Van ons lesers
Ontrouheid Dankie vir die reeks “Wanneer ’n huweliksmaat ontrou is” in die Ontwaak! van 22 April 1999. Ek was ’n slagoffer van ontrouheid. Al is ek reeds drie jaar gelede geskei, is die pyn nog net so intens. Die artikels het my gehelp om te besef dat ek van die verlede moet vergeet, vorentoe moet kyk en met my lewe moet voortgaan.
V. B., Trinidad
Ek het al voorheen oor hierdie onderwerp navorsing gedoen, maar dit is nog nooit so goed verduidelik nie. Vandat ek die eerste keer die Bybel se boodskap gehoor het, het ek geweet dat dit die waarheid is. Nou het Jehovah vir my nog ’n rede gegee om daarin te glo.
G. B., Italië
As gevolg van my egskeiding het ek aan ernstige depressie gely en ’n swak selfbeeld sowel as ’n klomp gesondheidsprobleme gehad. Al is my probleme nog steeds daar, vind ek groot vertroosting in my geloof in Jehovah se beloftes en die liefde en emosionele ondersteuning van die gemeente!
A. B., Kanada
Nege maande nadat my man my verlaat het, is dit nog steeds vir my pynlik om alleen te wees. Hoe loop ek in die straat sonder iemand om my hand vas te hou? Wie sal by Christelike vergaderinge langs my sit? Wie sal saam met my dokter toe gaan? Dankie dat julle my daaraan herinner het dat Jehovah nie onskuldige huweliksmaats in die steek laat nie.
E. S., Brasilië
Die venster “Wie se skuld is dit?” was vir my ’n groot bron van vertroosting. Ek het verkies om te skei nadat my man ontrou was. Soos Job wou ek soms net sterf (Job 17:11-13). Maar die bystand van my familielede en Christenbroers en -susters het my onderskraag.
M. O., Argentinië
Ek het hierdie reeks nie net gelees nie—ek het dit verslind! Ek het deur ’n egskeiding gegaan, en hierdie artikels het al die vrae en vrese bespreek wat daaruit ontstaan het. Dankie dat julle vir ons omgee.
E. L., Frankryk
Ek was sewe jaar oud toe my pa ons gesin verlaat het. Dit was ’n groot slag vir ons. ’n Paar jaar later het my pa ons gevra om hom weer terug te neem. Ek en my broers was hewig gekant teen die idee, maar my ma het ja gesê. Nadat ek julle artikels gelees het, begin ek nou verstaan waarom sy daardie moeilike besluit geneem het.
A. A., Brasilië
Dankie, dankie, dankie vir die reeks! Dit is gerusstellend om te weet dat ’n mens dieselfde gevoelens en emosies beleef as ander wat met hierdie selfde situasie te kampe het. Maar julle het gesê: “Jy het miskien nie soveel liefde, tere geneentheid, komplimente en eer gegee as wat jou huweliksmaat nodig gehad het nie.” Hierdie stelling maak dié van ons seer wat probeer het om ’n probleemhuwelik te laat werk. Wanneer iemand van plan is om egbreuk te pleeg, kan hy baie onaangenaam word, en dit is moeilik om liefdevol teenoor so iemand te wees.
L. W., Verenigde State
Ons is jammer as hierdie opmerkings enige van ons lesers seergemaak het. Maar dit was nie ons bedoeling om te impliseer dat ’n egbreker sy maat die skuld vir sy wangedrag kan gee nie. In die venster “Wie se skuld is dit?” het ons die feit beklemtoon dat die egbreker vir sy oortreding verantwoordelik is, ongeag “die onvolmaakthede van ’n onskuldige maat”. Die betrokke stelling was deel van ’n bespreking oor versoening. Ons het net beklemtoon hoe belangrik goeie kommunikasie is en het egpare wat met mekaar versoen wil raak, aangemoedig om die probleemgebiede in hulle huwelik te identifiseer waaraan hulle moontlik dringend aandag moet gee. Daar is dalk ook onderdrukte gegriefdheid waaroor hulle openlik moet praat. Gewoonlik lei so ’n gesprek daartoe dat albei maats erken dat hulle sekere foute het. “Ons almal struikel [immers] baie kere” (Jakobus 3:2). En hoewel sulke gesprekke gewoonlik baie pynlik is, maak dit, soos ons artikel gesê het, ‘’n belangrike deel uit van die proses om die vertroue weer te herstel’.—RED.