Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 1/1 bl. 27-30
  • Pas op vir gebruike wat God mishaag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pas op vir gebruike wat God mishaag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die toestand van die dooies?
  • Geboorte en naamgeeseremonies
  • Oorgang van die dood na die lewe
  • Druk om toe te gee
  • Toon respek vir die dooies—Vereer Jehovah
  • Christelike begrafnisse—Waardig, beskeie en aanneemlik vir God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Moet die dooies vereer word?
    Ontwaak!—1999
  • Die Christelike beskouing van begrafnisgebruike
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • “Voed die mond, nie die voete nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 1/1 bl. 27-30

Pas op vir gebruike wat God mishaag

IN ’N klein binneplaas staan ’n doodskis oop onder die warm Afrikason. Terwyl roubeklaers een-een verbyloop om hulle droefheid te toon, gaan ’n ou man by die kis staan. Sy oë is vol smart wanneer hy oorleun en naby die dooie man se gesig begin praat: “Hoekom het jy nie vir my gesê dat jy weggaan nie? Hoekom het jy my so gelos? Sal jy my nog help noudat jy teruggekeer het?”

In ’n ander deel van Afrika word ’n baba gebore. Niemand mag die kind sien nie. Eers ná verloop van tyd word die baba uitgebring sodat mense hom kan sien en word hy tydens ’n seremonie ’n naam gegee.

Party mense vind dit dalk vreemd dat iemand met ’n dooie praat of dat mense nie toelaat dat ander ’n pasgebore kind sien nie. Maar in sommige kulture en gemeenskappe word mense se gedrag en beskouings met betrekking tot die dood en geboorte beïnvloed deur ’n baie sterk oortuiging dat die dooies nie werklik dood is nie, maar dat hulle lewe en ’n bewuste bestaan voer.

Hierdie oortuiging is so sterk dat dit verweef is met gebruike en ritusse wat met bykans alle aspekte van die lewe verband hou. Miljoene mense glo byvoorbeeld dat belangrike stadiums in ’n mens se lewe—soos geboorte, puberteit, die huwelik, swangerskap en die dood—deel uitmaak van ’n oorgang tot die geesteryk van die voorouers. Daar gaan die afgestorwene glo voort om ’n aktiewe rol te speel in die lewe van dié wat hy agtergelaat het. En hy kan die lewenskringloop voortsit deur weer gebore te word.

Om te verseker dat die oorgang tussen al die stadiums van hierdie kringloop glad verloop, word tallose gebruike en ritusse gevolg. Hierdie gebruike word beïnvloed deur die opvatting dat iets binne ons ná die dood voortleef. Ware Christene vermy enige gebruike wat met hierdie opvatting verband hou. Waarom?

Wat is die toestand van die dooies?

Die Bybel gee ’n duidelike beskrywing van die toestand van die dooies. Dit sê eenvoudig: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks . . . Hulle liefde en hulle haat en hulle jaloesie het reeds vergaan . . . Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool [die mensdom se gemeenskaplike graf], die plek waarheen jy gaan nie” (Prediker 9:5, 6, 10). Ware aanbidders van God aanvaar al lank hierdie basiese Bybelwaarheid. Hulle verstaan dat die siel nie onsterflik is nie, maar kan sterf en vernietig kan word (Esegiël 18:4). Hulle weet ook dat geeste van die dooies nie bestaan nie (Psalm 146:4). In die ou tyd het Jehovah sy volk streng beveel om hoegenaamd niks te doen te hê met enige gebruik of ritus wat verband hou met die opvatting dat die dooies ’n bewuste bestaan voer en die lewendes kan beïnvloed nie.—Deuteronomium 14:1; 18:9-13; Jesaja 8:19, 20.

Eerste-eeuse Christene het eweneens enige tradisionele gebruik of ritus vermy wat met valse godsdiensleerstellings verband gehou het (2 Korintiërs 6:15-17). Vandag vermy Jehovah se Getuies, ongeag hulle ras, stam of agtergrond, tradisies en gebruike wat verband hou met die valse leerstelling dat iets in die mens ná die dood voortleef.

Wat kan ons as Christene rig in ons besluit of ons ’n sekere gebruik gaan volg of nie? Ons moet noukeurig nadink of dit moontlik verband hou met enige onskriftuurlike leerstelling, soos die opvatting dat geeste van dooies die lewe van die lewendes beïnvloed. Verder moet ons kyk of ons deelname aan so ’n gebruik of seremonie ander wat weet wat Jehovah se Getuies glo en leer, kan laat struikel. Kom ons ondersoek met hierdie punte in gedagte twee gebiede wat dikwels probleme oplewer—geboorte en die dood.

Geboorte en naamgeeseremonies

Talle gebruike wat met kindergeboorte gepaardgaan, is gepas. Maar in plekke waar geboorte beskou word as ’n oorgang uit die ryk van die voorouergeeste na dié van die mensegemeenskap moet ware Christene versigtig wees. In party dele van Afrika word ’n pasgebore kind byvoorbeeld binnenshuis gehou en eers ’n naam gegee nadat ’n sekere tydperk verloop het. Hoewel die wagtyd van plek tot plek kan verskil, eindig dit met ’n naamgeeseremonie, waartydens die kind buitentoe gebring en formeel vir familie en vriende gewys word. Op hierdie stadium word die kind se naam amptelik bekend gemaak aan dié wat daar is.

Die boek Ghana—Understanding the People and Their Culture verduidelik die betekenis van hierdie gebruik en sê: “Gedurende die eerste sewe dae van ’n baba se lewe word daar gemeen dat hy op ‘besoek’ is en besig is om oor te gaan van die geestewêreld na aardse lewe. . . . Die baba word gewoonlik binnenshuis gehou en mense buite die gesin mag hom nie sien nie.”

Waarom is daar ’n wagtyd voor die naamgeeseremonie? Die boek Ghana in Retrospect verduidelik: “Voor die agtste dag word die kind nog nie as ’n mens beskou nie. Hy word in werklikheid vereenselwig met die ander wêreld waarvandaan hy gekom het.” Die boek sê verder: “Aangesien die naam die kind as ’t ware mens laat word, sal ’n paartjie wat bang is dat hulle kind sal sterf, hom gewoonlik eers ’n naam gee wanneer hulle seker is dat hy sal lewe. . . . Hierdie oorgangsritus, wat soms die uitbringing van die kind genoem word, is glo van groot belang vir die kind en sy ouers. Dit is hierdie seremonie wat die kind in die geselskap of wêreld van mense inbring.”

’n Ouer familielid lei gewoonlik so ’n naamgeeseremonie. Aspekte van die geleentheid verskil van plek tot plek, maar die seremonie sluit dikwels in dat ’n drankoffer uitgegiet word, gebede tot die voorouergeeste gerig word om hulle vir die veilige aankoms van die kind te bedank, asook ander ritusse.

Die hoogtepunt van die seremonie is wanneer die naam van die kind bekend gemaak word. Hoewel dit die ouers se verantwoordelikheid is om hulle kind ’n naam te gee, oefen ander familielede dikwels ’n groot invloed uit wanneer ’n naam gekies word. Party name kan ’n simboliese betekenis in die plaaslike taal hê, soos “hy was weg en het teruggekeer”, “Moeder het ’n tweede keer gekom” of “Vader het weer gekom”. Ander name het betekenisse wat bedoel is om die voorouers te ontmoedig om die pasgebore kind na die wêreld van die dooies terug te neem.

Dit is natuurlik glad nie verkeerd om bly te wees oor die geboorte van ’n kind nie. Om ’n kind na iemand te vernoem of om hom ’n naam te gee wat met die omstandighede van sy geboorte verband hou, is aanvaarbare gebruike, en wanneer om ’n kind ’n naam te gee, is ’n persoonlike besluit. Maar Christene wat God wil behaag, sorg dat hulle enige gebruike of seremonies vermy wat die indruk skep dat hulle saamstem met die beskouing dat die pasgebore kind ’n “besoeker” is wat van die geestewêreld van die voorouers na die wêreld van die lewendes oorgaan.

Wat meer is, al beskou baie in die gemeenskap die naamgeeseremonie as ’n belangrike oorgangsritus, moet Christene ander se gewete in ag neem en dink watter indruk hulle by ongelowiges kan skep. Tot watter slotsom kan party byvoorbeeld kom as ’n Christengesin nie wil hê dat ander hulle pasgebore kind sien voordat ’n naamgeeseremonie gehou is nie? Watter indruk sal dit skep as hulle name kies wat in stryd is met hulle bewering dat hulle onderrigters van Bybelwaarheid is?

Wanneer Christene dus besluite neem oor hoe en wanneer hulle hulle kinders name wil gee, moet hulle daarna streef om “alles tot heerlikheid van God” te doen sodat hulle nie ’n oorsaak van struikeling word nie (1 Korintiërs 10:31-33). Hulle ‘skuif nie die gebod van God opsy om oorleweringe te behou’ wat eintlik bedoel is om die dooies te vereer nie. Hulle gee eerder eer en heerlikheid aan die lewende God, Jehovah.—Markus 7:9, 13.

Oorgang van die dood na die lewe

Baie meen dat die dood, soos geboorte, ’n oorgang is; iemand wat sterf, gaan van die sigbare wêreld oor na die onsigbare ryk van die geeste van die dooies. Baie dink dat die voorouergeeste, wat glo die krag het om die lewendes te straf of te beloon, kwaad sal word as sekere begrafnisgebruike en -ritusse nie gevolg word wanneer iemand sterf nie. Hierdie opvatting het ’n groot invloed op die manier waarop begrafnisse gereël en gehou word.

Begrafnisse wat gehou word om die dooies te paai, gaan dikwels gepaard met ’n verskeidenheid emosies wat wissel van ’n histeriese gekerm en geskreeu by die lyk tot vreugdevolle feesviering ná die begrafnis. Onbeheerste etery, dronkenskap en ’n gedans op harde musiek is dikwels kenmerkend van sulke begrafnisfeeste. Begrafnisse word so belangrik geag dat selfs die armste gesinne dikwels met groot moeite genoeg geld probeer bymekaarmaak om “’n gepaste begrafnis” te reël, al bring dit miskien ontberinge en skuld mee.

Deur die jare heen het Jehovah se Getuies onskriftuurlike begrafnisgebruike duidelik geïdentifiseer.a Hierdie gebruike sluit dinge in soos lykwake, die uitgieting van drankoffers, om met die dooies te praat en versoeke tot hulle te rig, plegtige vierings van begrafnisherdenkings sowel as ander gebruike wat gegrond is op die opvatting dat iets binne ’n mens ná die dood voortleef. Sulke godonterende gebruike is “onrein”, dit is “leë bedrog” wat op “die oorlewering van mense” gegrond is en nie op God se Woord van waarheid nie.—Jesaja 52:11; Kolossense 2:8.

Druk om toe te gee

Dit is vir sommige baie moeilik om tradisionele gebruike te vermy, veral in lande waar die verering van die dooies as uiters belangrik beskou word. Omdat Jehovah se Getuies nie sulke gebruike volg nie, is hulle al met agterdog bejeën of daarvan beskuldig dat hulle antisosiaal is en geen respek vir die dooies het nie. Weens kritiek en hewige druk was party, ten spyte van hulle juiste begrip van Bybelwaarheid, bang om opvallend anders te wees (1 Petrus 3:14). Ander het gevoel dat hierdie gebruike deel van hulle kultuur is en nie heeltemal vermy kan word nie. Nog ander het geredeneer dat die gemeenskap bevooroordeeld kan raak teen God se knegte as hulle weier om hierdie gebruike te volg.

Ons wil ander mense nie onnodig aanstoot gee nie. Maar die Bybel waarsku ons dat ons ons die misnoeë van die wêreld wat van God vervreemd is, op die hals sal haal as ons ferm standpunt inneem vir die waarheid (Johannes 15:18, 19; 2 Timoteus 3:12; 1 Johannes 5:19). Ons neem hierdie standpunt gewillig in omdat ons weet dat ons anders moet wees as dié wat in geestelike duisternis verkeer (Maleagi 3:18; Galasiërs 6:12). Net soos Jesus Satan se versoeking weerstaan het om iets te doen wat God mishaag, weerstaan ons die druk om dinge te doen wat God mishaag (Matteus 4:3-7). Ware Christene word nie deur mensevrees beïnvloed nie, maar is hoofsaaklik besorg daaroor om Jehovah God te behaag en hom as die God van waarheid te vereer. Hulle doen dit deur nie toe te gee wanneer ander mense druk op hulle uitoefen om Bybelstandaarde prys te gee nie.—Spreuke 29:25; Handelinge 5:29.

Toon respek vir die dooies—Vereer Jehovah

Dit is normaal om diep emosionele pyn en droefheid te ervaar wanneer ’n geliefde sterf (Johannes 11:33, 35). Om die herinnering aan ’n geliefde te koester en ’n waardige begrafnis vir so iemand te reël, is gepaste blyke van ons liefde. Maar Jehovah se Getuies verwerk die ontsettende droefheid wat die dood meebring sonder om betrokke te raak by enige tradisionele gebruike wat God mishaag. Dit is nie maklik vir diegene wat grootgeword het in kulture waar groot vrees vir die dooies bestaan nie. Dit kan ’n uitdaging wees om ons ewewig te behou wanneer ons emosionele pyn ervaar weens die dood van ’n geliefde. Getroue Christene word nietemin versterk deur Jehovah, “die God van alle vertroosting”, en vind baat by die liefdevolle ondersteuning van medegelowiges (2 Korintiërs 1:3, 4). Hulle sterk geloof in die toekomstige opstanding van die dooies wat in God se geheue is en van niks bewus is nie, gee ware Christene alle rede om hoegenaamd niks te doen te hê met onchristelike begrafnisgebruike wat die werklikheid van die opstanding loën nie.

Is ons nie verheug dat Jehovah ons “uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” nie? (1 Petrus 2:9). Mag ons sterk begeerte om te doen wat reg is en ons innige liefde vir Jehovah God, ons altyd aanspoor om “voort [te gaan] om as kinders van die lig te wandel” wanneer ons die vreugde van geboorte en die droefheid van die dood ervaar. Mag ons nooit toelaat dat onchristelike gebruike wat God mishaag, ons in geestelike sin besoedel nie.—Efesiërs 5:8.

[Voetnoot]

a Sien asseblief die brosjures Geeste van die dooies—Kan hulle jou help of jou skaad? Bestaan hulle werklik? en Die weg na die ewige lewe—Het jy dit gevind?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel