Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 8/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Water gee lewe
  • Vrouespeurders
  • Aanslag op bome
  • Salmonella aan die toeneem
  • Uitgebrande werknemers
  • ’n Patroon van mishandeling
  • Gedeelde oorringe—’n gesondheidsrisiko
  • Kanadese sukkel om te slaap
  • Muntstuketers
  • Kinders met kwellinge
  • Aborsies in Colombia
  • Skadelike vermaak
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1994
  • Vroue—Word hulle tuis gerespekteer?
    Ontwaak!—1992
  • Wanneer geweld die huis tref
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 8/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Water gee lewe

Die Brasiliaanse tydskrif Claudia sê dat ’n mens sonder water binne net 48 uur kan sterf. Wetenskaplikes skat dat 70 tot 80 persent van die mens se liggaamsgewig uit water bestaan. Die water is hoofsaaklik in die selle geleë. ’n Kleiner persentasie word in die interstisiële vog aangetref wat in die ruimtes tussen die selle geleë is. Water vervoer proteïene, hormone, vette, soute en suikers. Die normale biochemiese reaksies kan dus nie sonder water plaasvind nie. Volgens Claudia kan ’n gebrek aan water boonop die gewrigte ernstig beskadig en die bloed laat verdik, wat te veel druk op die hart plaas; die niere raak uitgeput omdat hulle vloeistowwe probeer uitskei wat vol gifstowwe is en dit het moegheid en ongesteldheid tot gevolg. Dokters beveel ’n daaglikse inname van twee tot drie liter water aan.

Vrouespeurders

“Die volgende Sherlock Holmes sal dalk ’n vrou wees”, sê Japan se Asahi Evening News. In ’n nuwe skool in Tokio word driehonderd studente as speurders opgelei, en meer as twee derdes van hulle is vroue wat hoofsaaklik in hulle vroeë twintiger- tot vroeë veertigerjare is. Speurwerk vind om verskillende redes by hulle ingang. Een 46-jarige huisvrou het glo vir die kursus ingeskryf omdat “sy nie tevrede was met die gewone kursusse wat vroue leer hoe om blomme te rangskik en hoe om ’n kimono reg aan te trek nie”. Vir ander is die kursus egter nie net ’n tydverdryf nie. Meer as die helfte van die huisvrouens wat die kursus volg, het nie vir hulle mans daarvan gesê nie. Party van hulle leer vaardighede aan sodat hulle hulle ontroue huweliksmaat kan dophou.

Aanslag op bome

’n Studie van die bome in 24 Europese lande bring ’n verergerende probleem aan die lig. The European berig dat 1 uit elke 5 bome buitengewoon baie blare verloor. Buite die EG (Europese Gemeenskap) vind die meeste skade in Bulgarye, die Tsjeggiese Republiek, Slowakye en Litaue plaas. Binne die EG word die gesondste woude in Frankryk en Spanje aangetref, terwyl dié in Brittanje die meeste beskadig is. In 1988 het ’n kwart van die bome in daardie land tekens van skade getoon. Teen 1991 het meer as die helfte 25 persent of meer van hulle blare verloor. Hoewel dit hoofsaaklik aan suurreën toegeskryf word, het opeenvolgende droë somers in Brittanje tot die bome se probleme bygedra.

Salmonella aan die toeneem

“Daar kom jaarliks 60 000 tot 100-000 gevalle van salmonellabesmetting in Duitsland voor, waarvan minstens 200 die dood tot gevolg het”, berig die maandblad Kosmos. Hierdie syfers is deur professor Hans-Dieter Brede van die Georg-Speyer-Haus- Chemoterapeutiese Navorsingsinstituut in Frankfort bekend gemaak. Die siekte het in onlangse jare toegeneem, hoofsaaklik weens ontoereikende higiëne in plekke waar diere aangehou of verwerk word. Halfgaar eiers of pluimvee wat met salmonella besmet is, is ’n algemene oorsaak. “Salmonella-[bakterieë] gaan eers teen ’n temperatuur van [70 grade Celsius] dood”, het die tydskrif verduidelik.

Uitgebrande werknemers

“Swak toesig is ’n vername oorsaak van uitgebrande werknemers en lae produktiwiteit”, berig The Toronto Star. ’n Swak opsigter “kan jou dag bederf en selfs jou persoonlike lewe ontwrig. . . . Die kanse was groter dat swak werkverrigting deur swak toesig veroorsaak word as deur persoonlike probleme soos die dood van ’n naasbestaande of ’n wankelrige huwelik”, sê die Star. Dit kan vir ’n maatskappy “meer ongelukke, ’n hoër afwesigheidsyfer en meer spanningsverwante siektes” tot gevolg hê. Daarenteen is ’n goeie opsigter ’n goeie kommunikeerder en iemand wat ander kan motiveer en “’n meer skeppende en produktiewe arbeidskrag” kan voortbring. Deskundiges stel voor dat opsigters duidelike doelwitte moet stel en die nodige hulpmiddele moet voorsien om die werk te doen. Hulle moet toeganklik wees, goeie luisteraars wees, nie gunstelinge hê nie en nie bang wees om van hulle werknemers te leer nie.

’n Patroon van mishandeling

Ongeveer die helfte van alle bejaarde vrouens in die Verenigde State wat aangerand word, word deur hulle eie man aangerand. Volgens die tydskrif New Choices for Retirement Living “is meer as 700 000 vrouens bo die ouderdom van 50 [gedurende 1991] deur hulle man geslaan”. ’n Aansienlike aantal mans in hulle vyftiger-, sestiger- en selfs sewentigerjare slaan hulle vrou gemiddeld drie of vier keer per jaar. “Dit het ’n deel van die huwelik geword”, sê Richard Gelles, die direkteur van die Gesinsgeweldnavorsingsprogram aan die Universiteit van Rhode-eiland. ’n Vrou het oor haar ondervinding gesê: “Die geestelike en mondelinge mishandeling was vir my veel meer vernietigend. Dít het nooit opgehou nie.”

Gedeelde oorringe—’n gesondheidsrisiko

“Oorringe wat met bloed besmet is, loop die risiko dat dit talle organismes [onder andere] hepatitis B en die menslike immuungebreksvirus kan oordra”, beweer Philip D. Walson en Michael T. Brady, dokters aan die Ohio-staatsuniversiteit en -kinderhospitaal. In ’n gesamentlike brief wat in die Amerikaanse mediese tydskrif Pediatrics gepubliseer is, is kommer uitgespreek oor die klaarblyklik algemene gebruik om oorringe wat nie gesteriliseer is nie te deel. Adolessente en jong volwassenes wat oorringe deel, is miskien bewus van die gesondheidsrisiko’s wat met seksuele bedrywighede en die deel van spuitnaalde gepaardgaan—maar is onbewus van die gevare wat hierdie gebruik inhou. Dit “kan bloedgedrae siektes oordra”, sê albei dokters. Hulle beveel aan dat dokters “hulle pasiënte van hierdie gebruik afraai”.

Kanadese sukkel om te slaap

Volgens ’n onlangse studie van sosiale tendense wat deur Statistics Canada gedoen is, het byna 1 uit elke 4 volwasse Kanadese in 1991 slaapprobleme ondervind. Stres was die hoofoorsaak. The Globe and Mail van Toronto het gesê dat “pynlike gesondheidsprobleme” onder 44 persent van dié wat ondervra is ’n rede vir slaapsteurnisse was. Agt-en-twintig persent van die vroue wat ondervra is, het gesukkel om te slaap. Slaaploosheid het onder 19 persent van die mans voorgekom wat ondervra is. Enkelmoeders, armes, bejaardes, skofwerkers en dié wat werk soek, het veral aan slaaploosheid gely. Dr. Jeffrey Lipsitz van die Sentrum vir Slaapsteurnisse van Toronto, in wie se kliniek daar elke jaar meer as duisend nuwe pasiënte behandel word, het gesê dat mense al hoe minder slaap namate hulle hulle meer oor afbetaling by die werk of oor geld bekommer.

Muntstuketers

Tienduisende klein kindertjies word jaarliks vir duur x-strale in hospitale se ongevalle-afdelings opgeneem nadat hulle muntstukke ingesluk het. Die meeste van hierdie muntstukke gaan veilig deur die liggaam, maar soms steek ’n muntstuk in die slukderm vas, wat inwendige bloeding, infeksie en soms die dood veroorsaak wanneer dit deur die slukderm steek. ’n Eenvoudige en heeltemal veilige handmetaalverklikker wat soortgelyk is aan dié wat deur lughawesekuriteitsbeamptes gebruik word, is ontwerp sodat kinderartse die ingeslukte muntstuk kan opspoor. Dr. Simon Ros, hoof van ’n pediatriese ongevalle-afdeling in Illinois en een van dié wat die tegniek ontwikkel het, sê die toestel kan ’n besoek aan die ongevalle-afdeling uitskakel, “waar dit meer as [R900] kan kos om die muntstuk op te spoor”. Hierdie tegniek, waaroor die Journal of Pediatrics and Pediatric Emergency Care berig het, sal binnekort waarskynlik oral gebruik word omdat dit so doeltreffend en goedkoop is.

Kinders met kwellinge

’n Toename in die aantal selfmoorde in Hongkong vervul amptenare “met skok, verbystering en vrees”, berig The Toronto Star. Kinders tussen die ouderdom van 8 en 15 spring van geboue af en val hulle dood. Waaroor kwel hierdie kinders hulle? Party blameer die onderwysstelsel. Thomas Mulvey, die direkteur van die Gesinsorgvereniging van Hongkong, sê: “Skole in Hongkong is al as ’n geestesgesondheidsrisiko vir kinders bestempel omdat dit onredelike eise aan skoliere stel en ongevoelig vir hulle behoeftes is.” Ouers “heg [ook] groot waarde aan sukses op skool” en toon “min besorgdheid vir hulle kinders se gevoelens”, sê Thomas Mulvey. Kinders “voel emosioneel verlate, eensaam en afgeskeep”. Die Star berig dat staatsamptenare daarvan oortuig is dat “die oorsaak van baie probleme by die huis lê”.

Aborsies in Colombia

Ongeveer een en ’n half miljoen vroue in Colombia het al minstens een aborsie gehad. Dit is byna 20 persent van alle vroue van vrugbare leeftyd in daardie land. Baie vroue sterf weens komplikasies wat met die aborsie verband hou. Die Colombiaanse tydskrif Semana berig dat “aborsies die meeste sterftes onder moeders [in die] Moeder-kinder-instituut van Bogota veroorsaak”. Na raming word daar jaarliks ongeveer 400 000 aborsies in Colombia gedoen. Dit is ’n gemiddelde van ongeveer 45 aborsies elke uur.

Skadelike vermaak

“Hollywood behoort hom te skaam oor ’n eindelose stroom rolprente vol vloektaal, naaktheid, seks, geweld en moorde.” Hierdie uitlating was deel van ’n volblad-advertensie wat onlangs in die koerant USA Today gepubliseer is. Volgens die advertensie het een groot TV-netwerk toegelaat dat ’n program wat “’n gunsteling onder jongmense is spotstukke uitsaai oor masturbasie, lykbesorgers wat met dooie mense omgang het”, sowel as ander afstootlike onderwerpe. Die advertensie het gesê dat die “gewone kind van 16 [al] meer as 200 000 gewelddade en 33 000 moorde gesien het” wanneer hulle na TV-programme gekyk het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel