Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 9/22 bl. 16-18
  • Smaaklike atlete van die see

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Smaaklike atlete van die see
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gebou vir kort en lang afstande
  • Atlete in groot gevaar
  • Sal merkers en boerdery die tuna red?
  • ’n Besoek aan die wêreld se grootste vismark
    Ontwaak!—2004
  • Waterkultuur—Vis as “vee”
    Ontwaak!—1995
  • Wanneer vis jou siek maak
    Ontwaak!—2006
  • Visskole
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 9/22 bl. 16-18

Smaaklike atlete van die see

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

WAT valke in die lug is, is hierdie supervisse in die see. Hulle is vinnig en vaartbelyn en sny deur die water soos glimmende pyle. Hulle is heeltyd aan die beweeg, heeltyd op soek na kos. Trouens, hulle wetenskaplike naam, Thunnus thynnus, kom van ’n woord wat “vaart” beteken. Hulle is deel van ’n bekende familie; hulle familielede sluit die marlyn, speervis en swaardvis in. Ja, hierdie atlete van die see, as jy dit nog nie geraai het nie, is in die tunafamilie, wat uit 13 spesies bestaan.

In hierdie atletiese familie is die blouvin die uitblinker. Die suidelike blouvin word suid van die ewenaar gevind en word ten minste twee meter lank en weeg tot 200 kilogram. Die swaargewig van die familie is egter die reuse- noordelike blouvin, wat soos die naam aandui in die Noordelike Halfrond gevind word. Hulle kan, met ’n lengte van 2,7 meter of langer (wat vandag skaars is weens oorbevissing), meer as 700 kilogram weeg—waarvan 75 persent sterk spiere is. Maar grootte maak nie blouvinne stadiger nie. Die grotes is in werklikheid die missiele in die tunafamilie en kan snelhede van ongeveer 70 tot 80 kilometer per uur oor kort afstande behaal.

Gebou vir kort en lang afstande

Hoe kry blouvinne dit reg om so vinnig te swem? Die tydskrif National Geographic verduidelik: “Driekwart van die blouvin [se liggaamsgewig is] spiere, dit is hidrodinamies voortreflik, met ’n kragtige hart, stustraalventilasie, hitteruilers en ander spesiale aanpassings wat dit uiters geskik maak vir spoed.” Trouens, die blouvin se kragtige hart is etlike kere groter as die hart van ander visse en is meer soos ’n soogdier se hart as ’n vis s’n. Daarbenewens pomp sy hart, anders as ’n tipiese koudbloedige vis, betreklike warm bloed deur sy ingewikkelde bloedsomloopstelsel. ’n Styging van tien grade Celsius in die blouvin se bloedtemperatuur vermeerder sy spierkrag drievoudig, wat help om hom ’n gedugte roofvis te maak wat van vis, pylinkvis en kril lewe.

Wanneer ’n blouvin ’n smaaklike ete sien—kom ons sê ’n makriel—skiet sy sekelvormige stert hom binne ’n hartklop of twee vorentoe tot aanvalsnelheid. Bors- en buikvinne trek terug in spesiale gleuwe in die vis se staalharde romp om weerstand te verminder. Al is die makriel vinnig, het hy feitlik geen kans om te ontsnap nie, want die blouvin is ook toegerus met binokulêre visie, uiters sensitiewe gehoor en chemiese sensors wat die water toets. Net voordat die blouvin sy prooi vang, kom sy vinne weer uit vir die kritieke, blitsvinnige rigtingverandering. Dan, in ’n oogknip, maak sy kieudeksels en mond oop en is die makriel weg—ingesuig en ingesluk.

Omdat die tuna ’n sterk hart, betreklike warm bloed en buitengewone groot kieue het, herstel hulle omtrent tien keer vinniger van sulke kortafstandaanvalle as enige ander vis. Maar selfs terwyl hulle hulle ‘asem terugkry’—asook terwyl hulle slaap—hou hulle aan swem, want hulle is swaarder as water, en hulle het nie die kieupompe wat ander visse toelaat om heeltemal tot ruste te kom nie. Soos haaie swem tuna dus met hulle mond gedeeltelik oop. ’n Tuna se lewe kan dus soos volg opgesom word: “Van geboortedag tot sterfdag ’n maraton, en elke nou en dan dolle jaagtogte.”

Die mooiste lede van die tunafamilie is die reusegeelvin-tuna. Geelvinne word tot twee meter lank en het ’n geel streep, geel vinnetjies en buitengewone lang vinne wat agtertoe lê. Wanneer hierdie pragtige visse deur ’n golf sny, glinster hulle, veral snags, soos glimmende pyle. Trouens, die Hawaiërs noem hulle ahi, wat “vuur” beteken.

Atlete in groot gevaar

Sy lekker rooi, olierige vleis maak die tuna ook ’n gunsteling op die etenstafel. Japannese fynproewergeregte, soos sasjimi en soesji, het blouvin een van die gesogste en duurste kossoorte op die Japannese mark gemaak. Mense wat Soesji-restaurante besoek, betaal groot geld vir klein porsies tuna. As jy hoor hoe kopers op net een blouvin by ’n veiling bie, sal jy nie kwalik geneem word as jy dink dat hulle op ’n nuwe motor bie nie. Dit is nie ongewoon om R70 000 of meer te betaal nie. Trouens, een blouvin van 324 kilogram is vir R421 000 verkoop! “So groot soos ’n Porsche, so vinnig soos ’n Porsche en so waardevol soos ’n Porsche”, het een bewaringsgesinde gesê.

Weens die aanvraag na tuna daal hulle getalle skerp. Hulle word “oorbevis, oorbenut [en] uitgeroei om geld te maak asof daar geen môre is nie”, sê die boek Saltwater Gamefishing. Moderne fabriekskepe wat toegerus is met die nuutste tegnologie, insluitende lugwaarnemingstoerusting, vang ontsaglike hoeveelhede vis. Wanneer ’n saknetvisserskip byvoorbeeld ’n skool tuna opspoor, laat dit ’n bootjie neer wat ’n saknet om die visse trek en hulle vaskeer. Langlynvisserskepe sleep weer ’n vislyn wat tot 130 kilometer lank kan wees. Aan hierdie hooflyn is sowat 2 200 korter lyne vas, wat elkeen vol hoeke met aas is. Dit is ’n absolute nagmerrie vir die tunas! Groot blouvinne is so waardevol dat bote en opsporingsvliegtuie “weke lank sal soek om net ’n paar van hierdie visse te probeer opspoor”, sê die Wêreld-natuurfonds.

Party lande het sekere kwotas wat hulle in hulle gebiedswaters toelaat, maar hoe monitor ’n mens vangste van diepseevis soos tuna? (Een noordelike blouvin wat naby Japan gemerk en vrygelaat is, is weer naby Mexiko gevang—byna 11 000 kilometer daarvandaan!) Die antwoord so ver is dat jy dit nie kan doen nie. Organisasies in die Verenigde Nasies probeer om volhoubare oeste te bevorder, maar hulle word teëgestaan deur groepe wat deur die huidige stand van sake bevoordeel word. Trouens, toe party lande probeer het om vangste te monitor, het dit plofbare situasies ontketen.

Jy wonder dalk waarom vissermanne die oseane se oes en selfs hulle toekomstige bestaansmiddele in gevaar stel deur aan te hou om uitgeputte voorrade uit te buit. National Geographic sê: “In die lig van sulke afnames [in die visvoorraad] kan tradisionele en ook industriële vissermanne nie oorgaan tot vrywillige bewaring nie, omdat dit geen wins inhou nie. Die visse word eenvoudig gevang deur iemand wat minder besorg daaroor is. Pleks daarvan probeer almal net meer visse vang.”

Sal merkers en boerdery die tuna red?

Baie navorsing is al oor die suidelike blouvin gedoen. Deel van hierdie navorsing sluit die gebruik in van gesofistikeerde elektroniese merkers wat belangrike inligting oor die habitats en gesondheid van tunaskole verskaf. Hierdie inligting sal help om visvangkwotas vas te stel.

Intussen word visboerdery, wat tunaboerdery insluit, al hoe gewilder in party lande. Wat vrugbaarheid betref, het die wyfieblouvin baie om die visboer te bied—sy stel tot 15 miljoen eiers in een broeiseisoen vry! Indien dit suksesvol is, kan boerdery die druk verlig wat daar op die gevaarlik lae visvoorraad in die see geplaas word. Dit sal inderdaad ’n tragedie wees om sulke pragtige wateratlete soos die tuna te sien uitsterf, en veral die uitblinkers van die familie, die blouvin—wat nie net ’n pragtige nie, maar ook ’n smaaklike vis is.

[Prent op bladsy 16, 17]

Geelvin-tuna

[Erkenning]

Innerspace Visions

[Prent op bladsy 18]

Blouvin-tuna

[Erkenning]

Innerspace Visions

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel