Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/07 bl. 16-18
  • Stuifmeel—die stof van die lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stuifmeel—die stof van die lewe
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe stuifmeel versprei word
  • Hoe die werkers gelok word
  • Stuifmeel—Ergernis of wonder?
    Ontwaak!—2003
  • Daardie verpestelike vlieë—Nuttiger as wat jy dink?
    Ontwaak!—1996
  • Wanneer is ’n by nie ’n by nie?
    Ontwaak!—1997
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 4/07 bl. 16-18

Stuifmeel—die stof van die lewe

WANNEER die lente aanbreek, word die bye bedrywig en is die lug vol stuifmeel. Vir mense wat aan allergieë ly, is stuifmeel eerder ’n vloek as ’n seën. Maar voordat ons stuifmeel afmaak as net ’n ergernis van die natuur, moet ons die rol wat hierdie unieke stof speel, in gedagte hou. Ons sal dalk verbaas wees om te weet tot watter mate ons lewe daarvan afhang.

Wat is stuifmeel eintlik? The World Book Encyclopedia verduidelik: “Stuifmeel bestaan uit klein korreltjies wat in die manlike organe van blom- en keëldraende plante vervaardig word.” Eenvoudig gestel, plante maak stuifmeel sodat hulle kan voortplant. Soos ons weet, moet ’n vroulike eiersel by die mens deur ’n manlike spermsel bevrug word sodat ’n kind voortgebring kan word. Die vroulike orgaan van ’n blom (die stamper) het eweneens stuifmeel van die manlike orgaan (die meeldraad) nodig sodat dit bevrug kan word en vrugte kan voortbring.a

Stuifmeelkorreltjies is so klein dat ons dit skaars met die blote oog kan sien; maar onder ’n mikroskoop is dit duidelik sigbaar. Trouens, iemand wat daarna kyk, kan sien dat die grootte sowel as die vorm uniek is aan elke afsonderlike spesie. Aangesien stuifmeel nie maklik ontbind nie, kan wetenskaplikes dikwels die unieke “vingerafdruk” bestudeer van die stuifmeelkorrels wat hulle opgrawe. Sodoende kan hulle plante identifiseer wat mense eeue gelede gekweek het. Die unieke kenmerke van elke stuifmeelsoort is belangrik omdat dit blomme in staat stel om die stuifmeel van hulle eie spesie uit te ken.

Hoe stuifmeel versprei word

Baie plante maak op die lug staat om hulle stuifmeel te versprei nadat dit uit katjies of keëls vrygestel is wanneer die wind dit skud. Water versprei ook die stuifmeel van sommige waterplante. Aangesien windbestuiwing onbetroubaar is, vervaardig bome en plante wat hierdie manier van bestuiwing gebruik, ontsaglike hoeveelhede stuifmeel.b Vir hooikoorslyers veroorsaak al hierdie stuifmeel groot ongerief.

Hoewel wind ’n doeltreffende bestuiwingsmiddel vir baie soorte bome en grasse is, benodig blomplante wat nie in groot getalle dig bymekaar groei nie, ’n doeltreffender stelsel. Hoe word die stuifmeel van sulke plante na ander plante van dieselfde soort geneem wat etlike kilometers daarvandaan groei? Deur ’n doeltreffende afleweringsdiens wat deur vlermuise, voëls en insekte verskaf word! Maar hulle vervoer natuurlik nie stuifmeel van een blom na ’n ander sonder enige vergoeding nie.

Blomme bied vir hierdie bestuiwers nektar aan—’n smaaklike produk wat hulle beswaarlik kan weier. Terwyl die besoeker die nektar drink, bly heelwat stuifmeel gewoonlik op sy liggaam agter. Wanneer hy na nog nektar soek, neem hy die stuifmeel na die volgende blom.

Insekte doen verreweg die meeste bestuiwing, veral in lande met matige weerstoestande. Hulle besoek elke dag tallose blomme terwyl hulle nektar en stuifmeel verorber.c “Waarskynlik die belangrikste bydrae wat insekte tot die gesondheid en welsyn van mense maak”, verduidelik professor May Berenbaum, “is een waarvoor hulle min erkenning kry: bestuiwing.” Vrugtebome het gewoonlik blomme wat op kruisbestuiwing staat maak om ’n goeie oes te lewer. Jy kan dus sien hoe belangrik die verspreiding van stuifmeel vir ons welsyn is.

Hoe die werkers gelok word

Blomme moet potensiële bestuiwers lok en hulle ook van voedsel voorsien. Hoe doen blomme dit? Hulle voorsien moontlik aan bestuiwers ’n warm, sonnige rusplek. Hulle adverteer ook hulle ware, gewoonlik deur middel van hulle aantreklike voorkoms en aangename reuk. Daarbenewens voorsien baie blomme ’n paar nuttige aanwysings in die vorm van gekleurde kolletjies of strepies. So word besoekers gewys waar hulle die nektar kan vind.

Advertensies verskil grootliks van blom tot blom. Sommige gee ’n vrot reuk af om vlieë te lok. Ander flous insekte om suksesvolle bestuiwing te verseker. ’n Bye-orgidee lyk byvoorbeeld soos ’n by, en dit lok bye wat wil paar, om die blom te besoek. Sekere blomme vang insekte en laat hulle eers vry wanneer die insekte hulle plig as bestuiwers gedoen het. “Nêrens in die planteryk is die ontwerp van plante meer delikaat, meer presies of meer vindingryk as in die lewensbelangrike saak om te verseker dat blomme bestuif word nie”, skryf die plantkundige Malcolm Wilkins.

As die Skepper nie gereël het dat plante bestuif word deur hulle aantreklik te maak nie, sou miljoene plante nie voortgeplant het nie. Jesus het kommentaar gelewer oor die gevolg van daardie merkwaardige aktiwiteit en het gesê: “Leer ’n les by die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle swoeg nie, en hulle spin ook nie; maar ek sê vir julle dat nie eens Salomo in al sy heerlikheid soos een van hulle geklee was nie.”—Matteus 6:25, 28, 29.

Danksy bestuiwing floreer plante en vervaardig hulle die voedsel wat ons nodig het. Stuifmeel kan weliswaar vir sommige van ons ongerief veroorsaak, maar ons moet almal dankbaar wees vir die besige bestuiwers wat hierdie stof van die lewe versprei. Suksesvolle oeste hang tot ’n groot mate af van hierdie verbasende natuurlike proses wat getuig van die wonderlike handewerk van ons Skepper.

[Voetnote]

a Bestuiwing kan óf deur kruisbestuiwing (stuifmeel wat van ’n ander plant oorgedra word) óf deur selfbestuiwing (stuifmeel wat van dieselfde plant ontvang word) plaasvind. Kruisbestuiwing verseker egter verskeidenheid en dus gesonder en meer geharde plante.

b Net een berkeboomkatjie kan byvoorbeeld meer as vyfmiljoen stuifmeelkorreltjies vrystel, en ’n tipiese berkeboom sal waarskynlik etlike duisende katjies hê.

c ’n Kilogram heuning vereis dat bye omtrent tienmiljoen vlugte na individuele blomme maak.

[Venster/Prente op bladsy 16, 17]

Die bestuiwers

VLIEË EN KEWERS

Hulle is van die onbesonge helde van bestuiwing. As jy van sjokolade hou, moet jy dankbaar wees vir ’n klein vliegie wat die belangrike werk doen om die blomme van die kakaoboom te bestuif.

VLERMUISE EN BUIDELROTTE

’n Aantal van die wêreld se mees majestueuse bome, soos die kapokboom en die kremetartboom, maak op vlermuise staat vir bestuiwing. Sommige vrugtevlermuise drink nie net nektar nie, maar hulle vreet ook die vrugte en versprei die sade, en sodoende lewer hulle ’n dubbele diens. In Australië smul klein buideldiere wat as buidelrotte bekend staan, aan die nektar van blomme. Tydens hulle besoeke dra hulle pels stuifmeel van blom tot blom.

SKOENLAPPERS EN MOTTE

Hierdie mooi insekte is hoofsaaklik van nektar afhanklik vir hulle kos, en stuifmeel kleef aan hulle terwyl hulle van blom tot blom vlieg. Sommige pragtige orgideë word uitsluitlik deur motte bestuif.

SUIKERBEKKIES EN KOLIBRIES

Hierdie kleurvolle voëls fladder gedurig van een blom na ’n ander terwyl hulle nektar drink. Stuifmeel sit aan die vere van die voëls se voorkop en bors vas.

BYE EN PERDEBYE

Die harige liggaam van ’n by word net so maklik vol stuifmeel as wat ’n bril vol stof word, wat bye ideale bestuiwers maak. Tot 15 000 stuifmeelkorreltjies kan aan net een hommelby kleef. Klawervelde floreer nou in Nieu-Seeland danksy hommelbye wat in die 19de eeu uit Engeland ingevoer is, en dit voorsien noodsaaklike voer vir die land se vee.

Die heuningby is die wêreld se belangrikste bestuiwer. Dit konsentreer gewoonlik net op een soort blom wat volop naby die korf voorkom. Die insektekundige Christopher O’Toole reken dat “tot 30 persent van alle voedsel wat mense eet, direk of indirek afhang van bestuiwing deur bye”. Bye is noodsaaklik vir die bestuiwing van gewasse soos amandels, appels, pruime, kersies en kiwi’s. Boere betaal byeboere vir die dienste wat elke korf lewer.

[Prent op bladsy 18]

Bye-orgideë

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel