Die Bybelse beskouing
Moet die dooies vereer word?
“’N DIEPGEWORTELDE GEVOEL BEWEEG DIE MEESTE MENSE OM ’N LYK MET DIE SOORT RESPEK TE BEHANDEL WAT NIE VIR ’N DOOIE DIER GEVOEL WORD NIE.”—ENCYCLOPÆDIA BRITANNICA.
DIE meeste mense vereer hulle afgestorwe dierbares op die een of ander manier. Die dooies word vereer met doodsberigte in koerante, en hulle word geprys in grafredes. In party lande is buitensporige begrafnisse met godsdienstige of tradisionele rituele algemeen. Seremonies vir die dooies kan dae, weke of maande duur. Skole, lughawens, strate en dorpe word vernoem na beroemde mense wat gesterf het. Monumente word opgerig en vakansiedae ingestel om helde te vereer.
Volgens God se Woord is die dooies egter heeltemal onbewus van enige eer wat aan hulle bewys word (Job 14:10, 21; Psalm 49:18). Die dooies lewe net in die geheue van diegene wat hulle onthou. Die Bybel sê: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Die Skrif bied die hoop op ’n opstanding wat in die toekoms gaan plaasvind (Johannes 5:28, 29; 11:25). Maar tot dít gebeur, bestaan die dooies nie. Hulle word letterlik stof.—Genesis 3:19; Job 34:15.
In die lig van die Bybel se duidelike standpunt oor die toestand van die dooies, het dit dan enige nut om hulle te vereer? Moet Christene tradisionele gebruike volg wat verband hou met die begrafnisplegtighede en die teraardebestelling van geliefdes?
Rituele wat op ’n valse veronderstelling gegrond is
Baie, miskien die meeste, van die tradisionele rituele wat met die dooies verband hou, is diepgewortel in nie-Bybelse godsdiensleringe. Party ritusse is veronderstel om “die afgestorwene teen demoonaanvalle te beskerm; soms is die doel van die ritusse om die lewendes teen die besmetting van die dood of die kwaadwilligheid van die dooies te beskerm”, sê die Encyclopædia Britannica. Enige soortgelyke gebruik wat op die valse veronderstelling gegrond is dat die dooies in ’n onsigbare ryk voortlewe, is lynreg in stryd met Bybelwaarhede.—Prediker 9:10.
Baie mense vereer hulle dooies. Hierdie soort aanbidding sluit offerandes en gebede vir afgestorwe voorouers in. Party wat aan sulke rituele deelneem, beskou nie hulle dade as aanbidding nie, maar eerder as huldeblyke of opregte eerbetuigings aan die dooies. Nogtans het hierdie soort verering van afgestorwe voorouers ’n godsdienstige grondslag, en dit is in stryd met Bybelleringe. Jesus Christus het gesê: “Dit is Jehovah jou God wat jy moet aanbid, en dit is aan hom alleen wat jy heilige diens moet verrig.”—Lukas 4:8.
’n Gebalanseerde beskouing
Die betoning van eer en respek vir afgestorwenes hou nie altyd met valse godsdiensleringe verband nie. ’n Bybelverslag vertel byvoorbeeld hoe daar ná getroue koning Hiskia se dood aan hom eer bewys is. God se volk het hom “begrawe teen die hoogte van die grafte van die seuns van Dawid; en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het hom eer bewys by sy dood” (2 Kronieke 32:33). Nog ’n voorbeeld is dié van Jesus. Die Bybel sê dat sy dissipels “die liggaam van Jesus geneem en dit saam met die speserye met verbande toegedraai [het], net soos die Jode die gebruik het om vir ’n begrafnis voor te berei”.—Johannes 19:40.
Die Skrif bevat baie ander gevalle waartydens spesiale prosedures in verband met die liggaam en die begrafnis van afgestorwenes gevolg is. Hierdie gebruike was nie vooroueraanbidding nie, en dit was ook nie gebaseer op die misvatting dat die afgestorwenes aanhou om die lewendes te beïnvloed nie. Die treurendes het eerder diepe respek geopenbaar vir hulle geliefdes. Die Bybel maak nie beswaar teen sulke respek nie, aangesien dit op natuurlike menslike emosies gebaseer is, alhoewel die Bybel nie oordadige of histeriese vertonings by begrafnisse goedkeur nie. Daarenteen moedig dit Christene nie aan om gelate en ongevoelig te wees wanneer ’n geliefde sterf nie.
Wanneer Jehovah se Getuies die begrafnis van hulle geliefdes bywoon, betoon hulle dus gepaste respek en eerbied vir die dooies (Prediker 7:2). Wat blomme, begrafnisdienste en ander plaaslike gebruike betref, maak Christene weldeurdagte persoonlike besluite sodat hulle gebruike kan vermy wat strydig met Bybelleringe is. Goeie oordeel en balans is nodig wat dit betref. Die Encyclopædia of Religion and Ethics verduidelik dat “’n ritus se betekenis en waarde van tyd tot tyd verander, sodat die betekenis wat daaraan geheg word in latere tye baie anders kan wees as wat dit oorspronklik was, en die algemene verduideliking daarvan werp dalk geen lig op die oorsprong daarvan nie”.a
Is dit verkeerd om iemand lof toe te swaai?
Die beginsel van balans geld ook wanneer iemand lof toegeswaai word. By begrafnisdienste probeer Jehovah se Getuies die bedroefdes vertroos (2 Korintiërs 1:3-5). ’n Formele program kan een of meer sprekers insluit. Maar dit sal ongepas wees om die geleentheid te omskep in ’n lang sessie waar sprekers die afgestorwene lof toeswaai. Die begrafnis bied eerder ’n geleentheid om God se wonderlike eienskappe te verheerlik, waaronder sy goedhartigheid om ons die opstandingshoop te gee.
Dit beteken egter nie dat dit verkeerd sal wees om die goeie eienskappe van die afgestorwene gedurende ’n begrafnistoespraak te onthou nie. (Vergelyk 2 Samuel 1:17-27.) Wanneer die afgestorwene tot die dood getrou aan God was, word hy of sy ’n uitstekende voorbeeld om na te volg (Hebreërs 6:12). Dit is goed om oor die onkreukbare lewensweg van God se knegte na te dink. As hierdie positiewe gedagtes tydens ’n begrafnisdiens met ander bespreek word, vertroos dit die lewendes en word die nagedagtenis van die afgestorwene in ere gehou.
Ware Christene aanbid nie die dooies nie. Hulle neem nie deel aan gewilde ritusse wat in stryd met Bybelwaarhede is nie. Daarenteen verwerp God se knegte die uiterste beskouing dat alle begrafnisgebruike sinloos en onnodig is omdat die dooies bloot stof is. Hulle treur oor en onthou hulle afgestorwenes. Maar hulle pyn en droefheid word getemper deur die Bybelwaarhede dat die dooies nie ly nie en dat daar ’n opstandingshoop is.
[Voetnoot]
a Die Wagtoring van 15 Oktober 1991, bladsy 31, gee die volgende riglyne: “’n Ware Christen moet hieroor dink: As ek ’n gebruik sou volg, sal dit dan aan ander toon dat ek onskriftuurlike opvattings of gebruike aangeneem het? Die tyd en plek kan ’n invloed op die antwoord hê. ’n Gebruik (of ontwerp) het moontlik duisende jare gelede ’n valse godsdienstige betekenis gehad of het dit moontlik vandag in ’n verafgeleë land. Maar sonder om ’n tydrowende ondersoek te doen, moet jy jou afvra: ‘Wat is die algemene siening waar ek woon?’—Vergelyk 1 Korintiërs 10:25-29.”
[Prent op bladsy 10]
Die lykstoet ter ere van Gustav II, koning van Swede, ná sy dood in 1632
[Erkenning]
Uit die boek Bildersaal deutscher Geschichte