Die avokado—Voorwaar ’n veelsydige vrug!
Deur Ontwaak!-medewerker in Colombia
DIE Spaanse veroweraars van die vroeë 16de eeu het nog nooit so iets gesien nie. Dit was omtrent die grootte en vorm van ’n groot peer, maar dit het groen gebly selfs wanneer dit ryp was. Die vleis was sag en botteragtig, met ’n effense neutagtige geur. Uiteindelik het dit bekend geword as die avokado, van die Asteekse woord ahuacatl.
Die avokado is in 1519 die eerste keer aan die Europese publiek bekend gestel, deur Martín Fernández de Enciso. Enciso het die vrug tydens een van die eerste Spaanse ekspedisies na Suid-Amerika gesien, naby wat nou Santa Marta, Colombia, is. Gedurende daardie jare van ontdekkingsreise het Europeërs benewens die avokado die eerste keer ’n aantal nuwe kossoorte geproe, waaronder sjokolade, die mielie en die aartappel.
Natuurlik was nie een van daardie kossoorte werklik nuut nie. Die inboorlinge van die gematigde gebiede van die Westelike Halfrond het dit eeue lank geken en geniet. Onder party inheemse stamme is daar soveel waarde aan die avokado geheg dat dit gebruik is as ’n trougeskenk, asook ’n geskenk om besoekers te verwelkom.
Verbouing van avokado’s
Vandag word die avokado in baie plekke verbou wat ’n warm of gematigde klimaat het, insluitende Australië, Israel, Kenia, Nieu-Seeland, Noord- en Suid-Amerika, asook die Filippyne. Dit is een van ongeveer 20 tropiese vrugte wat regoor die wêreld ’n belangrike handelsproduk geword het.
Daar is egter talle verskillende avokadosoorte wat dwarsdeur die tropiese lande van die Amerika’s voorkom; party is niks groter as ’n hoendereier nie terwyl ander so groot is soos ’n middelmatige waatlemoen, wat tot twee kilogram weeg. Hulle kleur kan wissel van groen tot donker pers, en die skil van party soorte is grof en bros, terwyl die van ander dun en glad is. Dit is egter moontlik om boorde te hê met avokado’s wat dieselfde lyk en dieselfde gehalte het.
Wanneer avokadobome blom, is hulle met duisende bleekgeel bloeisels oortrek. Maar net 1 uit 5 000 van hierdie bloeisels sal ’n avokado word. ’n Ongewone kenmerk van hierdie blomme is dat elkeen van hulle ’n meeldraad, of stuifmeelvormende orgaan, asook ’n stamper, of saaddraende orgaan, het. Dit sou selfbestuiwing moontlik maak, was dit nie vir ’n wonderlike meganisme in die avokadoboom wat hierdie organe beheer om op verskillende tye te funksioneer nie.
Gevolglik maak sommige bome hulle blomme oop as stuifmeelontvangers wanneer die oggendson skyn en maak hulle die blomme toe in die middag. Dieselfde blomme maak dan weer as stuifmeelvervaardigers in die aand oop. Ander bome in die omgewing sal ’n teenoorgestelde siklus hê. Bestuiwing vind plaas wanneer ’n boom wat stuifmeel vervaardig naby een is wat op daardie tydstip stuifmeel ontvang. Bye of ander insekte is ook belangrik vir die oordra van die stuifmeel. ’n Ingewikkelde wisselwerking tussen sonlig, hitte, insekte, wind en ligging maak dus die voortplanting van hierdie vrug moontlik.
Voedsaam en nuttig
Die avokado het uitstekende voedingswaarde, aangesien dit ryk is aan proteïen, riboflavien, niasien, kalium en vitamien C. Dit bevat glo minstens 11 vitamiene en 14 minerale. In party dele van Sentraal-Amerika word ’n avokado met tortilla’s as ’n volledige maaltyd beskou. Die avokado is ook ryk aan vet, en sy olie is soos olyfolie in die sin dat dit mono-onversadigde vette bevat. Die olie word ook in die vervaardiging van seep en skoonheidsmiddels gebruik.
Omtrent elke deel van die avokadoboom is nuttig. Die hout is geskik om vuur mee te maak. Die pit, of saad, word in Suid-Amerika gebruik om klere te merk, aangesien dit ’n permanente vlek maak. In party dele van die Filippyne word die blare gebruik om tee te maak. Die bas van die boom kan glo gebruik word om leer te looi.
Watter vrug om te koop en hoe om dit te eet
As jy mark toe gaan om avokado’s te koop, moet jy nie hulle rypheid probeer bepaal deur na die skil se kleur te kyk nie, aangesien dit van soort tot soort verskil. Probeer om die vrug saggies te druk. As dit effens sag is, is dit ryp. Avokado’s moet in warm plekke gehou word waar daar genoeg lug is, en jy kan die rypwording bespoedig deur hulle in koerantpapier toe te draai. Hulle kan ook in die yskas gehou word, selfs nadat hulle oopgesny is. Jy kan keer dat die vleis bruin word deur suurlemoensap op die oop kant van die vrug te sprinkel.
Baie mense hou daarvan om avokado’s saam met sitrusvrugte of tamaties te eet. Hulle smaak kan met ’n skerp of pikante sous aangevul word. Die avokado smaak ook goed saam met garnale, krap of kreef, en avokado’s is ’n lekker bestanddeel in baie slaaie. Party mense meng dit met ander vrugte om ’n verkwikkende sap te maak.
Wanneer avokado’s saam met speserye en ander bestanddele fyngemaak word, kry ’n mens ’n heerlike smeer wat op kraakbeskuitjies gebruik kan word. Wat natuurlik nie oor die hoof gesien moet word nie, is die bekende guacamole, wat van avokado’s, tamaties, uie, soetrissies en speserye gemaak word. Die vrug kan ook saam met gekookte kos bedien word, as deel van ’n hoofgereg. In hierdie geval moet dit op die laaste oomblik bygevoeg word, om dit weg te hou van hitte.
Miskien het die avokado reeds ’n belangrike plek in jou dieet. Maar in party dele van die wêreld word dit moontlik as ’n eksotiese en seldsame vrug beskou. As jy nog nie ’n avokado geproe het nie, moet jy dit gerus doen wanneer jy weer die geleentheid het. Jy sal vind dat hierdie waarlik veelsydige vrug ook smaakvol is!