Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 10/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ekonomiese misdaad neem toe in Europa
  • Vliegtuigongelukke word oorleef
  • “Tegno-druk”
  • Kinders skryf hulle eie boeke
  • Malariamiddel nie meer doeltreffend nie
  • Alkohol en fietsry gaan nie saam nie
  • Papier van piesangplante
  • Die genesende krag van heuning
  • Die ondergang van die spyker
  • Opleiding in etiket
  • Jou vingernaels Versorg jy hulle?
    Ontwaak!—1998
  • Heuning—’n soet geneser
    Ontwaak!—2002
  • Die ontwykende papierlose kantoor
    Ontwaak!—1999
  • Heuning—Die by se gawe aan die mens
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 10/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Ekonomiese misdaad neem toe in Europa

“Ekonomiese misdaad het sedert 1998 grootliks vererger”, luidens ’n verslag wat deur parlementslede van die Raad van Europa onderskryf is. Wat is ekonomiese misdaad? Die verslag van die Komitee oor Ekonomiese Sake en Ontwikkeling noem onder meer “mensehandel, smokkelhandel in dwelms en ander verbode goedere, vervalsing, omgewingsmisdaad, kubermisdaad, belastingbedrog, geldwassery, korrupsie en invloedkopery”. Die verslag meld dat hierdie soort misdaad al hoe meer met politiek verband hou en waarsku: “Europa se wil om dit te bestry, sal moontlik afneem, en die stryd sal verlore wees.” Die skryfster van die verslag, Vera Squarcialupi van Italië, het gesê: “Die regsorde, wat die lewensbloed van ’n beskaafde gemeenskap is, sal eerste daaronder ly.”

Vliegtuigongelukke word oorleef

“Meer as 95% van die passasiers oorleef die ongelukke van kommersiële vliegtuie”, sê die Kanadese koerant National Post. Volgens die Post het ’n studie deur die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad vir Vervoer gevind dat die meeste passasiers selfs “ernstige ongelukke” oorleef waarin vliegtuie erg beskadig word. Art LaFlamme, die direkteur-generaal van burgerlugvaart by Transport Canada, verduidelik: “Die meeste van die ongelukke wat plaasvind, is gedurende die landings- en opstygfase. Dit maak nie groot opslae in die nuus nie, en in die meeste van hierdie ongelukke is die kanse op oorlewing baie goed. Daarom plaas ons baie klem op veiligheidsinstruksies.” Mense wat dikwels reis, is geneig om nie ag te slaan op die veiligheidsinstruksies nie. Maar soos ’n woordvoerster van een lugredery dit gestel het: “Dit is belangrik dat mense aandag skenk. In ’n noodgeval sal hulle lewe daarvan afhang.”

“Tegno-druk”

“Tegno-druk”—frustrasie weens druk om van nuwe tegnologie gebruik te maak—is aan die toeneem, berig die Kanadese tydskrif Maclean’s. Studies wys op oorsake wat wissel van “die nimmereindigende proses om te leer hoe om nuwe tegnologie te gebruik tot die feit dat die onderskeid tussen werks- en huislewe vervaag as gevolg van nuwighede soos e-pos, oproepomleiding en selfone”. Hoe kan ’n mens hierteen opgewasse wees? Deskundiges beveel aan dat jy perke stel. Besluit of die gebruik van ’n sekere apparaat jou lewe werklik sal vereenvoudig of verder sal kompliseer. Hou in gedagte dat dit tyd sal neem om ’n nuwe tegnologiese uitvinding goed genoeg te leer ken om al die voordele daarvan te benut. “Sit elke dag tyd opsy waarin tegnologiese apparate afgeskakel word”, en wy tyd aan ander belangrike dinge. “Mense maak die groot fout om die dag te begin deur hulle e-pos oop te maak, in plaas daarvan om volgens ’n program te werk”, sê Dan Stamp, ’n produktiwiteitsdeskundige van Vancouver. “Die beste uur en ’n half van die dag word aan absolute onbenullighede bestee.”

Kinders skryf hulle eie boeke

In ’n poging om lees te bevorder, word skoolkinders in Zambië aangespoor om hulle eie kort boeke te skryf en met prente te versier, berig die Zambia Daily Mail. “Die meeste skoolbiblioteke het leesstof oor dinge en situasies wat vir die Zambiese kinders heeltemal onbekend is”, sê ’n staatsverslag. “Die voordeel daarvan as kinders hulle eie boeke skryf, is dat die boeke op hulle vlak is en handel oor dinge waarin hulle belangstel.” Party van die verhale kan in skool- of klasbiblioteke opgeneem word, oor die radio gelees word of selfs gepubliseer word. Die Daily Mail sê: “Dit is ’n baie goedkoop manier om ’n voorraad leesstof op te bou, want net ’n pen en papier is daarvoor nodig. Dit is ook ’n manier om ’n bate te benut wat oorvloedig is (leerlinge) om ’n bate te skep wat skaars en duur is (boeke).”

Malariamiddel nie meer doeltreffend nie

‘Chlorokien, die geneesmiddel teen malaria wat die meeste in Zambië voorgeskryf word, gaan in staatsapteke geleidelik uit gebruik geneem word as die vernaamste behandeling vir die siekte’ en vervang word met doeltreffender medikasie, berig die Times of Zambia. Die besluit om dit uit gebruik te neem, volg nadat ’n studie aangedui het dat “weerstand teen Chlorokien verantwoordelik is vir 12 000 van die 25 000 kinders onder vyf wat elke jaar in Zambië aan malaria sterf”. Die meeste ander oostelike en suidelike Afrikalande het ook met die oorskakeling begin. “Hoewel Chlorokien meer as 30 jaar met groot sukses in die land gebruik is, is dit nie meer ’n doeltreffende behandeling vir malaria nie, wat verreweg die grootste doodsoorsaak onder die nasie is”, sê die Times.

Alkohol en fietsry gaan nie saam nie

Dit kan net so gevaarlik wees om fiets te ry nadat ’n mens alkohol gebruik het as om te drink en te bestuur, berig die tydskrif New Scientist. “Fietsry verg meer psigomotoriese vaardighede en fisiese koördinasie as motorbestuur, en alkohol het dus selfs ’n groter uitwerking”, sê Guohua Li van die Johns Hopkins-universiteit in Maryland, VSA. Li en sy kollegas het ’n studie gemaak van 466 fietsryers en het bevind dat die kanse 20 keer groter was dat dié wat vier of vyf drankies gehad het, ’n ernstige of noodlottige ongeluk sou hê. Selfs net een drankie het fietsry ses keer gevaarliker gemaak. “Om sake te vererger”, sê New Scientist, “hoe meer fietsryers gedrink het, hoe minder geneig was hulle om ’n valhelm te dra.”

Papier van piesangplante

Nadat piesangs geoes is, word die stingels dikwels net so op die grond gelos vir bemesting. Professor Hirosji Morisjima van die Universiteit van Nagoja het egter daarin geslaag om papier van piesangstingels te maak, berig die Japannese koerant Asahi Sjimboen. Die plant se vesels “is lank en sterk, en die gehalte daarvan is feitlik net so goed soos die onbewerkte materiaal wat gebruik word om manillapapier te vervaardig”. Die gehalte van masjienvervaardigde piesangstingelpapier is vergelykbaar met gewone kopieerpapier, en dit is sterker as herwonne kopieerpapier. “Piesangs word in 123 lande regoor die wêreld verbou, en 58 000 000 ton word jaarliks geproduseer, wat dit ’n belowende hulpbron maak”, sê die koerant.

Die genesende krag van heuning

Behalwe dat heuning heerlik smaak, is dit al lank bekend vir die genesende krag daarvan. Volgens die koerant The Australian het ’n navorsingspan van die universiteite van Queensland en Sydney getoon waarom heuning ’n kragtige bakteriedoder is. Wanneer heuning met water gemeng word en op wonde en brandplekke aangewend word, reageer ’n ensiem in die heuning met die suiker en bring waterstofperoksied voort, wat welbekend is as ’n bestanddeel in huishoudelike bleikmiddel. Hierdie chemikalie vernietig nie net bakterieë soos Staphylococcus aureus nie, maar help ook die weefsel om homself te herstel.

Die ondergang van die spyker

“Die glorietyd van die gewone spyker is onteenseglik verby”, sê The Toronto Star. Die koerant berig dat die aanvraag na gewone spykers “in die afgelope paar jaar met byna die helfte verminder het”. Die vervaardiging van lugdrukspykermasjiene, waarmee spykers ingeskiet word, het die vraag na gewone spykers in Noord-Amerika laat afneem. Hardewarewinkels in die Verenigde State berig dat professionele bouers selde gewone spykers koop en verkies om eerder spykermasjiene te gebruik, wat al hoe ligter gemaak word. Waarom het vervaardigers van gewone spykers nie oorgeslaan na die vervaardiging van lugdrukspykers nie? “Om dieselfde rede dat spoorwegmaatskappye nie lugvaartdienste begin het nie”, antwoord die Star. “Daar is ’n wesenlike verskil tussen die produkte.”

Opleiding in etiket

Massachusetts se Instituut vir Tegnologie bied die afgelope agt jaar vir al sy studente ’n gratis kursus in etiket aan. Waarom? Travis Merritt, ’n voormalige dekaan van studentesake, beskryf die tipiese student as iemand wat “geen styl het, nie goed met modes is en nie goeie maniere het nie”, berig die tydskrif New Scientist. Die eendaagse kursus behels onderrig in tafelmaniere, kleredrag, etiket in die sakewêreld en in die gebruik van selfone en maniere om met ander kennis te maak. Studente word dinge geleer soos hoe om te loop en hoe om saggies te nies, en hulle word ook daaraan herinner dat “’n informele geselsie ’n dialoog is, nie ’n ondervraging nie”. Een van die dosente, Roseanne Thomas, beklemtoon dat dit belangrik is om “dankie” te sê wanneer jy ’n kompliment ontvang. “Dit is basiese vaardighede wat oral in die lewe nodig is”, sê Thomas. “Ek dink mense is nogal geskok wanneer hulle besef dat sosiale vaardighede so uiters noodsaaklik is vir sukses.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel