Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 1/8 bl. 6-9
  • Godsdiensvryheid—’n Seën of ’n vloek?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Godsdiensvryheid—’n Seën of ’n vloek?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die pynlike geboorte van verdraagsaamheid
  • Relatiewe vryheid
  • Bedreigings vir godsdiensvryheid
  • “Modelburgers” word as gevaarlik bestempel
  • Die belangrikheid van objektiwiteit
  • Wat beteken godsdiensvryheid vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Godsdiensonverdraagsaamheid vandag
    Ontwaak!—1999
  • ’n Vry volk maar met verantwoordelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Moenie die doel van godgegewe vryheid mis nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 1/8 bl. 6-9

Godsdiensvryheid—’n Seën of ’n vloek?

Die geboorte van die idee van godsdiensvryheid het in die Christendom met hewige geboortepyne gepaardgegaan. Dit was ’n stryd teen leerstelligheid, vooroordeel en onverdraagsaamheid. Dit het derduisende lewens in bloedige godsdienskonflikte geëis. Wat leer ons uit hierdie verskriklike geskiedenis?

“VERVOLGING was nog altyd ’n voldonge feit van die Christelike geskiedenis”, skryf Robin Lane Fox in die boek Pagans and Christians. Die vroeë Christene is ’n sekte genoem en is daarvan beskuldig dat hulle die openbare orde versteur het (Handelinge 16:20, 21; 24:5, 14; 28:22). Gevolglik is party gemartel en deur wilde diere in Romeinse arenas verskeur. Te midde van sulke bittere vervolging het party, soos die teoloog Tertullianus (sien prent op bladsy 8), om godsdiensvryheid gepleit. In 212 G.J. het hy geskryf: “Dit is ’n fundamentele mensereg, ’n inherente voorreg, dat elke mens volgens sy eie oortuigings moet kan aanbid.”

In 313 G.J. het die Romeinse wêreld onder beheer van Konstantyn opgehou om Christene te vervolg toe die Edik van Milaan uitgevaardig is wat godsdiensvryheid aan Christene sowel as aan heidene toegestaan het. Die wettiging van “die Christelike godsdiens” in die Romeinse Ryk het die vloedgolf van vervolging gestuit. Maar omstreeks 340 G.J. het ’n verklaarde Christenskrywer daarop aangedring dat heidene vervolg word. Keiser Theodosius I het eindelik, in 392 G.J., deur middel van die Edik van Konstantinopel die uitoefening van die heidense godsdiens binne die ryk verbied, en godsdiensvryheid het ’n vroeë dood gesterf. Met die Romeinse “Christelike godsdiens” as die Staatsgodsdiens het Kerk en Staat met ’n veldtog van vervolging begin wat eeue lank aangehou het en wat sy hoogtepunt in die bloedige Kruistogte van die 11de tot die 13de eeu bereik het sowel as in die wreedheid van die Inkwisisies, wat in die 12de eeu begin het. Diegene wat die gevestigde ortodokse geloof, of die alleenreg van leerstellings, durf bevraagteken het, is as ketters gebrandmerk en in die destydse heksejagklimaat gevange geneem. Wat het tot hierdie optrede aanleiding gegee?

Godsdiensonverdraagsaamheid is verskoon op grond van die feit dat godsdienseenheid die stewigste grondslag vir die Staat gevorm het en dat godsdiensverskille ’n bedreiging vir die openbare orde was. In 1602, in Engeland, het een van koningin Elisabet se ministers gesê: “Die Staat is nooit veilig wanneer hy twee godsdienste duld nie.” Dit was in werklikheid makliker om godsdienstige andersdenkendes te verban as om uit te vind of hulle werklik ’n bedreiging vir die Staat of vir die gevestigde godsdiens inhou. The Catholic Encyclopedia sê: “Nie die sekulêre óf die kerklike owerhede het in die minste ’n onderskeid getref tussen gevaarlike en onskadelike ketters nie.” Maar dinge sou binnekort verander.

Die pynlike geboorte van verdraagsaamheid

Die katalisator vir veranderinge in Europa was die omwenteling wat veroorsaak is deur Protestantisme, ’n sektebeweging wat net nie van die toneel wou verdwyn nie. Die Protestantse Hervorming het Europa verbasend vinnig op grond van godsdiens verdeel, en die aandag gevestig op die idee van vryheid van gewete. Die beroemde Hervormer Martin Luther het byvoorbeeld in 1521 sy menings geregverdig deur te sê: “My gewete word deur die Woord van God beheer.” Verdeeldheid het ook aanleiding gegee tot die Dertigjarige Oorlog (1618-48), ’n reeks wrede godsdiensoorloë wat verwoesting in Europa gesaai het.

Maar terwyl die oorlog gewoed het, het baie besef dat konflik nie die weg tot vooruitgang is nie. ’n Reeks edikte, soos die Edik van Nantes in Frankryk (1598), is dus uitgevaardig om vrede in die oorloggeteisterde Europa te bewerkstellig, maar sonder enige sukses. Dit was uit hierdie edikte dat die hedendaagse begrip van verdraagsaamheid geleidelik ontstaan het. “Verdraagsaamheid” het aanvanklik negatiewe konnotasies gehad. “As ons die sektes onder sekere omstandighede sou verdra . . . , sou dit ongetwyfeld ’n euwel wees—inderdaad ’n groot euwel—maar nie so sleg soos oorlog nie”, het die beroemde humanis Erasmus in 1530 geskryf. Weens hierdie negatiewe betekenis het sommige, soos die Fransman Paul de Foix in 1561, eerder verkies om van “godsdiensvryheid” te praat as van “verdraagsaamheid”.

Mettertyd is verdraagsaamheid egter nie meer as die minste van twee kwade beskou nie, maar as die beskermer van vryhede. Dit is nie meer as ’n toegewing aan swakheid beskou nie, maar as ’n waarborg. Toe mense eers meervoudigheid van opvattings en die reg om anders te dink as die grondslag van die moderne samelewing begin beskou het, moes fanatisme noodgedwonge afneem.

Teen die einde van die 18de eeu is verdraagsaamheid met vryheid en gelykheid verbind. Dit is deur wette en verklarings weerspieël, soos die beroemde Verklaring van die Regte van die Mens (1789), in Frankryk, of die Verklaring van Regte (1791), in die Verenigde State. Namate hierdie dokumente van die 19de eeu af ’n invloed op liberale denke gehad het, is verdraagsaamheid en gevolglik vryheid nie meer as ’n vloek beskou nie, maar as ’n seën.

Relatiewe vryheid

Hoe kosbaar dit ook al is, vryheid is net relatief. Onder die naam van groter vryheid vir almal neem die Staat wette aan wat sommige individuele vryhede beperk. Die volgende is ’n paar van die kwessies wat met vryheid verband hou waaroor daar tans in baie Europese lande gedebatteer word: Tot watter mate behoort wetgewing deur die regering privaat lewens te beheer? Hoe doeltreffend is dit? Watter uitwerking het dit op vryheid?

Die debat oor openbare en privaat vryhede is deur die media op die voorgrond gebring. Aantygings word dikwels sonder afdoende bewyse teen sommige godsdiensgroepe gemaak dat hulle mense breinspoel, hulle finansieel afpers, kinders mishandel en talle ander ernstige misdade pleeg. Nuusberigte oor minderheidsgodsdiensgroepe het wye dekking deur die pers ontvang. Neerhalende benamings soos “kultus” of “sekte” is nou deel van die spreektaal. Onder druk van die openbare mening het regerings selfs lyste van sogenaamde gevaarlike kultusse opgestel.

Frankryk is ’n land wat trots is op sy tradisie van verdraagsaamheid en die skeiding tussen godsdiens en die Staat. Hulle verkondig trots dat hulle die land van “Vryheid, Gelykheid, Broederskap” is. Maar volgens die boek Freedom of Religion and Belief—A World Report is “’n inligtingsveldtog in skole om die verwerping van nuwe godsdiensbewegings te bevorder” in daardie land voorgestel. Baie mense dink egter dat hierdie soort optrede ’n bedreiging vir godsdiensvryheid inhou. Waarom?

Bedreigings vir godsdiensvryheid

Ware godsdiensvryheid bestaan net wanneer die Staat alle godsdiensgroepe wat die wet respekteer en dit gehoorsaam oor een kam skeer. Dit is nie meer die geval wanneer die Staat na willekeur besluit watter van die godsdiensgroepe hy nie as ’n godsdiens erken nie, sodat dié groepe die voordele ontsê word wat die Staat aan godsdienste toestaan. “Die onskendbare idee van godsdiensvryheid word betekenisloos wanneer die staat hom die reg toe-eien om wetlike erkenning aan godsdienste te gee asof hulle bestuurderslisensies uitreik”, het die tydskrif Time in 1997 gesê. ’n Franse appèlhof het onlangs gesê dat dít “tot totalitarisme lei, hetsy dit so bedoel word of nie”.

Basiese vryhede word ook bedreig wanneer een groep die alleenreg op die media het. Ongelukkig gebeur dit al hoe meer in baie lande. In ’n poging om te bepaal wat godsdienstig korrek is, het antikultusorganisasies hulleself die aanklaer, regter en jurie gemaak en dan hulle bevooroordeelde menings deur middel van die media op die publiek probeer afdwing. Maar soos die Franse koerant Le Monde gesê het, openbaar hierdie organisasies soms deur sulke optrede “dieselfde sektegees as wat hulle kwansuis beveg en loop hulle gevaar om ’n ‘heksejagklimaat’ te skep”. Die koerant het gevra: “Bedreig die sosiale stigmatisering van minderheidsgodsdienste nie . . . noodsaaklike vryhede nie?” Martin Kriele, wat in Zeitschrift für Religionspsychologie (Tydskrif vir Godsdienssielkunde) aangehaal word, het gesê: “Die heksejag op sektes is groter rede tot kommer as die oorgrote meerderheid van die ‘so genoemde sektes en psigogroepe’. Kortom: Burgers wat nie die wet oortree nie, moet met rus gelaat word. Godsdiens en ideologie behoort vry te wees en vry te bly, ook in Duitsland.” Kom ons kyk na een voorbeeld.

“Modelburgers” word as gevaarlik bestempel

Van watter godsdiensgroep is daar gesê dat hulle, volgens die mening van Katolieke gesaghebbendes wat in Spanje se gewilde koerant die ABC aangehaal is, “die gevaarlikste van alle sektes” is? Dit sal jou dalk verbaas om te hoor dat die ABC van Jehovah se Getuies gepraat het. Is die aantygings wat teen hulle gemaak is onpartydig en objektief? Let op die volgende verklarings van ander bronne:

“Die Getuies leer mense om eerlike belastingbetalers te wees, nie aan oorloë of voorbereiding vir oorloë deel te neem nie, nie te steel nie en om oor die algemeen die soort lewe te lei wat die standaarde van die samelewing sou verhef indien ander ook daarvolgens sou lewe.”—Sergio Albesano, Talento, November-Desember 1996.

“In teenstelling met die insinuasies wat by sekere geleenthede gemaak word, lyk dit vir my of [Jehovah se Getuies] nie die geringste gevaar vir die Staat se instellings inhou nie. Hulle is burgers wat vredeliewend, pligsgetrou en eerbiedig teenoor die owerheid is.”—’n Belgiese parlementêre afgevaardigde.

“Die Jehovah se Getuies is sonder enige twyfel die eerlikste mense in die Federale Republiek.”—Duitse koerant Sindelfinger Zeitung.

“’n Mens kan [Jehovah se Getuies] as modelburgers beskou. Hulle betaal getrou hulle belasting, sien om na die siekes, bekamp ongeletterdheid.”—’n Amerikaanse koerant, die San Francisco Examiner.

“Jehovah se Getuies is suksesvoller as lidmate van ander kerke wat die handhawing van bestendige huwelike betref.”—American Ethnologist.

“Jehovah se Getuies is onder die opregste en vlytigste burgers van Afrikalande.”—Dr. Bryan Wilson, Oxford-universiteit.

“Lede van daardie geloof het deur die dekades heen baie bygedra tot groter gewetensvryheid.”—Nat Hentoff, Free Speech for Me—But Not for Thee.

“Hulle het . . . ’n besliste bydrae gelewer tot die bewaring van sommige van die kosbaarste dinge in ons demokrasie.”—Professor C. S. Braden, These Also Believe.

Soos ons uit die bogenoemde aanhalings kan sien, word Jehovah se Getuies deur die hele wêreld heen as voorbeeldige burgers erken. Daarbenewens is hulle bekend vir hulle gratis Bybelonderrigtingswerk en vir die bevordering van gesinswaardes. Hulle lees-en-skryf-klasse het honderdduisende al gehelp, terwyl hulle humanitêre bedrywighede oor die dekades al duisende gehelp het, veral in Afrika.

