Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 8/8 bl. 5-8
  • Die soeke na die mens se lotsbestemming

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die soeke na die mens se lotsbestemming
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die antieke oorsprong van die noodlot
  • Die noodlot in antieke Egipte
  • Griekeland en Rome
  • “Christene” debatteer oor die noodlot
  • ’n Algemene opvatting
  • Is dit die noodlot of blote toeval?
    Ontwaak!—1999
  • Oorheers geloof in die noodlot jou lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Is geloof aan die noodlot ’n Bybellering?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Ongelukke—Die noodlot of omstandighede?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 8/8 bl. 5-8

Die soeke na die mens se lotsbestemming

WAAROM is geloof in die noodlot so algemeen? Deur die eeue heen het die mens probeer om die raaisels van die lewe op te los en ’n rede te vind vir dinge wat om hulle gebeur. “Dit is hier waar die konsepte ‘god’, ‘voorbeskikking’ en ‘toeval’ ter sprake kom, of die gebeure nou die gevolg is van ’n persoonlike krag, ’n onpersoonlike orde of hoegenaamd geen orde nie”, verduidelik die geskiedskrywer Helmer Ringgren. Die geskiedenis is vol opvattings, legendes en mites wat met die noodlot en voorbeskikking verband hou.

Die Assirioloog Jean Bottéro sê: “Die Mesopotamiese beskawing het alle aspekte van ons kultuur grootliks beïnvloed”, en hy het bygevoeg dat dit in antieke Mesopotamië of Babilonië is wat ons “vir die eerste keer sien dat die mens op die bonatuurlike reageer en daaroor dink en waar ons die oudste herkenbare godsdiensstruktuur” vind. Dit is ook hier waar ons die oorsprong van die noodlot vind.

Die antieke oorsprong van die noodlot

Tussen die antieke ruïnes van Mesopotamië, in wat nou Irak is, het argeoloë van die oudste geskrifte gevind wat aan die mens bekend is. Duisende spykerskriftablette gee ons ’n duidelike beeld van hoe die lewe in die antieke beskawings van Sumerië en Akkad en in die beroemde stad Babilon was. Volgens die argeoloog Samuel N. Kramer is die Sumeriërs “gekwel deur die probleem van menselyding, veral deur die werklik raaiselagtige oorsake daarvan”. Hulle soeke na antwoorde het hulle na die idee van die noodlot gelei.

In haar boek Babylon sê die argeoloog Joan Oates dat “elke Babiloniër sy eie persoonlike god of godin gehad het”. Die Babiloniërs het geglo dat gode “die lot van die hele mensdom, individueel en gesamentlik, bepaal het”. Volgens Kramer het die Sumeriërs geglo dat “die gode wat in beheer van die kosmos was boosheid, valsheid en geweld as ’n onafskeidelike deel van die beskawing beplan en gemaak het”. Geloof in die noodlot was algemeen, en daar is groot waarde daaraan geheg.

Die Babiloniërs het gedink dat dit moontlik was om uit te vind wat die gode se planne is deur gebruik te maak van waarsêery—“’n tegniek waardeur daar met die gode gekommunikeer is”. Waarsêery was ’n poging om die toekoms te voorspel deur die waarneming, ontsyfering en interpretasie van voorwerpe en gebeure. Gewoonlik is drome, dieregedrag en -ingewande ondersoek. (Vergelyk Esegiël 21:21; Daniël 2:1-4.) Onverwagte of ongewone gebeure wat na bewering die toekoms geopenbaar het, is op kleitablette aangeteken.

Volgens die Franse kenner van antieke beskawings Édouard Dhorme “vind ons so ver as wat ons in Mesopotamiese geskiedenis teruggaan die waarsêer en die idee van waarsêery”. Waarsêery was ’n baie belangrike aspek van die lewe. Trouens, professor Bottéro sê dat hulle “gedink het alles kan in waarsêery gebruik word . . . Die ganse stoflike heelal is beskou as die gegewens waaruit die toekoms op die een of ander manier ná ’n noukeurige ondersoek afgelei kon word.” Die Mesopotamiërs was dus ywerige beoefenaars van sterrewiggelary as ’n middel om die toekoms te voorspel.—Vergelyk Jesaja 47:13.

Daarbenewens het die Babiloniërs dobbelsteentjies of lootjies in waarsêery gebruik. In haar boek Randomness verduidelik Deborah Bennett dat die doel daarvan was om “die moontlikheid van menslike manipulasie uit te skakel en sodoende die gode ’n duidelike kanaal te gee waardeur hulle hulle goddelike wil kon openbaar”. Maar die besluite van die gode is nie as onveranderbaar beskou nie. ’n Mens kon gehelp word om ’n slegte lot te vermy deur smeekbede tot die gode te rig.

Die noodlot in antieke Egipte

In die 15de eeu v.G.J. was daar baie kontak tussen Babilonië en Egipte. Godsdiensgebruike wat met die noodlot verband gehou het, is ingesluit in die kulturele uitwisseling wat plaasgevind het. Waarom het die Egiptenaars geloof in die noodlot aanvaar? Volgens John R. Baines, professor van Egiptologie aan die Universiteit van Oxford “was ’n groot deel van [Egiptiese] godsdiens daaraan gewy om onvoorspelbare en rampspoedige gebeure te probeer verstaan en te probeer verwerk”.

Van die talle Egiptiese gode is Isis beskryf as die “koningin van die lewe, die heerser van die noodlot en voorbeskikking”. Die Egiptenaars het ook waarsêery en sterrewiggelary beoefen. (Vergelyk Jesaja 19:3.) Een geskiedkundige sê: “Hulle het tallose maniere bedink om die gode te raadpleeg.” Egipte was egter nie die enigste beskawing wat sulke idees van Babilon oorgeneem het nie.

Griekeland en Rome

Wat godsdienssake betref, “het eertydse Griekeland nie die verreikende maar sterk invloed van Babilonië vrygespring nie”, sê Jean Bottéro. Professor Peter Green verduidelik waarom geloof in voorbeskikking so gewild in Griekeland was: “In ’n onsekere wêreld, waarin mense al hoe minder verantwoordelikheid wou neem vir hulle eie besluite en in werklikheid dikwels gevoel het dat hulle blote marionette is wat volgens die voorskrifte van ’n onbegryplike en onbuigsame Noodlot gemanipuleer word, was goddelike voorbeskikking een manier om die toekoms vir die individu uit te lê. Wat deur die Noodlot beslis is, kon met spesiale vaardighede of insig voorspel word. Dit was dalk nie wat ’n mens wou hoor nie; maar voorkennis het jou darem in staat gestel om voorsorg te maak.”

Geloof in die noodlot het mense nie net gerusgestel wat die toekoms betref nie, maar dit het ook ’n donker sy gehad. Die idee van die noodlot het gehelp om die volksmassa te onderdruk en daarom, sê die geskiedskrywer F. H. Sandbach, “sou die opvatting dat die wêreld geheel en al deur die Voorsienigheid beskik is, aantreklik wees vir die bewindvoerende klas van ’n heersende volk”.

Waarom? Professor Green verduidelik dat hierdie opvatting “in sedelike, teologiese, semantiese sin ’n ingeboude regverdiging was vir die maatskaplike en politieke gevestigde orde: dit was die kragtigste en subtielste instrument van selfbehoud wat die Hellenistiese heersende klas nog uitgedink het. Die blote feit dat enigiets gebeur het, het beteken dat dit voorbeskik was om te gebeur; en aangesien die natuur die mensdom goedgesind was, moes enigiets wat voorbeskik was vir almal se beswil wees.” In werklikheid was dit ’n “regverdiging vir genadelose selfsug”.

Uit Griekse literatuur is dit duidelik dat die noodlot algemeen aanvaar is. Die eertydse letterkundige style het die epos, die legende en die tragedie ingesluit—waarin die noodlot ’n sleutelrol gespeel het. In Griekse mitologie is die mens se lot afgebeeld deur drie godinne wat die Moirai genoem is. Kloto het die lewensdraad gespin, Lagesis het bepaal hoe lank die lewe sou wees en Atropos het die lewe beëindig wanneer die toegewese tyd verstryk het. Die Romeine het ’n soortgelyke triade van gode gehad wat hulle die Parcae genoem het.

Die Romeine en die Grieke was gretig om te weet wat hulle lot sou wees. Gevolglik het hulle sterrewiggelary en waarsêery van Babilon oorgeneem en verder ontwikkel. Die Romeine het die gebeure wat gebruik is om die toekoms te voorspel portenta, of voortekens, genoem. Die boodskappe wat hierdie voortekens gegee het, is omina genoem. Teen die derde eeu v.G.J. het sterrewiggelary gewild geword in Griekeland, en in 62 v.G.J. het die oudste bekende Griekse horoskoop verskyn. Die Grieke het so in sterrewiggelary belanggestel dat dit volgens professor Gilbert Murray “die Hellenistiese verstand beïnvloed het soos ’n nuwe siekte ’n afgeleë eilandvolk sou aantas”.

Die Grieke en Romeine het dikwels van orakels en mediums gebruik gemaak om te probeer uitvind wat die toekoms inhou. Die gode het glo deur hulle met mense gekommunikeer. (Vergelyk Handelinge 16:16-19.) Wat was die gevolg van hierdie opvattings? Die filosoof Bertrand Russell het gesê: “Vrees het die plek van hoop ingeneem; die doel van die lewe was eerder om aan rampspoed te ontkom as om enigiets positiefs te bereik.” Soortgelyke temas het geskilpunte in die Christendom geword.

“Christene” debatteer oor die noodlot

Die vroeë Christene het in ’n kultuur gewoon wat grootliks deur Griekse en Romeinse idees van voorbeskikking en die noodlot beïnvloed is. Die sogenaamde Kerkvaders het byvoorbeeld baie gebruik gemaak van die werke van Griekse filosowe soos Aristoteles en Plato. Een probleem wat hulle probeer oplos het, was: Hoe kan ’n alwetende, almagtige God, “wat van die begin af verkondig die einde” met ’n God van liefde versoen word? (Jesaja 46:10; 1 Johannes 4:8). As God van die begin af die einde geweet het, het hulle geredeneer, moes hy tog sekerlik geweet het van die mens se sondeval en die rampspoedige gevolge wat dit sou bring.

Origines, een van die produktiefste vroeë Christenskrywers, het aangevoer dat een van die belangrikste elemente om in gedagte te hou die begrip van wilsvryheid is. “Daar is in werklikheid tallose Skrifgedeeltes wat die bestaan van wilsvryheid sonder enige twyfel bewys”, het hy geskryf.

Origines het gesê dat dit “nie ooreenkomstig die waarheid of rede is” om die verantwoordelikheid van ons dade aan ’n uitwendige krag toe te skryf nie, “maar dat dit die opvatting van mense is wat die konsep van wilsvryheid wil vernietig”. Volgens Origines beteken die feit dat God die opeenvolging van gebeure kan vooruitsien nie dat hy dinge laat gebeur of dat dit noodwendig moet gebeur nie. Maar nie almal stem hiermee saam nie.

’n Invloedryke Kerkvader, Augustinus (354-430 G.J.), het die geskil ingewikkelder gemaak deur die rol van wilsvryheid in gebeure te verklein. Augustinus het voorbeskikking sy teologiese basis in die Christendom gegee. Sy werke, veral De libero arbitrio, was die grondslag van besprekings in die Middeleeue. Die geskil het uiteindelik ’n hoogtepunt bereik in die Hervorming, met die Christendom wat grootliks verdeel was oor die kwessie van voorbeskikking.a

’n Algemene opvatting

Idees oor die noodlot is egter geensins tot die Westerse wêreld beperk nie. Wanneer hulle voor ’n ramp te staan kom, sê baie Moslems “mektoub”—dit staan geskrywe—en sodoende toon hulle hulle geloof in voorbeskikking. Hoewel dit waar is dat baie Oosterse godsdienste die rol van die individu in persoonlike voorbeskikking beklemtoon, is daar nietemin spore van fatalisme in hulle leringe.

Karma in Hindoeïsme en Boeddhisme is byvoorbeeld die onvermydelike lot wat die gevolg is van dade in ’n vorige lewe. Die oudste geskrifte wat in China gevind is, is op skilpaddoppe wat in waarsêery gebruik is. Die noodlot het ook deel gevorm van die opvattings van die inboorlinge van die Amerikas. Die Asteke het byvoorbeeld kalenders vir waarsêery gemaak wat gebruik is om te toon wat mense se lot is. Fatalistiese opvattings is ook algemeen in Afrika.

Die algemene aanvaarding van die konsep van die noodlot toon in werklikheid dat die mens ’n basiese behoefte het om aan ’n hoër mag te glo. John B. Noss erken in sy boek Man’s Religions: “Alle godsdienste sê op die een of ander manier dat die mens nie alleen staan nie, en ook nie alleen kan staan nie. Hy is onontbeerlik verbind aan en selfs afhanklik van eksterne kragte in die Natuur en die Gemeenskap. Hy kan vaagweg of duidelik onderskei dat hy nie ’n onafhanklike bron van krag is wat afgesonderd van die wêreld kan wees nie.”

Afgesien van ons behoefte om aan God te glo, het ons ook ’n basiese behoefte om te verstaan wat om ons gebeur. Dit is egter een ding om die bestaan van ’n almagtige Skepper te erken en iets heeltemal anders om te glo dat hy ’n onveranderlike lot vir ons bepaal het. Presies watter rol speel ons daarin om ons lot te vorm? Watter rol speel God?

[Voetnoot]

a Sien ons medetydskrif, Die Wagtoring, van 15 Februarie 1995, bladsye 3-4.

[Prent op bladsy 5]

’n Babiloniese astrologiese kalender, 1000 v.G.J.

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

[Prent op bladsy 7]

Die Grieke en die Romeine het geglo dat die mens se lot deur drie godinne bepaal is

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

[Prent op bladsy 7]

Egipte se Isis, die “heerser van die noodlot en voorbeskikking”

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

[Prent op bladsy 8]

Die oudste Chinese geskrifte op skilpaddoppe is in waarsêery gebruik

[Erkenning]

Institute of History and Philology, Academia Sinica, Taipei

[Prent op bladsy 8]

Tekens van die diereriem verskyn op hierdie Persiese kissie

[Erkenning]

Foto geneem met vergunning van: British Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel