Jongmense vra . . .
Waarom moet ek so siek wees?
TOE Jason 13 jaar oud was, het hy sy hart daarop gesit om eendag as ’n voltydse bedienaar by Bethel te dien, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York. Hy het vir hom ’n houtkis gemaak en dit sy Bethelkis genoem. Daarin het hy dinge begin bymekaarmaak wat hy gedink het nuttig sou wees wanneer hy met sy Bethelloopbaan begin.
Net drie maande ná Jason se 18de verjaarsdag is daar egter vasgestel dat hy Crohn se siekte het—’n genadelose, pynlike ingewandsiekte. “Dit het my absoluut verpletter”, vertel hy. “Al wat ek kon doen, was om my pa by die werk te bel en te huil. Ek het besef dat ten minste my droom om Bethel toe te gaan voor ’n hindernis te staan gekom het.”
Siekte is ’n grondliggende rede waarom “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). Onder die siekes is daar dermiljoene jongmense. Baie jongmense word mettertyd beter. Maar ander moet siektes die hoof bied wat chronies of, in sommige gevalle, lewensgevaarlik is. Onder die siektes waaraan jongmense dikwels ly, is asma, suikersiekte, sekelselsiekte, aansteeklike siektes, epilepsie, geestesversteurings en kanker. Party jongmense moet met veelvoudige kwale saamleef.
‘Waarom gebeur dit met my?’
Siekte veroorsaak dikwels verstandelike en emosionele spanning, om nie eens van fisiese pyn te praat nie. As siekte jou byvoorbeeld ’n paar maande lank uit die skool hou, raak jy dalk nie net akademies agter nie, maar voel jy ook sosiaal afgesny. Wanneer die 12-jarige Sunny nie skool toe kan gaan nie omdat hy weer in die hospitaal is, wonder hy bekommerd: ‘Wat doen my klasmaats? Wat mis ek vandag?’
Net so kan dit lyk of jou geestelike groei ook daaronder ly wanneer jy te siek is om Christelike vergaderinge by te woon of selfs die Bybel te lees. Onder hierdie omstandighede het jy ekstra emosionele en geestelike ondersteuning nodig. Aanvanklik weier jy miskien om die diagnose te glo. Later voel jy dalk baie kwaad, moontlik vir jouself, as jy aan die moontlikheid dink dat jy die siekte op een of ander manier kon verhoed het. Jy voel dalk of jy wil uitroep: ‘Waarom het God dit met my laat gebeur?’ (Vergelyk Matteus 27:46.) Dit is in werklikheid normaal om ten minste ’n mate van depressie te ervaar.
Daarbenewens kan ’n jong persoon selfs meen dat God sy siekte sal wegneem as hy die een of ander spesiale poging aanwend, soos om hom ekstra goed te gedra. Maar sulke denke kan tot teleurstelling lei, aangesien God nie wonderdadige genesing in hierdie tyd beloof nie.—1 Korintiërs 12:30; 13:8, 13.
Miskien het jy gehoop dat jy nooit sou hoef te sterf nie—dat jy sou lewe wanneer God “die groot verdrukking” bring (Openbaring 7:14, 15; Johannes 11:26). Indien dit die geval is, kan dit dubbeld so skokkend wees om te hoor dat jy aan ’n lewensgevaarlike siekte ly. Jy wonder dalk of jy iets gedoen het wat Jehovah kwaad gemaak het, of jy dink dalk dat God jou vir die een of ander spesiale toets van onkreukbaarheid uitgesonder het. Dit is egter verkeerde gevolgtrekkings. “Met bose dinge kan God nie beproef word nie en beproef hy self ook niemand nie”, sê God se Woord, die Bybel (Jakobus 1:13). Siekte en die dood is hartseer aspekte van die mens se huidige toestand, en ons is almal onderworpe aan “tyd en lotgeval”.—Prediker 9:11.
Hoe om die vrees te hanteer
’n Ernstige siekte kan ook daartoe lei dat jy vir die eerste keer oorweldigende vrees ervaar. Die boek How It Feels to Fight for Your Life meld die opmerkings van 14 jongmense wat aan ernstige siektes ly. Anton, tien, was byvoorbeeld bang dat hy tydens ’n hewige asma-aanval sou sterf. En Elizabeth, 16, wat teen beenkanker gestry het, was bang dat sy nie weer wakker sou word as sy gaan slaap nie.
Sommige jongmense het egter ander soort vrese—’n vrees dat niemand met hulle sal wil trou nie of ’n vrees dat hulle later in die lewe nie gesonde kinders sal hê nie. Ander jongmense is bang dat hulle hulle siekte aan gesinslede sal oordra, of hulle siekte nou aansteeklik is of nie.
Selfs as die siekte gestabiliseer het of daar ’n remissie is, kan die geringste terugslag weer vrese na vore bring. As jy al sulke vrese ervaar het, weet jy dat dit ’n baie werklike probleem is. Gelukkig neem die aanvanklike opwelling van negatiewe emosies mettertyd af. Dan kan jy jou omstandighede meer objektief evalueer.
Die uitdaging van siekte
“Wanneer jy jonk is, voel jy onoorwinlik”, sê Jason, wat vroeër gemeld is. “Dan, wanneer jy ernstig siek word, word jy skielik uit daardie illusie geruk. Dit voel of jy oornag oud geword het, aangesien jy rustiger moet word.” Ja, om voor nuwe beperkings te staan te kom, kan ’n uitdaging wees.
Jason het gevind dat dit nog ’n groot uitdaging bied wanneer ander nie jou toestand verstaan nie. Jason het iets wat ’n “onsigbare siekte” genoem kan word. Sy uiterlike weerspreek die inwendige probleme. “My liggaam verteer nie voedsel soos dit moet nie”, verduidelik Jason, “daarom moet ek gereeld eet en eet ek meer as wat baie ander eet. Tog bly ek maer. Ook word ek soms so moeg dat ek in die middel van die dag nie my oë kan oophou nie. Maar mense maak aanmerkings wat toon dat hulle dink ek is vraatsugtig of lui. Hulle sê dinge soos: ‘Jy weet jy kan beter doen. Jy probeer nie eens nie!’”
Jason het jonger broers en susters wat nie altyd verstaan waarom hy nie die dinge kan doen wat hy voorheen gedoen het nie, soos om saam met hulle met ’n bal te speel. “Maar ek weet dat as ek seerkry”, sê Jason, “dit weke kan duur voordat dit weer gesond is. Hulle is geneig om my pyn met hulle s’n te vergelyk en te sê: ‘Hy kla net om aandag te kry.’ Die seerste wat hulle al gehad het, is waarskynlik wanneer hulle ’n voet geswik het, en daarom kan hulle hulle eenvoudig nie my pyn voorstel nie.”
As dit lyk of jou siekte druk op jou gesin plaas, sukkel jy dalk om skuldgevoelens te verwerk. Jou ouers voel dalk ook skuldig. “Albei my ouers meen dat hulle vir my die probleem kon gegee het”, sê Jason. “Kinders verwerk gewoonlik ’n siekte nadat hulle hulle by die werklikheid daarvan aangepas het. Maar ouers vind dit moeiliker. Hulle sê oor en oor vir my hoe jammer hulle is. Ek moet voortdurend my bes doen om hulle skuldgevoelens te probeer verlig.”
Doktersbesoeke—geen grap nie
Voortdurende doktersbesoeke kan ’n bron van angs wees. Dit kan jou klein en hulpeloos laat voel. Net om in die hospitaal se wagkamer jou beurt te sit en afwag, kan skrikwekkend wees. “Mens voel . . . so alleen, en dit sou lekker gewees het as iemand jou geselskap kon hou”, sê Joseph, 14, ’n hartpasiënt. Ongelukkig kry sommige jongmense nie daardie soort ondersteuning nie, selfs nie van hulle ouers nie.
Mediese toetse kan eweneens angs veroorsaak. Trouens, sommige toetse is sommer net onaangenaam. Dan, daarna, moet jy dalk angstige dae of weke verduur terwyl jy vir die uitslae wag. Maar onthou: Om ’n mediese toets te ondergaan, is nie dieselfde as om ’n toets by die skool af te lê nie; as jy ’n mediese probleem het, beteken dit nie dat jy op die een of ander manier gefaal het nie.
’n Toets kan in werklikheid baie nuttige inligting voorsien. Dit kan toon dat jy ’n mediese probleem het wat maklik behandel kan word. Of, as dit nie die geval is nie, kan ’n toets help om te toon wat jy kan doen om met die kwaal saam te lewe. Dit kan selfs toon dat jy toe al die tyd nie ’n sekere vermoedelike siekte het nie. Probeer dus om nie oorhaastig gevolgtrekkings oor jou toestand te maak nie.
As jy jou te veel bekommer, sal dit jou net uitput. Die Bybel sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer” (Spreuke 12:25). Daarenteen nooi God ons om hom van ons bekommernisse te vertel. Ons moet vertrou dat hy vir ons omgee en dat hy ons sy leiding en die wysheid sal gee om die probleem op die beste manier moontlik te hanteer.—Psalm 41:3, NW; Spreuke 3:5, 6; Filippense 4:6, 7; Jakobus 1:5.
Ons kan bly wees dat ons Skepper, Jehovah God, voorsiening gemaak het om ’n nuwe wêreld van regverdigheid in te lui. Hy sal selfs diegene wat gesterf het, opwek en hulle ’n geleentheid bied om daardie nuwe wêreld te geniet. Die Bybel verseker ons dat in daardie tyd “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”.—Jesaja 33:24.
Tot dan moet jy dalk ’n ernstige siekte die hoof bied. Daar is egter talle praktiese dinge wat jy kan doen om jou situasie te vergemaklik. Ons sal dit in ’n latere artikel bespreek.
[Prent op bladsy 18]
Jy vra dalk: ‘Waarom het God dit met my laat gebeur?’