Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 3/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die mens se beste vriend?
  • Japan se selfmoordprobleem
  • Rusies en die huwelik
  • Kry genoeg slaap
  • Hou die kombuis skoon
  • Bedreigde tale
  • Moenie drink en swem nie
  • Betaal om insekte dood te maak
  • Aftrede en neerslagtigheid
  • Vigs en landbou in Zambië
  • Waarom jou liggaam slaap nodig het
    Ontwaak!—1995
  • Maniere om jou gesondheid te verbeter
    Ontwaak!—2015
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2001
  • Hoe kan ek genoeg slaap kry?
    Jongmense vra
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 3/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die mens se beste vriend?

Klein kindertjies wat sonder toesig by ’n hond gelaat word, loop die gevaar om gebyt te word, volgens ’n berig in die koerant El Universal van Mexikostad. “Die aanvalle word byna altyd deur die kind veroorsaak, en die hond verdedig homself net”, sê die berig. Een Mexikaanse hospitaal het die afgelope vyf jaar 426 kinders behandel wat deur honde gebyt is. Twaalf persent van hierdie kinders is permanent beseer of vermink. Die berig spoor ouers aan om hulle kinders basiese reëls in verband met alle honde te leer: Respekteer hulle speelgoed, hondehok en eetbakke; moenie naby ’n hond gaan wanneer hy eet of slaap nie; moenie sy stert trek of op hom probeer ry nie.

Japan se selfmoordprobleem

Ekonomiese stagnasie laat dit moontlik “lyk of Japan sy doel verloor het” en “rigtingloos is”, sê baie Japannese. Die gevolg is ’n “dekade lange vlaag van selfmoorde”, berig The New York Times. “In ’n gemeenskap waar skande ’n groot rol speel, het buitengewone hoë vlakke van werkloosheid daartoe gelei dat baie mans bedags wanhopig rondswerf en maak asof hulle lonende beroepe het deur heeldag van die huis af weg te bly.” Party dink daaraan om hulle lewe te beëindig omdat hulle bekommerd en skaam is. “Daar is ’n gebrek aan hoop”, sê dr. Joekio Saito. “Mense het geen ideale vir die toekoms nie, en dit lyk asof alles agteruitgaan. . . . Selfmoord het byna ’n epidemie geword.” Dit word blykbaar al hoe gewilder vir mense om selfmoord by spoorweë te pleeg. In ’n poging om dit te stuit, het een spoorwegmaatskappy sy spoorwegoorgange heldergroen geverf om die gemoedstoestand van dié te verander wat selfmoord oorweeg, en hulle het spieëls aan weerskante van die spoorlyn se platforms aangebring om ’n springer te laat stilstaan en dink. Die maatskappy het ook bome gesnoei sodat mense daar nie privaat voel nie. Deskundiges sê egter dat hierdie pogings waarskynlik tevergeefs sal wees tensy die ekonomiese situasie verbeter.

Rusies en die huwelik

’n Nuwe studie deur Andrew Christensen van die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles het gevind dat “egpare wat minder krities en meer verdraagsaam teenoor hulle geskille is, die suksesvolste huwelike geniet”, sê die tydskrif Time. Daarenteen lei rusies dikwels net tot meer rusies.

Kry genoeg slaap

“Ons is ’n gemeenskap met ’n gevaarlike slaapagterstand”, sê die sielkundige Stanley Coren van die Brits-Columbië-universiteit. Te min slaap was gedeeltelik verantwoordelik vir die kernongeluk by Three Mile-eiland en vir die Exxon Valdez-oliestorting. Lomerigheid veroorsaak elke jaar meer as 100 000 motorongelukke in Noord-Amerika, berig die Kanadese tydskrif Maclean’s. Stanford-universiteit se slaapspesialis dr. William Dement waarsku: “Mense verstaan nie werklik hoeveel slaap hulle nodig het nie.” Navorsers stel die volgende voor om beter te slaap: Eet jou aandete ten minste drie ure voor slapenstyd. Gaan elke aand dieselfde tyd bed toe en staan dieselfde tyd op. Moenie ’n TV of ’n rekenaar in die slaapkamer laat staan nie. Vermy kafeïen, alkohol en tabak. Dra kouse om jou voete in die bed warm te hou. Neem ’n warm bad voor slapenstyd. Oefen daagliks—maar nie voor bedtyd nie. Laastens, sê Maclean’s: “As jy nie kan slaap nie, moet jy opstaan en iets doen. Gaan eers terug bed toe wanneer jy moeg voel en staan dan jou gewone tyd op.”

Hou die kombuis skoon

“[Gewone] bleikmiddel is jou beste beskerming” teen siekteverwekkende patogene wat in ’n besige kombuis skuil, sê die Kanadese koerant Vancouver Sun. Die berig gee die volgende wenke: Berei daagliks ’n oplossing van 30 milliliter bleikmiddel in 4 liter warm water, nie kookwater nie, voor. Kookwater laat die bleikmiddel verdamp. Gebruik ’n skoon lap en vee kombuisoppervlaktes met hierdie oplossing af. Laat die oppervlaktes toe om lugdroog te word. Hoe langer die organismes met die bleikmiddel in aanraking kom, hoe meer sal doodgemaak word. Was skottelgoed in warm seepwater, en ontsmet die skottelgoed dan deur dit ’n paar minute in die verdunde bleikmiddel te week. Daar sal geen chemikalieë op die skottelgoed agterbly nadat dit droog is nie. Was en ontsmet kombuissponse, vadoeke en skropborsels elke dag. Was jou hande deeglik, veral onder die naels, om die risiko te verminder dat jy kos met jou hande sal besmet.

Bedreigde tale

Mexiko het die grootste bevolking wat inheemse tale in die Amerikas praat. Daarbenewens is Mexiko, naas Indië en China, derde in die wêreld wat die aantal inheemse tale betref wat nog gepraat word. Baie van hierdie tale sterf uit, berig The News, die Engelse koerant van Mexiko. Rafael Tovar y de Teresa, direkteur van die Raad vir Kultuur en die Kunste, verduidelik dat van die minder as 100 inheemse tale wat teen die einde van die 19de eeu in Mexiko gepraat is, net 62 oor is. En 16 van hierdie tale word deur minder as 1 000 mense gepraat. Een rede tot kommer is dat plaaslike terme wat plante identifiseer, verlore gaan wanneer tale uitsterf, en die kennis oor hulle tradisionele gebruike om siektes te behandel, gaan dan tot niet.

Moenie drink en swem nie

Gedurende ’n onlangse jaar was “oormatige alkoholinname” verantwoordelik vir die meeste gevalle van verdrinking in Duitsland, sê dr. Klaus Wilkens, president van die Duitse Lewensreddersvereniging. Volgens die gesondheidsnuusbrief Apotheken Umschau het 477 mense in 1998 in Duitsland se riviere, inhamme en mere verdrink. Dit is gevaarlik om alkohol te drink en dan te swem omdat alkohol koördinasie en die liggaam se spierfunksies kan belemmer en kan veroorsaak dat jy jou eie vermoëns oorskat. Daarom waarsku lewensredders: ‘Moenie drink en swem nie!’

Betaal om insekte dood te maak

Die Uttar Pradesj se Staatsdepartement van bosbou in Indië het met ’n kampanje begin om insekte dood te maak in ’n poging om te keer dat twee sentimeter lange, vlieënde insekte wat hoplo genoem word, ’n woud van ongeveer 650 000 salbome vernietig, berig The Times of India. Omdat die insekte se getalle onlangs vermeerder het, word die blote bestaan van hierdie boomsoort bedreig. Die insekte boor in die bas en stam in en veroorsaak dat die bome verdor en doodgaan. Die bosboudepartement gebruik die “boomstrik”-metode om die insekte te vang. Basstukke van jong salbome word in die gebied gestrooi waar die insekte voorkom. Vloeistof wat van hierdie stukke hout drup, lok die insekte en laat hulle bedwelm raak, wat dit makliker maak om hulle te vang. Plaaslike seuns word gebruik om die werk te doen, waarvoor hulle 75 paisa (ongeveer 15 sent) per insek betaal word.

Aftrede en neerslagtigheid

Om vroeg af te tree, hou dalk sekere voordele in, maar dit kan ook groot emosionele druk veroorsaak. Brasilië se Diário de Pernambuco berig dat vorige staatswerkers gekla het oor probleme wat wissel van ‘ontevredenheid, geïrriteerdheid, onsekerheid en ’n verlies aan identiteit weens depressie en ’n gevoel dat hulle wêreld in duie gestort het’. Volgens Guido Schachnik, ’n spesialis in ouderdomsiektes, “is dit nie ongewoon vir mans wat vroeg aftree om hulle tot drank te wend of vir vroue om van medisyne afhanklik te raak nie”. Diegene wat daaraan dink om af te tree, moet “skuld vermy, hulle vaardighede nog steeds gebruik en raad soek om te verhoed dat hulle in ’n bodemlose put val”, sê die sielkundige Graça Santos.

Vigs en landbou in Zambië

Landbouproduktiwiteit in Zambië word deur die vinnige verspreiding van vigs in daardie land gekniehalter. Die koerant die Zambia Daily Mail sê dat een van die belangrikste landbouhulpbronne die werk van boere en hulle werkers is. Maar baie van hierdie arbeidsmag gaan verlore weens vigs. “Wanneer boere sterf, neem die arbeid op plase af en gevolglik verminder produksievlakke drasties. Dit beïnvloed huisgesinne se voedselsekerheid, wat tot toenemende armoede lei”, berig die Daily Mail. Die oplossing, volgens Daniel Mbepa, administrateur van die Mansa-gebied in Zambië, is dat boere hulle geslagsomgang tot hulle eie maat moet beperk. Hy het gesê: “As goeie sedes bevorder word, kan die vigs-probleem beheer word.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel