Wat is God se voorneme?
BAIE mense wat oor die bestaan van ’n almagtige, liefdevolle God twyfel, vra: As God wel bestaan, waarom het hy deur die geskiedenis heen soveel lyding en goddeloosheid toegelaat? Waarom laat hy die droewige toedrag van sake toe wat ons vandag om ons sien? Waarom doen hy nie iets om oorloë, misdaad, onregverdigheid, armoede en ander ellendes te beëindig wat in soveel lande van die aarde teen ’n onrusbarende tempo toeneem nie?
Party beweer dat God die heelal geskep het, mense op die planeet Aarde geplaas het en hulle toe aan hulle lot oorgelaat het om hulle eie sake te rig. Volgens hierdie beskouing is God nie verantwoordelik vir die probleme en ellende wat mense weens hulle hebsug of wanbestuur oor hulleself bring nie.
Maar ander verwerp hierdie teorie. Conyers Herring, ’n fisikaprofessor, wat erken dat hy aan God glo, sê byvoorbeeld: “Ek verwerp die idee van ’n God wat lank gelede ’n groot klokwerk aan die gang gesit het en sedertdien soos ’n toeskouer agteroor sit terwyl die mensdom met die raaisel worstel. Een rede waarom ek dit verwerp, is dat my wetenskaplike ondervinding my geen rede gee om te glo dat daar enige ‘klokwerk’-model van die heelal is wat geheel en al korrek is nie. Ons wetenskaplike teorieë . . . sal altyd al hoe meer verfyn kan word, maar ek is seker dat hulle altyd gebrekkig sal wees. Ek dink dit is veiliger om geloof te hê in die lewende krag wat hierdie verbetering altyd moontlik maak.”
God het wel ’n voorneme
God se oorspronklike voorneme met die planeet Aarde was dat dit deur regverdige, volmaakte mense bewoon moet word. Die profeet Jesaja het geskryf: “So sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word.”—Jesaja 45:18.
God het nie die aarde bevolk deur die regstreekse skepping van individuele mense nie, maar dit was eerder sy voorneme dat die aarde deur middel van menslike voortplanting gevul moes word. Toe Adam en Eva teen God in opstand gekom het, het dit nie sy oorspronklike voorneme gedwarsboom nie, maar dit het wel tot ’n noodsaaklike wysiging van sekere besonderhede gelei sodat sy voorneme met die mens en die aarde vervul kan word.
Vir ongeveer die eerste 6 000 jaar van hierdie tydperk het God die mensdom toegelaat om onafhanklik van Sy direkte leiding te lewe. Dit is wat ons eerste ouers uit vrye wil gekies het (Genesis 3:17-19; Deuteronomium 32:4, 5). Die feit dat die mens toegelaat is om onafhanklik van God se leiding te lewe en gevolglik deur mense regeer is en nie deur God nie, het die mens se onvermoë om sy eie voetstappe te rig en sy onvermoë om sy medemense suksesvol te regeer duidelik laat blyk.
Jehovah het natuurlik voor die tyd geweet dat sake so sou afloop. Hy het Bybelskrywers geïnspireer om dit in woorde uit te druk. Die profeet Jeremia het byvoorbeeld geskryf: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.
Die wyse man Salomo het kommentaar gelewer oor die rampspoedige gevolge wanneer mense oor hulle medemens probeer heers, soos hulle deur die eeue heen gedoen het. “Dit alles het ek gesien deurdat ek my hart gerig het op elke werk wat onder die son gedoen word, in ’n tyd waarin die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”—Prediker 8:9.
Die almagtige God ‘sit nie soos ’n toeskouer agteroor terwyl die mensdom met die raaisel worstel nie’, maar hy het in werklikheid goeie rede gehad waarom hy die verloop van hierdie duisende jare toegelaat het sonder om regstreeks in die lewens van die meeste mense in te gryp.
’n Goeie doel is bereik
Die laaste 6 000 jaar van die mensegeskiedenis lyk dalk lank in vergelyking met ons gemiddelde lewensduur van minder as 100 jaar. Maar volgens God se tydrooster en sy beskouing van tyd is hierdie duisende jare soos ses dae—minder as ’n week! Die apostel Petrus het verduidelik: “Laat hierdie een feit egter nie julle aandag ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by Jehovah soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.”—2 Petrus 3:8.
Petrus gaan dan verder om enige klag van versuim of uitstellery deur God te verdedig en voeg by: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.”—2 Petrus 3:9.
Wanneer die toegewese jare verby is, sal die Skepper die wanbestuur van ons pragtige planeet beëindig. Hy sal dan genoeg tyd toegelaat het vir mense om te toon dat hulle nie kan heers of ’n einde aan oorloë, geweld, armoede, siekte en ander oorsake van lyding kan maak nie. Dit sal deur werklike ondervinding bevestig wat God in die begin vir die mens gesê het—dat hulle Goddelike leiding móét volg as hulle suksesvol wil wees.—Genesis 2:15-17.
Volgens die vervulling van Bybelprofesieë lewe ons nou in die finale deel van “die laaste dae” van hierdie goddelose stelsel van dinge (2 Timoteus 3:1-5, 13; Matteus 24:3-14). God se toelating van menseheerskappy sonder sy inmenging, asook van goddeloosheid en lyding, sal binnekort beëindig word (Daniël 2:44). Binnekort sal die grootste verdrukking aanbreek wat hierdie wêreld nog gesien het, en dit sal ’n hoogtepunt bereik in “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”, Armageddon (Openbaring 16:14, 16). Hierdie oorlog van God sal nie sy handewerk die aarde vernietig nie, maar dit sal ‘die verderwers van die aarde verderf’.—Openbaring 11:18.
God se koninkryk van duisend jaar
Daar sal miljoene oorlewendes op die aarde wees wanneer Armageddon verby is (Openbaring 7:9-14). Die profesie in Spreuke 2:21, 22 sal dan vervul wees: “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”
Dit is God se voorneme dat die regverdige oorlog van Armageddon deur ’n spesiale tydperk van duisend jaar gevolg word (Openbaring 20:1-3). Dit sal die Duisendjarige Heerskappy van God se Seun, Christus Jesus, as Koning van God se hemelse Koninkryk uitmaak (Matteus 6:10). Gedurende hierdie vreugdevolle Koninkryksheerskappy oor die aarde sal miljoene der miljoene uit hulle slaap in die dood opgewek word om by die miljoene Armageddon-oorlewendes aan te sluit (Handelinge 24:15). Saam sal hulle tot volmaaktheid herstel word, en dan—aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy van Christus—sal die aarde uiteindelik gevul wees met volmaakte manne en vroue, almal afstammelinge van Adam en Eva. Dan sal God se voorneme is sy volle glorie uitgevoer wees.
Ja, dit is God se voorneme om “‘elke traan van hulle oë [af te vee], en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’ En die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut’” (Openbaring 21:4, 5). Hierdie voorneme sal beslis in die nabye toekoms verwesenlik word.—Jesaja 14:24, 27.
[Prent op bladsy 5]
In God se nuwe wêreld sal mense vir ewig gelukkig lewe