Onderskraag deur hoop om beproewinge te verduur
SOOS VERTEL DEUR MITSJIKO OGAWA
Op 29 April 1969 het ek ’n oproep van die polisie ontvang. My man, Seikitsji, is in ’n motorongeluk beseer en was in die hospitaal. Ek het my twee seuntjies by ’n vriendin gelos en my daarheen gehaas. Seikitsji is sedertdien verlam en het nog nooit weer sy bewussyn herwin nie. Laat ek jou van my gesin vertel en hoe ons die mas opgekom het.
EK IS in Februarie 1940 in Sanda, naby Kobe, Japan, gebore. Ek en Seikitsji het mekaar geken vandat ons saam kleuterskool toe gegaan het. Ons is op 16 Februarie 1964 getroud. My man was nie iemand wat baie gepraat het nie, maar hy was lief vir kinders. Mettertyd het ons twee seuns gehad, Rioesoeke en Kohei.
Seikitsji het by ’n boumaatskappy in Tokio gewerk, en gevolglik het ons ná ons troue in een van dié stad se voorstede gaan woon. In Oktober 1967 het ’n jong vrou wat haarself as ’n Bybelonderrigter voorgestel het my besoek. “Nee, dankie. Ek het my eie Bybel”, het ek gesê.
“Mag ek die Bybel sien?” het sy gevra.
Ek het die Bybel van ons boekrak afgehaal—dit was Seikitsji s’n—en dit vir haar gewys. Sy het vir my die naam Jehovah daarin gewys. Ek het nooit geweet dat dit God se naam is nie. Die vrou, wat my twee kinders gesien het, het uit die Bybel vir my gelees: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). Ek het al eintlik gewonder hoe ek my kinders suksesvol kon grootmaak. Ek wou dus onmiddellik die Bybel begin bestudeer.
Ek het die vrou in die vertrek ingenooi, en ons het ’n bespreking uit die boekie “Kyk! Ek maak alles nuut” begin. ‘Hoe wonderlik sou dit tog wees as ons as ’n gesin ’n gelukkige lewe kon geniet!’ het ek gedink. Toe Seikitsji by die huis kom, het ek gesê: “Ek wil die Bybel bestudeer.”
“Skat, jy hoef nie so geleerd te wees nie”, het hy gesê. “Ek sal jou help met alles wat jy wil weet.” Ek het nietemin die Bybel elke week saam met Jehovah se Getuies begin studeer en het kort voor lank hulle vergaderinge begin bywoon.
Die begin van ons beproewinge
Toe ek daardie nag in April 1969, waarna ek hierbo verwys het, by die hospitaal aangekom het, was ek geskok toe ek uitvind dat ’n vriend van Seikitsji, die vrou by wie ek my seuns gelos het se man, ook in die taxi was toe die ongeluk plaasgevind het. My man se vriend is ’n week later oorlede.
Daardie nag het die hospitaalpersoneel vir my gesê om almal te laat weet wie ek gevoel het Seikitsji moet sien, omdat hulle nie verwag het dat hy sou lewe nie. Hy het ’n breuk aan die basis van die skedel asook ’n serebrale kneusing gehad. Die volgende dag het familielede van die Kobe-gebied hulle na die hospitaal gehaas.
’n Stem het dringend oor die hospitaalluidspreker aangekondig: “Alle familielede van Seikitsji Ogawa moet hom asseblief onmiddellik gaan besoek.” Ons het vinnig na die waakeenheid gegaan en beurte gemaak om van hom afskeid te neem. Hy was egter ’n hele maand lank in hierdie bedenklike toestand. ’n Finale diagnose het getoon dat hy baie lank in hierdie toestand sou wees.
Seikitsji is dus met ’n ambulans van Tokio na Kobe geneem, ’n afstand van ongeveer 650 kilometer. Ek het hom gegroet en met ’n sneltrein huis toe gegaan en gebid dat hy die rit sou oorleef. Toe ek hom later die aand lewendig in ’n hospitaal in Kobe sien, was ek oorstelp van vreugde. Ek het vir hom gefluister: ‘Skat, jy het dit sowaar gemaak!’
Ons gaan woon by my ouers
Ek het saam met my seuns teruggekeer na my ouers se huis in Sanda, waar die kinders kleuterskool toe begin gaan het. Ek het ’n seisoentreinkaartjie na Kobe gekoop, wat sowat 40 kilometer van ons af is, en die volgende jaar het ek en my skoonma beurte gemaak om elke dag na die hospitaal te ry. Ek het gewonder: ‘Sal Seikitsji vandag sy bewussyn herwin? Wat sal hy eerste vir my sê? Hoe moet ek antwoord?’ Wanneer ek ’n gesin gesien het wat gelukkig gelyk het, het ek ook gedink: ‘As Seikitsji net gesond was, sou ons seuns gelukkig wees.’ My oë het dan vol trane geword.
Destyds, wanneer ek in die koerant gelees het van iemand wat na etlike maande in ’n koma sy bewussyn herwin het, het ek gedink dat Seikitsji dalk ook sou wakker word. Ek het dus eenkeer vir my swaer gesê: “Ek wil hom na die hospitaal in die noordoostelike deel van Honsjoe neem.” Maar hy het vir my gesê dat daar geen kans op verbetering is nie, en hy het voorgestel dat ek die geld wat ons gehad het vir die ander gesinslede gebruik.
’n Christen- ouer man in een van die gemeentes van Jehovah se Getuies in Kobe het naby die hospitaal gewoon, en ek het altyd eers by sy huis aangegaan voordat ek Seikitsji gaan besoek het. Eenkeer per week het sy vrou ’n Bybelstudie met my gehou. En hulle twee kinders het na ons kamer in die hospitaal gekom om bandopnames van hulle gemeentelike vergaderinge af te lewer. Hierdie gesin was ’n groot bron van aanmoediging en vertroosting vir my.
Onderskraag deur hoop
Eendag het ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies ons by die hospitaal besoek en Romeine 8:18-25 vir my gelees. Dit lui gedeeltelik: “[Ek] reken . . . dat die lyding van die teenswoordige tyd niks beteken in vergelyking met die heerlikheid wat in ons geopenbaar gaan word nie. . . . Want ons weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly. . . . As iemand iets sien, hoop hy dan daarop? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, bly ons met volharding daarop wag.”
Die bespreking van ons Christenhoop het my daaraan herinner dat die dinge wat ons nou ly klein is in vergelyking met die vreugde wat Jesus beloof—lewe in die komende Paradysaarde (Lukas 23:43). Die bespreking het my gehelp om huidige werklikhede met hoop te verduur en my gedagtes gerig te hou op die toekomstige werklikhede van die seëninge wat die nuwe wêreld gaan bring.—2 Korintiërs 4:17, 18; Openbaring 21:3, 4.
In Junie 1970 is Seikitsji oorgeplaas na ’n hospitaal in Sanda, waar ek en my ouers gewoon het. Die volgende Januarie, toe ek die dokument ontvang het wat ons prokureur ingedien het en waarin my man onbevoeg verklaar is weens die ongeluk, was ek uiters hartseer en kon ek nie die trane keer nie. My skoonma het dikwels vir my gesê: “Ek is jammer, Mitsjiko, vir die moeilike tyd wat jy as gevolg van my seun moet verduur.” Sy het ook gesê: “Ek wens ek kon myself in die plek van Seikitsji gee.” Ons het saam gehuil.
My pa het my aangespoor om voltydse werk te vind, maar ek was vasbeslote om na Seikitsji om te sien. Hoewel hy oënskynlik bewusteloos was, het hy op hitte en koue gereageer en het die manier waarop hy versorg is ’n uitwerking op hom gehad. My pa wou hê dat ek weer moes trou, maar ek het besef dat dit nie reg sou wees nie omdat my man nog geleef het (Romeine 7:2). Daarna, wanneer my pa gedrink het, het hy gesê: “Wanneer ek sterf, sal ek Seikitsji saam met my neem.”
Tot my groot vreugde is ’n gemeente in 1971 in Sanda gestig. Toe, op 28 Julie 1973, kon ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop simboliseer. Dit was gedurende die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies by die Osaka-tentoonstellingsterrein.
Later in 1973 het my seun Kohei akute nierontsteking opgedoen en is hy vyf maande lank in die hospitaal behandel. My pa was ook in die hospitaal weens tuberkulose. Op 1 Januarie 1974 het ek dus my pa, my man en my seun by drie verskillende hospitale besoek. Op Sondae wanneer ek en my oudste seun, Rioesoeke, gegaan het om Kohei te besoek, het ek die boek Luister na die Groot Onderwyser met hulle gestudeer. Daarna het ek en Rioesoeke ’n vergadering in Kobe bygewoon en met vreugdevolle harte teruggekeer huis toe.
Ek was nog altyd dankbaar teenoor diegene wat gehelp het om na Seikitsji om te sien. Ek het ’n punt daarvan gemaak om Bybelkennis aan hulle oor te dra. Nadat een versorger se suster in ’n brand dood is, het sy gunstig op die wonderlike hoop van die opstanding gereageer wat in die Bybel beloof word (Job 14:13-15; Johannes 5:28, 29). ’n Bybelstudie is met haar in die hospitaal begin, en sy is uiteindelik in 1978 by ’n byeenkoms gedoop.
My kinders, ’n bron van vreugde
Dit was ’n uitdaging om my kinders sonder die hulp van my man groot te maak, maar hoe lonend was dit tog! Ek het hulle goeie maniere geleer en om oor die gevoelens van ander besorg te wees. Toe Rioesoeke maar net drie was, het hy verskoning gevra wanneer hy hom nie gedra het nie en gesê: “Mamma, ek is jammer.” Kohei was ’n bietjie opstandig, en soms het hy kwaad geword wanneer ek hom probeer dissiplineer het. Eenkeer het hy selfs voor ’n winkel gaan lê en huil toe hy iets wou hê. Maar ek het met hom geredeneer en liefde en geduld betoon. Mettertyd het hy ’n gehoorsame, goeie seun geword. Dit het my help oortuig dat die Bybel werklik God se Woord is.—2 Timoteus 3:15-17.
Toe Rioesoeke junior hoërskool begin het, het hy vir die onderwysers verduidelik waarom hy nie opleiding in die verweerkuns kon aanvaar nie (Jesaja 2:4). Eendag ná skool het hy uitgelate by die huis gekom omdat hy tydens ’n vergadering met ’n aantal onderwysers hulle vrae kon beantwoord.
Heilsame omgang in die gemeente het my seuns baie gehelp. Christen- ouer manne het hulle dikwels vir ete genooi en hulle in hulle gesinsbybelstudie asook ontspanning ingesluit. Daar was ook geleenthede vir aangename omgang, insluitende deelname aan verskeie sportsoorte. Rioesoeke het in 1979 sy toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer, en Kohei is die volgende jaar gedoop.
Ons voltydse bediening
Eenkeer gedurende ’n reisende opsiener se besoek het ek vir hom gesê dat ek ’n pionier wil wees, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Omdat my omstandighede op daardie tydstip so ’n stap onverstandig sou maak, het hy my vriendelik herinner aan die belangrikheid daarvan om my seuns groot te maak sodat hulle ’n stewige grondslag in Bybelwaarheid sou hê. “Die belangrike ding”, het hy gesê, “is om ’n pioniergees te hê.” Ek het dus hulppionierdiens gedoen, en gedurende hulle skoolvakansies het my seuns saam met my hieraan deelgeneem. Hierdie werk het my baie gehelp om vreugde en gemoedsrus te behou terwyl ek na Seikitsji omgesien het.
Uiteindelik, in September 1979, kon ek ’n gewone pionier word. In Mei 1984, omtrent ’n jaar ná Rioesoeke sy hoërskoolopleiding voltooi het, het hy ook die pionierdiens betree. Kohei het in September 1984 by hom in die pionierwerk aangesluit. Al drie van ons het dus hierdie vorm van die voltydse bediening geniet. Wanneer ek terugkyk op 20 jaar van pionierdiens, waartydens ek die voorreg gehad het om verskeie mense te help om Jehovah te dien, voel ek dat hierdie werk my deur my beproewinge heen onderskraag het.
Rioesoeke het as ’n vrywilliger bouwerk gaan doen by ’n gebou wat deur Jehovah se Getuies gebruik word langs die Kansai-Byeenkomssaal. Later was hy sewe jaar lank ’n opsigter by die Hiogo-Byeenkomssaal. Nou, as ’n Christen- ouer man in ’n nabygeleë gemeente in Kobe, sien hy na my om. Sedert 1985 dien Kohei as ’n vrywillige werker by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Ebina.
Onderskraag deur baie seëninge
Ek het baie jare lank etlike kere per week na die hospitaal gegaan om Seikitsji te besoek en om hom te bad. Die versorging wat ek gegee het, was bo en behalwe dié wat deur ’n gewone versorger voorsien is. In September 1996, ná 27 jaar in die hospitaal, het Seikitsji teruggekom om in ons huis te kom woon, met die hulp van ’n versorger. Hy kan vloeistowwe deur middel van ’n neusbuis inneem. Hoewel sy oë steeds toe is, reageer hy effens wanneer ons iets vir hom sê. Dit maak my hartseer om Seikitsji so te sien, maar ek word onderskraag deur ’n wonderlike hoop vir die toekoms.
Net voor Seikitsji se terugkeer het ek huisvesting gegee aan ’n reisende opsiener en sy vrou, met die gevolg dat vyf van ons ongeveer ’n jaar lank in ons kleinerige huisie gebly het. Ek het nooit gedink dat ek weer saam met Seikitsji sou woon nie, en ek dank Jehovah hiervoor. Baie jare lank was dit my groot begeerte dat Seikitsji sy oë oopmaak, maar nou wil ek eenvoudig hê dat Jehovah se wil moet geskied.
Ek kan waarlik sê: “Die seën van Jehovah—dít maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie” (Spreuke 10:22, NW). Hoewel ’n gelukkige lewe saam met ’n gesonde Seikitsji kort van duur was, is ek geseën met twee seuns wat ‘aan hulle Skepper gedink het’. Hiervoor is ek so dankbaar!—Prediker 12:1.
Intussen is dit my hartsbegeerte om aan te hou met my pionierdiens—sodat ek ander kan help om “die werklike lewe” te vind—en terselfdertyd liefdevolle sorg aan Seikitsji te gee (1 Timoteus 6:19). My ondervinding het my die betroubaarheid van die psalmis se woorde geleer: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:23.
[Prent op bladsy 13]
Ek en my man saam met Rioesoeke
[Prent op bladsy 13]
Seikitsji saam met ons twee seuns, ses maande voor die ongeluk
[Prent op bladsy 15]
Ons is geseën met twee seuns, Rioesoeke en Kohei (bo), wat ‘aan hulle Skepper gedink het’