke te bou, was die rede vir die vinnige vooruitgang in padbou. Die padnetwerk van die Romeinse Ryk onder die keisers het byvoorbeeld oor die hele Europa, Noord-Afrika en die Midde-Ooste gestrek, oor ongeveer 80 000 kilometer. Wanneer Romeinse soldate nie oorlog gevoer het nie, is hulle soms gebruik om paaie te bou en te herstel.

Die belangrikheid van paaie in veroweringsveldtogte is ook in onlangse tye gesien. Adolf Hitler se strewe na die oorheersing van ander volke is grootliks aangehelp deur sy program om die Duitse Autobahn te bou, wat in 1934 begin het. Volgens die geskiedskrywer Hindley het hierdie program Duitsland “die wêreld se eerste snelwegnetwerk” gegee.

Padbou—’n kuns

Romeinse landmeters het met behulp van ’n instrument wat ’n groma genoem is pylreguit paaie uitgelê. Klipmesselaars het kunstige mylstene uitgebeitel, en ingenieurs het ’n gewigsbeperking op vragte geplaas. Die paaie het ’n fondament en ’n duursame oppervlak gehad. Maar die vernaamste rede waarom die paaie so lank gehou het, was die briljante stelsel om die pad met ’n effens geronde vorm te bou wat vir goeie waterafvoering gesorg het sowel as die feit dat die pad hoër as die omliggende gebied gebou is. Winkels het selfs padkaarte verkoop.

“Wanneer ’n skrywer oor die padbouvermoë van die Romeine skryf”, sê ’n geskiedskrywer, “moet hy homself probeer inhou om nie te liries te raak nie, en dit is te betwyfel of enige ander monument uit die Mens se verlede so nuttig was soos die paaie van Italië.”

Die Appiese Weg wat van Rome suid loop, is volgens die boek A History of Roads “die eerste geplaveide pad van enige lengte in die geskiedenis van die Westerse mens”. Hierdie bekende hoofweg was gemiddeld ses meter wyd en is met groot lawablokke geplavei. Toe die apostel Paulus as gevangene na Rome gereis het, het hy hierdie pad gebruik, waarvan dele vandag nog gebruik word.—Handelinge 28:15, 16.

Baie mense sal moontlik die padbouvaardighede van vroeë Suid-Amerikaanse Indiane net so fassinerend vind. Van die 1200’s tot die 1500’s het die Inkas ’n 16 000 kilometer lange padnetwerk gebou, wat ’n nasie met ’n bevolking van bykans 10 000 000 mense met mekaar verbind het. Hierdie paaie het deur van die onherbergsaamste en ruuste terrein denkbaar gegaan, want dit moes deur woestyn en reënwoud loop en selfs die magtige Peruaanse Andes oorsteek!

The New Encyclopædia Britannica sê van een van hierdie paaie: “Die Andesroete was merkwaardig. Die pad was 25 voet (7,5 meter) wyd en het oor die hoogste bergreekse geloop met draaie en maklike hellings. Dit het tonnels ingesluit wat uit harde rots gekap is, asook keermure wat [tientalle meters] ver gestrek het om die paaie te steun. Klowe en rotsskeure is met stewige klipstapelwerk opgevul en die wyer bergstrome is deur middel van hangbrûe met wol- of veselkabels oorgesteek. Klippe het in die meeste dele die oppervlak gevorm, en asfaltagtige materiale is op groot skaal gebruik.”

Die Inkas het nie perde geken nie, maar hulle padnetwerk was vir hulle “in werklikheid soos ’n baan waarop die koninklike boodskappers kon hardloop”. ’n Geskiedskrywer het gesê: “Daar was ’n skofpos omtrent elke anderhalf myl [2 km] langs die hele ent pad, en elkeen het ’n klein garnisoen en ’n groep professionele afloshardlopers gehad. Elke skof was kort genoeg sodat afloshardlopers dit vinnig kon aflê, en die diens, wat dag en nag beskikbaar was, kon binne vyf dae ’n boodskap neem van die hoofstad Cuzco tot by die stad Quito, 1250 myl [2 000 km] daarvandaan. Dit het beteken dat hulle gemiddeld 10 myl [15 km] per uur gehardloop het oor ’n pad wat nêrens minder as 15 000 voet [4 000 m] bo seevlak was nie—’n spoed wat die Romeinse keiserlike posdiens nooit bereik het nie!”

Oorsaak van tragedies

Slagare in die mens se liggaam kan verstop raak, en dit kan tot tragiese gevolge lei. Net so ook kan paaie wat die lewensgehalte verbeter het, “verstop” raak en daardie lewensgehalte laat afneem. Paaie deur reënwoude, wildernisse, bosveld en nasionale parke verwoes die natuurlewe. En dikwels ly inboorlinge en hulle woudtuiste ook daaronder. Die boek How We Build Roads sê: “Die Transamasone-hoofweg, hoewel dit in die naam van vooruitgang gebou is, het groot dele van die reënwoud vernietig en was ’n ramp vir baie van die mense wat in die woud woon, aangesien dit hulle hele lewenswyse verwoes het.”

Paaie het ook ’n uiters negatiewe uitwerking op stede namate meer voertuie jaarliks stedelike verkeersweë “verstop”. Uiteindelik, as fondse beskikbaar is, word ’n snelweg gebou. Maar op die lange duur moedig hierdie paaie meer verkeer aan, wat die besoedeling laat toeneem en miljoene laat siek word. Wat meer is, ongeveer 500 000 mense sterf jaarliks in padongelukke regoor die wêreld, en nog 15 miljoen word beseer, sommige baie ernstig. In vergelyking hiermee het die Eerste Wêreldoorlog die lewens van omtrent negemiljoen soldate geëis. Maar daardie oorlog het geëindig. Daarenteen vind padsterftes op ’n gereelde grondslag plaas—meer as 1000 sterftes per dag, dag na dag na dag!

Ja, ons paaie sê baie omtrent ons—dit is ’n karakterskets van ons sterk en ons swak punte. Dit sê ook wat ons dink van hierdie wonderlike planeet wat aan ons sorg toevertrou is.

[Prent op bladsy 21]

Die Appiese Weg, waarop die apostel Paulus gereis het, word nog steeds gebruik

[Prent op bladsy 22]

Ongeveer 500 000 mense sterf jaarliks in padongelukke regoor die wêreld

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel