Jou toekoms—Jy kan dit bepaal
HOEWEL waarsêery “regdeur die antieke wêreld as ’n groot intellektuele prestasie” beskou is, was dit “’n kuns wat deur die Hebreeuse profete verag is”, sê die argeoloog Joan Oates. Waarom?
Ondanks die feit dat die eertydse Israeliete omring was deur nasies wat ’n fatalistiese lewensbeskouing gehad het, het hulle die idee verwerp van ’n blinde krag wat hulle lewe vorm. In die instruksies wat God aan die nasie gegee het, het hy vir hulle gesê: ‘Daar mag niemand by jou gevind word wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat ’n gees wat waarsê, vra nie.’—Deuteronomium 18:10, 11.
Die Israeliete kon vertroue in die toekoms hê, want hulle het nie aan die noodlot geglo of van waarsêers gebruik gemaak nie. Die Franse Katolieke ensiklopedie Théo verduidelik die rede hiervoor en sê dat die nasie geglo het dat “die mens en die wêreld nie die slagoffer van die een of ander blinde krag is nie. God het ’n voorneme met die mens gehad.” Wat was hierdie voorneme?
Voorbeskikking en wilsvryheid
God het die Israeliete vrede en voorspoed beloof indien hulle gehoorsaam was aan sy wette (Levitikus 26:3-6). Daarbenewens het hulle gehoop op ’n Messias wat regverdige toestande op die aarde tot stand sou bring (Jesaja, hoofstuk 11). Maar die feit dat God hierdie dinge beloof het, het nie beteken dat individue net agteroor kon sit en wag dat dinge gebeur nie. Inteendeel, daar is vir hulle gesê: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag.”—Prediker 9:10.
Die idee van wilsvryheid vorm die kern van hierdie beskouing. Dit was vir die Israeliete moontlik om God te dien en self hulle toekoms te vorm. God het hulle beveel: “As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die HERE julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel” (Deuteronomium 11:13, 14). God het Israel geseën wanneer hulle gehoorsaam was.
Net voordat hulle die land wat hy aan hulle beloof het, binnegegaan het, het God die nasie Israel ’n keuse gegee: “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk” (Deuteronomium 30:15). Elke persoon se toekoms het afgehang van sy eie optrede en besluite. As hulle God gedien het, sou dit lewe en seëninge beteken, terwyl dit teëspoed tot gevolg sou hê as hulle dit nie gedoen het nie. Maar wat van vandag?
Oorsaak en gevolg
Ons is onderworpe aan verskeie natuurwette wat vir ons beswil daargestel is. Een van hulle is die wet van oorsaak en gevolg, of soos die Bybel dit stel: “Wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Wanneer ’n mens hierdie beginsel erken, is dit moontlik om aan die waarskynlikheid van sekere toekomstige gebeure te dink.
As ons roekeloos en vinnig bestuur, is die moontlikheid dat ons ’n ongeluk sal hê groter as wanneer ons versigtig bestuur. As ons rook, is die moontlikheid dat ons kanker sal kry groter as wanneer ons nie rook nie. Dit lyk weliswaar onwaarskynlik dat enigiets soos die terroristeaanvalle wat in die eerste artikel van hierdie reeks genoem is met ons sal gebeur, en dit sal sinloos wees om die waarskynlikheid daarvan te bereken. Maar ons sal niks bereik deur ons tot die idee van die noodlot te wend nie. Dit werp nie lig op die hede of die toekoms nie. Ons kry nie ware versekering van wat die toekoms inhou as ons ’n leuen glo nie. En ook nie as ’n mens God se hand in elke gebeurtenis sien nie.
Wat hou die toekoms vir jou in?
Ons toekoms is nie vooruit bepaal nie, maar word deur die hede gevorm. Al is die lewe ’n gawe van God, toon die Bybel duidelik dat ons ’n sleutelrol daarin speel om te besluit wat ons hede en ons toekoms sal wees. Die feit dat ons die keuse het om God óf gelukkig, óf hartseer te maak, toon dat God ons ’n mate van beheer oor ons lewe gegee het.—Genesis 6:6; Psalm 78:40; Spreuke 27:11.
Daarbenewens beklemtoon die Heilige Geskrifte herhaaldelik dat ons toekoms met ons volharding en ons lewenswandel verband hou, wat van min waarde sou wees as dinge alreeds voorbeskik was (Matteus 24:13; Lukas 10:25-28). Watter toekoms kan ons dus verwag as ons kies om gehoorsaam en getrou aan God te wees?
Die Bybel openbaar dat die mensdom ’n baie rooskleurige toekoms het. Die aarde sal omskep word in ’n paradys waar vrede en veiligheid sal heers (Psalm 37:9-11; 46:9, 10). Daardie toekoms is seker omdat die almagtige Skepper sy beloftes sal vervul (Jesaja 55:11). Maar of ons met lewe in die Paradys geseën sal word, hang nie van die noodlot af nie; ons sal dit geniet as ons nou gehoorsaam is en God se wil doen (2 Tessalonisense 1:6-8; Openbaring 7:14, 15). God het ons wilsvryheid gegee en moedig ons aan: “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe” (Deuteronomium 30:19). Wat sal jou keuse wees? Jý bepaal jou toekoms, nie die noodlot nie.
[Prente op bladsy 10]
God stel ’n wonderlike toekoms in die vooruitsig vir die gehoorsame mensdom