Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 1/22 bl. 6-11
  • Jy kan met jou siekte saamleef—Hoe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan met jou siekte saamleef—Hoe?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vind meer uit oor jou siekte
  • Vind ’n delikate balans
  • Kry weer beheer
  • Gun jouself tyd
  • Chroniese siekte—Die hele gesin word geraak
    Ontwaak!—2000
  • Hoe gesinne met chroniese siekte saamleef
    Ontwaak!—2000
  • Waarom moet ek so siek wees?
    Ontwaak!—1997
  • Wanneer jy ’n ernstige siekte het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2019
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 1/22 bl. 6-11

Jy kan met jou siekte saamleef—Hoe?

WEES verseker dat jy geldige rede het vir die stortvloed van gevoelens wat jy waarskynlik ervaar. Hoewel jou siekte of gebrek dalk ’n fisiese werklikheid is, weerstaan jou verstand die veranderinge wat die siekte op jou afgedwing het. Dit voel dalk asof jy en jou siekte met mekaar toutrek, asof jy in ’n stryd gewikkel is tussen wie jy voorheen was en wat jy moontlik sal word. En op hierdie stadium lyk dit dalk of jou siekte die oorhand het. Maar jy kan die bordjies verhang. Hoe?

“Wanneer ’n mens ’n verlies ly weens siekte”, sê dr. Kitty Stein, “voel dit baie soos wanneer jy iemand aan die dood afgestaan het.” Wanneer jy dus iets so kosbaars soos jou gesondheid verloor het, is dit net normaal om jouself tyd te gun om te treur en te huil, net soos wanneer ’n geliefde sterf. Trouens, jy het dalk meer as jou gesondheid verloor. Soos een vrou verduidelik: “Ek moes uit my werk bedank. . . . Ek moes die onafhanklikheid prysgee wat ek altyd geniet het.” Jy moet nietemin jou verliese in perspektief hou. “Jy moet treur oor wat jy verloor het”, voeg dr. Stein by, wat self veelvoudige sklerose het, “maar jy moet ook verstaan wat jy nog het.” Trouens, nadat jy deur die aanvanklike trane geworstel het, sal jy sien dat jy nog steeds belangrike reserwes tot jou beskikking het. Om maar een ding te noem, jy het die vermoë om aan te pas.

’n Seevaarder kan nie ’n storm laat bedaar nie, maar hy kan dit trotseer deur sy skip se seile te verstel. Net so is jy miskien nie in staat om die siekte te beheer wat nou soos ’n storm in jou lewe woed nie, maar jy kan daarmee saamleef deur jou “seile” te verstel, met ander woorde jou fisiese, verstandelike en emosionele reserwes. Wat het ander met chroniese siektes gehelp om dit te doen?

Vind meer uit oor jou siekte

Nadat hulle die aanvanklike skok van die diagnose verwerk het, voel baie dat dit beter is om die pynlike waarheid te weet as om met ’n vae vrees saam te leef. Terwyl vrees jou heeltemal kragteloos kan maak, kan kennis van wat met jou gebeur jou help om vas te stel wat jy kan doen—en dit op sigself het dikwels ’n positiewe uitwerking. “Kyk net hoeveel beter jy oor enigiets voel wat jou kwel wanneer jy met ’n plan vorendag kom om dit die hoof te bied”, sê dr. David Spiegel van Stanford-universiteit. “Lank voordat jy in werklikheid iets gedoen het, verminder jy jou gevoel van ongemak deur te beplan wat jy moet doen.”

Jy voel dalk dat dit nodig is om meer omtrent jou toestand uit te vind. Soos ’n Bybelspreuk sê: “’n Man van kennis ontwikkel krag” (Spreuke 24:5). “Kry boeke by die biblioteek. Vind soveel as moontlik uit omtrent jou siekte”, raai ’n bedlêende man aan. Wanneer jy leer oor beskikbare behandelings en tegnieke om met jou toestand saam te leef, sal jy dalk vind dat dit nie so sleg is as wat jy gevrees het nie. Jy sal dalk selfs redes vind om optimisties te wees.

Maar jou einddoel is nie om die siekte verstandelik te begryp nie. Dr. Spiegel verduidelik: “Hierdie insameling van inligting is ’n deel van ’n belangrike proses om die siekte te aanvaar, om dit te verstaan, om dit in perspektief te plaas.” Om te aanvaar dat jou lewe verander is, maar dat dit nie geëindig het nie, is ’n delikate en dikwels stadige proses. Maar hierdie positiewe stap—om van ’n verstandelike begrip tot emosionele aanvaarding te vorder—is ’n stap wat jy kan neem. Hoe?

Vind ’n delikate balans

Jy sal dalk jou beskouing moet aanpas van wat dit beteken om jou siekte te aanvaar. Dit is per slot van rekening nie ’n teken dat jy misluk het as jy jou siekte aanvaar nie, net soos dit nie ’n teken van mislukking is as ’n seevaarder die feit aanvaar dat hy hom in ’n storm bevind nie. Die feit dat hy realisties oor die storm is, spoor hom eerder tot optrede aan. So ook het jy nie misluk as jy jou siekte aanvaar nie, maar dit beteken dat jy “’n nuwe rigting inslaan”, soos ’n vrou met ’n chroniese siekte gesê het.

Al is jou fisiese vermoëns nou meer beperk as voorheen, sal jy jou dalk daaraan moet herinner dat jou verstandelike, emosionele en geestelike eienskappe nie noodwendig aangetas hoef te word nie. Het jy byvoorbeeld nog jou intelligensie en die vermoë om dinge te organiseer en om te redeneer? Miskien het jy nog jou hartlike glimlag, is jy nog besorg oor ander en het jy nog jou vermoë om ’n goeie luisteraar en ware vriend te wees. En die belangrikste van alles, jy het nog steeds jou geloof in God.

En al kan jy nie al jou omstandighede verander nie, moet jy onthou dat jy nog steeds kan besluit hoe jy daarop gaan reageer. Irene Pollin van die Nasionale Kankerinstituut sê: “Jy is in beheer van jou reaksies op jou siekte. Jy het hierdie mag ten spyte van wat jou siekte aan jou doen.” Helen, ’n 70-jarige vrou met gevorderde veelvoudige sklerose, beaam hierdie gedagte: “Dit is nie soseer jou siekte nie, maar jou reaksie op jou siekte wat bepaal of jy weer jou balans sal vind.” ’n Man wat al baie jare met ’n liggaamsgebrek saamleef, sê: “’n Positiewe gesindheid is die kiel wat die skip regop hou.” Dit is soos Spreuke 18:14 sê: “Die gees van ’n man ondersteun hom in sy krankheid; maar ’n verslae gees—wie kan dit opbeur?”

Kry weer beheer

Terwyl jy weer jou emosionele balans vind, sal jy dalk nie meer vra: ‘Waarom het dit met my gebeur’ nie, maar eerder: ‘Wat gaan ek daaromtrent doen, aangesien dit met my gebeur het?’ Op hierdie stadium kan jy verdere stappe neem om jou situasie te verbeter. Kom ons kyk na ’n paar hiervan.

Neem jou toestand in oënskou, dink na oor wat jy moet verander en probeer dan om dit wat kan verander te verander. “Jou siekte is ’n geleentheid om opnuut na jou lewe te kyk—’n wekroep, nie ’n doodsklok nie”, sê dr. Spiegel. Vra jou af: ‘Wat was vir my belangrik voor ek siek geword het? Hoe het dit verander?’ Jy moet jou nie hierdie vrae vra om vas te stel wat jy nie meer kan doen nie, maar om vas te stel watter dinge nog moontlik is, miskien deur dinge anders te doen. Neem byvoorbeeld vir Helen, wat vroeër gemeld is.

Sy ly al 25 jaar lank aan veelvoudige sklerose, wat haar spiere verswak het. Sy het eers ’n loopraam gebruik om rond te beweeg. Later, toe sy beheer oor haar regterhand verloor het, het sy haar linkerhand begin gebruik. Daarna het haar linkerhand ingegee. Toe, ongeveer agt jaar gelede, kon sy nie meer loop nie. Nou moet sy deur ander gewas, gevoer en aangetrek word. Dit maak haar hartseer, maar sy sê nogtans: “My leuse is nog steeds: ‘Dink aan wat jy kan doen en nie aan wat jy in die verlede gedoen het nie.’” En met behulp van haar man en die verpleegsters wat haar besoek, en danksy haar eie vindingrykheid, kan sy nog steeds van die dinge doen wat sy nog altyd geniet het. Vandat sy 11 jaar oud was, was dit byvoorbeeld ’n kosbare deel van haar lewe om ander van die Bybel se belofte van ’n komende vreedsame nuwe wêreld te vertel, en vandag doen sy dit nog elke week (Matteus 28:19, 20). Helen verduidelik hoe:

“Ek vra die verpleegster om die koerant vir my te hou. Ons lees saam deur die doodsberigte, en dan kies ons ’n paar. Daarna sê ek vir die verpleegster watter gedagtes ek graag in ’n brief aan die gesin van die afgestorwene wil insluit, en dan tik die verpleegster die brief. Saam met die brief stuur ek die brosjure Wanneer ’n geliefde sterfa, wat die Bybel se vertroostende hoop van die opstanding verduidelik. Ek doen dit elke Sondagmiddag. Dit maak my gelukkig dat ek die goeie nuus van God se Koninkryk nog aan ander kan vertel.”

Stel redelike en bereikbare doelwitte. Een rede waarom Helen probeer verander wat sy kan verander, is dat dit haar in staat stel om doelwitte te stel en te bereik. Dit is ook belangrik vir jou. Waarom? Want om doelwitte te stel, laat jou aan die toekoms dink, en om doelwitte te verwesenlik, gee jou die gevoel dat jy iets bereik het. Dit kan jou ook van jou selfvertroue teruggee. Maar maak seker dat jou doelwit spesifiek is. Jy kan jou byvoorbeeld voorneem: ‘Vandag gaan ek een hoofstuk van die Bybel lees.’ Stel ook doelwitte wat realisties is vir jou. Aangesien jou fisiese en emosionele samestelling verskil van ander persone met chroniese siektes, sal jy moontlik nie dieselfde doelwitte as hulle kan bereik nie.—Galasiërs 6:4.

“Ongeag hoe klein ’n doelwit lyk, as jy dit bereik het, motiveer dit jou om meer te doen”, sê Lex, wat in Nederland woon. Hy was twaalf jaar gelede, toe hy 23 was, in ’n ongeluk betrokke wat hom verlam het. Gedurende die talle fisioterapeutiese behandelings wat gevolg het, is hy aangespoor om doelwitte te stel, soos om sy gesig met ’n waslap te was. Dit het hom moeg gemaak, maar hy het dit reggekry. Toe hy daardie doelwit bereik het, het hy nog ’n doelwit vir homself gestel—om die tandepastabuisie self oop en toe te maak. Hy het ook dít reggekry. “Hoewel dit nie maklik was nie”, sê Lex, “het ek geleer dat ek meer kan doen as wat ek gedink het moontlik is.”

Trouens, met die ondersteuning van sy vrou, Tineke, het Lex groter doelwitte bereik. Saam met Tineke besoek hy byvoorbeeld mense nou van huis-tot-huis in ’n rolstoel om Bybelkennis aan hulle oor te dra. Hy besoek ook elke week ’n erg gestremde man wat hy aanmoedig en met wie hy die Bybel studeer. “Om ander te help”, sê Lex, “verskaf my groot bevrediging.” Soos die Bybel sê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

Kan jy ook doelwitte stel om ander te help? Wanneer ’n mens siek of gebreklik is, kan dit jou help om ’n uiters bevoegde vertrooster te wees omdat jou probleme jou meer simpatiek maak teenoor die pyn van ander.

Bly in kontak met ander. Mediese studies toon dat sosiale kontak goed is vir jou gesondheid. Maar die teenoorgestelde is ook waar. “Die verband tussen sosiale afsondering en die sterftesyfer is . . . net so sterk soos die verband tussen rook . . . en die sterftesyfer”, sê ’n navorser. Hy voeg by: “Dit kan net so belangrik vir jou gesondheid wees om jou sosiale verhoudings te verbeter as wat dit is om op te hou rook.” ’n Mens kan verstaan waarom hy tot die slotsom kom dat ons vermoë om sosiale verhoudings in stand te hou ons “help om aan die lewe te bly”!—Spreuke 18:1.

Maar soos ons in die vorige artikel gesê het, is die probleem dalk dat sommige van jou vriende jou nie meer besoek nie. Jy sal vir jou eie beswil iets omtrent die toenemende afsondering moet doen. Maar wat? Jy kan begin deur jou vriende oor te nooi.

Maak besoeke ’n aangename ondervinding.b Jy kan dit doen deur nie te veel oor jou siekte te praat nie sodat jou besoekers nie moeg word om daarvan te hoor nie. Een vrou met ’n chroniese siekte het hierdie probleem opgelos deur die tyd te beperk wat sy en haar man oor haar siekte praat. “Ons moes dit eenvoudig beperk”, sê sy. Ja, jou siekte hoef nie al die ander dinge waaroor jy kan praat te oorheers nie. Nadat een besoeker met sy bedlêende vriend oor kuns, geskiedenis en sy redes vir geloof in Jehovah God gepraat het, het hy gesê: “Hy is baie meer as sy siekte. Dit was wonderlik om met hom te gesels.”

’n Goeie sin vir humor sal dit ook vir jou vriende ’n plesier maak om by jou te kuier. Om te lag, is buitendien goed vir jou. “Humor help jou in baie situasies, asook met baie situasies”, sê ’n man met Parkinson se siekte. Om te lag, kan inderdaad goeie medisyne wees. Spreuke 17:22 sê: “’n Vrolike hart bevorder die genesing.” Om selfs net ’n paar minute te lag, is goed vir jou. “Om te lag, is [ook] heeltemal veilig, onskadelik en pret, in teenstelling met sommige van die ander geneesmiddels wat ons gebruik”, sê die skryfster Susan Milstrey Wells, wat self aan ’n chroniese siekte ly. “Al wat ’n mens kan verloor, is ’n slegte bui.”

Vind maniere om spanning te verminder. Studies bevestig dat spanning die fisiese simptome van ’n siekte kan vererger, terwyl die vermindering van spanning help om dit draagliker te maak. Gun jouself dus van tyd tot tyd ’n blaaskans (Prediker 3:1, 4). Moenie toelaat dat jou hele lewe om jou siekte draai nie. As jy in jou huis gekluister is, kan jy die druk van jou emosies probeer verlig deur na sagte musiek te luister, ’n boek te lees, lank in die bad te lê, briewe of gedigte te skryf, ’n prent te skilder, ’n musiekinstrument te speel, met ’n vertroude vriend te gesels of soortgelyke dinge te doen. Hierdie dinge sal nie jou probleem permanent oplos nie, maar dit kan jou tydelike verligting bring.

As jy kan rondbeweeg, kan jy vir ’n wandeling gaan, inkopies doen, in die tuin werk, ’n bietjie gaan rondry of, indien moontlik, met vakansie gaan. Dit kan weliswaar weens jou siekte moeiliker wees om op reis te gaan, maar met voorbereiding en ’n bietjie vindingrykheid kan struikelblokke oorkom word. Lex en Tineke, wat vroeër gemeld is, het dit byvoorbeeld reggekry om oorsee te gaan. “Aan die begin was ons ’n bietjie gespanne”, sê Lex, “maar ons het ’n wonderlike vakansie gehad!” Ja, jou siekte is ’n deel van jou lewe, maar dit hoef nie jou lewe te oorheers nie.

Put krag uit geloof. Ware Christene wat ernstige gebreke suksesvol die hoof gebied het, sê dat hulle geloof in Jehovah God, asook hulle assosiasie met die Christengemeente bronne van voortdurende vertroosting en krag is.c Hier is ’n paar van hulle kommentare oor die waarde van gebed, studie van die Bybel, bepeinsing oor die toekoms en die bywoning van Christelike vergaderinge by die Koninkryksaal.

● “Nou en dan word ek nog neerslagtig. Wanneer dit gebeur, bid ek tot Jehovah, en hy versterk my voorneme om aan te hou doen wat ek kan doen.”—Psalm 55:23; Lukas 11:13.

● “Om die Bybel te lees en na te dink oor wat ek lees, help my geweldig baie om nie my gemoedsrus te verloor nie.”—Psalm 63:7; 77:12, 13.

● “Bybelstudie herinner my daaraan dat die werklike lewe nog voorlê en dat ek nie vir altyd gestremd sal wees nie.”—Jesaja 35:5, 6; Openbaring 21:3, 4.

● “My geloof in die toekoms wat in die Bybel belowe word, gee my die krag om die lewe een dag op ’n slag aan te pak.”—Matteus 6:33, 34; Romeine 12:12.

● “Die bywoning van vergaderinge by die Koninkryksaal help my om my gedagtes op positiewe dinge gerig te hou en nie op my siekte nie.”—Psalm 26:12; 27:4.

● “Aanmoedigende assosiasie met gemeentelede verbly my hart.”—Handelinge 28:15.

Die Bybel gee ons die versekering: “Die HERE is goed, ’n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil” (Nahum 1:7). ’n Hegte verhouding met Jehovah God en assosiasie met die Christengemeente is bronne van vertroosting en krag.—Romeine 1:11, 12; 2 Korintiërs 1:3; 4:7.

Gun jouself tyd

Om suksesvol met jou ernstige siekte of gebrek saam te leef, is ’n proses wat “tyd neem en nie oornag gebeur nie”, sê ’n maatskaplike werkster wat mense help om met die gevolge van slepende siektes saam te leef. Gun jouself tyd, raai ’n ander deskundige aan, want jy leer “’n heeltemal nuwe vaardigheid: hoe om met ’n ernstige siekte saam te leef”. Jy moet besef dat jy selfs met ’n positiewe gesindheid slegte dae of weke gaan hê wanneer die gevolge van jou siekte jou gaan uitput. Maar met verloop van tyd sal jy dalk vordering sien. Dit is wat met een vrou gebeur het, en sy het gesê: “Ek was so opgewonde toe ek besef het dat ’n hele dag verbygegaan het sonder dat ek selfs aan kanker gedink het. . . . ’n Ruk gelede sou ek nooit gedink het dit is moontlik nie.”

Ja, wanneer jy eers jou aanvanklike vrese verwerk het en nuwe doelwitte gestel het, sal jy dalk verbaas wees om te sien hoe goed jy oor die weg kom—soos die volgende artikel toelig.

[Voetnote]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of Pennsylvania.

b Die wenke oor die manier waarop jy jou besoekers moet behandel, is natuurlik selfs meer van toepassing op hoe jy jou maat, jou kinders en jou versorger behandel.

c Dit is interessant dat talle mediese studies al gesê het dat geloof gesondheid en welsyn bevorder. Volgens professor Dale Matthews van die Georgetown-universiteit se mediese fakulteit “is daar bewys dat geloof waarde het”.

[Prent op bladsy 7]

Om meer oor jou siekte uit te vind, kan jou help om dit te aanvaar

[Prent op bladsy 8]

Helen berei aanmoedigende briewe met ander se hulp voor

[Prent op bladsy 8]

“Dit maak my gelukkig om ander van die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel”

[Prente op bladsy 9]

“Hoewel ek verlam is, het ek geleer dat ek meer kan doen as wat ek gedink het moontlik is.”—Lex

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel