Comenius—die vader van die moderne onderwys
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE TSJEGGIESE REPUBLIEK
AS ’N onderwyser was Jan Komenski (Comenius) deeglik bewus van die tekortkominge van die 17de-eeuse skoolstelsel waarin hy gewerk het. Daar was weliswaar nog geen onderwysstelsel wat volmaak was nie, maar die Europese skoolstelsel van die 17de eeu was eenvoudig skokkend.
Comenius het besluit om eerder iets aan die saak te doen as om onbetrokke te bly en net te kla of aantygings te maak. Wat het hy gedoen, en waarom? Wat kan ons boonop leer by die man wat die vader van die moderne onderwys genoem word?
Opvoeding en opleiding
Comenius (Jan Amos Komenski in Tsjeggies, sy moedertaal) is op 28 Maart 1592 in Morawië, ’n streek in die hedendaagse Tsjeggiese Republiek, gebore. Hy was die jongste van vyf kinders en die enigste seun van ’n redelik gegoede boer en sy vrou.
Sy ouers was lede van die Broedergemeente (later bekend as die Boheemse Broeders of die Morawiese Kerk), ’n godsdiensgroep wat in die middel van die 15de eeu onder die invloed van die Waldense en ander hervormers soos Peter Chelčický ontstaan het. Nadat hy sy opleiding in Duitsland voltooi het, het Comenius na sy vaderland teruggekeer. Later, toe hy 24 jaar oud was, is hy tot ’n priester van die Broedergemeente georden.
Waarom hy in ballingskap gegaan het
In 1618 het Comenius ’n beroep aanvaar na ’n klein gemeente in Fulnek, sowat 240 kilometer oos van Praag. Op daardie tydstip was die Katolieke Teenhervorming teen Protestantisme in Europa aan die gang. Spanning tussen Katolieke en Protestante het opgelaai totdat die Dertigjarige Oorlog (1618-48) uiteindelik uitgebreek het.
Ná ’n dekade van oorlogvoering is die Rooms-Katolieke godsdiens tot die enigste wettige godsdiens in Morawië verklaar. Comenius en lede van die hoër stande het ’n keuse gehad—aanvaar Katolisisme of verlaat die land. Aangesien Comenius nie van plan was om hom te laat bekeer nie, het hy sy gesin na die buiteland, na die klein dorpie Leszno, geneem, ’n vername sentrum vir die bedrywighede van die Broedergemeente in Pole. Dit was die begin van ’n 42 jaar lange ballingskap. Hy het hom nooit weer in sy vaderland gevestig nie.
“Slaghuise van die verstand”
Comenius het werk gekry as ’n onderwyser in Latyn by die Leszno Gimnasium—’n voorbereidingskool vir universiteitstudente. Maar kort voor lank het hy ontevrede geraak met die swak onderrigmetodes—en dít met goeie rede.
Die skoolstelsel in Comenius se tyd was in ’n ellendige toestand. Die algemene opinie was byvoorbeeld dat net seuns verdien het om skool te gaan, hoewel seuns wat in armoede gebore is, uitgesluit is. In die klas is die leerlinge se koppe hoofsaaklik vol Latynse woorde, sinne en sinsleer gestop. Waarom? Omdat die meeste Middeleeuse skole deur die Katolieke Kerk beheer is, wat sy eredienste in Latyn gehou het. Dit was dus noodsaaklik om leerlinge Latyn te leer om te verseker dat daar altyd nuwelinge sal wees om vir die priesteramp te werf.
Hulle het boonop glad nie spesifieke doelwitte vir leerlinge gestel nie, en onderrigting was ook nie bedoel om leerlinge geleidelik van eenvoudige idees tot ingewikkelder idees te help vorder nie. Dissipline was streng, soms wreed, en die sedelike klimaat was verskriklik.
Dit is dus geen wonder dat die Skotse opvoedkundige Simon Laurie 17de-eeuse skole eenkeer as “hopeloos onbeplan” en “oninteressant” beskryf het nie. Comenius se kommentaar was selfs toepasliker. Hy het skole “slaghuise van die verstand” genoem.
’n Nuwe onderwysmetode ontwikkel
Comenius was nie die eerste een wat hom oor die behoefte aan onderwyshervorming uitgespreek het nie. In Engeland het Francis Bacon die klem wat op Latyn geplaas is, veroordeel en voorgestel dat die natuur weer bestudeer moet word. Wolfgang Ratke en Johann Valentin Andreae in Duitsland sowel as ander het ook verbeteringe probeer aanbring. Maar nie een van hulle het daarin geslaag om amptelike steun vir hulle idees te kry nie.
Comenius het ’n stelsel voorgestel waarvolgens leer ’n aangename ondervinding sou wees, nie ’n geswoeg nie. Hy het sy onderwysskema pampaedia genoem, wat “universele onderwys” beteken. Dit was sy doelwit om ’n progressiewe onderrigstelsel in werking te stel wat almal kon geniet. Kinders moet op progressiewe wyse geleer word, het hy gesê, met maklike begrippe wat natuurlikerwys tot ingewikkelder begrippe lei. Comenius was ook ten gunste van die gebruik van die moedertaal eerder as Latyn gedurende die eerste paar skooljare.
Onderwys moet egter nie tot die adolessensie beperk word nie, maar dit moet gedurende ’n mens se hele lewe voortgaan. Comenius het geskryf dat studie “heeltemal prakties, heeltemal genotvol [moet wees], en só dat dit skool ’n ware speletjie, m.a.w. ’n aangename inleiding tot ons hele lewe, maak”. Hy het ook geglo dat skool nie net aandag moet gee aan opvoeding van die verstand nie, maar van die hele persoon—dat dit sedelike en geestelike onderrigting moet insluit.
Die werke van Jan Komenski
Die eerste van Comenius se werke op die gebied van die onderwys was The School of Infancy, wat in 1630 uitgegee is.a Dit is ontwerp as ’n gids wat moeders en kinderoppassters kon gebruik wanneer hulle kinders by die huis geleer het. Dit is in 1631 gevolg deur The Gate of Languages Unlocked, wat ’n omwenteling teweeggebring het in die manier waarop leerlinge Latyn geleer is. Die teks is in parallelle kolomme uitgelê, een in Tsjeggies en een in Latyn. Die twee tale kon dus maklik met mekaar vergelyk word, wat dit baie makliker gemaak het om te leer. Sy hersiene uitgawe van hierdie leermiddel is so goed ontvang dat dit uiteindelik in 16 tale vertaal is.
Die beroemdste en moontlik eenvoudigste van Comenius se werke was The Visible World, ’n geïllustreerde leesboek vir kinders. Dit was ook ’n mylpaal in die geskiedenis van die opvoedkunde. Ellwood Cubberley, ’n 20ste-eeuse professor in opvoedkunde, sê dat dit “honderd-en-vyftien jaar lank geen mededinger in Europa gehad het nie; en dit is byna tweehonderd jaar lank as ’n inleidende handboek gebruik”. Baie van vandag se geïllustreerde handboeke volg trouens nog steeds die algemene formaat van Comenius se werk, wat illustrasies as leermiddele gebruik.
Comenius is kort voor lank as ’n genie vereer. Deur die hele Europa heen het geleerdes hom as ’n leier beskou en sy raad gesoek. Volgens die boek Magnalia Christi Americana het Comenius al hoe beroemder geword totdat hy in 1654 genooi is om die president van die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, te wees. Maar Comenius het geweier omdat hy nie roem, aansien of ’n hoë posisie wou hê nie.
Wat het hom gemotiveer?
Nadat ’n mens op Comenius se lewe ingegaan het, kan jy nie anders as om te wonder wat hom gemotiveer het nie. Comenius het die onderwys as ’n verenigende krag vir die mensdom beskou. Hy het volgehou dat universele onderwys wêreldvrede kon help bewaar.
Comenius het ook kennis met godvresendheid verbind. Hy het geglo dat die mensdom deur die verwerwing van kennis uiteindelik tot God gerig word. En dit was dalk sy belangrikste motief.
Comenius se gedagtes oor opvoeding is vandag nog geldig. Sy sistematiese onderrigmetodes, waaronder die gebruik van visuele hulpmiddels, word regoor die wêreld gebruik—byvoorbeeld, in die lektuur wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word. Ons kan ook persoonlik daarby baat vind as ons sy metodes gebruik wanneer ons persoonlike Bybelstudie doen of wanneer ons ’n gesinsbybelstudie hou. Hoe?
“Leerlinge moet nie toegegooi word met sake wat nie geskik is vir hulle ouderdom, begrip en huidige omstandighede nie”, het Comenius geskryf. Wanneer jy dus jou kinders van die Bybel of enige ander onderwerp leer, moet jy die lesse by hulle probeer aanpas. Vertel hulle liewer verhale oor Bybelkarakters as om ’n formele vraag-en-antwoord-metode te gebruik. Betrek hulle, miskien deur hulle prente van Bybelse gebeure te laat teken of deur hulle aan te moedig om Bybelverhale op te voer. Gebruik jou verbeelding! Die resultate sal dit die moeite werd maak.—Spreuke 22:6.
Maak ook ten volle gebruik van die geïllustreerde lektuur wat spesiaal ontwerp is om jongmense op ’n progressiewe wyse te leer, soos My boek met Bybelverhale en Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk.b En wanneer jy Bybelstudente van enige ouderdom leer, moet jy die inisiatief neem om dit vir hulle ’n ‘heeltemal praktiese, heeltemal genotvolle’ ondervinding te maak.
’n Blywende nalatenskap
Toe ’n brand in 1656 in die dorp Leszno gewoed het, het Comenius byna al sy besittings verloor. Maar hy het gelukkig ’n ander soort rykdom nagelaat. Die boek A Brief History of Education sê: “Comenius . . . het die hele klem in onderwys van woorde na dinge verskuif, en hy het die onderrigting in wetenskaplike kennis en nuttige wêreldinligting die tema van sy werk gemaak.”
Comenius kan inderdaad die erkenning daarvoor kry dat hy die onderwys meer van ’n wetenskap gemaak het. Sy onderrigmetodes het as ’t ware ’n revolusie in die klaskamer teweeggebring. Die Amerikaanse opvoedkundige Nicholas Butler het gesê: “Comenius beklee ’n baie belangrike plek in die geskiedenis van die onderwys. Die hele moderne beweging op die gebied van laer- en hoërskoolonderwys word deur hom ingelui en oorheers.” Jehovah se Getuies, ywerige Bybelstudente, het ook rede om dankbaar te wees teenoor die vader van die moderne onderwys.
[Voetnote]
a In 1657 het Comenius The Great Didactic in Latyn uitgegee as deel van die Opera Didactica Omnia.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Venster/Prente op bladsy 23]
’N PAAR ONDERRIGBEGINSELS VAN JAN KOMENSKI
Oor die hoeveelheid leerstof: “Die onderwyser moet ander nie soveel leer as wat hý kan leer nie, maar soveel as wat die leerling kan inneem.”
Oor onderrigmetodes: “Om ’n goeie onderwyser te wees, is om iemand te help om vinnig, op aangename wyse en deeglik te leer.”
“’n Bekwame onderwyser [is] iemand wat weet hoe om die onkunde van sy leerlinge geduldig te verdra en ook hoe om daardie onkunde doeltreffend uit die weg te ruim.”
“Om ander te leer, beteken bloot om te toon hoe dinge van mekaar verskil wat hulle doel, vorm en oorsprong betref. . . . Gevolglik is die een wat goed kan onderskei ’n goeie onderwyser.”
Oor logiese verband: “Enigiets wat nie sin maak nie, kan nie verstaan of reg beoordeel word nie en gevolglik kan dit nie gememoriseer word nie.”
“Wanneer besonderhede ontbreek, is dit byna onmoontlik om ’n saak te verstaan of te beoordeel en net so onmoontlik om dit te memoriseer.”
Oor begrip: “Om enigiets te verstaan, is grootliks ’n kwessie van begrip van waarom en hoe daardie ding in enige van sy dele met iets anders verband hou en hoe en tot watter mate dit van ander soortgelyke dinge verskil.”
“Daar is al tereg gesê dat ons iets een keer moet lees om uit te vind waaroor dit gaan; ’n tweede keer om dit te verstaan; ’n derde keer om dit te onthou; die vierde keer moet ons dit saggies vir onsself herhaal om te toets of ons dit heeltemal onder die knie het.”
[Prent]
’n Bladsy uit “The Visible World”, 1883-uitgawe
[Prent op bladsy 24]
’n Duitse leesboek van 1775, wat Comenius se beginsels van onderrigting gebruik