Die Bybel se beskouing
Jou keuse van mediese behandeling—Maak dit saak?
SIEKTES, kwale en beserings kom baie algemeen onder die mensdom voor. Wanneer ons voor hierdie vyande van gesondheid te staan kom, soek baie na verligting deur mediese behandeling. Jesus Christus het die potensiële voordele van sulke pogings besef en erken dat ‘dié wat gesond is nie ’n geneesheer nodig het nie, maar wel dié wat siek is’.—Lukas 5:31.
Die Bybelskrywer wat hierdie woorde neergeskryf het, Lukas, was self ’n geneesheer (Kolossense 4:14). Miskien het die apostel Paulus by Lukas se mediese vaardighede baat gevind tydens die reise wat hulle saam meegemaak het. Maar voorsien die Skrif riglyne oor watter soort mediese sorg vir Christene aanvaarbaar is? Maak jou keuse van mediese behandeling saak?
Skriftuurlike riglyne
Die Bybel kan ’n mens help om wyse besluite te maak in verband met mediese behandeling. Deuteronomium 18:10-12 sê byvoorbeeld duidelik dat gebruike soos waarsêery en toorkuns ’n “gruwel” vir Jehovah is. Die “beoefening van spiritisme”, waarteen Paulus gewaarsku het, sluit hierdie verbode gebruike in (Galasiërs 5:19-21). Gevolglik vermy ware Christene enige diagnostiese of terapeutiese metode wat duidelik iets met spiritisme te doen het.
Die Bybel toon ook watter groot waarde die Skepper aan die heiligheid van lewe en bloed heg (Genesis 9:3, 4). Omdat Jehovah se Getuies vasbeslote is om hulle ‘voortdurend van bloed te onthou’, maak hulle beswaar teen mediese metodes wat in stryd is met die Bybel se bevel om hulle van bloed te onthou (Handelinge 15:28, 29). Dit beteken nie dat hulle alle mediese behandeling verwerp nie. Hulle soek eerder die beste moontlike behandeling vir hulleself en hulle kinders. Maar hulle doen ’n beroep op professionele gesondheidswerkers om behandeling te voorsien wat in ooreenstemming met hulle godsdiensoortuiging is.
Let op jou voetstappe
Koning Salomo het gewaarsku dat ‘die eenvoudige elke woord glo, maar dat die skrandere op sy voetstappe let’ (Spreuke 14:15). Selfs al is ’n mediese besluit nie lynreg in stryd met Bybelbeginsels nie, moet ’n persoon ‘op sy voetstappe let’. Nie alle vorme van mediese behandeling is nuttig nie. Toe Jesus gesê het dat ‘dié wat siek is ’n geneesheer nodig het’, het hy nie al die vorme van mediese behandeling in sy tyd goedgekeur nie. Hy het geweet dat party mediese gebruike betroubaar en ander misleidend was.a
Vandag kan party vorme van behandeling eweneens nutteloos, selfs bedrieglik, wees. ’n Gebrek aan goeie oordeel kan ’n mens aan onnodige risiko’s blootstel. Daar moet ook erken word dat ’n vorm van behandeling wat vir een mens werk, ondoeltreffend—selfs skadelik—vir iemand anders kan wees. As ’n mediese besluit geneem moet word, sal ’n verstandige persoon sy opsies versigtig oorweeg in plaas van ‘elke woord te glo’, selfs al kry hy raad van welmenende vriende. Hy sal “gesonde verstand” aan die dag lê deur betroubare inligting te soek sodat hy ’n ingeligte keuse kan maak.—Titus 2:12.
Wees realisties en redelik
Dit is gepas om oor ’n mens se gesondheid besorg te wees. Ons toon waardering vir die gawe van lewe en die Goddelike Bron daarvan as ons gepaste aandag aan ons fisiese gesondheid gee (Psalm 36:10). Hoewel Christene geskikte mediese behandeling probeer kry, sal hulle in gesondheidsake balans handhaaf. As iemand wat redelik gesond is byvoorbeeld oormatig behep raak met gesondheid en fiksheid, kan dit veroorsaak dat hy “die belangriker dinge” uit die oog verloor.—Filippense 1:10; 2:3, 4.
In Jesus se dag het ’n vrou met ’n baie ernstige siekte “ál haar middele bestee” sodat geneeshere haar chroniese siekte kon behandel. Wat was die gevolg? Pleks dat sy genees is, het haar toestand versleg, wat haar ongetwyfeld baie gefrustreer het (Markus 5:25, 26). Sy het alles in haar vermoë gedoen om verligting te kry, maar niks het gehelp nie. Haar ondervinding beklemtoon die perke van die geneeskunde van haar tyd. Ondanks vooruitgang in mediese navorsing en tegnologie bevind baie mense hulle selfs vandag in ’n soortgelyke situasie. Dit is derhalwe belangrik om ’n realistiese beskouing te hê van wat die mediese wetenskap kan doen. Volmaakte gesondheid is tans onbereikbaar. Christene besef dat God se tyd vir “die genesing van die nasies” nog in die toekoms is (Openbaring 22:1, 2). Daarom moet ons ’n gebalanseerde beskouing van mediese behandeling hê.—Filippense 4:5.
Dit is duidelik dat ons keuses wel saak maak. Wanneer ons om dié rede voor besluite oor mediese behandeling te staan kom, behoort ons keuse te weerspieël dat ons goeie gesondheid wil hê en ook ’n goeie verhouding met God wil behou. Terwyl ons dit doen, kan ons met vertroue uitsien na die vervulling van Jehovah se belofte in die wonderlike nuwe wêreld wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.”—Jesaja 33:24.
[Voetnoot]
a In die eerste-eeuse mediese ensiklopedie van Dioscorides is daar byvoorbeeld beweer dat geelsug genees kan word deur ’n mengsel van wyn en bokmis te drink! Ons weet natuurlik dat hierdie voorskrif waarskynlik net tot die sieke se ellende sou bydra.
[Prent op bladsy 26]
“The Doctor”, 1891, deur sir Luke Fildes
[Erkenning]
Tate Gallery, London/Art Resource, NY