Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 5/22 bl. 6-9
  • Het televisie jou verander?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het televisie jou verander?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Meesterlike verleier
  • TV en sedes
  • Fantasie versus die werklikheid
  • ’n Invloedryke masjien
  • Kinders van die kassie
  • Beheers televisie voordat dit jou beheers
    Ontwaak!—1991
  • Maniere om beheer daaroor te kry
    Ontwaak!—2006
  • Verstandige gebruik van die televisie
    Ontwaak!—2000
  • TV—Die “subtiele onderrigter”
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 5/22 bl. 6-9

Het televisie jou verander?

’N “VENSTER op die wêreld”. Dit is hoe televisie beskryf word. In die boek Tube of Plenty—The Evolution of American Television sê skrywer Erik Barnouw dat televisie teen die vroeë sestigerjare “vir die meeste mense . . . hulle venster op die wêreld geword het. Die uitsig wat dit gebied het, was blykbaar die wêreld. Hulle het vertrou dat dit grondig en volledig was.”

’n Blote venster kan egter nie die uitsig kies wat dit jou bied nie; dit kan nie die beligting of die hoek van die uitsig bepaal nie; dit kan ook nie die uitsig plotseling verander net om jou aandag te behou nie. TV kan wel. Sulke faktore het ’n drastiese uitwerking op jou gevoelens en die gevolgtrekkings wat jy maak oor die dinge waarna jy kyk; tog word hulle beheer deur die mense wat TV-programme vervaardig. Selfs die onpartydigste nuusuitsendings en dokumentêre programme word aan sulke manipulasie onderwerp, hoe onopsetlik dit ook al mag wees.a

’n Meesterlike verleier

Alte dikwels probeer die mense wat televisie beheer egter openlik om kykers te beïnvloed. In advertensies het hulle byvoorbeeld feitlik vrye teuels om enige verleidelike truuk tot hulle beskikking te gebruik om jou sover te kry om te koop. Kleur. Musiek. Mooi mense. Erotiek. Pragtige tonele. Hulle repertoire is eindeloos, en hulle gebruik dit meesterlik.

’n Voormalige bestuurder in die advertensiewese het die volgende oor sy 15 jaar in hierdie beroep geskryf: “Ek het geleer dat dit moontlik is om deur middel van die media [soos TV] direk in mense se verstande in te praat en dan, soos ’n towenaar met bonatuurlike kragte, beelde in hulle verstande te laat wat mense kan beweeg om dinge te doen wat hulle andersins nooit eers sou gedroom het om te doen nie.”

Reeds in die vyftigerjare was dit duidelik dat televisie so ’n groot invloed op mense het. ’n Lipstiffiemaatskappy wat R125 000 per jaar gemaak het, het op Amerikaanse televisie begin adverteer. Binne twee jaar het verkope die hoogte ingeskiet tot R11 750 000 per jaar! ’n Bank is skielik onder deposito’s van R37 500 000 toegegooi nadat hy sy dienste aangebied het op ’n TV-program wat onder vroue gewild was.

Vandag kyk die gemiddelde Amerikaner elke jaar na oor die 32 000 advertensies. Die advertensies speel verleidelik op die emosies. Soos Mark Crispin Miller in Boxed In—The Culture of TV geskryf het: “Dit is waar dat ons gemanipuleer word deur die dinge waarna ons kyk. Die advertensies wat ons daaglikse lewe oorheers, beïnvloed ons voortdurend.” Hierdie manipulasie, sê hy verder, “is gevaarlik sekuur omdat dit dikwels moeilik is om dit te onderskei, en dit sal dus nie misluk nie totdat ons geleer het hoe om dit raak te sien”.

Maar televisie verkoop meer as lipstiffies, politieke standpunte en kultuur. Dit verkoop ook sedes—of die gebrek daaraan.

TV en sedes

Min mense sal verbaas wees om te hoor dat seksuele gedrag al hoe meer op Amerikaanse TV uitgebeeld word. ’n Studie wat in 1989 in Journalism Quarterly gepubliseer is, het bevind dat daar gedurende 66 uur van prima tyd op netwerk-TV altesaam 722 gevalle van seksuele gedrag was, hetsy dit daarop gesinspeel het, daaroor gepraat het of dit aanskoulik uitgebeeld het. Voorbeelde het gewissel van erotiese aanraking tot geslagsgemeenskap, masturbasie, homoseksualiteit en bloedskande. Dit het gemiddeld 10,94 keer elke uur voorgekom!

Die Verenigde State is nouliks uniek wat dit betref. Franse TV-rolprente beeld eksplisiete seksuele sadisme uit. Ontkleedanse word op Italiaanse TV vertoon. Laatnag-Spaanse TV vertoon gewelddadige en erotiese rolprente. Die lys word al hoe langer.

Geweld is nog ’n soort TV-onsedelikheid. In die Verenigde State het ’n TV-resensent vir die tydskrif Time onlangs die “grusame humor” in ’n reeks gruwelprogramme opgehemel. Die programme het tonele van onthoofding, verminking, deurboring en besetenheid ingesluit. Natuurlik is baie van die TV-geweld minder grusaam—en dit word baie makliker oor die hoof gesien. Toe Westerse televisie onlangs in ’n afgeleë dorpie in Côte d’Ivoire, Wes-Afrika, gedemonstreer is, het een verbysterde ou man net gevra: “Waarom steek, skiet en slaan blankes mekaar altyd?”

Die antwoord is natuurlik dat televisieregisseurs en borge die kykers die dinge wil gee wat die kykers wil sien. Geweld trek kykers. Seks ook. Daar word dus ’n groot hoeveelheid van albei op TV vertoon—maar nie te veel en te gou nie, anders sal die kykers afgestoot word. Donna McCrohan het in Prime Time, Our Time gesê: “Die meeste gewilde programme gaan so ver as wat hulle kan wat vuil taal, seks, geweld of ander onderwerpe betref; dan, nadat hulle tot die uiterste gegaan het, oorskry hulle die grens totdat die kykers afgestomp raak. Daarna is die publiek gereed vir nuwe uiterstes.”

Homoseksualiteit is vroeër byvoorbeeld beskou as buite “die grens” van goeie smaak vir televisie. Maar nadat kykers daaraan gewoond geraak het, was hulle gereed om meer te aanvaar. ’n Franse joernalis het beweer: “Geen regisseur sal dit vandag waag om homoseksualiteit as ’n afwyking uit te beeld nie . . . Dit is eerder die gemeenskap en sy onverdraagsaamheid wat vreemd is.” In 1990 het ’n ‘homoseksuele strooisage’ sy eerste vertoning in 11 stede op Amerikaanse kabeltelevisie gehad. Die program het tonele bevat waar mans saam in die bed is. Die program se regisseur het aan die tydskrif Newsweek gesê dat sulke tonele deur homoseksuele geskep is om “die gehoor af te stomp sodat mense sal besef dat ons maar net sulke mense soos hulle is”.

Fantasie versus die werklikheid

Volgens die leiers van die studie wat in Journalism Quarterly gepubliseer is, kom die “voortdurende stortvloed van strelende seksuele verbeeldingsvlugte” op TV neer op ’n kampanje waar verkeerde inligting oorgedra word, aangesien die TV feitlik nooit die gevolge van ongeoorloofde seks toon nie. Hulle het ’n ander studie aangehaal wat tot die gevolgtrekking gekom het dat TV-vervolgverhale veral hierdie boodskap oordra: Seks is vir ongetroude maats, en niemand kry ’n siekte daarvan nie.

Is dit die wêreld soos jy dit ken? Voorhuwelikse seks sonder tienerswangerskappe of seksueel oorgedraagde siektes? Homoseksualiteit en biseksualiteit sonder die vrees om Vigs op te doen? Geweld en opsetlike besering wat helde laat oorwin en skurke verneder—maar waar albei dikwels wonderbaarlik nie beseer word nie? TV skep ’n wêreld waar dade gerieflik sonder gevolge is. Die wette van die gewete, van sedelikheid en van selfbeheersing word vervang deur die wet van onmiddellike bevrediging.

Dit is dus duidelik dat televisie nie ’n “venster op die wêreld” is nie—ten minste nie op die werklike wêreld nie. Trouens, ’n onlangse boek oor televisie word The Unreality Industry (Die onwerklikheidsnywerheid) genoem. Die skrywers daarvan beweer dat TV “een van die sterkste magte in ons lewe geword het. Die gevolg is dat TV nie net bepaal wat werklikheid is nie, maar baie belangriker en verontrustender is die feit dat TV die verskil, die grens, tussen werklikheid en onwerklikheid uitwis.”

Hierdie woorde is dalk ontstellend vir diegene wat dink dat hulle teen televisie se invloed bestand is. ‘Ek glo nie alles wat ek sien nie’, redeneer sommige. Ons is weliswaar geneig om TV te wantrou. Maar deskundiges waarsku dat hierdie instinktiewe skeptisisme ons dalk nie sal beskerm teen die subtiele maniere waarop TV op ons gevoelens speel nie. Een skrywer het gesê: “Een van TV se beste kunsies is om nooit te laat blyk presies hoeveel dit ons psigiese meganismes beïnvloed nie.”

’n Invloedryke masjien

Volgens die 1990 Britannica Book of the Year kyk Amerikaners elke dag gemiddeld sewe uur en twee minute televisie. ’n Konserwatiewer skatting is ongeveer twee uur per dag, maar dit kom nog steeds neer op sewe jaar van televisiekykery in ’n leeftyd! Hoe kan sulke groot dosisse TV nie ’n invloed op mense hê nie?

Dit is nouliks verbasend wanneer ons lees van mense wat sukkel om tussen TV en die werklikheid te onderskei. ’n Studie wat in die Britse tydskrif Media, Culture and Society gepubliseer is, het bevind dat TV wel veroorsaak dat sommige mense “’n alternatiewe uitkyk op die werklike wêreld” ontwikkel, wat hulle gerusstel sodat hulle dink dat hulle wense oor die werklikheid die werklikheid vervang. Ander studies, soos dié deur die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Geestesgesondheid, staaf blykbaar hierdie bevindinge.

As TV gewilde opvattings oor die werklikheid beïnvloed, hoe kan dit dan nie mense se lewe en dade beïnvloed nie? Donna McCrohan skryf in Prime Time, Our Time: “Wanneer ’n uiters gewilde TV-program taboes of taalgrense skend, voel ons ook meer vry om dit self te skend. Ons word eweneens beïnvloed wanneer . . . promiskuïteit die norm is, of ’n hipermanlike karakter sê dat hy kondome gebruik. In elke geval dien TV mettertyd as die spieël van die mens wat ons oortuig kan wees ons is, en derhalwe oor die algemeen word.”

Die opkoms van die TV-eeu het beslis ’n ooreenstemmende vermeerdering in onsedelikheid en geweld meegebring. Toevallig? Nouliks. Een studie het getoon dat die syfer vir misdaad en geweld in drie lande toegeneem het slegs nadat TV in elkeen van daardie lande bekend gestel is. Waar TV gouer bekend gestel is, het die misdaadsyfer gouer gestyg.

Dit is verbasend dat TV nie eers beskou word as die ontspannende tydverdryf wat baie blykbaar dink dit is nie. Studies onder 1200 persone wat oor ’n tydperk van 13 jaar gemaak is, het bevind dat televisiekykery van alle tydverdrywe dié tydverdryf is wat mense waarskynlik die minste laat ontspan. Dit het kykers eerder passief, dog gespanne gemaak, en het veroorsaak dat hulle nie kon konsentreer nie. Veral lang tydperke van TV-kykery het veroorsaak dat sommige mense se bui slegter was as toe hulle begin kyk het. In teenstelling daarmee het lees mense meer laat ontspan, hulle bui verbeter, en kon hulle makliker konsentreer!

Maar hoe konstruktief die lees van ’n goeie boek ook al is, TV, die behendige dief van tyd, kan boeke maklik op die agtergrond skuif. Toe televisie die eerste keer in die stad New York bekend gestel is, het die openbare biblioteke spoedig ’n afname in boeksirkulasie gerapporteer. Natuurlik beteken dit nie dat die mensdom gaan ophou lees nie. Tog is daar gesê dat mense vandag met minder geduld lees, dat hulle aandag maklik dwaal as hulle nie gedurig kleurvolle beelde sien nie. Statistieke en studies sal dalk nie sulke vae bedenkinge staaf nie. Wat verloor ons nietemin ten opsigte van persoonlike diepte en dissipline as ons daarop staatmaak om gedurig vertroetel te word deur ’n konstante vloei van TV-vermaak, wat daarop gemik is om selfs diegene wat baie swak konsentreer se aandag elke vlietende oomblik te boei?

Kinders van die kassie

Dit is egter waar dit kinders aangaan dat televisie werklik ’n ernstige saak word. Watter uitwerking TV ook al in die algemeen op volwassenes kan hê, dit kan vir seker dieselfde uitwerking op kinders hê—net nog meer. Kinders is per slot van rekening meer geneig om aan die fantasiewêrelde te glo wat hulle op TV sien. Die Duitse koerant Rheinischer Merkur/Christ und Welt het ’n onlangse studie aangehaal wat bevind het dat kinders dikwels “nie kan onderskei tussen die werklikheid en wat hulle op die skerm sien nie. Die onwerklike dinge wat hulle sien, word vir hulle ’n werklikheid.”

Meer as 3 000 wetenskaplike studies gedurende dekades van navorsing rugsteun die gevolgtrekking dat gewelddadige televisieprogramme ’n negatiewe uitwerking op kinders en tienderjariges het. Organisasies van goeie naam, soos die Amerikaanse Akademie van Pediatrie, die Nasionale Instituut vir Geestesgesondheid en die Amerikaanse Mediese Vereniging, stem almal saam dat geweld op televisie aggressiewe en antisosiale gedrag in kinders veroorsaak.

Studies het ander verontrustende gevolge aan die lig gebring. Vetsug onder kinders is byvoorbeeld met oormatige TV-kykery in verband gebring. Daar is blykbaar twee redes daarvoor. (1) Ure waartydens hulle passief voor die kassie sit, vervang ure waartydens hulle aktief kan speel. (2) TV-advertensies kwyt hulle goed van hulle taak om kinders oor te haal om vetterige gemorskos te eet wat baie min voedingswaarde het. Verdere navorsing beweer dat kinders wat oormatig TV kyk swak vaar op skool. Hoewel die gevolgtrekking meer kontroversieel is, het die tydskrif Time onlangs berig dat baie psigiaters en onderwysers TV blameer vir ’n duidelike agteruitgang in kinders se leesvermoë en prestasie op skool.

Tyd is weer eens ’n kritieke faktor. Teen die tyd dat die gemiddelde Amerikaanse kind sy hoërskoolloopbaan voltooi, het hy 17 000 uur voor die TV deurgebring in vergelyking met 11000 uur op skool. Vir baie kinders maak TV die belangrikste aktiwiteit gedurende hulle vrye tyd uit, indien nie dié belangrikste aktiwiteit in hulle lewe nie. Die boek The National PTA Talks to Parents: How to Get the Best Education for Your Child sê dat die helfte van alle tienjarige kinders vier minute per dag gebruik om by die huis te lees, maar 130 minute om TV te kyk.

Ten slotte, daar is seker baie min wat dit sterk sal betwis dat TV werklike gevare vir kinders sowel as volwassenes inhou. Maar wat beteken dit? Moet ouers TV-kykery in die huis verbied? Moet mense hulle in die algemeen teen die invloed daarvan beskerm deur dit uit te gooi of dit in die kas te bêre?

[Voetnoot]

a Sien “Kan jy werklik die nuus glo?” in die Ontwaak! van 22 Augustus 1990.

[Lokteks op bladsy 7]

“Waarom steek, skiet en slaan blankes mekaar altyd?”

[Prent op bladsy 9]

Skakel die TV af, trek die boeke nader

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel