Die Verklaring van Regte—Waarom was dit nodig?
DIE Verenigde State se Verklaring van Regte het al soveel belangstelling gewek dat daar oor ’n tydperk van 50 jaar sowat 700 boeke daaroor geskryf is—meer as 40 van hulle in hierdie jaar alleen. Aangesien 1991 die 200ste herdenking van die aanname van die Verklaring van Regte is, het mense nog meer in hierdie onderwerp begin belangstel. Tog het ’n opname getoon dat 59 persent van die Amerikaanse publiek nie weet wat die Verklaring van Regte is nie.
Toe die Grondwet van die Verenigde State in 1788 bekragtig is, het dit voorsiening gemaak vir wysigings wat standpunte sou verduidelik wat nie duidelik in die Grondwet omskrywe is nie. Die eerste tien wysigings is in 1791 by die Grondwet gevoeg. Hierdie tien wysigings het oor vryheid gehandel en het as die Verklaring van Regte bekend geword, omdat hulle sekere individuele vryhede van die Amerikaanse volk waarborg.
Waarom was dit nodig?
Waarom het die Verenigde State ’n Verklaring van Regte nodig gehad? Dit het reeds ’n sterk Grondwet gehad wat spesifiek ontwerp is om vir sy burgers “die Seëninge van Vryheid te waarborg”. Wysigings was nodig omdat die Grondwet self ’n opvallende leemte gehad het: Daar was geen duidelik uiteengesette waarborge vir individuele regte nie.
Die gevaar wat die meeste Amerikaners gevrees het, was die tirannie van ’n bemoeisieke nasionale regering wat individuele vryhede, veral godsdiensvryheid, sou inperk. Geskiedskrywer Charles Warren werp ’n bietjie lig op die rede vir hierdie vrees. Hy sê:
“Mense het oral die standpunt gehuldig dat, hoewel ’n Grondwet se eerste doelstelling die stigting van ’n regering was, sy tweede doelstelling, wat net so belangrik is, moet wees om die mense teen die regering te beskerm. Dit was iets wat deur die hele geskiedenis heen en uit al die mens se ondervinding duidelik geblyk het. . . .
“Hulle het bittere jare deurgemaak, jare waarin hulle gesien het hoe regerings, koninklike sowel as staatsregerings, die menseregte vertrap wat hulle en hulle voorouers in die kolonies en in Engeland met soveel moeite verkry het. . . . Hulle het geweet dat die dinge wat regerings in die verlede gedoen het, regerings in die toekoms weer kon probeer, hetsy die regering se heersende mag koninklike, staats- of nasionale mag sou wees . . . En hulle het besluit dat so ’n heersende mag beslis van die begin af in Amerika beperk moes word.”
Verskeie staatsgrondwette het weliswaar ’n beperkte verklaring van regte gehad. Maar ’n grusame geskiedenis toon dat die ontneming van vryhede in werklikheid algemeen in sommige state voorgekom het.
Die koloniste het baie gebruike van die Ou Wêreld na hulle Nuwe Wêreld oorgedra. Hulle het minderheidsgroepe vervolg en het een godsdiensgroep bo ’n ander gestel. Die oomblik toe die nuus dus versprei het dat ’n grondwet in wording was, het liefhebbers van vryheid ’n beweging in werking gestel vir ’n nasionale verklaring van regte wat hulle vryhede sou waarborg en die Kerk van die Staat sou skei.
Maar waarom sou die volk ’n sentrale nasionale regering skep as hulle só ’n vrees daarvoor gehad het? Nadat die Onafhanklikheidsverklaring in 1776 onderteken is, was daar ’n behoefte aan ’n nuwe regeringstelsel. Britse heerskappy het in elke kolonie tot ’n einde gekom. Die state het toe die Statute van Konfederasie aangeneem wat hulle as een nasie verenig het—maar net in naam. Soos een geskiedskrywer dit gestel het: ‘Elkeen wou as ’n aparte eenheid funksioneer, en jaloesie en wedywer het die state se verhouding met mekaar oorheers.’
Gevolglik is ’n nasionale regering saamgestel wat bestaan het uit die hoogste wetgewende, uitvoerende en geregtelike liggame in die land. Hierdie drie vertakkings het binne ’n stelsel van beperkings en teenwigte gefunksioneer om as beskerming teen diktatoriale heerskappy te dien. Die geregtelike tak in die besonder sou grondwetlike regte beskerm en verklaar. Die Hooggeregshof sou die hoogste hof van die land wees, en dit het die verklaarder van die wet geword.
Die eerste Kongres, wat in 1789 byeengeroep is, het ywerig aan die beloofde Verklaring van Regte gewerk. Die eindresultaat: tien wysigings, of aanpassings, in die Grondwet. Hierdie wysigings het 200 jaar gelede, op 15 Desember 1791, deel van die Grondwet geword—net meer as drie jaar ná die Grondwet self aangeneem is.
Godsdiensvryheid
Van al die regte wat die Verklaring van Regte waarborg, is godsdiensvryheid een van die belangrikste. Die heel eerste deel van die Eerste Wysiging lui: “Die Kongres sal geen wet neerlê aangaande die stigting van godsdiens, of die verbod op die vrye beoefening daarvan; of die beperking van die vrye woord nie.”
Let op dat hierdie wysiging aan die Kongres gerig is, en nie aan die state se wetgewende mag nie. Maar die Eerste Wysiging is ook op die state van toepassing gemaak deur die aanname van die Veertiende Wysiging in 1868. Dit voorsien nasionale grondwetlike beskerming teen staatskending van individuele vryheid.
Die Eerste Wysiging keer dat die Kongres godsdiensvryheid beperk. Dit verbied die Kongres ook om ’n kerk te stig of wette aangaande ’n kerk neer te lê. Die klousule ‘teen die stigting van godsdiens deur die wet’ was, soos Thomas Jefferson gesê het, bedoel om “’n skeidsmuur tussen die Kerk en die Staat” op te rig.
Die Eerste Wysiging waarborg vryheid van mening en meningsuiting, op godsdiens- sowel as sekulêre gebied, en hierdie wysiging sou in die toekoms ’n groot grondwetlike geskil word. Die Grondleggers het geweet dat godsdiensvryheid ’n ernstige uitwerking op burgervryhede het en andersom.
Waarom is godsdiens eerste?
Dit is noemenswaardig dat die ontwerpers van die Verklaring van Regte besluit het om die onderwerp van godsdiens eerste te bespreek. Die eeue lange godsdiensonenigheid in hulle geboortelande het ’n onuitwisbare indruk op hulle gedagtes en harte gelaat. Hulle was vasbeslote om te waak teen ’n herhaling van daardie bittere stryde.
Godsdiensvryheid was van die grootste belang, aangesien hierdie mense van lande af gekom het waar daar wette was teen afvalligheid, kettery, die pousdom en oneerbiedigheid en selfs teen die weiering om die Kerk finansieel te ondersteun. As ’n mens nie hierdie wette gehoorsaam het nie, kon die straf marteling, tronkstraf of die dood wees. Thomas Jefferson en James Madison het dus vurig gepleit vir die skeiding van die Kerk en die Staat. Daar sou nie meer regeringsteun wees vir priesterlike rangordes of vervolging van diegene wat nie met die kerk saamgestem het nie!
Sommige van Madison se idees om godsdiens afgeskeie te hou van die Staat is in ’n dokument met die titel “A Memorial and Remonstrance” opgeteken. Hy redeneer oortuigend dat ’n ware godsdiens nie die ondersteuning van die wet nodig het nie, dat niemand belas moet word om enige godsdiens te ondersteun nie en dat vervolging die onvermydelike gevolg van ’n staatskerk was. Madison het ook gewaarsku dat so ’n instelling Christelike evangelisasie sou belemmer.
Jefferson het met Madison saamgestem en het gesê dat Staatsteun die Christelike godsdiens verswak: ‘Die Christelike godsdiens het driehonderd jaar lank gefloreer sonder dat dit ’n instelling was. Die oomblik toe dit onder die keiser Konstantyn ’n instelling geword het, het die reinheid daarvan afgeneem.’—Under God, deur Garry Wills.
Die Hooggeregshof en godsdiensvryheid
Dit is nou 200 jaar sedert die Verklaring van Regte bekragtig is. Sy waarborge het in 17de- en 18de-eeuse maatskaplike en politieke behoeftes voorsien. Het hierdie selfde Verklaring van Regte in die veranderende behoeftes van burgers gedurende die daaropvolgende 200 jaar voorsien? Ja, want dit bevat blykbaar “blywende beginsels” wat “by verskillende krisisse in menseaangeleenthede aangepas” kan word.
Dit is in die Verenigde State se Hooggeregshof dat die belangrikste beginsels “by verskillende krisisse in menseaangeleenthede aangepas” is, veral wat die omskrywing van burgerlike vryhede betref. Die Hof het die vryhede omskrywe waarop die regering nie moet inbreuk maak nie. Soos een geskiedskrywer gesê het, vind die Hof die ewewig tussen die georganiseerde samelewing en individuele regte.
Jehovah se Getuies het gedurende die afgelope 50 jaar talle sake aangaande vraagstukke oor die vrye woord en godsdiensvryheid in die Hooggeregshof aanhangig gemaak. Die meeste van hierdie het gehandel oor die reg om menings te versprei.a
Die Verklaring van Regte omskrywe wel vryheid, maar die boek The Supreme Court and Individual Rights, deur Elder Witt, het ’n opskrif wat lui “Jehovah se Getuies: Omskrywers van vryheid”. Dit sê: “Volgens die grondwetlike geskiedskrywer Robert F. Cushman het lede van die sekte vanaf 1938 sowat dertig belangrike sake wat die beginsels van godsdiensvryheid op die proef stel by die Hooggeregshof aanhangig gemaak. Die Hof het die meeste van daardie sake in hulle guns beslis.”
Maar in 1940 is daar in die bekende saak Minersville School District v. Gobitis oor die vlagsaluutgeskil téén Jehovah se Getuies beslis.b Dit het die verpligte vlagseremonie bekragtig. Regter Frankfurter het die meerderheid se uitspraak gelewer en het gesê dat hoewel ‘vryheid en verdraagsaamheid en begrip’ in die guns van die Gobitas-gesin was, hy van mening was dat regters die optrede van die volk se gekose verteenwoordigers moet eerbiedig. Met ander woorde, die politici moet toegelaat word om wette te maak wat godsdiensvryheid beperk. Maar dit is juis wat die Verklaring van Regte verbied.
Meer as 170 koerante het die beslissing veroordeel. Net ’n paar het dit ondersteun. Regskommentaar hierop het dit feitlik wêreldwyd teengestaan. Dit is geen wonder dat hierdie beslissing binne drie jaar verwerp is nie. Daarna het regter Jackson in West Virginia State Board of Education v. Barnette namens die Hof gesê: “Die doel van ’n Verklaring van Regte was juis om sekere onderwerpe van die wisselvalligheid van politieke geskille te verwyder, om hulle buite die bereik van meerderhede en ampsdraers te plaas en om hulle as regsbeginsels tot stand te bring wat deur die howe toegepas moet word. Daar mag nie oor ’n mens se reg op lewe, vryheid en besittings, op die vrye woord, ’n vrye pers, godsdiensvryheid en die reg van vergadering en ander fundamentele regte gestem word nie; hulle word nie volgens die uitslag van verkiesings bepaal nie.”c
Verkiesings word deur die meerderheid bepaal. Maar die fundamentele vryhede wat deur die Verklaring van Regte gewaarborg word, beskerm die minderheid teen die tirannie van die meerderheid en die mag van die Staat. Regter Sandra Day O’Connor het onlangs geskryf: “Die Eerste Wysiging is na my mening juis uitgevaardig om die regte van diegene te beskerm wie se godsdiensgebruike nie deur die meerderheid beoefen word nie en wat moontlik met vyandelikheid bejeën word.” Dit is blykbaar wat die grondleggers van die Grondwet en die Verklaring van Regte ook gedink het.
Sal alle nasies grondwette met ’n verklaring van regte aanneem? Die meeste het nie, en as die geskiedenis enigsins ’n aanduiding gee, sal die meeste dit nie doen nie. As ’n mens dus hoop dat alle nasies dokumente sal opstel om verdrukking uit te skakel en die regte van almal te bevorder, sal dit net tot teleurstelling lei.
’n Regering wat ons nie sal teleurstel nie
Sal die wêreldwye begeerte na vryheid, geregtigheid en gelykheid dan nooit verwesenlik word nie? Inteendeel, ons is nader aan die verwesenliking van die vervulling van sulke ideale as ooit tevore. Waarom? Omdat ons in die tyd lewe waarvan Bybelprofesie lank gelede gepraat het, wanneer alle tirannieke regerings verwyder sal word en die beheer van menseaangeleenthede oorgeneem sal word deur die regering waarvoor Jesus Christus sy volgelinge geleer bid het—die Koninkryk van God.—Mattheüs 6:9, 10.
Die rampspoedige gebeurtenisse wat in ons 20ste eeu plaasgevind het, lewer bewys dat ons in die laaste dae van hierdie huidige stelsel van dinge lewe en dat God se hemelse Koninkryk binnekort die heerskappy van die aarde sal oorneem (Mattheüs 24:3-13; 2 Timotheüs 3:1-5). Soos Bybelprofesie voorspel het: “In die dae van dié konings [regerings wat nou bestaan] sal die God van die hemel ’n [hemelse] koninkryk verwek wat . . . aan geen ander volk oorgelaat [sal] word nie; dit sal al daardie koninkryke [wat nou bestaan] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.
Wat sal dit vir opregte mense beteken? God se Woord belowe: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:10, 11). Onder God se hemelse Koninkryk sal ware vrede en veiligheid blywend na hierdie aarde kom. Dan, en slegs dan, sal ware vryheid, geregtigheid, gelykheid en internasionale broederskap reg oor die aarde verwesenlik word.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Die grondwet van die Verenigde State en Jehovah se Getuies” in die Ontwaak! van 22 Oktober 1987.
b In die hofverslae is “Gobitas” verkeerd gespel.
c In die hofverslae is “Barnett” verkeerd gespel.