Die Bybel se beskouing
Moet ons Christelike samekomste bywoon?
“EK HET voorheen kerk toe gegaan, maar nie meer nie.” “Ek dink ’n mens kan God op enige plek aanbid, nie net in ’n kerk nie.” “Ek glo in God en die Bybel, maar ek glo nie daaraan om kerk toe te gaan nie.” Het jy al mense iets soortgelyks hoor sê? Al hoe meer mense sê sulke dinge vandag, veral in Westerse lande. Mense wat voorheen kerk toe gegaan het, dink nie meer dit is nodig nie. Wat sê die Bybel oor kerkbywoning?
Die woord “kerk” kom meer as 20 keer in die nuwe vertaling van die Afrikaanse Bybel voor. Ander vertalings gebruik ook hierdie woord. Die Griekse woord wat as “kerk” vertaal word, beteken letterlik “’n sameroeping” of, met ander woorde, ’n samekoms van mense. Handelinge 7:38, in die King James Version, sê byvoorbeeld dat Moses “in die kerk in die wildernis” was, dit wil sê tussen die vergaderde nasie Israel. In ’n ander geval sê die Skrif dat ‘Saulus die kerk probeer uitroei het’, met verwysing na die gemeenskap van Christene in Jerusalem (Handelinge 8:3, NAV). In een van sy briewe groet Paulus “die kerk in [Filemon se] huis”, die plaaslike gemeente wat daar vergader het.—Filemon 2, Revised Standard Version.
Dit is duidelik dat die woord “kerk” soos dit in die Bybel gebruik word nie na ’n plek van aanbidding verwys nie, maar eerder na ’n groep aanbidders. Klemens van Aleksandrië, ’n tweede-eeuse godsdiensleraar, het ter erkenning hiervan geskryf: “Nie die plek nie, maar die gemeente van die uitverkorenes noem ek die Kerk.” Die vraag bly steeds, moet Christene by ’n spesifieke plek of gebou teenwoordig wees sodat hulle aanbidding vir God aanvaarbaar kan wees?
Aanbidding in die nasie Israel
Die Wet van Moses het vereis dat alle Joodse mans by ’n spesifieke plek teenwoordig moes wees vir drie jaarlikse feeste. Baie vroue en kinders het dit ook bygewoon (Deuteronomium 16:16; Lukas 2:41-44). By sekere geleenthede het die priesters en die Leviete die versamelde menigtes onderrig en uit God se Wet gelees. Hulle het ‘dit uitgelê en betekenis daaraan gegee en wat voorgelees is, verstaanbaar gemaak’ (Nehemia 8:8, NW). Vir Sabbatjare het God beveel: “Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou.”—Deuteronomium 31:12.
’n Mens kon net by die tempel in Jerusalem offerandes aan God bring en onderrigting van die priesters ontvang (Deuteronomium 12:5-7; 2 Kronieke 7:12). Mettertyd is ander geboue vir aanbidding in Israel opgerig—die sinagoges. Dit was plekke waar die Skrif gelees is en mense gebid het. Die tempel in Jerusalem was nogtans die vernaamste plek van aanbidding. Dit word toegelig deur wat die Bybelskrywer Lukas opgeteken het. Hy vertel van ’n bejaarde vrou met die naam Anna, wat “nooit van die tempel afwesig was nie en nag en dag met vaste en smekinge heilige diens verrig het” (Lukas 2:36, 37). Ware aanbidding saam met ander toegewyde persone was die middelpunt van Anna se lewe. Ander godvresende Jode het ’n soortgelyke weg gevolg.
Ware aanbidding ná Christus se dood
Ná Jesus se dood was sy volgelinge nie meer onder die Mosaïese Wet nie, en dit was ook nie meer vir hulle nodig om by die tempel te aanbid nie (Galasiërs 3:23-25). Hulle het nogtans aangehou om vir gebed en die bestudering van God se Woord te vergader. Hulle het nie indrukwekkende geboue gehad nie, maar het eerder privaat huise en openbare plekke gebruik (Handelinge 2:1, 2; 12:12; 19:9; Romeine 16:4, 5). Aangesien dit vry van rituele en vertoon was, het daardie eerste-eeuse Christelike vergaderinge ’n pragtige eenvoud gehad.
Te midde van die sedelike duisternis van die Romeinse Ryk het die Bybelbeginsels wat by daardie vergaderinge geleer is soos diamante geskitter. Party ongelowiges wat die vergaderinge vir die eerste keer bygewoon het, het uitgeroep: “God is werklik onder julle” (1 Korintiërs 14:24, 25). Ja, God was werklik onder hulle. “Daarom is die gemeentes [“kerke”, RS, The Jerusalem Bible] inderdaad voortdurend standvastig gemaak in die geloof en het hulle van dag tot dag in getal bly toeneem.”—Handelinge 16:5.
Kon ’n Christen destyds God se goedkeuring hê as hy in heidense tempels of op sy eie aanbid het? Die Bybel gee duidelike riglyne in hierdie verband: Goedgekeurde aanbidders moes ’n deel word van die enigste ware kerk, of gemeente, die “een liggaam” van ware aanbidders. Dit was die dissipels van Jesus, wat as Christene bekend gestaan het.—Efesiërs 4:4, 5; Handelinge 11:26.
Wat van vandag?
Pleks van ons aan te spoor om in ’n kerk te aanbid, spoor die Bybel ons aan om saam met die kerk te aanbid, “die gemeente van die lewende God”, die mense wat “met gees en waarheid aanbid” (1 Timoteus 3:15; Johannes 4:24). Godsdienstige samekomste wat God se goedkeuring wegdra, moet mense “in heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid” onderrig (2 Petrus 3:11). Dit moet diegene wat dit bywoon, help om ryp Christene te word, wat ‘reg sowel as verkeerd kan onderskei’.—Hebreërs 5:14.
Jehovah se Getuies probeer die model van die eerste-eeuse Christene navolg. Meer as 91 400 gemeentes regoor die wêreld ontmoet gereeld om die Bybel te bestudeer en mekaar aan te moedig, en hulle doen dit in Koninkryksale, huise en ander plekke. Dit is in ooreenstemming met die apostel Paulus se woorde: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat . . . nie.”—Hebreërs 10:24, 25.