Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 9/15 bl. 8-9
  • “Die oorvloedige rykdom van die seë”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die oorvloedige rykdom van die seë”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Soortgelyke materiaal
  • Die wonder van sand
    Ontwaak!—2003
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Oseane
    Ontwaak! – 2023
  • ’n Lewensbelangrike vloeistof
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 9/15 bl. 8-9

Die prag van Jehovah se skepping

“Die oorvloedige rykdom van die seë”

MET sonsondergang waai ’n ligte bries oor die see en golwe spoel rustig oor die strand. Die strelende klank van die branders het ’n sterk aantrekkingskrag vir baie wat na die strand stroom om te rus en kalmte te geniet.a

Regoor die aarde word duisende kilometers kuslyn deur sulke uitgestrekte strande omsoom. Hierdie immer veranderende skeiding tussen sand en water dui die grense van die see se mag aan. Dit is hoe die Skepper dit ontwerp het. God verwys na homself en verklaar dat hy “die sand as grens vir die see gestel het”. Hy voeg by: “Al rol sy golwe, hulle kan steeds nie die oorhand kry nie; en al word hulle onstuimig, hulle kan dit steeds nie oorskry nie.”—Jeremia 5:22; Job 38:8; Psalm 33:7.

Ons planeet het inderdaad volop water, soos geen ander planeet in die sonnestelsel nie. Meer as 70 persent van die aarde word deur water bedek. Toe Jehovah die aarde voorberei het vir menselewe, het hy beveel: “Laat die waters onder die hemel op een plek versamel word en laat die droë grond verskyn.” En “dit was so”. Die verslag voeg by: “God het die droë grond Aarde begin noem, maar die versameling van die waters het hy Seë genoem. Toe het God gesien dat dit goed is” (Genesis 1:9, 10). Watter doel dien die oseane?

Die water van die oseane is op ’n aantal merkwaardige maniere ontwerp om lewe te onderhou. Water het byvoorbeeld die vermoë om hitte op te gaar. Die oseane dien dus as ’n groot hittereservoir, wat die ysige koue van die winter temper.

Water onderhou lewe op nog ’n manier. Ander stowwe kan maklik daarin oplos, makliker as in enige ander vloeistof. Aangesien lewensprosesse deur chemiese reaksies moontlik gemaak word, is water nodig sodat die reagerende stowwe daarin kan oplos en hulle molekules met mekaar kan verbind. Baie van die chemiese verbindings in lewende weefsel bevat water. Die boek The Sea sê: “Alle lewensvorme het ’n behoefte aan water—wat in werklikheid uit die oseane kom, selfs vir die plante en diere wat op land lewe.”

Die aarde se oseane speel ook ’n noodsaaklike rol in die suiwering van die atmosfeer. Plankton in die oseane absorbeer koolstofdioksied en stel suurstof vry. Volgens een navorser “is 70 persent van die suurstof wat elke jaar in die atmosfeer vrygestel word, afkomstig van plankton in die see”.

Die oseane kan ook natuurlike geneesmiddels voorsien vir die behandeling van siektes. Visekstrakte word al eeue lank as medisyne gebruik. Lewertraan word al baie lank gebruik. In onlangser tye is chemikalieë wat van vis en ander seediere verkry is, gebruik om asma te behandel en om virusse en kanker te beveg.

Daar is al pogings aangewend om die ekonomiese waarde te bepaal van produkte en dienste wat deur die see gelewer word. Hoewel dit onmoontlik is om dit akkuraat te bereken, het navorsers geraam dat oseane die bron is van byna twee derdes van die waarde van die wêreld se ekosisteemdienste. Dit bevestig die feit dat die seë met ’n doel geskep is—om voorsiening te maak vir lewe en om dit te onderhou. Hoe goed strook dit tog met wat die Bybel “die oorvloedige rykdom van die seë” noem!—Deuteronomium 33:19.

Jehovah word verheerlik as die Grootse Ontwerper en Maker van hierdie rykdom. Nehemia is beweeg om hom met die volgende woorde te loof: “U alleen is Jehovah; u het die hemel gemaak, . . . die seë en alles wat daarin is; en u hou dit alles in die lewe.”—Nehemia 9:6.

[Voetnoot]

a Sien die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2004, September/Oktober.

[Venster op bladsy 9]

Water, wind en golwe

Water en wind skep ontsaglike golwe wat met ’n oorverdowende gedruis teen rotse vasslaan, soos dié hier in Kalifornië, in die Verenigde State. Golwe was nog altyd ’n fassinerende kenmerk van die oseaan en ’n bewys van die ontsagwekkende krag van die see. Dit is ook ’n treffende herinnering aan die Skepper se grootse mag. Jehovah is die een wat “op die hoë golwe van die see loop”. “Deur sy krag het hy die see in beroering gebring, en deur sy verstand het hy die bestormer verpletter” (Job 9:8; 26:12). Ja, “bo die gebruis van baie waters, die majestueuse branders van die see, is Jehovah majestueus in die hoogte”.—Psalm 93:4.

Kunswerke van sand

Die seestrand voorsien soms die agtergrond vir indrukwekkende kunswerke van sand, soos hierdie duine langs die kus van Namibië. Die wind speel die vernaamste rol daarin om die sand ’n kenmerkende vorm te gee. Al lyk party duine dalk net na klein sandhope, is ander tot 400 meter hoog. Sulke groot hoeveelhede sand help ons om die Bybelse uitdrukking “die sandkorrels wat aan die seestrand is” te verstaan. Dit word gebruik om iets voor te stel wat ontelbaar is of moeilik is om te meet (Genesis 22:17). Ons staan vol ontsag voor die Skepper, wat so ’n vindingryke verskansing voorsien het teen die aanslae van die stormagtige see.

[Prent op bladsy 9]

Sonsondergang, Baai van Biafra, Kameroen

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel