’n Vlugvoetige, fassinerende loopvoël—die volstruis
Deur Ontwaak!-medewerker in Kenia
TUSSEN die kameelperde, sebras, wildebeeste en wildsbokke van die uitgestrekte Afrikagrasvlakte kom van die merkwaardigste diere voor wat die Skepper nog gemaak het. Mense wat hulle sien, is beïndruk deur hulle grootte, hoogte, kragtige bene en pragtige, sagte vere. Met ’n hoogte van tot 2,5 meter en ’n gewig van tot 155 kilogram is hulle die grootste voëls wat bestaan. In Swahili word hierdie voëls mbuni genoem, maar jy ken moontlik hulle algemener naam, die volstruis.
Soos ’n windmakerige kameel
Lank gelede het die volstruis die naam struthocamelus gekry, wat ’n kombinasie van Latyn en Grieks is en na ’n sogenaamde ooreenkoms met ’n kameel verwys. Soos die kameel kan die volstruis hoë temperature verdra en floreer hy in woestyngebiede. Hy het ook lang, dik wimpers, wat sy groot oë teen die stof van die bosveld beskerm. Sy bene is lank en seningrig, en sy pote is sterk en vlesig met net twee tone. Wanneer mense die volstruis so windmakerig oor die oop vlaktes sien rondstap, is hulle verbaas oor sy ratsheid, uithouvermoë en ander eienskappe wat aan ’n kameel herinner.
Die volstruis wei saam met sy gehoefde bure en eet byna enigiets wat seil, kruip of kriewel. Die volstruis is ’n omnivoor en eet nie net insekte, slange, knaagdiere, wortels en die meeste plantsoorte nie, maar hy sluk ook hout, doppe, klippe, stokke en byna enige klein, helderkleurige voorwerp in.
Weens sy grootte en gewig kan hy nie vlieg nie. Maar sy gespierde bene is sterk genoeg om hom een van die vinnigste diere op aarde te maak. Wanneer hy oor woestyngebied hardloop, kan hy ’n snelheid van tot 65 kilometer per uur bereik! Die volstruis “lag . . . die perd en sy ruiter uit”, sê die Bybel (Job 39:18, NW). Getrou aan daardie waarneming stel hierdie tweebeennaelloper se spoed en uithouvermoë hom in staat om maklik vir baie van die vinnigste vierbeenroofdiere weg te hardloop.
Broeigewoontes
Gedurende die paartyd voer die volstruismannetjie spoggerige hofmaakvertonings uit. Terwyl hy voor die wyfie kniel, strek hy sy groot swart-en-wit-vlerkvere uit en begin hulle ritmies skud. Soos twee enorme waaiers beweeg hulle heen en weer. ’n Blos verskyn op sy kaal nek en bene, wat helderpienk word en pragtig teen die gitswart vere van sy lyf afsteek. Terwyl hy sy lang nek heen en weer swaai, stamp hy op die grond met sy pote.
Hierdie sierlike verevertoning is heel waarskynlik bedoel om die vaal wyfie te beïndruk. Maar terwyl die mannetjie met sy paringsdans voortgaan, pik die wyfie meestal op die grond rond, onoplettend en onverskillig teenoor die petalje wat om haar afspeel.
Wanneer ’n wyfie uitgekies is, kies die mannetjie ’n broeiplek. Hy sal iewers in die oop grasvlakte ’n vlak holte in die grond oopskrop en ’n hele paar wyfies daarheen lei. Ná twee of drie weke het hierdie wyfies twee dosyn eiers of meer in die nes gelê.
Deur die hele ses weke wat dit sal neem om die eiers uit te broei, sal die mannetjie snags op die nes sit, en een van die wyfies sal dit bedags doen. Op hierdie stadium is die eiers kwesbaar en is hulle ’n gesogte lekkerny vir honger leeus, hiënas, jakkalse en selfs Egiptiese aasvoëls, wat die eiers oopbreek deur klippe teen die doppe te gooi.
Reuse-eiers, yslike kuikens
Die grys-wit of ivoorkleurige eiers van die volstruis is die grootste ter wêreld en kan elk ongeveer 1,5 kilogram weeg. Die dop is hard en blink en het ’n geglasuurde, porseleinagtige afwerking. Elke eier is die ekwivalent van 25 hoendereiers, en volstruiseiers is gesog weens die ryk inhoud en omdat dit so heerlik smaak. Leë doppe word soms deur die Boesmans as waterhouers gebruik.
Wanneer die tamaai eier uitbroei, kom daar ’n yslike kuiken uit! Die pasgebore kuikens is weerloos, maar hulle groei vinnig en is gebore hardlopers. Binne ’n maand dra hulle sterk beentjies hulle teen snelhede van byna 55 kilometer per uur!
Die kuikens is van hulle ouers afhanklik vir beskerming. Dit is ’n mite dat die volstruis sy kop in die sand druk wanneer gevaar dreig. Inteendeel, ouers kan uiters aggressief raak wanneer hulle hulle broeisel beskerm, en hulle verjaag roofdiere met kragtige skoppe. Nog ’n verdedigingstaktiek wat hulle gebruik, is om die roofdier se aandag af te trek deur voor te gee dat hulle seergekry het, en sodoende die aandag van hulle kleintjies af te lei en op hulleself te vestig. Maar as ’n roofdier te na aan hulle kom, draai die ouers gewoonlik kort om, hardloop vir hulle lewe en los die kleintjies om na hulleself om te sien. Die Bybelse stelling word waar bewys, want by hierdie geleenthede ‘behandel die volstruis haar kleintjies hard, asof dit nie hare is nie’.—Job 39:19.
Welige vere
Die mens bewonder die volstruis al duisende jare lank. Tekeninge wat op klip uitgekrap is, beeld antieke Egiptiese konings af wat volstruise met pyl en boog jag. Sommige beskawings het die volstruis as heilig beskou. Vir die Chinese was die pragtige, simmetriese volstruiseiers baie waardevol, en hulle het dit as kosbare geskenke vir heersers gegee. Duisende jare lank al versier welige, golwende volstruisvere die hooftooisels van militêre generaals, konings en Afrikahoofmanne.
In die 14de eeu het volstruisvere baie gewild geword onder modebewuste Europeërs. Maar dit was nie maklik om volstruise met spiese en pyle te jag nie, aangesien die diere goed kan sien en vinnig van gevaar wegvlug. Die volstruis was op daardie stadium nie deur uitwissing bedreig nie.
Toe, in die 19de eeu, het volstruisvere weer mode geword. Hierdie keer het jagters miljoene volstruise met moderne wapens afgemaai. Die koms van volstruisplase het waarskynlik die yslike loopvoël van uitwissing gered. Die mens het die volstruis mak gemaak en teel hulle nou in gevangenskap om vere vir die modebedryf en vir verestoffers te voorsien. Van hulle vel word sagte leerhandskoene en -handsakke gemaak, en hulle vleis word in party restaurante bedien.
Vandag loop die pragtige volstruis nog steeds oor die Afrikavlaktes. Selfs al is sy eertydse habitat baie kleiner en het hy in sommige gebiede uitgesterf, kom hy nog steeds voor in die verlate, droë bosveld waarvan hy hou. Daar kan ’n mens hom sien waar hy met sy groot, golwende vere wild oor die vlaktes rondhardloop en sy spoggerige hofmaakdanse uitvoer, of waar hy sy nes vol yslike eiers oppas. Hierdie vlugvoetige loopvoël is inderdaad nóg ’n fassinerende gevleuelde skepsel waarna mense met genot en verwondering kan kyk.
[Prent op bladsy 16]
’n Volstruismannetjie
[Prent op bladsy 16, 17]
Volstruise is van die vinnigste diere op aarde
[Prent op bladsy 16, 17]
Hulle pote kan kragtige wapens wees
[Prent op bladsy 18]
’n Volstruiswyfie