Hoe om verstandelik gesond te bly
ONS liggaamlike gesondheid is in ’n groot mate afhanklik van wat ons in ons liggaam inneem. As iemand gereeld gemorskos eet, sal sy gesondheid uiteindelik daaronder ly. Dieselfde beginsel geld vir ons verstandelike gesondheid.
Jy kan byvoorbeeld die dinge wat ons in ons verstand inneem met ’n soort verstandelike voedsel vergelyk. Verstandelike voedsel? Ja, die inligting wat ons deur middel van boeke, tydskrifte, televisieprogramme, video’s, videospeletjies, die Internet en woorde van liedjies inneem, kan ’n uitwerking op ons denke en ons persoonlikheid hê net soos letterlike voedsel ’n uitwerking op ons liggaam het. Hoe so?
Die voormalige reklamebestuurder Jerry Mander het die volgende geskryf oor die invloed wat televisie op ons lewe het: “Die grootste enkele uitwerking van televisie is dat dit beelde in ons brein sit.” Daardie geestesbeelde doen egter baie meer as om ons te vermaak. Die tydskrif The Family Therapy Networker sê: “Die massamedia se taal, beelde, klanke, idees, karakters, situasies, waardes en estetiese sin word deel van ons gedagtes, gevoelens en verbeelding.”
Ja, of ons dit nou besef of nie, ons gedagtes en gevoelens kan op ’n subtiele wyse beïnvloed word deur dit waarna ons op televisie kyk en deur ander vorme van vermaak. En dit is hier waar die gevaar lê. Soos Mander sê, “verander ons stadigaan in watter beelde ons ook al in ons verstand het”.
Gif vir die brein
Baie mense wat dalk noukeurig let op wat hulle eet, verslind blindelings enige verstandelike voedsel wat deur die media aan hulle voorgesit word. Het jy byvoorbeeld al iemand hoor sê: “Daar is niks goeds op TV nie!” Dit lyk asof party, wat aanhoudend van kanaal tot kanaal verander in die hoop dat hulle iets sal vind wat die moeite werd is, gehipnotiseer is. Hulle dink nie eers vir een oomblik daaraan om die TV af te skakel nie!
Benewens die feit dat dit soveel tyd in beslag neem, beeld baie programme temas uit wat Christene wil vermy. “Behalwe vloektaal”, sê die kunsskrywer Gary Koltookian, “word daar vandag baie meer kontroversiële en seksuele onderwerpe op die skerm vertoon as in die verlede.” Trouens, ’n onlangse studie in die Verenigde State het bevind dat daar gedurende spitstyd op TV gemiddeld 27 keer per uur tonele met ’n seksuele inhoud voorkom.
Dit laat ’n mens wonder watter uitwerking dit op mense se denke het. In Japan het een gewilde televisiedrama soveel mense meegevoer dat die land se media gesê het dat dit tot ’n “golf van egbreuk” gelei het. Daarbenewens sê die skrywers van die boek Watching America: “Vandag word die meeste vorme van seksuele gedrag . . . beskou as [mense] se geoorloofde keuses wat hulle persoonlike lewenswyse betref.”
Nietemin is TV-programme wat seksuele temas verheerlik net ’n deel van die probleem. Eksplisiete tonele van geweld is ook algemeen. Wat veral kommer wek, is die skadelike uitwerking wat gewelddadige TV-programme en rolprente op jong, ontvanklike verstande kan hê. “Wanneer jong kinders sien hoe iemand op TV geskiet, gesteek, verkrag, wreed mishandel, verneder of vermoor word”, sê David Grossman, ’n afgetrede leëroffisier en gesaghebbende oor die sielkunde in verband met moord, “is dit vir hulle asof dit werklik gebeur”. The Journal of the American Medical Association het oor dieselfde probleem kommentaar gelewer en gesê: “Tot op 3- en 4-jarige ouderdom kan baie kinders nie tussen die werklikheid en fantasie in televisieprogramme onderskei nie, en hulle kan dit selfs nie doen as hulle leiding van ’n volwassene ontvang nie.” Met ander woorde, selfs al sê ’n ouer vir ’n kind: ‘Daardie mense is nie rêrig dood nie; hulle maak net asof hulle mekaar doodmaak’, kan ’n kind se verstand nog steeds nie ’n onderskeid tref nie. Vir ’n jong kind is geweld op TV baie werklik.
Die tydskrif Time het die impak van “mediageweld” só opgesom: “Min navorsers doen nog moeite om die feit te betwis dat bloedvergieting op TV en in rolprente ’n uitwerking het op die kinders wat daarna kyk.” Watter soort uitwerking het dit? “Dekades van gewelddadige vermaak het daarin geslaag om die publiek se denke en waardes te verander”, sê die rolprentresensent Michael Medved. Hy voeg by: “Dit is glad nie ’n positiewe verwikkeling vir ’n gemeenskap wanneer dit nie meer geskok kan word nie.” Dit is geen wonder nie dat een skrywer gesê het dit “is gif vir [sy] brein” om ’n vierjarige na gewelddadige rolprente te laat kyk.
Dit beteken natuurlik nie dat alle televisieprogramme sleg is nie. Dieselfde geld vir boeke, tydskrifte, video’s, rekenaarspeletjies en ander vorme van vermaak. Maar baie van dit wat vermaak genoem word, is ongetwyfeld ongepas vir diegene wat verstandelik gesond wil bly.
Wees verstandig in jou keuse van vermaak
Beelde wat deur ons oë na ons verstand oorgedra word, oefen ’n kragtige invloed op ons gedagtes en dade uit. As ons ons verstand byvoorbeeld gereeld met onsedelike vermaak voed, kan ons voorneme om die Bybel se bevel te gehoorsaam om te “vlug vir die hoerery” ondermyn word (1 Korintiërs 6:18). As ons insgelyks vermaak geniet waarin “manne wat ongeregtigheid werk” uitgebeeld word, kan dit vir ons moeilik wees om “vreedsaam teenoor alle mense” te wees (Psalm 141:4; Romeine 12:18). As ons dit wil voorkom, moet ons nie kyk na wat “waardeloos” is nie.—Psalm 101:3, NW; Spreuke 4:25, 27.
Dit is wel so dat dit weens oorgeërfde onvolmaaktheid vir almal van ons ’n stryd is om te doen wat reg is. Die apostel Paulus het openlik erken: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is” (Romeine 7:22, 23). Beteken dit dat Paulus die stryd teen sy vleeslike swakhede gewonne gegee het? Hoegenaamd nie! Hy het gesê: “Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf, sodat ek . . . nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie.”—1 Korintiërs 9:27.
Ons wil eweneens nooit ons onvolmaaktheid as ’n verskoning vir sonde gebruik nie. Die Bybelskrywer Judas het gesê: “Geliefdes, . . . ek [het] dit nodig gevind om aan julle te skryf om julle te vermaan om hard te stry vir die geloof wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3, 4). Ja, ons moet ‘hard stry’ en vermaak vermy wat ons beweeg om te doen wat sleg is.a
Soek Goddelike leiding
Dit is nie altyd maklik in hierdie stelsel van dinge om verstandelik gesond te bly nie. Maar die Bybel verseker ons dat dit wel moontlik is om verstandelik en sedelik rein te bly. Hoe? In Psalm 119:11 lees ons: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.”
Om God se woord in ons hart te bêre, beteken dat ons dit as kosbaar beskou of ’n hoë waarde daaraan heg. Dit sal natuurlik moeilik wees om waardering vir die Bybel te hê as ons nie weet wat dit sê nie. As ons juiste kennis van God se Woord inneem, maak ons God se gedagtes ons eie (Jesaja 55:8, 9; Johannes 17:3). Dit verryk ons weer geestelik en verhef ons denke.
Is daar ’n betroubare maatstaf van wat geestelik en verstandelik gesond is? Ja! Die apostel Paulus het vermaan: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.”—Filippense 4:8.
Maar meer as kennis van God is nodig as ons waarlik bevoordeel wil word. Die profeet Jesaja is geïnspireer om te skryf: “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.” (Jesaja 48:17, ons kursiveer.) Ja, ons moet nie net Goddelike leiding probeer vind nie, maar ons moet ook daardie kennis toepas.
Nog ’n manier waarop ons ons sedelik en geestelik kan bevoordeel, is om Jehovah, die “Hoorder van die gebed”, aan te roep (Psalm 65:3; 66:19). As ons ons Skepper in opregtheid en nederigheid nader, sal hy na ons smekinge luister. En as ons ‘Hom soek, sal Hy Hom laat vind’.—2 Kronieke 15:2.
Is dit dus moontlik om in hierdie gewelddadige en onsedelike wêreld verstandelik gesond te bly? Dit is beslis! As ons nie toelaat dat hierdie wêreld se vermaak ons verstande ongevoelig maak nie, as ons ons denkvermoë deur ’n studie van God se Woord verskerp en as ons Goddelike leiding probeer vind, kan ons verstandelik gesond bly!
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 22 Mei 1997, bladsye 8-10, vir meer inligting oor hoe om heilsame vermaak te kies.
[Lokteks op bladsy 9]
‘Baie kinders kan nie tussen die werklikheid en fantasie in televisieprogramme onderskei nie’
[Lokteks op bladsy 11]
“Dekades van gewelddadige vermaak het daarin geslaag om die publiek se denke en waardes te verander”
[Venster op bladsy 11]
Hoe om die risiko van hartsiekte te verminder
Die Nutrition Action Healthletter stel die volgende stappe voor om jou te help om die risiko van hartsiekte te verminder.
• Hou op rook. As jy vandag ophou, kan jy binne ’n jaar die risiko van hartsiekte verminder, selfs al sit jy gewig aan.
• Verloor gewig. As jy oorgewig is, kan dit ’n verskil maak as jy selfs net twee tot vyf kilogram verloor.
• Doen oefeninge. Gereelde oefening (ten minste drie keer per week) help om skadelike cholesterol (LDL) te verminder, keer dat jou bloeddruk styg en keer dat jy gewig aansit.
• Eet minder versadigde vette. As jou LDL hoog is, moet jy vleis met minder vet begin eet en 1-persent-melk (laevet) of afgeroomde (vetvrye) melk probeer in plaas van 2-persent-melk.
• Beperk jou alkoholinname. Daar is aanduidings dat diegene wat ’n matige hoeveelheid rooi wyn drink moontlik die risiko van hartsiekte verminder.
• Eet meer vrugte, groente en ander kossoorte wat baie oplosbare vesel bevat.
[Prent op bladsy 8]
Geweld op TV is soos gif vir ’n kind se brein
[Prent op bladsy 9]
Kinders boots soms die geweld na wat hulle op TV sien
[Prent op bladsy 10]
Ouers kan hulle kinders help deur ’n verskeidenheid goeie leesstof te voorsien