Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 1/22 bl. 11-14
  • Bied terugslae die hoof deur doelwitte te stel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bied terugslae die hoof deur doelwitte te stel
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die eerste terugslae
  • Stom en werkloos
  • Nog ’n terugslag
  • Versterk deur ’n begrip van wat die oorsaak van terugslae is
  • Verdere aanpassings
  • ’n Bevredigende afleiding
  • Nog een doelwit
  • “Hulle het vir my gesê ek sal nooit weer loop nie!”
    Ontwaak!—1990
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2001
  • Die Verklaring van Regte—Waarom was dit nodig?
    Ontwaak!—1991
  • Vigs—Die epidemie duur voort
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 1/22 bl. 11-14

Bied terugslae die hoof deur doelwitte te stel

’N WOONSTEL naby New York se LaGuardia-lughawe is die tuiste van William (Bill) Meiners en sy vrou, Rose. Daar verwelkom Rose, ’n innemende gasvrou in haar middelsewentigerjare, haar besoeker vriendelik. In die woonstel kan ’n mens nie anders as om op te merk hoe die gesellige voorhuis haar vrolike geaardheid weerspieël nie. Die pragtige blommerangskikking naby die deur en die kleurvolle skilderye aan die mure dra ’n gevoel van vreugde en lewenslus oor.

Langs die voorhuis is daar ’n sonnige kamer waar Bill, wat 77 jaar oud is, in ’n halfsittende posisie op ’n verstelbare matras in die bed lê. Wanneer hy sy besoeker sien, is daar ’n vonkel in sy vriendelike oë en hy glimlag breed. Hy sou baie graag wou opstaan, bladskud en sy besoeker wou omhels, maar hy kan nie. Buiten sy linkerarm is Bill van sy nek af ondertoe verlam.

Omdat Bill probleme met sy gesondheid het vandat hy 26 jaar oud was, word hy gevra wat hom gehelp het om meer as ’n halwe eeu met siektes saam te leef. Bill en Rose kyk geamuseerd na mekaar. “Ons ken niemand wat siek is nie!” sê Rose, terwyl sy hartlik lag. Bill se oë vonkel van plesier; hy lag saggies en beaam dit met ’n kopknik. “Niemand hier is siek nie”, sê hy stotterig met ’n keelstem. Rose en Bill maak nog ’n paar opgeruimde opmerkings, en weldra lag ons almal lekker saam. Dit is duidelik dat die liefde wat Bill en Rose vir mekaar gehad het toe hulle in September 1945 ontmoet het nog baie sterk is. Bill word weer gevra: “Maar ernstig nou, watter terugslae moes jy oorkom? En wat het jou gehelp om met jou siekte saam te leef en ’n positiewe uitkyk op die lewe te behou?” Ná ’n bietjie aansporing willig Bill in om sy verhaal te vertel. Hier volg uittreksels uit verskeie gesprekke wat Ontwaak! met Bill en sy vrou gevoer het.

Die eerste terugslae

In Oktober 1949—drie jaar nadat Bill en Rose getrou het en drie maande ná die geboorte van hulle dogter, Vicki—is hy meegedeel dat hy ’n kankeragtige gewas op een van sy stembande het, en die gewas is verwyder. ’n Paar maande later het Bill se dokter hom nog slegte nuus gegee—die kanker het deur die hele larinks versprei. “Daar is vir my gesê dat ek net nog twee jaar sou lewe as ek nie ’n laringektomie ondergaan nie—dit wil sê die verwydering van die hele larinks.”

Daar is vir Bill en Rose verduidelik wat die gevolg van hierdie operasie sou wees. Die larinks, of stemkas, loop van die basis van die tong tot by die ingang van die lugpyp. Daar is twee stembande in die larinks. Wanneer lug wat van die longe uitgeasem word deur die stembande beweeg, vibreer dit en bring dit spraakklanke voort. Wanneer die larinks verwyder word, word die bokant van die lugpyp aan ’n permanente opening geheg wat aan die voorkant van die nek gemaak word. Ná die operasie haal die pasiënt deur hierdie opening asem—maar hy het sy stem verloor.

“Toe ek hierdie verduideliking hoor, het ek kwaad gevoel”, sê Bill. “Ons het ’n dogtertjie gehad, ek het ’n goeie werk gehad, ons het hoë verwagtinge vir ons lewe gehad, en nou was alles waarop ek gehoop het, verpletter.” Maar omdat ’n laringektomie sy lewe kon red, het Bill tot die operasie ingestem. “Ná die operasie”, vertel Bill, “kon ek nie sluk nie. Ek kon nie ’n enkele woord sê nie. Ek was stom.” Toe Rose Bill besoek het, kon hy slegs kommunikeer deur woorde op ’n skryfblok neer te skryf. Dit was ’n pynlike tyd. Om hierdie terugslag te oorkom, moes hulle nuwe doelwitte stel.

Stom en werkloos

Ná die laringektomie was Bill nie net stom nie, maar ook werkloos. Hy het in ’n masjienwerkswinkel gewerk, maar noudat hy slegs deur die opening in sy nek kon asemhaal, kon stof en dampe sy longe beskadig. Hy moes ’n ander werk vind. Hoewel hy nog nie kon praat nie, het hy by ’n skool vir horlosiemakers ingeskryf. “Dit was baie soos my ou werk”, sê Bill. “Ek het geweet hoe om die onderdele van ’n masjien aanmekaar te sit, en wanneer ’n mens horlosies maak, sit jy ook onderdele aanmekaar. Die onderdele het net nie 20 kilogram geweeg nie!” Onmiddellik nadat hy die kursus by die skool vir horlosiemakers voltooi het, het hy werk as ’n horlosiemaker gekry. Een doelwit is dus bereik.

Intussen het Bill ook ’n esofageale spraakklas begin bywoon. In esofageale spraak word klank nie deur die stembande voortgebring nie, maar deur vibrasies in die esofagus, die buis waarlangs kos van die keel na die maag beweeg. Eerstens leer ’n mens om lug te sluk en dit in die esofagus af te forseer. Dan laat ’n mens die lug op ’n beheerde manier opkom. Terwyl die lug ontsnap, laat dit die wande van die esofagus vibreer. Dit bring ’n keelklank voort, wat met behulp van die mond en lippe spraak kan voortbring.

“Vantevore het ek slegs winde gebreek wanneer ek te veel geëet het”, sê Bill met ’n glimlag, “maar nou moes ek leer om aanmekaar winde te breek. Aan die begin kon ek slegs een woord op ’n slag sê, soos dit: ‘[asem in, sluk, breek ’n wind] Hoe [asem in, sluk, breek ’n wind] gaan [asem in, sluk, breek ’n wind] dit?’ Dit was nie maklik nie. Toe het my onderwyser vir my gesê om baie gemmerlimonade te drink, want die gas sou my help om winde te breek. Wanneer Rose buitentoe gegaan het om met Vicki te gaan stap, het ek dus baie limonade gedrink en baie winde gebreek. Ek het hard daaraan gewerk!”

Hoewel ongeveer 60 persent van alle laringektomiepasiënte nie esofageale spraak bemeester nie, het Bill vordering gemaak. Vicki, wat teen daardie tyd amper twee jaar oud was, het hom onbewustelik aangespoor. Bill verduidelik: “Vicki het met my gepraat en na my gekyk en op ’n antwoord gewag. Maar ek kon nie een woord terugsê nie. Sy het dan verder gepraat, maar weer nie ’n antwoord gekry nie. Dit het Vicky kwaad gemaak, en sy het dan na my vrou gekyk en gesê: ‘Sê vir Pappie om met my te praat!’ Haar woorde het my diep getref en my vasbeslote gemaak om weer te praat.” Tot die vreugde van Vicki, Rose en ander het Bill dit reggekry. Nog ’n doelwit is bereik.

Nog ’n terugslag

Teen die einde van 1951 het Bill en Rose voor ’n nuwe dilemma te staan gekom. Omdat die dokters bang was dat die kanker sou terugkeer, het hulle Bill aangeraai om bestraling te ondergaan. Bill het ingestem. Ná die behandeling was hy gretig om sy lewe voort te sit. Min het hy geweet dat sy gesondheid weldra nog ’n terugslag sou kry!

Ongeveer ’n jaar het verbygegaan. Toe het Bill se vingers eendag dood gevoel. Daarna kon hy nie trappe klim nie. ’n Rukkie later het hy geval terwyl hy geloop het en kon hy nie weer opstaan nie. Toetse het getoon dat die bestraling wat Bill ontvang het (wat destyds nie so sekuur was soos vandag nie) sy rugmurg beskadig het. Daar is vir hom gesê dat sy toestand sou versleg. ’n Dokter het selfs vir hom gesê dat sy kanse op oorlewing “nie ’n stuiwer werd is nie”. Bill en Rose was verpletter.

Bill het nietemin vir ses maande na ’n hospitaal gegaan waar hy fisioterapie ontvang het in ’n poging om hierdie terugslag die hoof te bied. Hoewel die terapie nie die verloop van sy fisiese toestand verander het nie, het sy verblyf in die hospitaal die verloop van sy lewe verander—’n verandering wat uiteindelik gemaak het dat hy Jehovah leer ken het. Hoe het dit gebeur?

Versterk deur ’n begrip van wat die oorsaak van terugslae is

Gedurende daardie ses maande het Bill ’n saal in ’n Joodse hospitaal met 19 verlamde mans gedeel—almal Ortodokse Jode. Hierdie mans het elke middag die Bybel bespreek. Bill, ’n Baptis, het net geluister. Maar teen die tyd dat hy die hospitaal verlaat het, het hy genoeg gehoor om te weet dat die almagtige God slegs een persoon is en dat die Drie-eenheidsleer die Bybel weerspreek. Gevolglik het Bill nooit weer na sy kerk toe gegaan nie. Hy het nogtans gevoel dat hy geestelike leiding nodig het om die lewe se terugslae te verwerk. “Ek het God om hulp bly vra”, sê Bill, “en my gebede is verhoor.”

Een Saterdag in 1953 het Roy Douglas, ’n bejaarde man wat voorheen ’n buurman was en van Bill se treurige situasie te hore gekom het, kom kuier. Roy, een van Jehovah se Getuies, het Bill gevra of hy die Bybel saam met hom wil studeer, en Bill het ingestem. Wat Bill in die Bybel en in die boek “Laat God waaragtig wees”a gelees het, het sy oë laat oopgaan. Hy het vir Rose vertel wat hy leer, en sy het by die studie aangesluit. Rose sê: “In die kerk is daar vir ons gesê dat God ons met siekte straf, maar ons Bybelstudie het getoon dat dit nie waar is nie. Ons was so verlig.” Bill voeg by: “Dit het ons gehelp om my toestand te aanvaar toe ons uit die Bybel leer wat die oorsaak van alle probleme is, onder andere my siekte, en dat ’n beter toekoms op ons wag.” In 1954 het Bill en Rose nog ’n doelwit bereik. Hulle is albei as Jehovah se Getuies gedoop.

Verdere aanpassings

Intussen het Bill se verlamming versprei en kon hy nie meer sy werk doen nie. Om die pot aan die kook te hou, het Bill en Rose hulle rolle verwissel: Bill het tuis gebly by Vicki, en Rose het by die horlosiemaatskappy begin werk—’n werk wat sy 35 jaar lank gedoen het!

“Dit het my groot vreugde verskaf om na ons dogtertjie om te sien”, vertel Bill. “Vicki het dit ook geniet. Sy het trots vir almal wat sy ontmoet het, gesê: ‘Ek sorg vir Pappie!’ Later, toe sy skool toe gegaan het, het ek haar met haar huiswerk gehelp, en ons het dikwels speletjies gespeel. Ek het ook ’n goeie geleentheid gehad om haar die Bybel te leer.”

Die bywoning van Christelike vergadering by die Koninkryksaal was nog ’n bron van vreugde vir Bill en sy gesin. Dit het hom ’n uur geneem om mank-mank van sy huis na die Koninkryksaal te stap, maar hy het nie van die vergaderinge af weggebly nie. Later, toe hulle na ’n ander deel van die stad verhuis het, het Bill en Rose ’n klein motor gekoop, en Rose het die gesin daarmee saal toe geneem. Al kon Bill net vir kort tye op ’n slag praat, het hy as ’n student by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit. Bill verduidelik: “Ek het my toespraak uitgeskryf, en ’n ander broer het dit gehou. Ná die toespraak het die skoolopsiener my oor die inhoud daarvan raad gegee.”

Verskillende persone in die gemeente het Bill ook gehelp om gereeld aan die predikingswerk deel te neem. En Bill is later as ’n bedieningskneg in die gemeente aangestel, wat nie verbasend was vir diegene wat sy toegewydheid gesien het nie. Later, toe sy bene ingegee het en hy verder verlam is, moes hy in sy woonstel bly en het hy uiteindelik bedlêend geword. Kon hy hierdie terugslag die hoof bied?

’n Bevredigende afleiding

“Omdat ek die heeldag by die huis was, het ek na ’n afleiding gesoek”, sê Bill. “Voordat ek verlam geword het, het ek dit geniet om foto’s te neem. Ek het besluit om te probeer skilder, al het ek nog nooit voorheen geskilder nie. Ek is ook regs, maar my hele regterhand en twee vingers van my linkerhand was verlam. In elk geval, Rose het ’n klompie boeke oor skildertegnieke gekoop. Ek het dit bestudeer en het met my linkerhand begin skilder. Baie van my skilderye het in die snippermandjie beland, maar ek het uiteindelik begin leer.”

Die pragtige versameling waterverfskilderye wat nou Bill en Rose se woonstel versier, toon dat Bill sy verwagtinge oortref het. “Ongeveer vyf jaar gelede”, voeg Bill by, “het my linkerhand so erg begin bewe dat ek my kwas vir goed moes wegbêre, maar hierdie stokperdjie het my jare lank baie bevrediging gegee.”

Nog een doelwit

Bill vertel: “Meer as 50 jaar het al verbygegaan vandat my gesondheidsprobleme begin het. Bybellees vertroos my nog steeds, veral wanneer ek die Psalms en die boek Job lees. En ek geniet dit om die publikasies van die Wagtoringgenootskap te lees. Ek vind dit ook baie bemoedigend wanneer lede van ons gemeente en reisende opsieners my besoek en my opbouende ondervindinge vertel. Verder stel ’n telefoonverbinding met die Koninkryksaal my in staat om na die vergaderinge te luister, en ek kry selfs video-opnames van byeenkomsprogramme.

“Ek is dankbaar dat ek met ’n liefdevolle vrou geseën is. Deur die jare heen was sy my intieme metgesel. Ons dogter, wat Jehovah nou saam met haar eie gesin dien, is ook nog steeds ’n bron van baie vreugde. Ek dank Jehovah veral dat hy my gehelp het om na aan hom te bly. Vandag, terwyl my liggaam en my stem al hoe swakker word, dink ek dikwels aan die apostel Paulus se woorde: ‘Ons [gee] nie moed op nie, maar selfs al teer die mens wat ons uiterlik is weg, word die mens wat ons innerlik is beslis van dag tot dag vernuwe’ (2 Korintiërs 4:16). Ja, om al die dae van my lewe geestelik wakker te bly—dit bly my doelwit.”

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.; nou uit druk.

[Lokteks op bladsy 12]

“Ná die operasie kon ek nie sluk nie. Ek kon nie ’n enkele woord sê nie. Ek was stom”

[Prent op bladsy 13]

Bill en Rose vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel