Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 2/8 bl. 16-19
  • Die soort klere wat ons dra—Maak dit werklik saak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die soort klere wat ons dra—Maak dit werklik saak?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Watter boodskap dra klere oor?
  • Wat word van standaarde?
  • Waarom is mense so behep met hulleself en hulle identiteit?
  • Is my kleredrag gepas?
  • Gebruik “gesonde verstand” wanneer jy aantrek
  • Verheerlik jy God deur jou kleredrag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Hoe kan ek my klerekas verbeter?
    Ontwaak!—1995
  • Hoekom ons kleredrag en voorkoms saak maak
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Beskeidenheid in kleredrag en persoonsversorging
    Ons Koninkryksbediening—2002
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 2/8 bl. 16-19

Die soort klere wat ons dra—Maak dit werklik saak?

“EK WEET nie wat om aan te trek nie!” Klink hierdie woorde bekend? Hedendaagse modehuise is natuurlik altyd gretig om jou met hulle nuutste modes te help—of jou selfs meer te verwar.

Om besluite nóg moeiliker te maak, word jy dalk deesdae aangemoedig om nie netjies nie, maar slordig aan te trek. ’n Modeartikel sê die volgende oor hierdie omgekeerde neiging van die negentigerjare: “Dit kan gerusstellend wees om uit te vind dat dit nie net aanvaarbaar is om effens afgeleef, oud, verslete en oor die algemeen verbleik te lyk nie, maar dat dit ook wenslik is.”

Ja, in die laaste jare het aggressiewe reklame, TV-rolmodelle, portuurs, selfverheerliking en ook die soeke na identiteit hulle klerekasbetowering laat werk, veral op jongmense. Party van hulle steel selfs om in die mode te wees.

Talle gewilde style van die negentigerjare het hulle oorsprong by ekstremistiese kulture van die verlede, soos die hippiebeweging van die sestigerjare in die Westerse gemeenskap. Baarde, onversorgde lang hare en slordige kleredrag het ’n verwerping van tradisionele waardes getoon. Maar die kleredrag van opstandigheid het ook ’n nuwe soort gelykvormigheid aangewakker, ’n nuwe soort portuurdwang.

Kleredrag het ’n algemener en kragtiger middel geword om aan jou identiteit uiting te gee. Klere, veral T-hemde, het reklameborde geword wat stilweg gewilde sportsoorte en sporthelde, humor, ontnugtering, aggressie, sedelikheid—of ’n gebrek daaraan—en handelsware adverteer. Of hulle kan jou skok. Neem byvoorbeeld ’n onlangse opskrif in Newsweek: “Wreedheid as modestelling onder tieners.” Die artikel haal ’n 21-jarige aan wat die volgende oor sy T-hemp sê: “Ek dra dit omdat dit vir mense sê in watter gemoedstoestand ek is. Ek vat nie nonsens van enigiemand nie en wil net uitgelos word.”

Wat op borskasse en rûe vertoon word, verskil dalk van persoon tot persoon. Maar tog kan gelykvormigheid—aan ’n groepsidentiteit of aan die heersende gees van opstandigheid, egoïsme, roekeloosheid of geweld—oral gesien word. Een ontwerper skiet gate deur klere volgens sy klante se spesifikasies. “Hulle kan kies tussen rewolwergate, geweergate of masjiengeweergate”, sê hy. “Dit is net ’n modestelling.”

Watter boodskap dra klere oor?

“Klere is oor die algemeen ’n manier om jou met ’n spesifieke groep mense in die samelewing te identifiseer”, sê Jane de Teliga, ’n mode-kurator by die Powerhouse-museum in Sydney, Australië. Sy sê voorts: “Jy kies die groep mense met wie jy geïdentifiseer wil word en trek daarvolgens aan.” Dr. Dianna Kenny, ’n sielkundedosent aan die Universiteit van Sydney, het gesê kleredrag is net so belangrik soos godsdiens, rykdom, beroep, etnisiteit, opvoeding en huisadres as ’n maatstaf waarvolgens mense geklassifiseer word. Volgens die tydskrif Jet het rassespanning by ’n oorheersend wit skool in die Verenigde State “uitgebreek omdat Wit skoolmeisies vlegsels, lospassende klere en ander ‘hip-hop’-modes gedra het wat aan Swartes gekoppel word”.

Groepbewustheid kan ook duidelik in sommige subkulture waargeneem word, soos in die musiekwêreld: “In baie gevalle”, sê die tydskrif Maclean’s, “kom mense se kleredrag ooreen met hulle smaak in musiek: reggae-aanhangers dra die helder kleure en pette van Jamaika, terwyl diegene wat van grunge-rock hou wolmussies en geruite hemde dra.” Maar ongeag wat hulle verkies, die slordige, verwaarloosde, armoedige voorkoms wat grunge genoem word, kan ’n klein fortuintjie kos.

Wat word van standaarde?

“Alles is anders as wat ’n mens dalk dink”, sê die rubriekskrywer Woody Hochswender. “Mansmodes, wat voorheen aan streng standaarde voldoen het, het al hoe meer buite beheer geraak . . . Alles moet lyk asof dit sommer so in die hardloop aangetrek is.” Maar hierdie neiging kan in sommige omstandighede ’n traak-my-nieagtige gesindheid verraai. Of dit kan ’n gebrek aan selfrespek of ’n gebrek aan respek vir ander openbaar.

In ’n artikel oor wat leerlinge van onderwysers dink, verduidelik die tydskrif Perceptual and Motor Skills: “Al word die onderwyser wat jeans dra, gesien as iemand wat aangenaam in die klaskamer is, het sy menings die minste respek afgedwing en is hy die meeste keer aangewys as die onderwyser wat blykbaar niks weet nie.” Dieselfde tydskrif sê dat “’n onderwyseres wat jeans dra, gesien is as iemand wat aangenaam is, menslik en nie juis goed ingelig is nie, min respek afdwing, nie soos ’n onderwyseres lyk nie en oor die algemeen bo ander verkies word”.

Intussen word daar in die sakewêreld ’n ander modestelling gemaak: magsdrag. In die laaste jare wou meer vroue die korporatiewe leer klim. “Ek trek aan om aan te val”, sê Marie, ’n bestuurderes van ’n uitgewersmaatskappy. “Ek wil raakgesien word. Ek wil hê mense moet dink ek lyk fantasties”, sê sy verder. Marie erken eerlik dat sy selfbehep is.

Dit is onvermydelik dat gewilde modes ook in die kerke gesien word. Party van die meer modebewustes het selfs hulle kerk gebruik om met hulle nuutste uitrustings te spog. Maar die geestelikes, wat in hulle lang togas uitgevat is, sien vandag dikwels van die preekstoel af ’n gemeente wat jeans en seilskoene of die nuutste modes aan het.

Waarom is mense so behep met hulleself en hulle identiteit?

Sielkundiges sê dat modedrag—veral onder jongmense—’n aspek van egosentrisme is, aangesien dit uitdrukking gee aan die begeerte om aandag te trek. Hulle beskryf dit as “die chroniese neiging aan die kant van die adolessent om homself as die middelpunt van ander se belangstelling te sien”. Hy of sy sê in werklikheid: “Ek dink dat julle net so behep is met my as wat ek met myself is.”—American Journal of Orthopsychiatry.

Filosofieë wat die belangrikheid van die mens beklemtoon en God as irrelevant beskou, het ook die denke gevoed (wat dikwels deur die handel bevorder word) dat jy, die individu, die heel belangrikste persoon in die heelal is. Die probleem is dat daar tans byna sesmiljard van hierdie ‘heel belangrikste’ persone is. Miljoene in die Christendom se godsdienste het ook onder hierdie materialistiese aanslag geswig deur “’n lekker lewe, die oomblik,” na te jaag. (Vergelyk 2 Timoteus 3:1-5.) Voeg hierby die verbrokkeling van die gesin en die verkoeling van opregte liefde, en dit is glad nie verbasend dat baie, veral jongmense, hulle tot enigiets wend vir ’n gevoel van identiteit en sekuriteit nie.

Maar dit spreek vanself dat diegene wat oor hulle kleredrag en hulle posisie voor God besorg is, sal vra: Tot watter mate moet ek my by veranderende standaarde in kleredrag aanpas? Hoe weet ek of my kleredrag gepas is? Gee dit verwarrende of selfs verkeerde indrukke oor my?

Is my kleredrag gepas?

Wat ons dra, is hoofsaaklik ’n persoonlike keuse. Ons individuele smake verskil, en ons het ook nie almal ewe veel geld nie. En gebruike verskil van plek tot plek, van land tot land en van een klimaatstreek tot ’n ander. Maar ongeag wat jou situasie is, hou hierdie beginsel in gedagte: “Vir alles is daar ’n seisoen, en ’n tyd vir elke saak onder die hemel” (Prediker 3:1, Revised Standard Version). Met ander woorde, dra klere wat by die geleentheid pas. En tweedens, ‘wandel beskeie met jou God’.—Miga 6:8, NW.

Dit beteken nie dat jy preuts moet aantrek nie, maar eerder dat jy “goed versorgde” klere moet dra wat van “gesonde verstand” getuig (1 Timoteus 2:9, 10). Dikwels beteken dit bloot dat jy selfbeheersing moet beoefen, ’n eienskap wat die tydskrif Working Woman aan goeie smaak en elegansie koppel. ’n Goeie praktiese reël is om nooit toe te laat dat jou klere die eerste ding is wat mense raaksien nie, dat dit ander oorweldig nie. Working Woman sê: “Trek so aan . . . dat mense verby jou klere kan kyk en jou waarde as ’n individu kan raaksien.”

Die tydskrif Perceptual and Motor Skills sê: “’n Versameling lektuur wat die rol van kleredrag in die vorming van indrukke en nieverbale kommunikasie ondersoek, toon dat kleredrag ’n belangrike maatstaf is waarvolgens ons eerste indrukke van ander vorm.” ’n Vrou in haar veertigerjare, wat haar voorheen verlustig het in haar vermoë om aandag te trek deur haar kleredrag, sê in verband hiermee: “Dit het groot probleme vir my geskep omdat dit die onderskeid tussen die professionele en die private sy van my lewe laat vervaag het. Daar was altyd sakekennisse wat my wou uitneem vir ete.” ’n Vroulike rekenmeester, wat ’n heeltemal ander styl beskryf, sê: “Ek het gesien hoe mans teenoor vroue optree wat in ’n baie manlike styl aantrek. Daar word aangeneem dat hulle aggressiewe vroue is wat altyd gereed is om iemand ’n nekslag toe te dien, en mans is minder inskiklik teenoor hulle.”

’n Jong meisie met die naam Jeffie het uitgevind dat sy verwarrende indrukke gegee het toe sy haar hare volgens ’n modegier laat knip het. “Ek het net gedink dat dit ‘anders’ lyk”, sê sy. “Maar mense het my begin vra: ‘Is jy regtig een van Jehovah se Getuies?’ en dit het my in die verleentheid gebring.” Jeffie moes haarself ’n paar indringende vrae vra. Trouens, is dit nie so dat “die oorvloed van die hart” ook in ons kleredrag en persoonsversorging weerspieël word, en nie net deur wat ons sê nie? (Matteus 12:34). Wat openbaar jou kleredrag—’n hart wat daarop gerig is om aandag op die Skepper of op jouself te vestig?

Gebruik “gesonde verstand” wanneer jy aantrek

Dink ook aan die uitwerking wat jou klere op jou het. Magsdrag en windmakerige kleredrag streel dalk jou ego, slordige kleredrag kan negatiewe gedagtes versterk wat jy oor jouself koester en T-hemde wat jou geliefkoosde rolprent- of sportster of die een of ander held adverteer, kan jou by heldeverering—afgodediens—laat betrokke raak. Ja, jou klere praat met ander—en vertel hulle van jou.

Wat sê jou klere van jou as jy aantrek om mense te beïndruk of te prikkel? Is jy besig om persoonlikheidseienskappe aan te moedig waarteen jy eintlik behoort te stry? Bowendien, watter soort persoon se aandag probeer jy trek? Die raad wat in Romeine 12:3 opgeteken is, kan ons help om egosentrisiteit, ydelheid en negatiewe denke te oorwin. Die apostel Paulus raai ons daar aan “om nie meer van [onsself] te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat [ons] ’n gesonde verstand het”. Om “gesonde verstand” te hê, beteken om oordeelkundig te wees.

Dit is veral belangrik vir diegene in verantwoordelike en vertrouensposisies. Hulle voorbeeld het ’n kragtige invloed op ander. Dit spreek vanself dat diegene wat uitreik na diensvoorregte in die Christengemeente sowel as hulle Christenvrouens eweneens ’n beskeie en eerbiedige gesindheid in hulle kleredrag en persoonsversorging sal openbaar. Ons wil nooit soos die man wees wat deur Jesus in sy illustrasie van die huweliksfees uitgesonder is nie: “Toe die koning inkom om die gaste te inspekteer, het hy ’n man daar gesien wat nie in ’n huwelikskleed geklee was nie.” Toe hy uitvind dat hierdie man geen geldige rede gehad het waarom hy so oneerbiedig geklee was nie, “het die koning vir sy knegte gesê: ‘Bind sy hande en voete vas en gooi hom uit.’”—Matteus 22:11-13.

Daarom is dit belangrik dat ouers deur wat hulle sê en die voorbeeld wat hulle stel hulle kinders help om ’n heilsame gesindheid te hê wat klere betref sowel as goeie smaak aan te kweek. Dit sal dalk beteken dat ouers soms ferm moet wees wanneer hulle met hulle seun of dogter redeneer. Maar hoe bemoedigend is dit tog wanneer ons onverwags geprys word vir die hoë standaard van ons jongmense se kleredrag en gedrag, sowel as vir ons eie!

Ja, Jehovah se knegte is bevry van ydelheid, duur giere en selfbeheptheid. Hulle het Goddelike beginsels om hulle te lei, nie die gees van die wêreld nie (1 Korintiërs 2:12). As ’n mens volgens hierdie beginsels lewe, behoort dit nie te moeilik te wees om jou klere te kies nie. Bowendien sal jou klere, soos ’n goed gekose raam om ’n foto, nie jou persoonlikheid oorweldig of afbreuk daaraan doen nie. En hoe meer jy soos God probeer wees, hoe meer sal jy ’n geestelike skoonheid aankweek wat baie dieper gaan as net jou klere.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel