Ons beskou die wêreld
Voorbereiding vir rampe nodig
“Volgens die World Disasters Report 1999”, sê ’n verklaring van die Internasionale Federasie van Rooi Kruis- en Rooi Halfmaan-verenigings, “was verlede jaar se seisoen van natuurrampe die ergste op rekord en het dit meer skade as ooit tevore aangerig.” Droogte, grond wat al hoe onvrugbaarder word, oorstromings en ontbossing het 25 miljoen mense gedwing om hulle plase te verlaat en toevlug te soek in stedelike plakkersgemeenskappe, wat “meer ‘vlugtelinge’ as oorloë en konflikte” voortgebring het. Lande in die ontwikkelende wêreld is die swaarste getref, waar 96 persent van alle sterfgevalle weens natuurrampe voorgekom het. Gedurende die laaste vyf jaar het die fondse van hulpverleningsorganisasies met 40 persent afgeneem. Die federasie se direkteur van rampbeleid, Peter Walker, het beklemtoon dat die gesindheid teenoor rampgereedheid moet verander en gesê: “Die ‘wag totdat dit gebeur’-benadering tot rampe werk nie . . . Ons wag nie tot ’n huis aan die brand slaan voordat ons geld vir die brandweer begin insamel nie.”
Gevaar wanneer die bamboes blom
Groot dele van noordoostelike Indië is met bamboeswoude oortrek. Die mense in die state van Manipoer en Mizoram is met vrees vervul toe die bamboes daar begin blom het. Waarom? Omdat die spesifieke soort bamboesplant in hierdie gebiede, wat mautang genoem word, net een keer in omtrent 50 jaar blom, en dit lok rotte. Die rotte eet die blomme en teel vinnig aan, en dan begin hulle die landbougewasse opvreet, wat uiteindelik tot hongersnood lei. Volgens The Times of India was daar ’n hongersnood in 1957 nadat die bamboes in 1954/55 geblom het. In ’n poging om nog ’n hongersnood te voorkom, het die regering van Mizoram-staat ’n veldtog begin om die rotte dood te maak. Hulle het een roepee vir elke rotstert aangebied. Sedert April is ongeveer 90 000 sterte al ingebring, en nog fondse is gevra om die antirotveldtog voort te sit.
Tamaties versus kanker
Onlangse studies wat deur die Amerikaanse Vereniging vir Kankernavorsing voorgelê is, sê dat die tamatie moontlik ’n middel bevat wat die groei van prostaatkanker onderdruk. Die stof wat tamaties hulle rooi kleur gee, likopeen, kan die grootte van kankerverwekkende gewasse van die prostaat verklein en metastase, die verspreiding van kanker na nader weefsels van die liggaam, verminder. ’n Studie wat deur die Amerikaanse Nasionale Kankerinstituut uitgegee is, “het getoon dat die tamatie en al sy derivate nie net ’n positiewe uitwerking op prostaatkanker gehad het nie, maar ook op pankreas-, long- en kolonkanker”.
Kinders se geestesprobleme
Een uit elke vyf Britse jongmense onder die ouderdom van 20 het geestesgesondheidsprobleme, volgens ’n verslag van die Geestesgesondheidstigting. Terwyl “die Regering, kenners en die media blykbaar behep is met kinders se fisiese welsyn en akademiese prestasies”, sê die direktrise van die stigting June McKerrow, is kinders “nie emosioneel gesond nie”. Die verslag noem ’n aantal faktore wat moontlik daartoe lei. Kinders “word al hoe vroeër deur eksamens en evaluasies gedwing om hulle met hulle maats te vergelyk”, en die meeste beskou hulleself as mislukkings wanneer hulle die skool verlaat. Opelugspeletjies, wat jongmense help “om besluite deur te dink en groter selfvertroue op te bou en meer aanpasbaar te wees”, is deur rekenaars en televisie vervang. Advertensies “wek die begeerte by hulle om dinge te hê wat hulle nie het nie of om iemand te wees wat hulle nie is nie”. Met die egskeidingsyfer wat aan 50 persent grens en baie ouers wat werk, word kinders se spanningsvlakke ook “verhoog omdat hulle nie op die emosionele stabiliteit van hulle gesin kan vertrou nie”, sê The Daily Telegraph.
Wat opgaan, moet afkom
Dit is in party dele van die Verenigde State en in verskeie Latyns-Amerikaanse lande gebruiklik vir fuiwers om die begin van ’n nuwe jaar te vier deur met hulle vuurwapens skote in die lug af te vuur. Maar die polisie versoek hulle om dit nie te doen nie. “Wanneer jy met ’n vuurwapen ’n skoot in die lug afvuur”, het Los Angeles se polisiehoof Willie Williams gesê, “kom daardie koeël wel iewers af.” En daardie iewers kan in iemand se kop wees. Meer as tien mense het al die afgelope paar jaar in die Verenigde State so gesterf. Daarbenewens is honderde gevalle van beserings en skade aan eiendom al aangemeld, wat soms deur koeëls veroorsaak is wat van kilometers ver gekom het. Dikwels dink mense wat skote in die lug afvuur verkeerdelik dat die koeëls in die lug disintegreer of dat dit niemand sal beseer wanneer dit afkom nie. Maar ’n koeël wat reguit in die lug opgeskiet word, kan terugkeer met ’n gewelddige impak wat “genoeg [is] om deur die vel te dring, iemand ’n oog te laat verloor of die sagte deel van ’n baba se kopbeen binne te dring”, volgens Fred King, woordvoerder vir die Houston-polisiedepartement.
Al hoe meer godsdiens-onverdraagsaamheid
Volgens die Internasionale Helsinki-federasie, ’n menseregteorganisasie, het “’n veelvuldige patroon van feitlike vervolging” van sogenaamde nuwe godsdienste in Europa ontwikkel, berig Catholic International. Om minderheidsgodsdienste teë te werk, probeer verskeie regerings om wetlike stappe te neem wat in stryd is met hulle verbintenis om gewetens- en godsdiensvryheid te bevorder. Kontroversiële parlementêre verslae en swart lyste van “gevaarlike sektes” in België, Frankryk en Duitsland het onverdraagsaamheid en diskriminasie laat toeneem. Willy Fautré, president van Menseregte Sonder Grense, wys egter daarop dat “baie min” van hierdie godsdiensbewegings ’n bedreiging vir die samelewing inhou en dat vrese oordryf is. Hoofstroomkerke, het hy gesê, het tot die probleem bygedra deur as “partye sowel as regters” in die geskille op te tree en deur “konfrontasie in plaas van dialoog” aan te moedig.
Kry jy genoeg slaap?
Mense wat “gewoonlik gedurende die dag ’n uiltjie wil knip, tydens vergaderinge insluimer of dit moeilik vind om te konsentreer”, kry nie snags genoeg slaap nie, sê die Toronto Star. Die meeste mense het gewoonlik tussen sewe en nege uur slaap elke nag nodig om gedurende die dag goed te funksioneer. Hier is ’n paar wenke wat kenners gee oor hoe om genoeg slaap te kry: Maak slaap ’n prioriteit. Neem tyd om te ontspan voor jy gaan slaap. ’n Ontspanne wandeling kan help, maar moenie strawwe oefeninge in die laaste drie uur voor jou slaaptyd doen nie. Jy moet elke dag op dieselfde tyd gaan slaap en opstaan. As jy gedurende die nag wakker word, moet jy nie aan bekommernisse dink of probleme probeer oplos nie—probeer eerder oor aangename dinge dink. As jy nog ná ’n halfuur wakker is, moet jy opstaan en iets ontspannends doen, soos om iets ligs te lees. Wees versigtig om nie te veel voor slaaptyd te eet of te drink nie, maar moet ook nie honger bed toe gaan nie.
Toename in kindermisdaad
Volgens die koerant Hessische-Niedersächsische Allgemeine het die aantal misdade wat verlede jaar deur jongmense in Duitsland gepleeg is, toegeneem. “Die aantal kinders wat daarvan verdink word dat hulle [ander] liggaamlik aangerand het”, het met 14,1 persent toegeneem. Wat veral opmerklik was, is die toename in die aantal kinders onder 14-jarige ouderdom wat verdagtes is—152 774—’n toename van 5,9 persent. Die federale minister van binnelandse sake, Otto Schily, het hierdie verwikkeling “baie onrusbarend” genoem en die behoefte aan strenger voorkomingsmaatreëls beklemtoon. Hoewel die regering kan help, veral op die gebiede van opvoeding en arbeid, het hy gesê dit is die gesin wat veral ’n belangrike rol in misdaadvoorkoming speel.
Kanada se nuutste gebied
Op 1 April 1999 het Kanada se nuutste noordelike gebied, Nunavut (uitgespreek Noenavoet), sy ontstaan gehad. Dit is die eerste keer dat die kaart van Kanada verander het sedert Newfoundland in 1949 ’n deel van die konfederasie geword het. Nunavut beslaan ongeveer een vyfde van Kanada se grondgebied, sê ’n berig in die Toronto Star, en dit maak dit groter as die land se grootste provinsie, Quebec. Dit het ook die kleinste en jongste bevolking in Kanada. Ongeveer 27 000 mense woon in hierdie gebied, waarvan 56 persent onder 25-jarige ouderdom is. Nunavut, wat “Ons Land” in Inuktitut beteken, is die gevolg van ’n ooreenkoms tussen die Innuït en die federale regering aangaande landbeskikkings- en inboorlingregte.