Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/06 bl. 19-21
  • Wanneer vis jou siek maak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer vis jou siek maak
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die skuldige word geïdentifiseer
  • Diagnose en behandeling
  • ’n Onopgeloste raaisel
  • Waterkultuur—Vis as “vee”
    Ontwaak!—1995
  • Visskole
    Ontwaak!—2012
  • Die Rooi See—wonders onder die water
    Ontwaak!—1994
  • Voëls se vindingryke visvangmetodes
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 7/06 bl. 19-21

Wanneer vis jou siek maak

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FIDJI

Moet hy dit eet of nie? Dit was die dilemma waarvoor Arebonto te staan gekom het. Hy was bewus van die gevaar, maar hy was honger. Boonop het die gebraaide vis heerlik geruik. Sy eetlus het die oorhand gekry. Maar toe hy kort daarna naar begin voel en maagpyn gekry het, waarna hy opgegooi en diarree gekry het, het hy gewens dat hy nooit die vis geëet het nie.

TEEN DIE tyd dat vriende met Arebonto na die hospitaal op sy klein eiland in die Stille Oseaan gejaag het, was hy half bewusteloos en ontwater en het hy borspyne, gevaarlik lae bloeddruk en ’n swak pols gehad. Gedurende die volgende paar dae het hy buiten hoofpyne, duiseligheid en moegheid, ook gevoelloosheid in sy bene, pynlike urinering en ’n eienaardige sensoriese ommekeer ondervind, sodat koud warm en warm koud gevoel het. Ná agt dae het sy polsslag gestabiliseer, maar die gevoelloosheid en moegheid het weke lank voortgeduur.

Arebonto was die slagoffer van sterk, natuurlik voorkomende gifstowwe wat tropiese rifvisse besmet wat gewoonlik eetbaar is. Die toestand, bekend as ciguatera-visvergiftiging (CVV), kom voor in tropiese en subtropiese gebiede van die Indiese en Stille Osean en in die Karibiese See. In hierdie gebiede is vis wat plaaslik gevang word, ’n belangrike voedselbron.

CVV is nie ’n nuwe siekte nie. Trouens, dit was ’n nagmerrie vir Europese ontdekkingsreisigers op see. Baie hedendaagse vakansiegangers het eweneens al gely weens die uitmergelende uitwerking daarvan. Dit is te verstane dat die siekte beperkings plaas op die vis- en toeristebedryf van talle eilandnasies. Daarbenewens het die internasionale handel in lewende en bevrore rifvis die geografiese gebied van CVV uitgebrei tot buite die trope na plekke waar dit nie geredelik gediagnoseer word nie.a

Wat veroorsaak dat rifvisse giftig word? Kan giftige visse uitgeken word? Beskou wat dekades van navorsing aan die lig gebring het.

Die skuldige word geïdentifiseer

’n Mikro-organisme wat ’n dinoflagellaat genoem word, word oor die algemeen beskou as die bron van die gifstowwe wat CVV veroorsaak.b Die mikrobe lewe op dooie koraal en heg hom aan wiere. Klein vissies eet die wiere en neem die gifstowwe in, wat ciguatoksiene genoem word en deur die dinoflagellate vervaardig word. Hierdie visse word deur groter visse geëet, wat op hulle beurt weer deur ander geëet word, en so raak die gifstowwe meer gekonsentreerd hoër op in die voedselketting. Dit lyk egter nie of die visse hierdeur aangetas word nie.

Ciguatoksiene is van die dodelikste biologiese stowwe wat bekend is. Gelukkig “veroorsaak net ’n paar vissoorte CVV”, sê ’n Australiese staatskoerant. Ciguatoksiene verander nie die voorkoms, reuk of smaak van vis nie en kan nie vernietig word deur die vis te kook, te droog, te sout, te rook of te marineer nie. In Arebonto se geval het niks omtrent die vis wat hy geëet het, hom teen die verskuilde gevare gewaarsku nie, totdat hy geweldige gastroïntestinale, kardiovaskulêre en neurologiese simptome ondervind het.

Diagnose en behandeling

Daar is tans geen laboratoriumtoets vir CVV by mense nie. ’n Diagnose word gegrond op die aanwesigheid van ’n verskeidenheid simptome, wat gewoonlik binne ure ná ’n maaltyd verskyn en bevestig kan word deur die oorskietvis vir gifstowwe te toets. (Sien die venster op die oorkantste bladsy.) As jy vermoed dat jy CVV het, sal dit verstandig wees om mediese hulp te kry. Al is daar nie ’n teenmiddel nie, kan behandeling die simptome verlig, wat gewoonlik binne ’n paar dae opklaar. Maar CVV kan uitmergelend wees, hoewel vroeë behandeling kan voorkom dat die gevolge chronies word.

Die hewigheid van die simptome wissel, afhangende van ’n aantal faktore. Dit sluit in hoe giftig die vis was, hoeveel en watter dele van die vis geëet is, die hoeveelheid ciguatoksiene wat reeds in die pasiënt is en waar die vis vandaan kom, want dit wil voorkom asof gifstowwe effens van streek tot streek verskil. Mense bou nie ’n weerstand teen hierdie gifstowwe op nie, maar raak eerder gevoeliger daarvoor, wat die siekte selfs erger maak as hulle dit weer kry! Alkoholinname vererger ook simptome. Om ’n terugslag te vermy, moet die pasiënt drie tot ses maande nadat hy ’n CVV-aanval gehad het, geen vis eet nie, verduidelik ’n publikasie oor hierdie wydverspreide siekte.

Ernstige gevalle kan weke, maande en soms selfs jare duur, en kan simptome soortgelyk aan chroniesemoegheidsindroom tot gevolg hê. In seldsame gevalle kan skok, asemhalings- of hartversaking of ontwatering tot die dood lei. Sulke gevalle kom gewoonlik voor wanneer dele van die vis geëet word waarin gifstowwe meer gekonsentreerd is, soos die kop of die interne organe van die vis.

’n Onopgeloste raaisel

Byna alle koraalrifvisse en die roofvisse wat op hulle jag maak, kan ciguatoksies wees. Maar hierin lê ’n raaisel. Vis van een rifgebied kan baie giftig wees, terwyl dieselfde vissoort wat daar naby gevang word, veilig kan wees. ’n Vissoort wat dikwels in een deel van die wêreld met CVV verbind word, word dalk in ’n ander gebied as veilig beskou. Omdat dinoflagellate nie altyd ewe veel gif afskei nie, is dit onmoontlik om te voorspel waar giftige visse voorkom.

Wat die probleem vererger, is die feit dat daar nie ’n koste-effektiewe, betroubare manier bestaan om vir giftige visse te toets nie. Die beste wat gesondheidsowerhede intussen kan doen, is om die publiek in te lig oor watter vis om te vermy en waar dit moontlik gevang word—inligting wat gegrond is op aangemelde gevalle van CVV. Vissoorte waarvoor ’n mens versigtig moet wees, is onder meer die barrakuda, klipkabeljou, koningkabeljou, tweekol-snapper, luiperdkabeljou en snapper, sowel as die bontpaling. Ouer, groter visse hou gewoonlik ’n groter gevaar in. Op sekere plekke is dit onwettig om potensieel gevaarlike vis te verkoop. Maar diepseevisse wat nie op rifvisse jag maak nie en visse wat in gematigde waters voorkom, word oor die algemeen as veilig beskou.

Die voorkoms van CVV sal na verwagting toeneem. Dit is deels omdat dooie koraal ’n gunstige omgewing vir die vermeerdering van giftige dinoflagellate skep, en verslae dui aan dat ’n toenemende aantal koraalriwwe siek of sterwend is.

Ten spyte van die onvoorspelbare aard van CVV kan jy die gevaar verminder deur ’n paar basiese beginsels in gedagte te hou. (Sien die venster hierbo.) Arebonto is amper dood omdat hy nie hierdie riglyne gevolg het nie. Hy het die kop en vleis van ’n plaaslike luiperdkabeljou geëet, wat berug is weens die groot gevaar wat dit inhou. Hy het hierdie soort vis al vantevore geëet sonder dat hy iets oorgekom het en het soos baie ander eilandbewoners oorgerus geword.

Beteken dit dan dat jy seekos moet vermy, dalk terwyl jy ’n tropiese vakansie geniet? Glad nie. Die verstandige weg is om ag te slaan op die waarskuwings en jou vis wyslik te kies.

[Voetnote]

a As gevolg van verkeerde diagnoses en onderrapportering is dit nie bekend presies hoeveel CVV-gevalle wêreldwyd voorkom nie. Verskeie owerhede skat dat ongeveer 50 000 gevalle jaarliks oor die hele wêreld voorkom.

b Die dinoflagellaatspesie is Gambierdiscus toxicus.

[Venster/Prent op bladsy 21]

Algemene simptome

◼ Diarree, naarheid, braking, maagkrampe

◼ Kouekoors, sweet, duiseligheid, hoofpyn, jeukerigheid

◼ Gevoelloosheid of tintelende sensasie om die mond, hande of voete

◼ Sensoriese ommekeer—koud voel warm, warm voel koud

◼ Pyn in spiere en gewrigte en tydens urinering

◼ Stadige polsslag, lae bloeddruk, moegheid

[Venster/Prent op bladsy 21]

Beperk die gevaar tot ’n minimum

◼ Vra die plaaslike visserydepartement of visdeskundiges watter visse vermy moet word en in watter gebiede giftige visse gevang word.

◼ Moenie vis eet wat afkomstig is van gebiede waar ciguatera onlangs aangemeld is nie.

◼ Moenie ouer, groter rifvisse eet nie.

◼ Moenie die kop of die lewer of ander interne organe eet nie.

◼ Sodra jy ’n rifvis vang, moet jy die ingewande behoorlik verwyder.

[Prente op bladsy 20, 21]

Moontlike skuldiges

(ALGEMENE NAME KAN VERSKIL)

Barrakuda

Klipkabeljou

Luiperd- kabeljou

Snapper

Koningkabeljou

Bontpaling

[Prent op bladsy 20]

Dinoflagellaat, bron van die gifstowwe

[Foto-erkennings op bladsy 20]

Alle visse behalwe paling: Illustrated by Diane Rome Peebles - Provided by the Florida Fish and Wildlife Conservation Commission, Division of Marine Fisheries Management; paling: Photo by John E. Randall; dinoflagellaat: Image by D. Patterson and R. Andersen, provided courtesy of micro*scope (http://microscope.mbl.edu)

[Foto-erkenning op bladsy 21]

Visagtergronde: Illustrated by Diane Rome Peebles - Provided by the Florida Fish and Wildlife Conservation Commission, Division of Marine Fisheries Management

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel