Hierdie wêreld se dolle pas
WORD DIE PAS VAN DIE LEWE SOMS TE VEEL VIR JOU? LAAT DIT JOU GEFRUSTREERD EN MOEG VOEL SODAT JY BESWAARLIK KAN BYHOU? INDIEN WEL, DAN IS JY NIE ALLEEN NIE.
MILJOENE mense, veral in stede, vind dat die lewe ’n koorsagtige, uitputtende gejaag geword het. Dit is veral so in Westerse lande. By ’n onlangse godsdiensvergadering in die Verenigde State het ’n spreker sy gehoor gevra om hulle hand op te steek as hulle dikwels moeg voel. Onmiddellik het ’n see van hande opgegaan.
Die boek Why Am I So Tired? sê: “Die moderne lewe is vol dinge wat druk veroorsaak wat voorheen ongehoord was—vliegtuie moet gehaal word, werk moet teen vaste tye afgehandel word, kinders moet op tyd by die kleuterskool afgelaai en opgetel word—die lys is eindeloos.” Dit is nie verbasend dat moegheid al as die vloek van ons tyd beskryf is nie.a
Vroeër jare was die lewe eenvoudiger en ook nie so gejaagd nie. Mense was geneig om meer in harmonie met die kringlope van die natuur te lewe—die dag was vir werk, en die aand was vir ’n mens se gesin en ’n tyd om te slaap. Vandag is daar ’n aantal redes waarom mense al hoe moeër en afgemat voel.
Skielik langer dae
Een moontlike faktor is dat mense minder slaap. En een van die noemenswaardiger ontwikkelinge wat bygedra het tot die feit dat ons minder slaap, was die ontdekking van die elektriese lig. Mense kon die lengte van die “dag” beheer deur eenvoudig ’n skakelaar te druk, en weldra het mense later begin opbly. Trouens, baie het nie veel van ’n keuse gehad nie, want fabrieke het 24 uur per dag begin werk en diensbedrywe het hulle werksure verleng. ’n Skrywer het gesê: “Die vier-en-twintig-uur-gemeenskap is gebore.”
Ander tegnologiese ontwikkelinge, soos die radio, TV en persoonlike rekenaar, het ook daartoe bygedra dat mense nie genoeg slaap nie. In baie lande wys TV-programme 24 uur per dag. Dit is nie ongewoon dat rolprentliefhebbers of sportentoesiaste ná ’n lang nag voor die TV slaperig en moeg by die werk opdaag nie. Tuisrekenaars, en die eindelose afleidings wat dit bied, bring miljoene ook in die versoeking om laat op te bly. Die produkte self kan natuurlik nie die skuld hiervoor gegee word nie; maar dit gee sommige mense wel nog ’n rede om hulle behoefte aan rus te ignoreer.
Die lewe word vinniger
Ons dae het nie net langer geword nie, maar dit lyk of die lewe self vinniger geword het—en weer eens het die tegnologie hiertoe bygedra. Die perdekar van minder as ’n eeu gelede kan nie vergelyk word met die vinnige motors, supersneltreine en straalvliegtuie van vandag nie. Trouens, ’n hedendaagse sakeman, wie se oupa waarskynlik werk toe gestap of ’n perd of ’n fiets gery het, sal dalk tussen maaltye oor die Atlantiese Oseaan vlieg!
Die kantoor het ook ter wille van spoed en produktiwiteit ’n stille omwenteling ondergaan. Tikmasjiene en konvensionele pos het plek gemaak vir rekenaars, faksmasjiene en e-pos. Notaboekrekenaars, selfone en roepradio’s het selfs die onderskeid tussen die huis en kantoor vervaag.
Nie een van ons kan natuurlik die wêreld se toenemende pas teëhou nie. Maar ons kan aanpassings in ons eie lewe maak sodat ons ’n kalmer, meer gebalanseerde lewe kan lei. Maar voordat ons dit bespreek, kom ons ondersoek sommige van die maniere waarop vandag se dolle pas ons persoonlik en die gemeenskap in sy geheel kan raak.
[Voetnoot]
a Chroniese moegheid kan ook veroorsaak of vererger word deur ’n aantal faktore buiten daaglikse druk. Oorsake kan fisiese gesondheidsprobleme, swak dieet, dwelms, chemiese besoedeling, verstandelike en emosionele probleme, ouderdom of ’n kombinasie van hierdie faktore insluit.