Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 12/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe veilig is hospitale?
  • ’n Groter rol vir die VN?
  • Kommer in Afrika
  • Kindermishandeling in Japan
  • Vigs-bedreiging vir bloeiers
  • Sonbaaiers, pas op
  • “Vrugbaarste moeder”
  • Geweld deur die pos
  • Epidemie van tjekbedrog
  • Ewigdurende sole
  • Vigs—Loop ek gevaar?
    Ontwaak!—1993
  • VIGS—’n Krisis vir tieners
    Ontwaak!—1991
  • VIGS—sy tragiese slagting onder kinders
    Ontwaak!—1991
  • Bloeiers ontvang besmette bloed
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 12/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Hoe veilig is hospitale?

Kan hospitale en dokters ’n gevaar wees vir jou gesondheid? Dit spreek vanself dat hulle meer goed as kwaad doen. Maar ’n studie by die Harvard-universiteit in die Verenigde State het bevind dat byna 100 000 uit 2 500 000 pasiënte wat in net een jaar uit hospitale in die staat New York ontslaan is, gely het weens “ongunstige gebeure” of beserings wat deur mediese behandeling veroorsaak is, en nie deur siekte nie. By 27 179 van hierdie gevalle was nalatigheid betrokke. Vir pasiënte van 65 jaar en ouer het die gevaar van sulke ongelukke verdubbel. Navorsers in Duitsland het eweneens 780 lykskouings ondersoek wat tussen 1977 en 1990 daar uitgevoer is; hulle het gevind dat pasiënte in 25 persent van die gevalle dood is aan oorsake wat nie deur hulle dokters gediagnoseer is nie. Ten spyte van wetenskaplike vooruitgang het sulke foute nie minder geword gedurende die 13 jaar wat bestudeer is nie.

’n Groter rol vir die VN?

Die Paryse koerant Le Figaro berig dat die wêreld se sewe magtigste nywerheidslande ’n amptelike aankondiging gedoen het waarin hulle ’n beroep doen op die Verenigde Nasies om ’n groter rol te speel om vrede in die internasionale gemeenskap te handhaaf. Die verklaring sê gedeeltelik: “Ons verbind ons daartoe om die Verenigde Nasies magtiger en ’n doeltreffender instrument te maak om menseregte te beskerm, vrede en veiligheid te handhaaf en aggressie te voorkom.” Die verklaring beklemtoon die behoefte aan ’n verandering in die tradisionele begrip van nasionale soewereiniteit en dit ondersteun inmenging deur die VN in lande waar die skending van menseregte wêreldvrede bedreig.

Kommer in Afrika

◻ “Die Wêreldgesondheidsorganisasie [WGO] skat dat vroue in Afrika 1,2 miljoen van die 1,7 miljoen vroue uitmaak wat besmet is met die menslike immuungebreksvirus (HIV), die virus wat vigs veroorsaak”, sê die Nigeriese Sunday Concord. Aangesien babas van hierdie vroue ’n 20 tot 45 persent kans het om met die virus besmet te word, toon dit dat “vordering wat in die afgelope twee dekades ten opsigte van kinderoorlewing en -ontwikkeling gemaak is binnekort ongedaan gemaak kan word”. In een land in Oos-Afrika is 14 persent van sy vigs-slagoffers jonger as vier.

◻ Volgens die WGO is cholera ook besig om “teen ’n skrikwekkende tempo” deur ’n aantal Afrikalande te versprei. Hoewel minder gevalle in Afrika gerapporteer is as in Suid-Amerika, waar die epidemie vroeër in die jaar uitgebreek het, was die aantal sterfgevalle in Afrika baie hoër. Daar is tot en met 18 Julie vanjaar 3488 sterfgevalle gerapporteer. Zambië het meer as 11 000 choleragevalle met 981 sterfgevalle gehad; Nigerië meer as 7600 gevalle en 990 sterfgevalle; en Ghana het sowat 6500 gevalle en 181 sterfgevalle gehad.

◻ James C. Ingram, uitvoerende bestuurder van die World Food Program, sê in die Horing van Afrika “staar hongersnood miljoene mense in die gesig” weens droogte en burgeroorloë in Somalië, Ethiopië en die Soedan wat honderdduisende mense laat vlug. Daar word gevrees dat die hongersnood net so erg sal wees as die een wat die streek in die middel-tagtigerjare getref het toe meer as ’n miljoen mense van honger gesterf het.

Kindermishandeling in Japan

“Die aantal kinders in Japan wat deur hulle ouers en oppassers geslaan, verwaarloos of seksueel gemolesteer word, skiet die hoogte in”, volgens die Mainichi Daily News. Gedurende ’n onlangse tydperk van vyf jaar het gevalle wat aangemeld word meer as verdrievoudig. Volgens The Daily Yomiuri het ’n groep universiteitsprofessore, toe hulle ’n opname gemaak het onder 350 vroulike studente wat vir ’n kursus oor seksuele geweld ingeskryf het, gevind dat 68 persent van dié wat hulle ingeskryf het gedurende hulle kinderjare seksueel mishandel is. Maar die Mainichi Daily News merk op dat ten spyte van die omvang en toename van die probleem, “die Japannese gemeenskap die kwessie nouliks erken, wat gedeeltelik die feit weerspieël dat dit tot vroeg in hierdie eeu nog ’n algemene gebruik was om ongewenste babas van albei geslagte dood te maak en dogters aan bordele te verkoop”. Kenners waarsku egter dat kindermishandeling handuit sal ruk tensy gepaste maatreëls dadelik getref word. Japan het nou verskeie organisasies en telefoonnoodlyne op die been gebring om sulke slagoffers te help.

Vigs-bedreiging vir bloeiers

Vigs roei Spanje se bloeiers uit. Volgens ’n verslag in die Madridse dagblad El País het meer as 200 reeds aan vigs gesterf; ’n verdere 300 het die verskriklike siekte onder lede. Die situasie sal waarskynlik vererger. Daar is ongeveer 2 730 geregistreerde bloeiers in Spanje en ongeveer 90 persent van dié wat ’n tekort aan die faktor VIII het—die algemeenste vorm van hemofilie—het positief getoets vir die vigs-virus. Mediese kenners het besmette bloedprodukte vir hierdie tragedie blameer. Gelukkig is daar by ’n onlangse kongres vir bloeiers aangekondig dat ’n sintetiese faktor VIII-bloedfraksie binnekort in Spanje beskikbaar sal wees.

Sonbaaiers, pas op

Die osoonlaag oor Europa word vinnig dunner. Volgens die tydskrif New Scientist het die Stratosferiese Osoonadviesgroep onlangs ’n verslag gepubliseer wat toon dat die osoon bo Europa tussen 1979 en 1990 ’n afname van 8 persent getoon het. Hierdie afname is twee keer meer as wat wetenskaplikes voorspel het. Europa het klaarblyklik ’n selfs groter osoonverlies ondervind as lande soos Nieu-Seeland, Australië en Suid-Afrika wat naby die osoon-“gat” is wat jaarliks oor Antarktika vorm. Baie mense in hierdie lande in die Suidelike Halfrond gebruik uit gewoonte sonskermmiddels omdat ’n verdunde osoonlaag meer van die son se dodelike ultraviolet-B-strale deurlaat. Volgens Engeland se Guardian Weekly raai party Britse wetenskaplikes die Britte aan om soortgelyke voorsorgmaatreëls te tref wanneer hulle sonbaai.

“Vrugbaarste moeder”

Leontina Judith Espinoza is in die Guinness Book of World Records as “die wêreld se vrugbaarste moeder” opgeteken. Volgens die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo verwag sy nou op 60 haar 74ste kind. Sy was al 35 keer swanger en het aan 73 kinders geboorte gegee, waarvan 39 drielinge en 24 tweelinge was. Die oudste van die 61 kinders wat nog lewe, is 44. “Leontina, wat in Argentinië gebore is en sedert 1963 ’n Chileense burger is”, sê die koerant, “voer ’n nederige bestaan saam met haar man en 32 kinders in ’n dorpie naby Rancagua, 90 km suid van Santiago.”

Geweld deur die pos

Die Britse tydskrif The Economist het hom onlangs sterk uitgespreek teen ’n Amerikaanse katalogus wat boeke adverteer oor hoe om ’n skrikwekkende reeks misdade uit te voer. Die katalogus bied na bewering boeke aan met onderwerpe soos: hoe om granate, bomme, myne en haelgeweermortiere te maak; hoe om met messe te veg en in kroeë te baklei; hoe om mense stil dood te maak; hoe om geld deur swendelary te verkry; hoe om slotte oop te steek en elektroniese afluisterapparate in vertrekke te plant en hoe om wapens te versteek en smokkelware deur kontrolepunte te smokkel. Die katalogus het selfs raad vir enigeen wat met die gereg deurmekaar raak omdat hulle sulke informasie gebruik. Dit het boeke oor hoe om ’n nuwe identiteit te skep, hoe om ’n leuenverklikkertoets te slaag en hoe om die wet te gebruik om die regstelsel te ontduik.

Epidemie van tjekbedrog

Volgens die koerant The Natal Witness het Suid-Afrika met die grootste epidemie van tjekbedrog in sy geskiedenis te kampe. Dit wil voorkom asof die aantal dagvaardings teen individue en sakeondernemings vir tjekbedrog die afgelope jaar met 22 persent per maand toegeneem het, van 4 600 tot 5 600. Maar hierdie syfers verteenwoordig slegs ’n deel van die probleem omdat hulle nie persone wat tjeks steel, insluit nie; buitendien skat finansiële kenners dat slegs 1 uit 4 kleinhandelaars hulle in werklikheid tot die gereg wend vir vergoeding wanneer hulle met ’n ongeldige tjek bedrieg is. Die ander aanvaar eenvoudig die verlies.

Ewigdurende sole

Wie het die grootste behoefte aan duursame skoensole? Daardie vraag is gevra na aanleiding van ’n onlangse Daedalus-rubriek in die Britse wetenskapstydskrif Nature. Dit het bespiegel oor die gebruik van sekere monomere wat teoreties kan lei tot die produsering van ’n “band wat homself versool en wat nooit sal verslyt nie”. Die tydskrif het gesê dat dit selfs hardloopskoene van sole kan voorsien wat hulleself versool as sulke tegnologie ontwikkel word! Nature merk egter op dat “die meeste hardloopskoene aan modemal televisieslawe behoort wat nie eers dikwels loop nie”. Die tydskrif het dus tot die gevolgtrekking gekom dat sulke “ewigdurende” sole nuttiger sal wees aan die “skoene van mense wat werklik hulle voete gebruik—huisvroue, verkoopsmanne en Jehovah se getuies”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel