Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 7/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Grootste gat nog in Antarktiese osoonlaag gevind
  • Jaar van wêreldwye hoë temperature
  • Kurk, die ekonomie en natuurlewe
  • Nuwe ‘Koue Oorlog’
  • Begrafnisse wat armoede vererger
  • Hoe groen tee moontlik kankerselle bestry
  • Kinders wat deur honde gebyt word
  • Parfuum vir die moltreinstelsel?
  • Balansoefeninge om te keer dat jy val
  • Opvoeding en kindersterftes
  • Teedrinkery op die Chinese manier
    Ontwaak!—2005
  • Wanneer ons atmosfeer beskadig word
    Ontwaak!—1994
  • Is kinders veilig by jou hond?
    Ontwaak!—1997
  • Hoe om jou hond op te lei
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 7/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Grootste gat nog in Antarktiese osoonlaag gevind

In September 1998 het die gat wat elke jaar in die osoonlaag oor Antarktika vorm ’n rekordgrootte bereik, berig The UNESCO Courier. Satellietfoto’s het getoon dat die gat sowat twee en ’n half keer groter as Europa geword het. Die osoonlaag in die stratosfeer beskerm die wêreld se lewende wesens en ekosisteme teen die son se ultraviolet straling. Toenemende straling vergroot mense se risiko van sonbrand, velkanker en katarakte, sê die verslag. Chloorfluoorkoolstowwe (CFK’s) wat as koelmiddels en dryfgasse in aërosolkannetjies gebruik word, is glo die hoofoorsaak van skade aan die osoonlaag. In 1987, op ’n konferensie in Montreal, het 165 lande belowe om die gebruik daarvan geleidelik uit te skakel. Ten spyte hiervan sê The UNESCO Courier dat “dit ten minste 60 jaar sal neem vir CFK’s om heeltemal uit die atmosfeer te verdwyn”.

Jaar van wêreldwye hoë temperature

Verlede jaar, 1998, was die warmste jaar sedert 1860, berig Science News. Volgens skatting het die aarde se gemiddelde oppervlaktemperatuur 0,58°C bo die gemiddelde temperatuur tussen 1961 en 1990 gestyg. “Vir klimatoloë, wat bekommerd is oor wêreldveranderinge in honderdstes van ’n graad, staan verlede jaar se hitte uit soos ’n Himalaja-bergspits”, sê die tydskrif. Die verslag sê ook dat sewe van die warmste jare wat opgeteken is sedert 1990 voorgekom het en dat al tien die warmste jare sedert 1983 aangeteken is. Volgens Jonathan Overpeck, van die Amerikaanse Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie, was die laaste twee dekades moontlik die warmste in die afgelope 1 200 jaar. Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie berig dat net die noordelike dele van Europa en Asië nie ’n temperatuurstyging ondervind het nie. Die suidelike dele van die Verenigde State het ’n snikhete somer gehad, en in Sentraal-Rusland het ’n hittegolf in Junie die dood van meer as 100 mense veroorsaak en tot groot brande gelei.

Kurk, die ekonomie en natuurlewe

Tagtig persent van die wêreld se kurk kom van die bas van kurkeike in die suide van Spanje en Portugal. In daardie lande stroop boere elke nege jaar die bas van hulle majestueuse bome af. Die kurkeik is die enigste boom waarvan die bas op hierdie manier teruggroei. Hierdie eeue oue beroep is onlangs deur die toenemende gebruik van plastiese bottelproppe in gevaar gestel, berig die Guardian Weekly van Manchester, Engeland. As die natuurlike-kurkbedryf doodloop, sal die bome dalk afgekap word om winsgewender gewasse te plant. Bewaringsgesindes is bevrees dat baie voëls die woude sodoende sal verloor waarop hulle vir oorlewing staatmaak. “Twee-en-veertig soorte maak staat op die eike”, sê die koerant, “met inbegrip van die bedreigde Spaanse keiserarend wat daarin nesmaak en waarvan daar ’n totale bevolking van 130 pare is.”

Nuwe ‘Koue Oorlog’

“Winkeliers probeer hulle vrieskaste vol roomys hou terwyl Slowene al die verskillende soorte en geure roomys wat beskikbaar is, opraap”, berig die koerant Delo van Ljubljana. Volgens die koerant word roomys al hoe gewilder onder die Slowene—roomysvervaardigers daar het onlangs ’n toename van 22 persent in die jaarlikse verkope aangeteken. Teen hierdie groeikoers sal die nasionale roomysverbruik van 4,3 liter per persoon per jaar uiteindelik die Wes-Europese gemiddelde van 5,5 liter verbysteek. Maar in die Europese roomyswedloop is die Swede nog ver voor. Volgens die markinligtingsgroep Euromonitor eet die Swede gemiddeld byna 16 liter roomys per persoon elke jaar. Wêreldwyd loop die Amerikaners nog voor, waar elke persoon meer as 20 liter per jaar eet.

Begrafnisse wat armoede vererger

“Die lewenskoste raak hoog”, berig die Times of Zambia, “maar . . . die koste om te sterf raak selfs hoër.” In baie dele van Afrika, met inbegrip van Zambië, word begrafnisse dikwels uitgestel om vriende en familielede wat ver woon tyd te gee om te kom en ook aan die rourituele deel te neem wat ’n week of langer duur. Al die teenwoordiges verwag dikwels om kos en huisvesting te kry. Daar word ook van die bedroefde gesin verwag om behoeftiges se vervoerkoste terug huis toe te betaal. Sulke begrafnisse laat talle bedroefde gesinne dieper in armoede verval. “Moderne begrafnisse”, sê die verslag, word “al hoe duurder omdat baie roubeklaers op geen manier help nie.” Die koerant stel voor dat begrafnisse so gou moontlik ná ’n persoon se dood gehou word sodat die las van die bedroefdes verlig kan word.

Hoe groen tee moontlik kankerselle bestry

Studies toon dat mense wat groen tee drink minder geneig is tot kanker en dat selfs diere wat die tee kry om te drink op dieselfde manier bevoordeel word. Navorsers by die Purdue-universiteit in Indiana, VSA, het onlangs ontdek wat moontlik van die redes hiervoor is, berig Science News. Epigallokatesjien-gallaat (EGKg), ’n bestanddeel in groen tee, onderdruk die werking van ’n sekere ensiem wat nodig is vir kankerselle om te verdeel. Dit lyk nie of EGKg dieselfde uitwerking op die verdeling van normale selle het nie. Swart tee, die keuse van ongeveer 80 persent van die teedrinkers in die wêreld, bevat ’n kleiner konsentrasie EGKg. Hierdie feit, sê die navorsers, verduidelik dalk waarom swart tee net een tiende tot een honderdste so doeltreffend soos groen tee is om die ensiem se werking te onderdruk in kankerselle wat in proefbuise gekweek word.

Kinders wat deur honde gebyt word

In die Verenigde State is dit meestal klein kindertjies wat deur honde gebyt word, berig die UC Berkeley Wellness Letter. Tog, sê die verslag, kan die meeste gevalle van honde wat kinders byt, voorkom word. Om die risiko te verminder, beveel die Wellness Letter aan dat ouers begin deur ’n jong hondjie met ’n goeie geaardheid te kies. Daarna moet hulle hom laat regmaak en hom dan liefdevol maar ferm leer om gehoorsaam en vriendelik teenoor mense, veral kinders, te wees. Die Wellness Letter sê: “Moet nooit aanneem dat selfs die saggeaardste hond ’n nuwe baba geredelik sal aanvaar of ’n kleuter mooi sal behandel nie. Hou toesig.” Kinders moet geleer word om nie alleen na ’n hond toe te gaan nie. Laat die hond se eienaar hom nader bring. Praat met die hond, en hou jou vuis sodat hy daaraan kan ruik. As die hond grom of sy hare rys, moet jy stilstaan en nie omdraai en hardloop nie. Die Wellness Letter sê: “Honde, soos wolwe, sal instinktief ’n vlugtende prooi agternasit en aanval.”

Parfuum vir die moltreinstelsel?

Vervoeramptenare in Frankryk het ’n nuwe parfuum bekendgestel om die minder aangename aroma van die Paryse ondergrondse spoorwegstelsel te verbeter. Die geur, wat Madeleine genoem word na een van die moltreinstasies, word by die skoonmaakprodukte gevoeg wat deur die stelsel gebruik word, berig die nuusdiens Reuters. Die direkteur van die moltreinstelsel, Jacques Rapoport, het verduidelik dat die projek vyf jaar van navorsing en ontwikkeling geverg het. “Ons moes ’n geur vind wat eerder aangenaam as sterk is, wat twee weke lank geruik kan word en wat ’n gevoel laat ontstaan dat die omgewing skoon en aangenaam is”, het hy gesê. Amptenare van die moltreinstelsel het gesê dat Madeleine veronderstel is om soos die “platteland, woude, blomme en vrugte” te ruik.

Balansoefeninge om te keer dat jy val

“Een derde van mense bo 65 val ten minste een keer per jaar, waarvan baie beserings soos gebreekte heupe opdoen wat dalk nooit behoorlik genees nie”, berig The New York Times. Namate ons ouer word, verminder ons liggaam se vermoë om sy posisie aan te voel, wat dit moeiliker maak om ons balans te behou. ’n Onlangse studie wat by die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Connecticut gedoen is, toon dat gereelde balansoefeninge, soos om op een been te staan of op ’n lae houtbalk te loop, ouer mense se balans kan verbeter. Maar Gina Allchin, van die Sullivan & Cromwell korporatiewe fiksheidsentrum, beveel aan dat ’n mens stadig begin en balansoefeninge tot sessies van tien minute, twee of drie keer per week, beperk. Sy sê: “Hierdie soort oefening is bedrieglik veeleisend en kan jou uitgeput en seer laat voel as jy dit oordoen.”

Opvoeding en kindersterftes

“Vir die volgende dekade is daar jaarliks net $7 miljard [R43,5 miljard] meer nodig om teen die jaar 2010 universele laer[skoolbywoning] regoor die wêreld moontlik te maak”, sê The State of the World’s Children 1999—Education, ’n verslag deur die Verenigde Nasies-kinderfonds. “Hierdie bedrag is minder as wat Europeërs jaarliks aan roomys of Amerikaners aan skoonheidsmiddels bestee.” Volgens The Times of India is net 66 persent van die volwasse mans en 38 persent van die vroue in Indië geletterd. Waar meer meisies laerskool toe gaan, neem kindersterftes af. Die uitwerking van so ’n basiese opvoeding kan in die Suid-Indiese staat Kerala gesien word, waar geletterdheid byna 90 persent is en “die kindersterftesyfer die laagste in die hele ontwikkelende wêreld is”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel