Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 10/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Toring van Babel”
  • Troeteldiere—Goed vir jou gesondheid?
  • Kwynende waterbronne
  • Voorgewende bedelaars
  • Wêreldwye kindermishandeling
  • Sleurwerk is ongesond
  • Voëlbreine en slaap
  • Absoluut geen voordele
  • Fietse vir hamsters
  • Verlig reisigers se rugpyn
  • Woede
  • Sal Europa werklik verenig?
    Ontwaak!—2000
  • Waarom jou liggaam slaap nodig het
    Ontwaak!—1995
  • Hoe is sedes vandag?
    Ontwaak!—2000
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 10/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

“Toring van Babel”

Die Europese Unie (EU) het 11 amptelike tale, en nog 10 gaan dalk later bygevoeg word, berig die Paryse koerant International Herald Tribune. Tans werk meer as vier keer soveel vertalers en tolke vir die Europese Kommissie, die uitvoerende liggaam van die EU, as vir die hoofkwartier van die Verenigde Nasies, wat net vyf amptelike tale het. Hoewel pogings aangewend word om Europa te verenig en die werksaamhede van die EU te vereenvoudig, is die teenoorgestelde besig om te gebeur wat taal betref. Elke lidland veg vir sy eie taal. “’n Toring van Babel is besig om te verrys”, sê die koerant. Die kommissie het ook te kampe met die probleem van “Eurospeak”—’n interne taal oorlaai met kliektaal en abstrakte terme. Volgens een vertaler is dit ’n uitdaging om politici sover te kry om hulleself ondubbelsinnig uit te druk wanneer “hulle doel dikwels juis is om dubbelsinnig te wees”.

Troeteldiere—Goed vir jou gesondheid?

“Liefde vir ’n troeteldier kan ’n mens help om uit die dokter se spreekkamer te bly”, sê The Toronto Star. Gedurende die afgelope dekade het verskeie studies getoon dat “troeteldiere geassosieer word met minder spanning, minder besoeke aan die dokter en selfs beter oorlewingsyfers ná hartaanvalle. ’n Dier kan slagoffers van beroerte help om aan te sterk en kan psigiatriepasiënte help om hulle angs te oorkom.” Dr. Alan Beck, van die Purdue-universiteit se Veeartsenyskool in Indiana, VSA, meen dat “diere mense laat ontspan. Jy kan hulle versorg, jy kan hulle vertroetel.” Dit kan selfs hierdie gevolg hê as die dier nie ’n troeteldier van die gesin is nie, en dit het daartoe gelei dat “diereterapie” gewild geword het. Sommige geestesgesondheidswerkers het gevolglik hulle pasiënte met psigiatriese probleme aangemoedig om tyd saam met ’n troeteldier deur te bring, en positiewe resultate is behaal.

Kwynende waterbronne

“Ons het nou minder as die helfte soveel water per capita beskikbaar as wat ons 50 jaar gelede gehad het”, sê The UNESCO Courier. En reserwes regoor die wêreld sal na verwagting aanhou kwyn. Hierdie skerp afname is ’n weerspieëling van die feit dat al hoe meer vars water nodig is weens bevolkingsaanwas, landboubehoeftes en industrialisasie. Wetenskaplikes wat wêreldkaarte opstel waarop waterskaarste aangedui word, het sommige gebiede as “katastrofies” geklassifiseer. Volgens die Courier beteken dit dat reserwes “heel moontlik nie ’n bevolking sal kan onderhou in geval van ’n krisis soos ’n droogte nie”. Dit sê verder: “Net 50 jaar gelede was daar nie ’n enkele land in die wêreld wat met ’n katastrofiese watertekort te kampe gehad het nie. Vandag leef ongeveer 35 persent van die bevolking onder hierdie toestande.”

Voorgewende bedelaars

Hoewel baie bedelaars werklik brandarm is, toon ’n berig in The Week, ’n tydskrif wat in Indië uitgegee word, dat party nie is wat hulle voorgee om te wees nie. In die Indiese staat Maharashtra het ’n bedelaar op krukke ’n motor genader wat by ’n verkeerslig stilgehou het. Die bestuurder van die motor het die bedelaar geïgnoreer en verder met sy meisie gesels. Die bedelaar het dus al hoe harder gepraat. Hierop het die bestuurder die venster oopgemaak en hom weggestamp sodat die muntstukke in sy bedelbakkie uitgeval het. Die “gebreklike” bedelaar het ewe skielik gesond geword en die motor se voorruit met sy krukke begin stukkend slaan. “’n Groep ‘blinde’, ‘kreupel’ en ‘gebreklike’ vriende wat by ander motors gebedel het, het hom almal kom help” en klippe, stokke en krukke rondgegooi en die jong man uiteindelik uit sy motor gesleep, het The Week gesê. Gelukkig het ’n polisievoertuig net op die regte tyd daar aangekom, en die bedelaars het vinnig weggehardloop.

Wêreldwye kindermishandeling

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), in Genève, Switserland, skat dat 40 miljoen kinders regoor die wêreld mishandel word. Soos in The New York Times berig word, het studies in 19 lande van kinders tot op 14-jarige ouderdom getoon dat 29 persent van die seuns en 34 persent van die meisies in die studies slagoffers van seksuele molestering was. In die Verenigde State alleen, het die WGO gesê, word ongeveer tweemiljoen kinders elke jaar as gevolg van mishandeling beseer.

Sleurwerk is ongesond

’n Studie van 50 000 werknemers in Duitsland het getoon dat diegene wie se werk te min van hulle verg ’n groter risiko loop om siek te word as dié wat besig is. “Werknemers wat herhalende werk doen en nie onafhanklik is nie, word twee keer meer siek as mense wat ’n veeleisende werk het”, sê die koerant Augsburger Allgemeine. Geen ander werkverwante stresfaktor het so ’n invloed op hoe gereeld en hoe lank werkers van die werk af wegbly as ’n werk wat te min vereis nie. Volgens die verslag ly diegene wie se werk nie juis ’n uitdaging is nie dikwels aan “hoë bloeddruk, maag- en ingewandskwale, asook rug- en gewrigsprobleme”.

Voëlbreine en slaap

’n Berig in die Toronto Star sê dat wetenskaplikes al lank weet dat voëls elke nou en dan met een oog kan loer terwyl hulle slaap, wat hulle teen roofdiere beskerm. Nuwe bevindings toon dat die voëls kan besluit of hulle hulle hele brein sal laat slaap en of die helfte van die brein moet wakker bly om die oog te beheer wat moet loer. Navorsing wat gedoen is op wilde-eende wat in ’n ry gesit en slaap het, het bevind dat die brein van die eend aan die punt van die ry ’n derde van sy slaaptyd wakker was. Dié in die middel van die ry was net 12 persent van die tyd halfwakker. Dit lyk of “voëls meer dikwels met net die helfte van hulle brein sal slaap wanneer die situasie gevaarlik is”, sê professor Niels Rattenborg van die Indiana- Staatsuniversiteit.

Absoluut geen voordele

“Mense bly nie maer as hulle rook nie”, berig die University of California Berkeley Wellness Letter. “Dit is veral talle jong vroue wat begin rook omdat hulle meen dat dit hulle sal help om maer te bly.” Maar ’n studie van 4 000 volwassenes tussen die ouderdomme van 18 en 30 het getoon dat “gewigstoename (van gemiddeld meer as [’n halwe kilogram] per jaar) oor ’n tydperk van sewe jaar algemeen voorgekom het, ongeag of die proefpersone gerook het of nie”. Die artikel kom tot die gevolgtrekking: “Gewigsbeheer is nie ’n voordeel van rook nie. Dit het geen voordele nie.”

Fietse vir hamsters

’n Maatskappy in Hongkong wat troeteldierbenodigdhede verkoop, het ’n “troeteldierfiets” ontwerp, berig die tydskrif New Scientist. Die speelding se voorwiel lyk soos ’n hamsterwiel, en wanneer die diertjie in die wiel hardloop, beweeg die fiets vorentoe op die grond. Maar as die eienaar bang is dat sy troeteldier kan seerkry, kan hy ’n hefboompie aan die fiets trek wat die voorwiel van die grond af oplig. Sodoende kan die troeteldier veilig op een plek oefen.

Verlig reisigers se rugpyn

Vir mense wat aan chroniese rugpyn ly, kan dit moeilik wees om te reis. Maar The Toronto Star het die volgende nuttige wenke gegee. Wanneer jy stap, “moet jy gemaklike skoene dra. Hoë hakke plaas ekstra druk op jou ruggraat omdat dit die kurwes van jou ruggraat verander. . . . As jy per motor reis, moet jy met gereelde tussenposes stilhou om te strek en rond te loop. . . . Kry ’n klein stut vir jou rug” om in jou sitplek te gebruik. Verander ook van posisie terwyl jy sit. Volgens die Star kan die pyn wanneer ’n mens bagasie ronddra, verlig word omdat “dit nou heel maklik is om tasse van alle groottes te kry wat ’n mens eerder agter jou aan kan trek as om dit saam te dra. Maak seker dat jou tas se handvatsel lank genoeg is sodat jy dit met gemak kan trek; dit sal nie juis jou rugpyn verlig as jy dit vermy om goed te dra en dan gebukkend moet loop nie.”

Woede

So genoemde katarsis, “om jou woede op lewelose voorwerpe uit te haal—om byvoorbeeld ’n kussing of ’n slaansak te slaan—vererger eerder aggressiewe gedrag as om dit te verbeter”, berig Kanada se National Post. Dr. Brad J. Bushman, adjunkprofessor in sielkunde aan die Staatsuniversiteit van Iowa, het gesê: “Katarsis het lank baie meer ondersteuning in die gewilde media geniet as in navorsingslektuur.” Navorsers het ook bevind, sê die Post, dat “boeke en artikels wat ‘katarsis’ aanbeveel as ’n goeie metode om woede te verwerk in werklikheid aggressie kan aanwakker deur mense toestemming te gee om minder selfbeheersing te hê”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel