Hoofstuk 16
Waarom sou God lyding toelaat?
1. Wat is ’n algemene rede wat baie mense aanvoer waarom hulle aan die bestaan van ’n Skepper twyfel?
’N ALGEMENE rede waarom baie mense aan die bestaan van ’n Skepper twyfel, is die baie lyding in die wêreld. Deur die eeue heen was daar soveel wreedheid, bloedvergieting en onverbloemde boosheid wat miljoene onskuldige mense geweldig laat ly het. Baie vra gevolglik: ‘As daar ’n God is, waarom laat hy al hierdie dinge toe?’ Soos ons reeds gesien het, pas die Bybelverhaal die feite omtrent die skepping die beste. Kan die Bybel ons dan ook help om te verstaan waarom ’n magtige Skepper soveel lyding so lank sou toelaat?
2. Hoe beskryf die Bybel die omgewing waarin die eerste mensepaar geplaas is?
2 Die eerste hoofstukke van Genesis bied die agtergrond vir die antwoord op hierdie vraag. Dit beskryf die skepping van ’n wêreld waarin daar geen lyding was nie. Die eerste man en vrou is in ’n paradysagtige omgewing, ’n pragtige tuintuiste genaamd Eden, geplaas en aangename en uitdagende werk gegee. Hulle is aangesê om die aarde “te bewerk en te bewaak”. Hulle moes ook toesig hou oor “die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip”.—Genesis 1:28; 2:15.
3. Watter vooruitsig het Adam en Eva gehad?
3 Omdat die eerste mense met volmaakte liggame en volmaakte verstande geskape is, het hulle boonop geen defek gehad nie. Daar het dus geen rede bestaan waarom hulle ooit siek of oud sou word en sou doodgaan nie. Hulle het eerder die vooruitsig op ’n ewige toekoms in ’n aardse paradys gehad.—Deuteronomium 32:4.
4. Wat was God se voorneme met mense en met die aarde self?
4 Die eerste paar is ook aangesê om ‘vrugbaar te wees, te vermeerder en die aarde te vul’. Namate hulle kinders gehad het, sou die mensdom groter word en die grense van die Paradys uitbrei sodat dit eindelik die hele aarde sou oordek. Die mensdom sou dus ’n verenigde gesin wees wat almal in volmaakte gesondheid op ’n paradysaarde woon.
Hulle moes God se heerskappy aanvaar
5. Waarom moes mense God se heerskappy aanvaar?
5 Hierdie harmonie kon alleen voortduur indien die eerste mensepaar hulle Skepper se reg om menslike aangeleenthede te bestuur, aanvaar het. Dit wil sê, hulle moes sy soewereiniteit aanvaar. Waarom? Eerstens, omdat dit gepas was. Die maker van enigiets het tog seker die reg om ’n mate van beheer uit te oefen oor wat hy gemaak het. Hierdie beginsel word al eeue lank in eiendomsregte weerspieël. Daarbenewens moes mense die leiding van hulle Maker aanvaar weens hierdie deurslaggewende feit: Hulle is nie gemaak met die vermoë om hulself met welslae onafhanklik van hulle Skepper te regeer nie, net so min as wat hulle aan die lewe kon bly indien hulle nie geëet, gedrink en asem gehaal het nie. Die geskiedenis het bewys dat die Bybel reg het wanneer dit sê dat “aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Solank mense binne die perke gebly het wat deur hulle Skepper vir hulle gestel is, sou hulle aanhou lewe en suksesvol en gelukkig wees.
6, 7. (a) Watter soort vryheid het God aan mense gegee, en waarom? (b) Watter slegte keuse het die eerste mense gedoen?
6 Mense is ook as kiesende wesens geskape. Hulle is nie gemaak om soos robotte te reageer of gedwing om sekere dinge hoofsaaklik uit instink te doen, soos dit met diere of insekte die geval is nie. Maar hierdie vryheid sou relatief wees, nie absoluut nie. Dit moes verantwoordelik uitgeoefen word, binne die perke van God se wette, wette wat die gemeenskaplike welsyn bevorder het. Kyk hoe die Bybel hierdie beginsel stel: “Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien” (1 Petrus 2:16, NAV). Sonder wette wat menseverhoudinge beheer, sal daar anargie wees en sal die lewens van almal nadelig geraak word.
7 Hoewel relatiewe vryheid dus wenslik is, is te veel vryheid ongewens. As jy ’n kind te veel vryheid gee, kan dit daartoe lei dat hy in ’n besige straat speel of sy hand op ’n warm stoof sit. Algehele vryheid om al ons besluite self te neem sonder om ons Maker se leiding in ag te neem, kan allerhande probleme skep. Dit was die geval met die eerste mense. Hulle het verkies om hulle vryheid te misbruik. Hulle het verkeerdelik besluit om onafhanklikheid van hulle Skepper na te streef en aldus ‘soos God te wees’. Hulle het gemeen dat hulle self kon bepaal wat reg en wat verkeerd is.—Genesis 3:5.
8. Wat het gebeur toe Adam en Eva hulle aan God se heerskappy onttrek het?
8 Toe die eerste mense hulle aan hulle Skepper se leiding onttrek het, het die gevolge vir hulle ooreengekom met wat gebeur wanneer jy die kontakprop van ’n elektriese waaier uittrek. Solank die waaier in kontak met ’n kragbron is, draai dit. Maar wanneer die prop uitgetrek word, draai die waaier stadiger en gaan dit eindelik staan. Dit is wat gebeur het toe Adam en Eva hulle aan hulle Skepper, “die fontein van die lewe”, onttrek het (Psalm 36:10). Omdat hulle moedswillig ’n weg van onafhanklikheid van hulle Maker ingeslaan het, het hy die volle betekenis van hulle keuse by hulle tuisgebring deur hulle op hulle eie te laat. ’n Bybelbeginsel sê: “As julle [God] verlaat, sal Hy julle verlaat” (2 Kronieke 15:2). Sonder hulle Skepper se onderskragende krag, het ’n geleidelike agteruitgang van verstand en liggaam ingetree. Mettertyd het hulle oud geword en gesterf.—Genesis 3:19; 5:5.
9. Hoe is die hele mensdom deur die slegte keuse van die eerste mense geraak?
9 Toe Adam en Eva verkies het om onafhanklik van hulle Maker te wees, het hulle hulle volmaaktheid verloor. Dit was voordat hulle kinders gehad het. Toe hulle later kinders gehad het, was dié gevolglik net soos hulle ouers—onvolmaak. Die eerste mense het dus soos ’n defekte patroon geword. Alles wat hulle voortgebring het, was ook defek. Ons word gevolglik almal onvolmaak gebore en erf die gebreke wat meebring dat ons oud en siek word en sterf. Hierdie onvolmaaktheid, tesame met vervreemding van die Skepper en sy wette, het die sluise van menslike dwaasheid geopen. Die mensdom se geskiedenis was dus vol lyding, droefheid, siekte en sterfte.—Psalm 51:7; Romeine 5:12.
10. (a) Watter opstand het in die geesteryk plaasgevind? (b) Hoe kon so iets gebeur?
10 Wil dit sê dat goddeloosheid geheel en al by mense ontstaan het? Nee, daar is meer by die saak betrokke. Mense was nie die enigste intelligente skepsele wat geskape is nie. God het tevore reeds tallose geesskepsele in die hemele geskape (Job 38:4, 7). Hulle was ook kiesende wesens wat hulle Skepper se leiding kon aanvaar of verwerp. Een van daardie geesskepsele het ’n begeerte na onafhanklikheid gekoester. Sy ambisie het so sterk geword dat dit hom beweeg het om God se gesag uit te daag. Hy het vir Adam se vrou, Eva, gesê dat sy en haar man God se wet kon breek en haar verseker dat hulle desondanks ‘gewis nie sou sterwe nie’ (Genesis 3:4; Jakobus 1:13-15). Sy verklarings het geïmpliseer dat hulle nie hulle Skepper nodig gehad het om aan die lewe te bly en gelukkig te wees nie. Trouens, hy het gesê dat wetsverbreking in werklikheid sake vir hulle sou verbeter en hulle in staat sou stel om soos God te wees. Hy het aldus die geldigheid van God se wette bevraagteken en twyfel gewek oor die wyse waarop God oor hulle regeer. Hy het inderdaad twyfel gewek oor hulle Skepper se reg om te regeer. Weens hierdie wanvoorstelling het hy die naam Satan gekry, wat “teenstander” beteken, asook Duiwel, wat “lasteraar” beteken. Die afgelope 6 000 jaar lank het hierdie gesindheid van Satan die mensdom beïnvloed en sy beleid van ‘regeer of ruïneer’ in die hand gewerk.—Lukas 4:2-8; 1 Johannes 5:19; Openbaring 12:9.
11. Waarom het God nie dadelik die rebelle uitgewis nie?
11 Waarom het God toe nie dadelik hierdie wetsverbrekers, in die mense- sowel as geesteryk, vernietig nie? Die antwoord is opgesluit in die feit dat diepgaande geskille voor die ganse intelligente skepping geopper is. Een van hierdie geskille het vrae soos die volgende behels: Sou onafhanklikheid van God se soewereiniteit ooit blywende voordele meebring? Sou dit vir mense beter wees as God hulle lei, of sou selfbeskikking beter wees? Kon mense, onafhanklik van hulle Skepper, met welslae oor hierdie wêreld heers? Kortom, het mense werklik God se leiding nodig gehad? Hierdie vrae kon alleen met verloop van tyd beantwoord word.
Waarom so lank?
12. Watter aantyging sou teen God gemaak kon word indien hy aan die begin ingegryp het?
12 Maar waarom het God toegelaat dat soveel tyd verstryk voordat hierdie sake besleg word—nou al ongeveer 6 000 jaar? Kon dit nie al lank gelede bevredigend besleg word nie? Wel, as God lank gelede ingegryp het, kon die aantyging gemaak word dat mense nie genoeg tyd gehad het om ’n praktiese regering en die nodige tegnologie te ontwikkel om vrede en voorspoed vir almal te verseker nie. In sy wysheid het God dus geweet dat dit tyd sou verg om die geskille wat geopper is te besleg. Hy het daardie tyd toegelaat.
13, 14. Wat is die gevolge van onafhanklikheid van God?
13 Deur die eeue heen is alle soorte regerings, alle soorte maatskaplike stelsels en alle soorte ekonomiese stelsels op die proef gestel. Daarbenewens het mense genoeg tyd gehad om groot tegnologiese vooruitgang te maak, om onder meer die atoom te benut en na die maan te reis. Met watter gevolge? Het al hierdie dinge die soort wêreld geskep wat die hele mensdom waarlik tot seën strek?
14 Allermins. Niks wat die mens op die proef gestel het, het vir almal ware vrede en geluk gebring nie. Na al hierdie tyd is toestande eerder onbestendiger as ooit. Misdadigheid, oorlog, gesinsverbrokkeling, armoede en honger teister land na land. Die mensdom se voortbestaan word nou bedreig. Kernmissiele met ontsagwekkende vernietigingskrag kan die grootste deel van die mensdom, indien nie die hele mensdom nie, uitwis. Ondanks die pogings oor duisende jare heen, ondanks talle eeue van menslike ondervinding waarop daar gebou kan word en ondanks nuwe tegnologiese prestasies worstel die mensdom steeds onsuksesvol met sy mees basiese probleme.
15. Wat het as gevolg van die mens se opstand met die aarde gebeur?
15 Selfs die aarde is benadeel. Menslike hebsug en verwaarlosing het sekere gebiede in woestyne omgeskep deur die beskermende woude te vernietig. Chemiese en ander afvalprodukte het die grond, water en lug besoedel. Die Bybel se 2 000 jaar oue beskrywing van die toestand van lewe op die aarde is vandag selfs akkurater: “Ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.”—Romeine 8:22.
Wat het dit bewys?
16, 17. Wat het die verloop van soveel tyd bewys?
16 Wat het gebeure gedurende hierdie hele tydperk bo alle twyfel bewys? Dat menseheerskappy onafhanklik van die mens se Skepper onbevredigend is. Daar is duidelik getoon dat dit onmoontlik is om die aarde se aangeleenthede met welslae te bestuur as die mens se Maker nie in aanmerking geneem word nie. Die geskiedenis beaam steeds die Bybel se eerlike beoordeling van mensepogings om te regeer wanneer dit sê: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”—Prediker 8:9.
17 Hoe rampspoedig het mensepogings tog nie verloop as dit vergelyk word met die orde en presisie in die heelal wat deur die wette van die Skepper beheer word nie! Dit is duidelik dat mense ook hierdie soort leiding nodig het wanneer hulle hulle sake bestuur, want die veronagsaming van God se toesig was rampspoedig. Daar is inderdaad tot in alle ewigheid getoon dat ons God se leiding nodig het net soos wat ons lug, water en voedsel nodig het.—Mattheüs 4:4.
18. Hoe het die toelating van tyd om die geskille te besleg ’n permanente presedent vir die toekoms geskep?
18 Deur genoeg tyd toe te laat sodat die geskille in verband met menseheerskappy besleg kan word, het God ook ’n permanente presedent vir die toekoms geskep. Dit kan met ’n fundamentele appèlhofsaak vergelyk word. Die geskil is eens en vir altyd besleg: Menseheerskappy onafhanklik van God kan nie die gewenste toestande op aarde tot stand bring nie. Indien enige kiesende wese ooit in die toekoms God se hantering van sake sou bevraagteken, sou dit nie nodig wees om weer duisende jare toe te laat sodat hy sy bewering kan probeer staaf nie. Alles wat bewys moet word, is bewys in hierdie tyd van ongeveer 6 000 jaar wat God toegelaat het. Tot in alle ewigheid sal geen rebel ooit weer toegelaat word om die vrede en geluk van die lewe op aarde te versteur of om hom op enige ander plek in die heelal met God se soewereiniteit te bemoei nie. Die Bybel sê nadruklik: “Die benoudheid sal nie twee maal opkom nie.”—Nahum 1:9.
God se oplossing
19. Wat is God se oplossing vir die probleem in verband met goddeloosheid?
19 Die Bybel bied dus ’n redelike verduideliking vir die bestaan van lyding in ’n wêreld wat deur God geskep is. Die Bybel toon ook duidelik dat die tyd ophande is wanneer God sy almag gaan gebruik om ontslae te raak van diegene wat lyding veroorsaak.Spreuke 2:21, 22 sê: “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.” Ja, God gaan ‘die verderwers van die aarde verderf’ (Openbaring 11:18). Dit sal eindelik ook die uitwissing van Satan die Duiwel insluit (Romeine 16:20). God sal nie toelaat dat die goddeloses sy pragtige skepping, die aarde, veel langer ontsier nie. Almal wat hulle nie na sy wette skik nie, sal uitgeroei word. Slegs diegene wat God se wil doen, sal bly lewe (1 Johannes 2:15-17). Jy sal tog nie met ’n blomtuin in ’n lap onkruid begin of hoenders en jakkalse in dieselfde hok sit nie. Net so sal God, wanneer hy die Paradys vir regverdige mense herstel, nie terselfdertyd vandale vrye teuels gee nie.
20. Hoe sal die lyding van die verlede uitgewis word?
20 Hoewel die eeuelange lyding baie smartlik was vir diegene wat die slagoffers daarvan was, het daar iets goeds van gekom. Dit kan vergelyk word met ’n ouer wat toelaat dat sy kind ’n pynlike operasie ondergaan om ’n groot gesondheidsprobleem reg te stel. Die voordele op die lange duur weeg baie swaarder as enige tydelike pyn. Daarbenewens sal die toekoms wat God vir hierdie aarde en mense in gedagte het pynlike herinneringe aan die verlede uit die geheue laat vervaag: “Aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie” (Jesaja 65:17). Alle lyding wat mense verduur het, sal dus mettertyd uitgewis word uit die gedagtes van diegene wat lewe wanneer God oor die hele aarde heers. Dan sal die vreugdes alle slegte herinneringe verdring, want God “sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut.”—Openbaring 21:4, 5.
21. Watter geleentheid sal selfs aan die dooies gebied word?
21 Jesus Christus het van hierdie komende Nuwe Orde as “die herskepping” gepraat (Mattheüs 19:28, 29, NW). Persone wat in die verlede gely en gesterf het, sal dan leer dat God wel vir hulle omgee, omdat daardie tydvak ook die letterlike herskepping van oorledenes wat in die graf is, sal sien. Jesus het gesê: “Almal wat in die grafte is, . . . sal uitgaan” tydens ’n opstanding tot die lewe op aarde (Johannes 5:28, 29). So sal die dode ook die geleentheid gebied word om hulle aan God se regverdige heerskappy te onderwerp en die voorreg te geniet om vir ewig “in die Paradys” te lewe, soos Jesus dit genoem het.—Lukas 23:43.
22. Watter toestand sal in die diereryk herstel word?
22 Selfs in die diereryk sal daar vrede wees. Die Bybel sê: “Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees”, en selfs “’n klein seuntjie sal hulle aanja”. In God se Nuwe Orde sal die diere mekaar en mense “geen kwaad [aan]doen of verderf aanrig” nie.—Jesaja 11:6-9; 65:25.
23. In watter toestand sal die ganse skepping van God eindelik wees?
23 “Die skepping” sal dus in alle opsigte “vrygemaak . . . word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”, soosRomeine 8:21 sê. Die aarde sal mettertyd ’n paradys word wat bewoon word deur volmaakte mense—vry van siekte, droefheid en die dood. Lyding sal vir ewig tot die verlede behoort. Alle aspekte van God se aardse skepping sal volkome in harmonie met sy voorneme wees, en dit sal die lelike klad uitwis wat sy heelal duisende jare lank ontsier het.
24. Watter vraag kan oor die Bybel gestel word?
24 Dit is hoe die Bybel God se toelating van lyding verduidelik, asook wat hy gaan doen om die probleem op te los. Maar sommige vra dalk: ‘Hoe weet ek dat ek werklik kan vertrou wat die Bybel sê?’
[Lokteks op bladsy 188]
Baie vra: ‘As daar ’n God is, waarom laat hy al hierdie dinge toe?’
[Lokteks op bladsy 190]
Mense is nie geskape om hulself met welslae onafhanklik van hul Skepper te regeer nie
[Lokteks op bladsy 190]
Vryheid sou relatief wees, nie absoluut nie
[Lokteks op bladsy 192]
Bepeinsing oor die kwaad kan ’n mens verkeerde dinge laat doen
[Lokteks op bladsy 193]
Dit sou tyd verg om die geskille wat geopper is behoorlik te besleg
[Lokteks op bladsy 194]
‘Die hele skepping sug tesame en is tesame in barensnood tot nou toe’
[Lokteks op bladsy 196]
Die Skepper sal nie toelaat dat die goddeloses sy pragtige aarde veel langer ontsier nie
[Lokteks op bladsy 198]
“Die skepping” sal in alle opsigte ‘vrygemaak word van die slawerny van die verganklikheid’
[Prent op bladsy 189]
Die eerste mense het die vooruitsig gehad om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe
[Prente op bladsy 191]
Net soos ’n waaier stadiger draai en eindelik gaan staan as die kontakprop uitgetrek word, het Adam en Eva oud geword en gesterf nadat hulle hulle aan hulle lewensbron onttrek het
[Prente op bladsy 194]
Na al hierdie eeue is wêreldtoestande hagliker as ooit
[Prent op bladsy 195]
Deur genoeg tyd toe te laat sodat die vrae beantwoord kan word, het God ’n presedent vir die toekoms geskep, soos ’n fundamentele appèlhofuitspraak
[Prente op bladsy 197]
Die vreugde in God se Nuwe Orde sal enige lyding wat mense tevore verduur het, uitwis