Die belangrikheid van objektiwiteit

In die samelewing is daar tallose gewetenlose mense wat onskuldige slagoffers uitbuit. Waaksaamheid is dus beslis nodig wanneer dit by bewerings oor godsdiens kom. Maar presies hoe objektief en hoe bevorderlik is dit vir godsdiensvryheid wanneer sommige joernaliste, pleks van met objektiewe kenners te praat, hulle verlaat op inligting van kerke wat sien hoe hulle getalle kwyn of van antisekte-organisasies wie se objektiwiteit sterk te betwyfel is? Die koerant wat Jehovah se Getuies “die gevaarlikste van alle sektes” genoem het, het byvoorbeeld erken dat hulle definisies van “die kenners van die [Katolieke] Kerk” gekom het. Daarbenewens het ’n Franse tydskrif gesê dat die meeste artikels oor vermeende sektes hulle oorsprong by antisekte-organisasies gehad het. Klink dit vir jou na die mees onbevooroordeelde manier om objektiewe inligting te kry?

Internasionale howe en organisasies wat met basiese menseregte gemoeid is, soos die VN, sê dat “die onderskeid tussen ’n godsdiens en ’n sekte te kunsmatig is om aanvaarbaar te wees”. Waarom hou party dan aan om die verkleinerende woord “sekte” te gebruik? Dit is ’n verdere bewys dat godsdiensvryheid bedreig word. Hoe kan hierdie noodsaaklike vryheid dan beskerm word?

[Venster/Prente op bladsy 8]

Verdedigers van godsdiensvryheid

Die bloedbad van godsdienskonflikte in die 16de eeu in Europa het ’n kragtige pleidooi om godsdiensvryheid gelewer. Hierdie pleidooie is vandag nog van toepassing op die debat oor godsdiensvryheid.

Sébastien Chateillon (1515-63): “Wat is ’n ketter? Die enigste gevolgtrekking waartoe ek kan kom, is dat ons almal wat nie met ons mening saamstem nie as ketters beskou. . . . As jy in hierdie stad of streek as ’n ware gelowige beskou word, sal jy in ’n ander as ’n ketter beskou word.” Chateillon, wat ’n bekende Franse Bybelvertaler en ’n ywerige verdediger van verdraagsaamheid was, het een van die vername beginsels in die debat oor godsdiensvryheid aangeroer: Wie bepaal wie ’n ketter is?

Dirck Volckertszoon Coornhert (1522-90): “Ons lees dat selfs Christus in die verlede . . . in Jerusalem en baie martelaars daarna in Europa . . . [die samelewing] met hulle woorde van waarheid ontwrig het. . . . Die betekenis van die woord ‘ontwrig’ moet akkuraat en duidelik omskryf word.” Coornhert het geredeneer dat godsdiensverskille nie gelykgestel moet word aan die ontwrigting van die openbare orde nie. Hy het gevra: Hou diegene wat die wet nougeset gehoorsaam en respekteer werklik ’n bedreiging vir die openbare orde in?

Pierre de Belloy (1540-1611): Dit openbaar “onkunde om te glo dat verskillende godsdienste opskuddings in die Staat veroorsaak en dit bevorder”. Belloy, ’n Franse regsgeleerde wat in die tyd van die Godsdiensoorloë (1562-98) geskryf het, het aangevoer dat die eenheid van die Staat nie van godsdienseenvormigheid afhang nie, behalwe natuurlik as die regering aan godsdiensdruk onderworpe is.

Thomas Helwys (c. 1550-c. 1616): “As sy [die koning se] volk gehoorsame en getroue onderdane van alle menslike wette is, behoort hy niks meer van hulle te verwag nie.” Helwys, een van die stigters van die Engelse Baptiste, het ten gunste van die skeiding van Kerk en Staat geskryf en die koning aangespoor om godsdiensvryheid aan alle kerke en sektes toe te staan en om tevrede te wees met burgerlike mag oor mense en besittings. Sy geskrifte het ’n aktuele vraag beklemtoon: Tot watter mate moet die Staat beheer oor geestelike sake uitoefen?

Anonieme skrywer (1564): “Ten einde vryheid van gewete moontlik te maak, is dit nie genoeg om ’n individu toe te laat om hom te onttrek van ’n godsdiens wat hy afkeur as hy nie ook terselfdertyd toegelaat word om die godsdiens te beoefen wat hy wel goedkeur nie.”

[Prente]

Tertullianus

Chateillon

De Belloy

[Erkenning]

Al die foto’s: © Cliché Bibliothèque Nationale de France, Paris

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel