Die prys wat betaal word omdat mense te veel probeer doen
VANDAG SE WESTERSE WÊRELD IS BEHEP MET SPOED EN GERIEF.
SKOTTELGOEDWASSERS spaar tyd in die kombuis. Wasmasjiene doen dieselfde in die wassery. Miljoene mense hoef nie eers meer hulle huis te verlaat om inkopies te doen of hulle banksake af te handel nie—hulle skakel eenvoudig hulle rekenaar aan en gebruik die Internet.
Ja, in die wêreld, of ten minste ’n deel daarvan, is daar ’n menigte toestelle wat tyd en arbeid bespaar. ’n Mens sal gevolglik dink dat mense baie tyd vir hulle gesin en vir ontspanning sal hê. Maar alte dikwels sê baie dat hulle moeër en meer gespanne as ooit tevore is. Die oorsake hiervan is talryk en kompleks.
Ekonomiese druk is hoog op die lys. Die Australiese Sentrum vir Arbeidsnavorsing en -opleiding het die aantal ure ondersoek wat mense in daardie land by die werk deurbring en het gevind dat “’n groot persentasie gereeld meer as 49 uur per week werk” en dat “hierdie toename in werksure waarskynlik die gesins- en gemeenskapslewe op ’n betekenisvolle wyse nadelig sal beïnvloed”. Baie werkers verkies om in die groener, stiller buitewyke van stede te woon. Dit kan beteken dat mense elke week—of selfs elke dag—ure lank op oorvol treine en busse of op besige paaie heen en weer moet reis. Dit verleng in werklikheid die werksdag en vergroot die spanning.
Het jy slaapskuld?
Slaapprobleme het in onlangse jare so algemeen geword dat slaapklinieke in baie wêrelddele geopen is. Navorsers het uitgevind dat mense ’n slaapskuld opbou wanneer hulle gereeld nie genoeg slaap nie. Hulle liggaam wil hierdie skuld natuurlik betaal en moedig slaap aan deur hulle moeg te laat voel. Maar omdat mense as gevolg van hulle lewenswyse te min slaap, bly baie gedurigdeur moeg.
In een Westerse land het slaaptyd oor die afgelope eeu met 20 persent afgeneem, van ’n gemiddelde van nege uur tot sewe uur per aand. Navorsers het bewyse ingesamel dat slaapskuld leer- en geheueprobleme, belemmering van motoriese vaardighede en ’n verswakte immuunstelsel tot gevolg het. Die meeste van ons het self al gevind dat ’n moeë verstand ook geneig is om foute te maak. Ongelukkig kan hierdie foute ernstig en duur wees.
Die hoë prys van moegheid
Moegheid as gevolg van lang werksure en verminderde personeel het blykbaar tot die ergste rampe van die laat 20ste eeu bygedra. Onder meer die kernramp by Tjernobil, in die Oekraïne; die ontploffing van die Challenger-ruimtetuig en die oliestorting wat deur die olietenkskip Exxon Valdez veroorsaak is toe dit ’n rif in Prins William-sont, Alaska, getref het.
Die ontploffing in Tjernobil het tydens ’n spesiale toets by die kragstasie plaasgevind. In sy boek The 24-Hour Society sê Martin Moore-Ede dat die toets “onder toesig van ’n uitgeputte span elektriese ingenieurs gedoen is wat al ten minste dertien uur by die aanleg was, en waarskynlik langer weens ’n tien uur lange vertraging terwyl hulle gewag het vir toestemming om te begin”. Hoe dit ook al sy, volgens ’n onlangse studie is een langtermyngevolg van die stralingslekkasie ’n tienvoudige styging in skildklierkanker onder Oekraïense kinders sedert 1986.
Ná ’n deeglike ondersoek van die ontploffing van die Challenger-ruimtetuig het ’n verslag van ’n presidentskommissie gesê dat die oortydbeperking van 20 uur 480 keer deur een groep kontrakwerkers en 2 512 keer deur ’n ander oorskry is. Die verslag het bygevoeg dat moegheid onder bestuurspersoneel, wat die gevolg was van “etlike dae van ongewone werksure en onvoldoende slaap”, ook grootliks bygedra het tot die onverstandige besluit om die ruimtetuig te lanseer. Die verslag het gesê dat “werkers swakker werk lewer en makliker foute maak wanneer hulle te veel oortyd werk”.
Volgens unie-amptenare het die vermindering van bemanningslede, wat na bewering gedoen is om bedryfskoste te verminder, beteken dat seemanne op die Exxon Valdez langer ure moes werk en meer take moes verrig. ’n Verslag oor die ramp verduidelik dat die derde stuurman, wat in bevel van die skip was toe dit net ná middernag gestrand het, van vroeg daardie oggend op was. Byna 42 miljoen liter olie—die grootste oliestorting in Amerikaanse geskiedenis—het verskriklike skade aan strande en die natuurlewe aangerig en het meer as R14 miljard gekos om op te ruim.
Die subtieler prys van moegheid
Volgens een skatting kos moegheid die wêreld elke jaar ten minste R2,7 biljoen! Maar al die geld in die wêreld kan nie vergoed vir die verlies aan menselewe en gesondheid nie, wat alte dikwels ook in die gedrang kom. Neem byvoorbeeld padongelukke. Volgens ’n slaapsteurniskliniek in Sydney, Australië, vind tussen 20 en 30 persent van padongelukke in daardie land plaas omdat bestuurders agter die wiel aan die slaap raak. Na raming dra lomerigheid elke jaar tot ten minste 100 000 verkeersongelukke in die Verenigde State by.
Maar die gevolge van moegheid strek moontlik verder as dit. ’n Ongelukslagoffer wat vir behandeling na ’n hospitaal gehaas word, hoop dat sy dokter uitgerus en wakker is. Maar weens ’n besige rooster en lang werksure is die dokter dalk alles behalwe uitgerus en wakker! Volgens ’n verslag deur die Australiese Instituut vir Gesondheid en Welsyn werk ongeveer 10 persent van dokters meer as 65 uur per week, werk 17 persent van alle spesialiste langer as dit en werk 5 persent van “junior dokters” meer as 80 uur per week!
“Masjiene word deur operateurshandleidings, waarskuwingstekens en opleidingskursusse beskerm”, sê Martin Moore-Ede. “Mense kom in hierdie wêreld sonder sulke beskerming. . . . Die skokkende waarheid is dat ons baie minder van die ontwerpspesifikasies van mense weet as wat ons van die hardeware en sagteware weet waarmee hulle werk.”
Ons liggaam het nie flikkerende rooi liggies en alarms wat vir ons sê om op te hou of stadiger te werk nie. Maar dit gee ons wel waarskuwings. Van hierdie waarskuwings is chroniese moegheid, luimwisselinge, depressie en ’n vatbaarheid vir virusse wat algemeen voorkom. As jy hierdie simptome het—natuurlik in die veronderstelling dat jy geen onderliggende fisiese of ander gesondheidsprobleme het nie—is dit dalk tyd dat jy weer jou lewenswyse in oënskou neem.
Die sosiale koste van ’n te besige lewe
Menseverhoudings ly ook daaronder wanneer mense ’n spanningsvolle lewe lei en nie genoeg slaap nie. Neem die geval van ’n pas getroude paartjie, Johan en Maria.a Hulle wou hê wat die meeste pasgetroudes begeer—’n gerieflike huis en finansiële sekuriteit. Al twee het dus voltyds gaan werk. Maar as gevolg van ongewone skofte het hulle min tyd saam deurgebring. Hulle verhouding het weldra daaronder begin ly. Hulle het egter die simptome geïgnoreer en hulle veeleisende rooster volgehou totdat hulle huwelik, wat nog skaars begin het, verbrokkel het.
“Studies toon dat die egskeidingsyfer onder gesinne met skofwerkers 60 persent hoër is as vir dagwerkers in gewone betrekkinge”, sê die boek The 24-Hour Society. Maar baie paartjies, hetsy hulle skofte werk of nie, probeer soveel dinge in hulle lewe inpas dat hulle as ’t ware die lewe uit hulle huwelik druk. Vir ander dra spanning en moegheid by tot ’n kringloop van dwelm- en alkoholmisbruik en slegte eetgewoontes—faktore wat nie net die moegheid vererger nie, maar tot baie ander probleme, selfs kindermishandeling, kan lei.
Om ouers te help om by veeleisende roosters by te hou, word al hoe meer kindersorgsentrums geopen, en party se dienste is selfs 24 uur per dag beskikbaar. Maar vir baie kinders is die TV in werklikheid hulle kinderoppasser. Kinders het natuurlik groot hoeveelhede gehaltetyd saam met hulle ouers nodig om verantwoordelike, emosioneel goed aangepaste volwassenes te word. Ouers wat te moeg is vir hulle kinders omdat hulle ’n onredelik hoë lewenstandaard probeer handhaaf, is dus verstandig as hulle oorweeg watter prys hulle kinders sowel as hulle sal moet betaal.
In vandag se vinnig veranderende tegnologiese samelewing is die bejaardes ook dikwels slagoffers. Die spoed waarteen dinge verander en die voortdurende vloedgolf van nuwe toestelle op die mark laat baie verward, onseker, bang of selfs nutteloos voel. Wat hou die toekoms dus vir hulle in?
Is ons almal—oud en jonk—geheel en al oorgelaat aan die genade van ’n wêreld wat blykbaar oorgehaal is om al hoe vinniger voort te snel? Of is daar dinge wat ons kan doen om ons te help om daarmee saam te leef en die gehalte van ons lewe te verbeter? Gelukkig is daar, soos ons in die volgende artikel sal sien.
[Voetnoot]
a Die name is verander.
[Prente op bladsy 6]
Moegheid het moontlik bygedra tot die kernramp in Tjernobil, die ontploffing van die “Challenger”-ruimtetuig en die “Exxon Valdez”-oliestorting
[Erkennings]
Courtesy U.S. Department of Energy’s International Nuclear Safety Program
NASA photo
[Prente op bladsy 7]
Die lewe se dolle pas kan spanning in die huwelik veroorsaak
[Prent op bladsy 8]
Die dolle pas dryf party tot drank