Ons beskou die wêreld
Nuwe biblioteek van Aleksandrië kort boeke
Die beroemde biblioteek van Aleksandrië “wat daarvoor bekend is dat dit al die mensekennis in die tyd van Christus bevat het, . . . is in 47 v.C. deur vuur vernietig en het uiteindelik in die 7de eeu n.C. verdwyn”, berig The Wall Street Journal. Met die hulp van ander Arabiese lande en van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur het Egipte ’n nuwe biblioteek in Aleksandrië gebou wat hulle hoop die oue sal oortref. “Die eerste vier verdiepings is ondergronds. Die biblioteek, wat deur ’n weerkaatsende poel omring word, het 17 hysers, vensters wat hulleself skoonmaak en ’n veiligheidstelsel wat so gevorderd is dat dit ’n vuur kan blus sonder dat ’n druppel water op ’n seldsame boek val.” Maar, gaan die Journal voort, “die biblioteek kort een belangrike item. Boeke.” Nadat miljoene gedurende die jare van konstruksiewerk bestee is, voeg die koerant by, “is die nuwe biblioteek se begroting om wel boeke te koop so klein dat die hoof van die biblioteek, . . . Mohsen Zahran, moet rondsoek vir boeke wat hy verniet kan kry”. ’n Hoofbibliotekaris word nie gesoek nie omdat “ons nie die persoon se salaris kan bekostig nie”, sê mnr. Zahran. Die nuwe biblioteek het plek vir agtmiljoen bundels.
Skynpyn
“Mense wat ’n ledemaat verloor het, ervaar dikwels chroniese pyn wat oënskynlik van die verlore ledemaat kom of voel ’n sensasie in die verlore ledemaat wanneer iemand aan hulle gesig raak”, berig die tydskrif New Scientist. “Wanneer ’n deel van die korteks nie meer sensoriese inligting ontvang nie—weens amputasie of ’n ruggraatbesering—versprei aangrensende senuwees na die beskadigde streek en neem dit hoofsaaklik die funksies daarvan oor”, verduidelik die tydskrif. Dit voeg by: “Dit lei dikwels daartoe dat mense van die verlore ledemaat bewus is of voortdurende pyn ervaar.”
Slegte asem en werksgeleenthede
“Dit is nie ’n oordrywing om te sê dat [slegte asem] baie mense se loopbaan benadeel nie”, sê die tandarts Ana Cristina Kolbe in die Brasiliaanse saketydskrif Exame. “In uiterste gevalle”, voeg die uitvoerende werwingsamptenaar Leandro Cerdeira by, “verloor mense die een werk na die ander sonder om ooit te weet wat die werklike probleem is.” In ’n studie wat in twee groot Brasiliaanse stede gedoen is, het 40 persent van die mense met wie ’n onderhoud gevoer is aan halitose, of slegte asem, gely. Van die algemeenste oorsake was spanning en ’n dieet wat te min vesel bevat. Dr. Kolbe beveel aan dat hierdie persone ’n paar dae met vakansie moet gaan en meer groente moet eet om die simptome te verlig. As ’n korttermynoplossing kan werknemers met halitose met ’n swak oplossing van waterstofperoksied en water gorrel.
Toenemende wanhoop
Volgens ’n berig van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oor 105 lande, het die gemiddelde selfmoordsyfer in daardie lande tussen 1950 en 1995 met 60 persent gestyg, berig die Franse koerant Le Monde. Dr. José-Maria Bertolote, koördineerder van die WGO se departement van geestesgesondheid, het geskat dat eenmiljoen mense in die jaar 2000 selfmoord sou pleeg en dat nog 10 tot 20 miljoen selfmoord sou probeer pleeg. Die werklike syfer kan egter veel hoër wees. Volgens die berig sterf meer mense elke jaar weens selfmoord as in al die wêreld se gewapende konflikte saam. Onder diegene tussen die ouderdomme van 15 en 35 het selfmoord “een van die drie vernaamste doodsoorsake” geword, sê dr. Bertolote.
Slagoffers van verkragting in Suid-Afrika
“Daar vind elke jaar 1 miljoen verkragtings in Suid-Afrika plaas”, sê World Press Review. Dit beteken dat ’n verkragting omtrent elke 30 sekondes plaasvind. Die artikel sê dat “Suid-Afrika die meeste verkragtings ter wêreld het wat in moord eindig”. Die syfer is 12 keer hoër as dié vir die Verenigde State, wat volgende op die lys is, hoewel Suid-Afrika ’n bevolking van net 40 miljoen mense het. Die artikel voeg by: “Jy word dalk in ander lande verkrag, beroof of vermoor. Maar in Suid-Afrika word jy eers verkrag voordat jy vermoor word, bloot omdat jy op daardie oomblik daar was. Verkragting vind byna outomaties saam met ander misdade plaas.” Daarbenewens “het verkragting deel geword van die inwydingsritusse vir nuwe bendelede”, wat dan voortgaan om hulle slagoffers te vermoor. Van die bydraende faktore wat in die artikel gegee word, is die hoë vlak van kindermolestering en die algemene mening dat lewe goedkoop is. Daarbenewens het ’n opname in 1998 in Johannesburg “aan die lig gebring dat jong mans glo dat vroue dit in werklikheid geniet om verkrag te word, maar dat hulle dit nie erken nie en dat jy die reg het om met ’n meisie seks te hê as jy haar uitneem”, sê die artikel.
Bloedlose chirurgie in Suid-Afrika
“Onrusbarende hoë vigs-syfers het daartoe gelei dat een van Suid-Afrika se groot privaat hospitaalgroepe dit verkies om na ‘bloedlose geneeskunde en chirurgie’ oor te skakel”, berig die Suid-Afrikaanse koerant The Mercury. “Ons doelwit”, het dr. Efraim Kramer, die mediese direkteur van die program, gesê, “is om die mediese gemeenskap aan te moedig om mediese en chirurgiese sorg aan pasiënte te voorsien sonder om skenkerbloed te gebruik.” Hoewel ten minste 800 dokters in Suid-Afrika as individue bloedlose geneeskunde en chirurgie toepas, is dit die eerste keer dat ’n hospitaalgroep besluit het om so ’n gekoördineerde program op ’n nasionale skaal van stapel te stuur. Dr. Kramer het gesê dat die reaksie van die dokters “verstommend positief” was. The Mercury sê: “Doeltreffende metodes vir bloedlose behandeling is hoofsaaklik ontwikkel weens die eise van godsdiensgroepe soos Jehovah se Getuies, wat weier om met skenkerbloed behandel te word.”
Natuurlike vitamien C-kapsules
Asarol, wat ook as die woudkersie bekend staan, is maar net twee sentimeter in deursnee. Tog het hierdie bittersoet vrug 50 keer meer vitamien C as ’n lemoen en 100 keer meer as ’n suurlemoen. Studies by die San Martín-staatsuniversiteit van Tarapoto, Peru, toon dat 100 gram pulp van die suurste suurlemoen 44 milligram askorbiensuur bevat, terwyl dieselfde hoeveelheid asarol 4 600 milligram bevat. Net vier van hierdie natuurlike “kapsules” voorsien die daaglikse hoeveelheid vitamien C vir ’n volwassene. Volgens die koerant El Comercio word pogings aangewend om te sien of asarol, “’n maklik bederfbare vrug”, kommersieel gekweek kan word as ’n plaasvervanger vir die kokaplant.
Skadelike raad
“Die media en popkultuursielkundiges bevorder die gedagte dat dit nuttig is om ‘uiting te gee aan’ [woede]”, sê die tydskrif Psychology Today. “Maar hierdie raad is meer skadelik as nuttig.” Volgens die Iowa-staatsuniversiteit se sielkundige Brad Bushman “vermeerder dit eintlik aggressie wanneer woede uitgedruk word”. Proefkonyne wat “aan hulle woede uiting gegee het” deur ’n slaansak te slaan, het twee keer meer aggressie en wreedheid getoon as diegene wat dit nie gedoen het nie. Selfs “diegene wat ’n artikel oor die voordele van katarsis gelees het voordat hulle die sak geslaan het, was baie meer geneig as ander om te wil boks”, sê die artikel. “Pleks van geleidelik te probeer afkoel, sê Bushman, moet jy liewer eensklaps afkoel. Tel tot 10—of 100, indien nodig—en die woede sal bedaar.”
Die grootste osoongat nog
Die NASA-satelliet wat osoon monitor, het gedurende September 2000 die grootste gat in die osoonlaag nog geregistreer wat oor die Suidpool opgemerk is. Dit is wat die koerant Clarín van Buenos Aires, Argentinië, berig. Die gat het bo ’n gebied van ongeveer 28,3 miljoen vierkante kilometer verskyn, wat die vorige rekord met meer as 1 000 000 vierkante kilometer oortref. Die geweldige grootte van die gat het wetenskaplikes verras. Dr. Michael Kurylo van NASA het gesê dat hierdie waarnemings “kommer oor die sensitiwiteit van die aarde se osoonlaag versterk”. Die fisikus Rubén Piacentini van Argentinië se Nasionale Komitee vir Ruimtebedrywighede het gesê: Hoewel die gat tans bo onbewoonde Antarktika is, “kan dit op die ou end oor die suidelike gebied van [Argentinië] beweeg”. Clarín sê dat osoon soos ’n beskermende skild optree deur die potensieel vernietigende ultraviolet straling van die son te verminder.