Die Pantanal—’n fassinerende gebied
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË
DIE toeris het kwaad geword toe Jerônimo vir hom gesê het om nie ’n bierblikkie in die rivier te gooi nie. “Behoort hierdie rivier aan jou?” het hy gevra. “Nee”, het Jerônimo geantwoord, “dit behoort aan ons. Maar as jy aanhou om vullis daarin te gooi, sal dit nie lank wees voordat nie een van ons meer hier kan visvang nie.”
Dít toon net een van die maniere waarop die Pantanal—’n uitgestrekte gebied wat dele van Brasilië, Bolivia en Paraguay insluit—vandag bedreig word. Die Portugese woord pântano beteken “moeras of vlei”. Maar die Pantanal is nie plat nie, en daarom is die waters daarvan nie stilstaande nie. Dit vloei eerder stadig en egalig, sodat die vrugbare vlakte met ’n verskeidenheid grassoorte bedek is. Wil jy graag meer oor hierdie uitgestrekte gebied leer? Kom dan saam met my terwyl ek saam met ’n groep toeriste na een van die wêreld se fassinerendste ekologiese gebiede reis.
Alligators en anakondas!
Ons vertrek per bus van Sao Paulo af en ry weswaarts na Corumba, ’n afstand van ongeveer 1 200 kilometer. Wanneer ons die Pantanal-streek bereik, vlieg daar groot voëls oor ons, asof hulle ons welkom heet. Daar is ’n jabiru (tuiuiú), met ’n vlerkspan van 2,6 meter. Hy het so te sê ’n aanloopbaan nodig om in die lug te kom! “Die kragtige geklap van die vlerke veroorsaak ’n fladderende klank weens die wrywing met die lug”, skryf Haroldo Palo jr., wat twee jaar in die Pantanal deurgebring het. “Gedurende die [jabiru’s se] paringsrituele”, sê hy verder, “vlieg twee of drie mannetjies saam . . . , en hulle doen asemrowende duikvlugte wat van ver af gesien kan word.”
Die droë seisoen het aangebreek, en die watervlak is laag. Gevolglik is visse ’n maklike prooi vir die voëls. Kyk! Daar is ’n jabiru en ’n reier op soek na vis tussen die alligators! Die alligators maak ’n feesmaal van die gevaarlike piranhas. Soos jy dalk weet, het piranhas vlymskerp tande, en hulle word aangelok deur bloeiende prooi. Hoewel óns beslis nie naby ’n piranha wil kom nie, lyk dit of die alligators salig onbewus is van—en gevrywaar is teen—enige gevaar.
Nadat ons die rivier op ’n pont oorgesteek het, ry ons na ’n beesplaas. Ons bestuurder hou toe skielik stil en wys na ’n yslike slang wat oor die stowwerige pad seil. “Dis ’n anakonda”, sê hy. “Julle beter vinnig ’n foto neem. ’n Mens kom nie dikwels so naby aan hulle nie!” Die blote gesig laat ’n mens se hart vinniger klop, want die anakonda—wat tot 9 meter lank kan word—is een van die grootste slange. Ek besef ook hoe vinnig die anakonda is toe hy die bosse in verdwyn. Ek was maar te bly hieroor. Trouens, as die anakonda nie gevlug het nie, is ek seker dat ek in elk geval nie ’n mooi foto met my bewende hande sou geneem het nie!
Die lewe van die pantaneiro
Die Pantanal is die tuiste van ontsaglike troppe beeste. Dit is die pantaneiro se werk om na hulle om te sien. Hy is eintlik ’n kombinasie van cowboy en boer, met Indiaanse, Afrika- en Spaanse bloed in sy are. Die pantaneiro tem perde en jaag beeste na verskillende dele van die beesplaas aan. Ons sien ’n hele paar troppe, wat elk uit ongeveer duisend beeste bestaan. Saam met elke trop is daar ses mans. Die kok is aan die voorpunt, gevolg deur ’n veewagter met ’n trompet wat van ’n beeshoring gemaak is. Agter hulle volg nog cowboys. Een van hulle is die eienaar van die trop, en die ander maak die diere bymekaar wat agterraak en afdwaal.
Jerônimo, wat aan die begin genoem is, is ’n pantaneiro. Hoewel dit meer uitputtend is, neem hy ons eerder in ’n roeiboot op die Abobralrivier as om ’n motorboot te gebruik omdat die klank van ’n enjin die voëls kan laat skrik. Sy eerbiedige stemtoon toon dat hy sy tuiste, die Pantanal, liefhet en daarin belangstel. “Kyk! Daar op die rivierwal—’n alligator wat in die son lê en bak”, sê Jerônimo. ’n Bietjie later wys hy ons twee otters se nes. “Dit is hulle huis”, sê hy. “Ek sien hulle altyd daar.” Elke nou en dan maak Jerônimo sy beker vol rivierwater om sy dors te les. “Is die water nie besoedel nie?” vra ons. “Nog nie”, antwoord hy. “Julle kan ook ’n bietjie drink as julle wil.” Ons is nie heeltemal daarvan oortuig nie.
Die pantaneiro het ’n optimistiese uitkyk op die lewe. Hy is met min tevrede, en sy werk is sy ontspanning. Hy is douvoordag uit die vere en kom eers in die aand weer by die huis, waarvoor hy die minimum loon (ongeveer R600 per maand) plus verblyf en kos verdien—en hy kan soveel vleis eet as wat hy wil. “Op my plaas”, sê een boer, “eet die pantaneiro wat hy wil en soveel hy wil. Hy is nie ’n slaaf nie. As hy nie tevrede is nie, kan hy sê: ‘Meneer, ek wil asseblief my geld hê. Ek bedank.’”
’n Dieretuin sonder hokke
Op die gasteplaas waar ons gebly het, is daar ook baie voëls en diere, soos makao’s, papegaaie, parkiete, jabiru’s, jaguars, watervarke en edelherte. ’n Afstammeling van die Guaná-Indiane wie se familie al 100 jaar lank in die Pantanal woon, het vir ons vertel: “Hier voer ons die voëls. Baie van hulle is deur die woudpolisie by vermeende wilddiewe afgeneem.” Sy vrou het gesê dat hulle aan die begin net 18 parkiete gehad het, maar nou het hulle sowat 100. “Ons doel is om hulle weer in hulle eie habitat te vestig”, sê sy.
In hierdie dieretuin sonder hokke het ons foto’s geneem van makao’s wat rustig saam met varke en hoenders eet. Toeriste van oral in die wêreld verlustig hulle in die oorvloedige voël- en dierelewe en die landskap van die Pantanal. En die sonsondergange is asemrowend! ’n Jong Japannese toeris het haar eendag oor ’n swerm voëls verwonder wat teen sononder na hulle slaapplekke teruggekeer het. Toe het die waarskuwing van die plaaswerker—“Juffrou, wees versigtig. Daar is jaguars hier rond!”—haar vinnig na haar kamer toe laat vlug. Maar teen die volgende dag het sy haar vrees oorkom en het sy vir die makao’s beskuitjies gevoer. Ons het haar selfs afgeneem waar sy een van hulle met haar mond voer. Sy was glad nie meer bang nie!
Een oggend voor dagbreek het ons uitgegaan om na die sterre te kyk. Dit het gelyk of hulle so naby was dat ons daaraan kon raak. ’n Onbeskryflike gesig! Hier in die Pantanal kon ons die stilte byna “hoor”. Wat ons hier gesien en gehoor het, het ons beweeg om die Skepper te dank vir hierdie paradysagtige toneel. Een advertensiepamflet het gesê: “As iemand jou eendag vra of die paradys bestaan, dan kan jy sê: ‘Ongetwyfeld, en die Pantanal is deel daarvan.’”
’n Ekologiese gebied geskend
Gedurende die afgelope 20 jaar het die media heelwat gepubliseer oor die donker wolk wat oor die Pantanal hang. Haroldo Palo jr. skryf in sy boek Pantanal van die verskillende maniere waarop die Pantanal-ekosisteem besoedel word. Dit sluit kortliks die volgende in.
◼ Toeslikking van die riviere. “In die laaste jare is die Taquaririvier so toegeslik dat dit onmoontlik is om naby sy mond te vaar, en gevolglik . . . word mense wat op die oewers daarvan woon, afgesonder. Dieselfde proses vind in die ander riviere plaas wat na die Pantanal-bekken vloei.”
◼ Die droogtesiklus. “Ek is bevrees dat . . . dit katastrofiese gevolge vir die streek se flora en fauna kan inhou as ons ’n droogtesiklus van 15 of 20 jaar sou hê, soos wat voorheen al gebeur het.”
◼ Onkruiddoders en kwik. “Die gemeganiseerde boerdery wat buite die Pantanal bedryf word, gebruik onkruiddoders wat in die grondwater beland en op die ou end nabygeleë riviere vergiftig. Of dit word saam met die grond deur oppervlakwater weggespoel, wat daartoe lei dat die riviere toeslik. In die Poconé-Pantanal is goudmyne, wat die water met kwik besoedel, ’n ander groot bedreiging.”
◼ Jag. “Alhoewel die wet dit verbied, word daar sonder enige beheer in die grootste deel van die Pantanal gejag. Met die uitsondering van ’n paar ingeligte boere wat hulle natuurlike rykdom beskerm en ander wat dit doen omdat hulle munt kan slaan uit toerisme, is die dierelewe en die natuurskoon aan die genade van opportuniste oorgelewer.”
Terug in die betonoerwoud
Wat ’n teenstelling is dit tog wanneer ons weer in Sao Paulo aankom! In plaas van geeltrompetbome, perstrompetbome en rooisalie is daar ’n oerwoud van wolkekrabbers. In plaas van helderskoon riviere wat wemel van visse is daar riviere wat as riole dien. In plaas van die soet voëlsang is daar die oorverdowende geraas van duisende vragmotors en motors met hulle blasende toeters. In plaas van helderblou lug is daar tekens wat sê: “Gehalte van lug: Swak.” In plaas van vrede tussen mens en dier is daar vrees vir mense wat soos diere is.
Ons het twee weke in die Pantanal deurgebring, te kort om die verskillende streke met hulle eksotiese name te leer ken, soos Poconé, Nhecolândia, Abobral, Nabileque en Paiaguás—elkeen met sy eie kenmerke. Maar dit was ’n onvergeetlike ondervinding. Die flora en fauna is soos salf vir die oë, ’n simfonie vir die ore en ’n kalmeermiddel vir die hart.
[Kaarte op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Paraguay
Bolivia
Brasilië
DIE PANTANAL
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 16]
’n Geelswaelstert
[Prent op bladsy 16, 17]
’n Jaguar
[Prent op bladsy 17]
Grootwitreiers
[Erkenning]
Georges El Sayegh
[Prent op bladsy 17]
’n Anakonda en ’n alligator
[Erkenning]
Georges El Sayegh
[Prent op bladsy 18]
’n Makao
[Erkenning]
Georges El Sayegh
[Prent op bladsy 18]
Hierdie 15 sentimeter lange piranhas het vlymskerp tande
[Erkenning]
© Kjell B. Sandved/Visuals Unlimited
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Georges El Sayegh