Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 10/1 bl. 24-28
  • Jehovah trek nederiges na die waarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah trek nederiges na die waarheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Ontmoeting met ’n uitlander
  • Drie tragiese gebeure
  • Aangetrek deur die waarheid
  • Vreugdevolle teokratiese bedrywighede
  • Beïndruk deur die internasionale broederskap
  • Vreugdevolle diens as ’n egpaar
  • Geseënd om die vermeerdering te sien
  • Hulle het ’n pers driehoek gedra
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
  • Lewenslank saam in die pionierdiens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Van keiseraanbidding tot ware aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 10/1 bl. 24-28

Lewensverhaal

Jehovah trek nederiges na die waarheid

SOOS VERTEL DEUR ASANO KOSJINO

In 1949, net ’n paar jaar ná die Tweede Wêreldoorlog, het ’n lang, vriendelike uitlander die gesin besoek by wie ek in die stad Kobe gewerk het. Hy was die heel eerste sendeling van Jehovah se Getuies wat na Japan toe gekom het. Sy besoek het tot my belangstelling in Bybelwaarheid gelei. Maar laat ek julle eers van my agtergrond vertel.

EK IS in 1926 in ’n klein dorpie in die noorde van die Okajama-prefektuur gebore. Ek was die vyfde van agt kinders. My pa was ’n toegewyde aanbidder van die god van die plaaslike Sjinto-tempel. As kinders het ons dus regdeur die jaar vierings en familiereünies tydens godsdiensfeeste geniet.

Terwyl ek grootgeword het, het ek baie vrae oor die lewe gehad, maar nog meer oor die dood. Volgens tradisie moes mense by die huis sterf en kinders by die sterfbed van familielede wees. Ek was baie hartseer toe my ouma oorlede is en toe my boetie gesterf het nog voordat hy ’n jaar oud was. Dit was vir my verskriklik om te dink dat my ouers eendag sou doodgaan. ‘Is dit werklik al wat daar is? Hou die lewe vir ons niks méér in nie?’ Ek was angstig om hierdie dinge te weet.

In 1937, toe ek in graad ses op laerskool was, het die Chinees-Japannese oorlog uitgebreek. Manne is opgeroep en na die slagveld in China gestuur. Skoolkinders het hulle vaders of broers afgesien en “banzai!” (lank lewe) die keiser uitgeroep. Die mense was oortuig dat Japan, die goddelike nasie, en sy keiser, ’n lewende god, die oorwinning sou behaal.

Kort voor lank het families doodsberigte van die front af begin ontvang. Die bedroefde families was ontroosbaar. Haat het in hulle harte posgevat, en hulle het gejuig wanneer die vyand swaar verliese gely het. Maar terselfdertyd het ek gedink: ‘Mense aan die vyand se kant moet seker net soveel ly as ons wanneer hulle geliefdes sterf.’ Teen die tyd dat ek klaar was met laerskool, het die oorlog tot diep in China uitgebrei.

’n Ontmoeting met ’n uitlander

As kleinboere was ons gesin altyd arm, maar my pa het my toegelaat om skool te gaan solank daar geen koste aan verbonde was nie. Daarom is ek in 1941 na ’n meisieskool in die stad Okajama, sowat 100 kilometer van die huis af. Die skool het meisies opgelei om goeie vrouens en moeders te word en het hulle as leerlinghuishoudsters by welgestelde gesinne in die stad laat werk. Soggens het die meisies geleer deur by hierdie huise te werk, en smiddae het hulle skoolgegaan.

Na afloop van die verwelkomingseremonie het my onderwyseres, geklee in ’n kimono, my na ’n groot huis toe geneem. Maar om die een of ander rede het die vrou van die huis my nie aanvaar nie. “Sal ons dan na mev. Koda se huis toe gaan?” het die onderwyseres gevra. Sy het my na ’n westerse huis toe geneem en die deurklokkie gelui. Ná ’n rukkie het ’n lang gryskopvrou uitgekom. Ek was verstom! Sy was nie Japannees nie, en ek het nog nooit in my lewe ’n Westerling gesien nie. Die onderwyseres het my aan mev. Maud Koda voorgestel en vinnig verdwyn. Al sukkelend met my tasse het ek senuweeagtig die huis binnegegaan. Ek het later uitgevind dat mev. Maud Koda ’n Amerikaner was wat getrou het met ’n Japannese man, wat in die Verenigde State gestudeer het. Sy het by handelskole Engelse klasse gegee.

’n Besige lewe het die volgende oggend begin. Mev. Koda se man het aan epilepsie gely, en ek moes na hom help omsien. Aangesien ek glad nie Engels kon verstaan nie, het ek ’n bietjie bekommerd geraak. Ek was verlig toe mev. Koda met my in Japannees praat. Deur elke dag te hoor hoe hulle met mekaar Engels praat, het my ore geleidelik aan die taal gewoond geraak. Ek het gehou van die aangename atmosfeer in die huis.

Ek was beïndruk deur Maud se toegewydheid aan haar siek man. Hy het baie graag die Bybel gelees. Later het ek gehoor dat die egpaar ’n Japannese uitgawe van die boek The Divine Plan of the Ages by ’n tweedehandse boekwinkel gekoop het en ’n hele paar jaar al intekenaars op die Engelse uitgawe van Die Wagtoring was.

Op ’n dag het ek ’n Bybel as geskenk ontvang. Ek was baie bly om vir die eerste keer in my lewe my eie Bybel te hê. Ek het dit op pad skool toe en terug gelees, maar nie veel verstaan nie. Aangesien ek as ’n Japannese Sjintoïs grootgemaak is, was Jesus Christus vir my baie onwerklik. Min het ek besef dat dit die begin was van ’n weg wat uiteindelik daartoe sou lei dat ek Bybelwaarheid aanneem en antwoorde op my vrae oor die lewe en die dood kry.

Drie tragiese gebeure

Die twee jaar as leerlinghuishoudster het gou tot ’n einde gekom, en ek moes van die gesin afskeid neem. Ná my skoolopleiding het ek by ’n vrywilligersbrigade vir meisies aangesluit en gehelp om vlootuniforms te maak. Lugaanvalle deur Amerikaanse B29-bomwerpers het begin, en op 6 Augustus 1945 is ’n atoombom op Hirosjima gegooi. ’n Paar dae later het ek ’n telegram ontvang en gehoor dat my ma ernstig siek is. Ek het die eerste trein huis toe gehaal. By die stasie het ’n familielid my ingewag en vir my gesê dat my ma oorlede is. Sy het op 11 Augustus gesterf. Wat ek jare lank gevrees het, het gebeur! Sy sou nooit weer met my praat of vir my glimlag nie.

Op 15 Augustus het oorwinning oor Japan ’n werklikheid geword. Ek moes dus drie tragiese gebeure probeer verwerk—al drie binne die bestek van tien dae—die eerste atoombomontploffing, my ma se dood en die geskiedkundige oorwinning oor Japan. Ten minste was dit ’n vertroosting om te weet dat mense nie meer in die oorlog sou sterf nie. Met ’n leë gevoel in my hart het ek die fabriek verlaat en na my plattelandse tuiste teruggekeer.

Aangetrek deur die waarheid

Op ’n dag het ek onverwags ’n brief ontvang van Maud Koda in Okajama. Sy het gevra of ek haar met huishoudelike takies kan kom help, aangesien sy van plan was om ’n Engelse skool te begin. Ek het gewonder wat ek moes doen, maar het toe haar uitnodiging aanvaar. ’n Paar jaar later het ek saam met die Kodas na Kobe getrek.

Vroeg in die somer van 1949 het ’n lang, vriendelike man die Koda-gesin besoek. Sy naam was Donald Haslett, en hy het van Tokio na Kobe gekom om ’n huis te soek vir sendelinge in Kobe. Hy was die heel eerste sendeling van Jehovah se Getuies wat na Japan toe gekom het. Hy het ’n huis gekry, en in November 1949 het ’n hele paar sendelinge in Kobe aangekom. Eendag het vyf van hulle die Kodas kom besoek. Twee van hulle, Lloyd Barry en Percy Iszlaub, het elk sowat tien minute in Engels met diegene gepraat wat in die huis bymekaar was. Die sendelinge het Maud hulle Christensuster genoem, en dit was duidelik dat die assosiasie haar bemoedig het. Dit was toe dat ek besluit het om Engels te leer.

Met die hulp van die ywerige sendelinge het ek geleidelik basiese Bybelwaarhede begin verstaan. Ek het antwoorde gevind op die vrae wat ek al sedert my kinderdae gehad het. Ja, die Bybel gee ons die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe en die belofte van ’n opstanding vir “almal wat in die gedenkgrafte is” (Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:1, 4). Ek was dankbaar teenoor Jehovah dat hy hierdie hoop moontlik gemaak het deur middel van die losprysoffer van sy Seun, Jesus Christus.

Vreugdevolle teokratiese bedrywighede

Vanaf 30 Desember 1949 tot 1 Januarie 1950 is die eerste teokratiese byeenkoms in Japan by die Kobe-sendinghuis gehou. Ek het saam met Maud gegaan. Die groot huis het voorheen aan ’n Nazi behoort en het ’n indrukwekkende uitsig oor die Binnesee en die Awadji-eiland gehad. Weens my beperkte kennis van die Bybel het ek nie veel verstaan van wat gesê is nie. Maar ek was diep beïndruk deur die sendelinge, wat so vryelik met die Japannese mense omgegaan het. Altesaam 101 het die openbare toespraak by hierdie byeenkoms bygewoon.

Kort daarna het ek besluit om aan die veldbediening te begin deelneem. Ek moes moed bymekaarskraap om van huis tot huis te gaan omdat ek van nature skaam was. Een oggend het broer Lloyd Barry na ons huis toe gekom om saam met my in die bediening uit te gaan. Hy het by die huis reg langs suster Koda s’n begin. Ek het feitlik agter hom weggekruip terwyl ek na sy aanbieding geluister het. Die tweede keer dat ek uitgegaan het, het ek saam met twee ander sendelinge gewerk. ’n Bejaarde Japannese vrou het ons ingenooi, geluister en later vir elkeen van ons ’n glas melk gegee. Sy het tot ’n tuisbybelstudie ingestem en later ’n gedoopte Christen geword. Dit was bemoedigend om te sien hoe sy vordering maak.

In April 1951 het broer Nathan H. Knorr, van die Brooklyn-hoofkwartier, Japan die eerste keer besoek. Ongeveer 700 mense het die openbare toespraak bygewoon wat hy by die Kioritsoe-ouditorium in Kanda, Tokio, gehou het. Almal wat by hierdie spesiale vergadering teenwoordig was, was verheug toe Die Wagtoring in Japannees vrygestel is. Die volgende maand het broer Knorr Kobe besoek, en ek is daar by ’n spesiale vergadering gedoop om my toewyding aan Jehovah te simboliseer.

Ongeveer ’n jaar later is ek aangemoedig om die voltydse bediening, die pionierdiens, te betree. Daar was destyds net ’n paar pioniers in Japan, en ek het gewonder hoe ek myself sou onderhou. Ek het ook gewonder oor my vooruitsigte om te trou. Maar toe het ek besef dat ek Jehovah se diens eerste in my lewe moet stel, en daarom het ek in 1952 by die pioniergeledere aangesluit. Gelukkig kon ek deeltyds vir suster Koda werk terwyl ek pionierdiens gedoen het.

Omtrent daardie tyd het my broer, wat ek gedink het in die oorlog dood is, saam met sy gesin van Taiwan af teruggekeer. My familie het nooit in die Christelike godsdiens belanggestel nie, maar ek het met pionierywer ons tydskrifte en boekies vir hulle begin stuur. Later het my broer en sy gesin na Kobe getrek vir sy werk. “Het jy die tydskrifte gelees?” het ek my skoonsuster gevra. Tot my verbasing het sy geantwoord: “Die tydskrifte is baie interessant.” Sy het die Bybel saam met een van die sendelinge begin studeer, en my jonger suster wat by hulle gewoon het, het tydens die studie bygesit. Mettertyd het hulle albei gedoopte Christene geword.

Beïndruk deur die internasionale broederskap

Nie lank daarna nie was ek verstom toe ek ’n uitnodiging ontvang om die 22ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon. Ek en broer Tsoetomoe Foekase was die eerstes van Japan om na die skool genooi te word. In 1953, voor die klas begin het, het ons die voorreg gehad om die “Nuwewêreld-gemeenskap”-byeenkoms by te woon wat by die Yankee-stadion in New York gehou is. Ek was so beïndruk deur die internasionale broederskap van Jehovah se volk.

Op die vyfde dag van die byeenkoms moes die Japannese afgevaardigdes, meestal sendelinge, kimono’s dra. Aangesien die kimono wat ek vooraf per skip gestuur het, nie betyds gekom het nie, het ek een by suster Knorr geleen. Gedurende die sessie het dit begin reën, en ek was bang dat die kimono nat sou word. Op daardie oomblik het iemand agter my liggies ’n reënjas om my skouers gehang. “Weet jy wie dit is?” het ’n suster gevra wat langs my gestaan het. Ek het uitgevind dat dit broer Frederick W. Franz was, ’n lid van die Bestuursliggaam. Ek kon werklik die hartlikheid van Jehovah se organisasie aanvoel!

Die 22ste klas van Gilead was waarlik ’n internasionale klas, wat uit 120 studente uit 37 lande bestaan het. Hoewel daar taalhindernisse was, het ons die internasionale broederskap terdeë geniet. Dit het gesneeu die dag toe ek in Februarie 1954 gegradueer en my toewysing ontvang het—terug na Japan. ’n Klasmaat, Inger Brandt, ’n Sweedse suster, sou my sendelingmaat in die stad Nagoja wees. Daar het ons by die groep sendelinge aangesluit wat Korea weens die oorlog moes verlaat. Die paar jaar wat ek in die sendingdiens deurgebring het, was vir my baie kosbaar.

Vreugdevolle diens as ’n egpaar

In September 1957 is ek genooi om by die Tokio-Bethel te gaan dien. ’n Houthuis met twee verdiepings het as die Japannese takkantoor gedien. Die Bethelgesin het uit slegs vier lede bestaan, waaronder broer Barry, die takopsiener. Die res van die gesin was sendelinge. Ek moes vertaal- en proefleeswerk doen, sowel as skoonmaak, wasgoed was, kook, ensovoorts.

Die werk in Japan het uitgebrei, en meer broers is na Bethel genooi. Een van hulle het ’n opsiener geword in die gemeente waarmee ek geassosieer het. In 1966 is ek en daardie broer, Joendji Kosjino, getroud. Ná ons troue is Joendji gevra om kringwerk te doen. Dit was wonderlik om soveel broers en susters te leer ken terwyl ons verskillende gemeentes besoek het. Aangesien ek ook vertaalwerk gehad het, het ek dit gedoen by die huis waar ons daardie week gebly het. Terwyl ons gereis het, moes ons nie net ons tas en ander sakke saamneem nie, maar ook die swaar woordeboeke.

Ons het meer as vier jaar lank die kringwerk geniet en gesien hoe die organisasie bly uitbrei. Die takkantoor het na Noemazoe verskuif, en jare later na Ebina, waar dit vandag is. Ek en Joendji geniet nou al lank Betheldiens, en tans werk ons saam met ’n gesin van ongeveer 600 lede. In Mei 2002 het dierbare vriende by Bethel my 50ste jaar in die voltydse diens saam met my gevier.

Geseënd om die vermeerdering te sien

Toe ek Jehovah in 1950 begin dien het, was daar net ’n handjie vol verkondigers in Japan. Nou is daar meer as 210 000 Koninkryksverkondigers. Ja, duisende skaapgeaardes is net soos ek na Jehovah getrek.

Die vier sendelingbroers en die sendelingsuster wat ons destyds in 1949 by suster Koda se huis besoek het, sowel as suster Maud Koda, het almal getrou gesterf. So ook my broer, wat ’n bedieningskneg was, en my skoonsuster, wat omtrent 15 jaar lank pionierdiens gedoen het. Wat is die toekomsvooruitsigte vir my ouers, wie se dood ek in my kinderjare so gevrees het? Die Bybel se belofte van die opstanding gee my hoop en vertroosting.—Handelinge 24:15.

As ek terugdink, moet ek sê dat my ontmoeting met Maud in 1941 ’n keerpunt in my lewe was. As ek haar nie op daardie stadium ontmoet het nie en as ek nie haar uitnodiging aanvaar het om ná die oorlog weer vir haar te gaan werk nie, sou ek waarskynlik op ons plaas by die afgeleë dorpie gaan bly het en geen kontak in daardie vroeë jare met die sendelinge gehad het nie. Hoe dankbaar is ek tog teenoor Jehovah dat hy my deur middel van Maud en die vroeë sendelinge na die waarheid getrek het!

[Prent op bladsy 25]

Saam met Maud Koda en haar man. Ek staan voor links

[Prent op bladsy 27]

Saam met sendelinge uit Japan by die Yankee-stadion in 1953. Ek staan heel links

[Prente op bladsy 28]

By Bethel saam met my man Joendji

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel