Reusegolwe—Mites en werklikhede
DIE son het pas ’n paar minute vroeër gesak. Op hierdie rustige Vrydag van 17 Julie 1998 is mans, vroue en kinders van verskeie klein dorpies langs die noordelike kus van Papoea-Nieu-Guinee skielik deur ’n aardbewing van 7,1 geskud. “Die hoofskok”, sê Scientific American, “het ’n 30 kilometer (byna 19 myl) lange deel van die kuslyn geskud . . . en die oseaanvloer skielik vervorm. Die seeoppervlak wat gewoonlik plat is, het skielik opwaarts beweeg, en ’n verskriklike tsoenamie het ontstaan.”
’n Ooggetuie sê dat hy iets gehoor het wat soos donderweer in die verte geklink het en wat geleidelik verdof het namate die see stadig teruggetrek het tot onder die normale laagwatermerk. ’n Paar minute later het hy die eerste golf gesien, wat ongeveer drie meter hoog was. Dit het hom ingehaal terwyl hy daarvan probeer weghardloop het. ’n Tweede, groter golf het sy dorpie verwoes en hom byna een kilometer ver meegesleur tot in ’n nabygeleë wortelboomwoud. “Opdrifsels wat bo aan palmbome gehang het, het getoon dat die golwe hoogtes van 14 meter bereik het”, berig Science News.
Daardie aand het reusegolwe die lewens van ten minste 2 500 mense geëis. Dit is egter ironies dat ’n houtmaatskappy later hout vir nuwe skole geskenk het, terwyl daar feitlik geen kinders was om skool toe te gaan nie. Byna almal—meer as 230—het in die tsoenamie omgekom.
Wat is tsoenamies?
Tsoenamie is ’n Japannese woord wat “hawegolf” beteken. Dit is “’n gepaste term”, sê die boek Tsunami!, “omdat hierdie reusegolwe al dikwels lewens geëis het en Japannese hawens en kusdorpies vernietig het”. Wat gee hierdie fratsgolwe hulle ontsagwekkende krag en grootte?
Tsoenamies word soms getygolwe genoem. Getygolwe is streng gesproke maar net die golwende deinings wat ons getye noem en wat deur die aantrekkingskrag van die son en maan veroorsaak word. Selfs die massiewe golwe—soms meer as 25 meter hoog—wat deur stormsterkte winde aangedryf word, kan nie met tsoenamies vergelyk word nie. As jy in hierdie getygolwe sou afduik, sou jy vind dat hulle krag afneem namate jy dieper gaan. Op ’n sekere diepte word die water amper glad nie versteur nie. Maar dit is nie die geval met tsoenamies nie. Hulle invloed strek van die oppervlak reg tot by die oseaanvloer, self al is die water dalk kilometers diep!
’n Tsoenamie strek diep af omdat dit gewoonlik deur hewige geologiese aktiwiteit op die seebodem veroorsaak word. Daarom verwys wetenskaplikes soms na tsoenamies as seismiese golwe. Die seebodem beweeg dalk boontoe, wat die water bo-op die bewegende deel ook laat op beweeg en ’n egalige golf veroorsaak, wat moontlik 25 000 vierkante kilometer ver strek. Of die seebodem sink dalk in en veroorsaak skielik ’n holte in die seeoppervlak.
Hoe dit ook al sy, swaartekrag laat die water op en af beweeg—’n aksie wat ’n reeks konsentriese golwe voortbring, soos dié wat gevorm word wanneer ’n klip in ’n dam val. Hierdie verskynsel weerlê die bekende mite dat tsoenamies net enkele hoë golwe is. Hulle brei eerder uit en staan bekend as ’n tsoenamie-golfreeks. Tsoenamies kan ook deur vulkaniese uitbarstings of ondersese grondverskuiwings veroorsaak word.
In Augustus 1883 is een van die verwoestendste reeks tsoenamies in die opgetekende geskiedenis gevorm deur die uitbarsting van Krakatau, ’n vulkaan in Indonesië. Van die golwe het ’n ongelooflike hoogte van 41 meter bo seevlak bereik en ongeveer 300 kusdorpe en gehuggies vernietig. Die dodetal was vermoedelik meer as 40 000.
Twee kenmerkende eienskappe van ’n tsoenamie
Golwe wat deur winde aangedryf word, beweeg nooit vinniger as 100 kilometer per uur nie, en hulle is gewoonlik baie stadiger. “Tsoenamie-golwe daarenteen”, sê die boek Tsunami!, “kan in die bekken van ’n diep oseaan net so vinnig soos ’n straler beweeg, ’n verbasende 800 kilometer per uur of meer.” Maar ondanks hulle spoed is hulle nie gevaarlik in diep water nie. Waarom nie?
Eerstens, omdat ’n enkele golf in die oop see gewoonlik minder as drie meter hoog is; en tweedens, omdat die golf honderde kilometers breed kan wees, wat die golf ’n egalige helling gee. Tsoenamies kan derhalwe onder skepe deur beweeg sonder dat hulle eers opgemerk word. Die kaptein van ’n skip wat naby die kus van een van die Hawaii-eilande was, het nie eers besef dat ’n tsoenamie verbybeweeg het nie totdat hy gesien het hoe reusegolwe die kus verswelg het. Die algemene veiligheidsreël vir skepe op see is om in water te wees wat ten minste 100 vaam, of 180 meter, diep is.
Tsoenamies verander wanneer hulle die kus nader en in vlakker water kom. Hier veroorsaak wrywing met die seebodem dat die golf stadiger beweeg—maar nie egalig nie. Die agterste deel van die golf is altyd in dieper water as die voorste deel en beweeg dus ’n bietjie vinniger. Die golf word as ’t ware saamgepers sodat sy stadiger snelheid ’n groter golfhoogte tot gevolg het. Intussen haal die agterste golwe in die golfreeks die voorstes in, en hoop op teen die golwe voor hulle.
In die laaste fase stuur tsoenamies op ’n gedeelte van die kus af as ’n golf wat breek of as ’n muur van water wat ’n vloedbrander genoem word, maar hulle kom meestal voor as ’n vinnig stygende gety, wat ver bo die normale hoogwatermerk styg. Water het al meer as 50 meter bo die normale seevlak gestyg en opdrifsels, visse en selfs stukke koraal duisende meters ver die binneland in meegesleur, terwyl dit alles in sy pad vernietig.
Die eerste teken van ’n naderende tsoenamie is nie altyd, soos ’n mens sou verwag, die verskyning van ’n groeiende golf wat na die strand aangerol kom nie. Dit vind moontlik heel anders plaas—’n abnormale afgaande gety wat strande, baaie en hawens laat leegloop en visse in die sand of modder laat spartel. Wat hierdie toestande aanvanklik meebring, is dié gedeelte van die golfreeks wat die strand eerste bereik—die helling of die trog.a
Wanneer die strand leegloop
Dit was ’n kalm aand op 7 November 1837 op die Hawaii-eiland Maui. Teen omstreeks sewe-uur daardie aand, sê die boek Tsunami!, het die water op die strand begin terugtrek sodat die koraalrif oopgelê het en visse gestrand was. Talle opgewonde eilandbewoners het buitentoe gehardloop om visse op te tel, maar ’n paar individue, wat meer oplettend was, het na hoër grond gehardloop, miskien omdat hulle uit ondervinding geweet het wat daarna sou gebeur. ’n Verskriklike stroom water het ingekom en die hele dorpie se 26 grashuisies, tesame met die inwoners en vee 200 meter ver na die binneland meegesleur en hulle in ’n klein meer agtergelaat.
Dieselfde aand het duisende mense op ’n strand op ’n ander eiland vir ’n kerkdiens vergader. Die skielike terugtrekking van die water het weer eens veroorsaak dat nuuskierige Hawaiërs in groepe na die strand gehardloop het. Toe het ’n reusegolf, wat ses meter bo die normale hoogwatermerk gestyg het, volgens een ooggetuie, uit die niet verskyn en “so vinnig soos ’n renperd” aan land gespoel. Selfs sterk swemmers is deur die see ingetrek, waar party weens uitputting verdrink het.
Hoe dikwels kom hulle voor?
“Sedert 1990”, sê Scientific American, “het 10 tsoenamies meer as 4 000 lewens geëis. Wêreldwyd is altesaam 82 gerapporteer—’n syfer baie hoër as die geskiedkundige gemiddelde van 57 elke dekade.” Hierdie berig oor die vermeerdering, voeg die tydskrif by, is egter grootliks toe te skryf aan verbeterde kommunikasiemiddele, terwyl die hoë sterftesyfer deels te wyte is aan die groeiende kusbevolkings.
Die Stille Oseaan is veral bekend vir tsoenamies omdat sy bekken seismies die aktiefste is. Trouens, “daar gaan amper nie ’n jaar verby sonder dat ten minste een verwoestende tsoenamie iewers in die Stille Oseaan ontstaan nie”, sê een naslaanwerk, en dit voeg by dat “62 persent van alle sterfgevalle wat met aardbewings in die Verenigde State verband hou oor die afgelope vyftig jaar deur tsoenamies veroorsaak is”.
Kan hulle voorspel word?
Tussen 1948 en 1998 was ongeveer 75 persent van die tsoenamie-waarskuwings in Hawaii vals alarms. Met só ’n rekord is dit te verstane dat mense oorgerus raak. ’n Baie beter opsporingstelsel, wat van moderne tegnologie gebruik maak, word egter nou gebruik. Die middelpunt van hierdie verbeterde opsporingstelsel is die bodemdrukmeter (BDM), wat soos die naam aandui, duisende meters onder op die seebodem geplaas word.
Hierdie hoogs sensitiewe instrument kan die verskil in waterdruk meet wanneer ’n tsoenamie daaroor beweeg—selfs al sou een net ’n sentimeter hoog wees. Die BDM stuur data deur middel van klankgolwe na ’n spesiale boei, wat dit dan na ’n satelliet aanstuur. Die satelliet stuur dit weer na die tsoenamie-waarskuwingsentrum. Wetenskaplikes is vol vertroue dat hierdie noukeuriger vroeëwaarskuwingstelsel die aantal vals alarms sal verminder.
Miskien is die belangrikste sleutel om veiligheid te bevorder openbare bewustheid en opvoeding. Selfs die beste waarskuwingstelsel is nutteloos as mense dit ignoreer. As jy dus in ’n laagliggende kusgebied woon waar tsoenamies voorkom en die plaaslike owerheid kondig ’n tsoenamie-waarskuwing af of as jy ’n aardbewing voel of jy ’n buitengewone uitgaande gety sien, moet jy onmiddellik na ’n hoërliggende gebied gaan. Onthou dat tsoenamies in die oop see net so vinnig soos ’n straler kan beweeg en naby die kus moontlik teen ’n spoed wat ’n mens op ’n hoofweg sou ry. Sodra jy dus die golf sien, is dit onwaarskynlik dat jy daarvan sal kan weghardloop. As jy nietemin ’n tsoenamie teëkom terwyl jy ’n bootrit onderneem of visvang, kan jy maar ontspan—jou koppie koffie of glas wyn wat op die tafel staan, sal waarskynlik nie eers roer nie.
[Voetnoot]
a Volgens die tydskrif Discover speel die sirkelvormige of elliptiese beweging in water wat in alle golwe voorkom ook ’n groot rol in die afgaande gety. Mense wat in die see swem, voel gewoonlik hoe die water hulle terugtrek net voordat ’n golf hulle bereik. Met tsoenamies is hierdie uitwerking groter, en dit is gevolglik ’n faktor in strande of hawens wat voor die eerste golf leegloop.
[Diagram op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Tsoenamies word dikwels deur seismiese aktiwiteit op die oseaanvloer veroorsaak
VERSKUIWING
ONTSTAAN
VOORTBEWEGING
OORSTROMING
[Diagram op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Nuwe tegnologie, wat van oseaanverklikkers gebruik maak, probeer om tsoenamies te voorspel
SATELLIETVERBINDING
BOEI
HIDROFOON
ANKER
KLANKVERBINDING
TSOENAMIE-VERKLIKKER
5 000 meter
[Erkenning]
Karen Birchfield/NOAA/Pacific Marine Environmental Laboratory
[Prent op bladsy 25]
’n Tsoenamie het hierdie vragmotorband met ’n plank deurboor
[Erkenning]
U.S. Geological Survey
[Prente op bladsy 26]
Die Scotch Cap-vuurtoring in Alaska voordat dit in 1946 deur ’n tsoenamie getref is (links)
Die algehele vernietiging daarna (bo)
[Erkenning]
U.S. Coast Guard photo
[Foto-erkenning op bladsy 24]
U.S. Department of the Interior