Die Sowjetaanval op godsdiens
DIE Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke is in 1922 gevorm, met Rusland wat verreweg die grootste en prominentste van die oorspronklike vier republieke was. Dit het uiteindelik uitgebrei sodat dit 15 republieke en byna ’n sesde van die aarde se landoppervlak ingesluit het. Maar in 1991 is die Sowjetunie skielik ontbind.a Dit is betekenisvol dat dit die eerste Staat was wat geloof in God uit sy mense se verstande probeer uitwis het.
Wladimir Lenin, die eerste leier van die Sowjetunie, was ’n dissipel van Karl Marx, wat die Christelike godsdiens as ’n instrument van onderdrukking uitgebeeld het. Marx het godsdiens “die opium van die volk” genoem, en Lenin het later gesê: “Enige godsdienskonsep, enige konsep van hoegenaamd enige god, . . . is die onbeskryflikste walglikheid.”
Toe die Russies-Ortodokse patriarg Tichon in 1925 dood is, is die kerk nie toegelaat om ’n ander patriarg te verkies nie. Die aanval wat daarna op godsdiens geloods is, het daartoe gelei dat die meeste kerkgeboue óf vernietig is óf vir sekulêre gebruike omskep is. Priesters is na strafkampe gestuur, waar baie gesterf het. “Onder die bewind van Josef Stalin in die laat 1920’s en 30’s”, verduidelik die Encyclopædia Britannica, “is die kerk wreed vervolg en het duisende hulle lewe verloor. Teen 1939 kon net drie of vier Ortodokse biskoppe en 100 kerke amptelik funksioneer.”
Maar ’n merkwaardige verandering het feitlik oornag plaasgevind.
Die Tweede Wêreldoorlog en godsdiens
In 1939 het Nazi-Duitsland, wat destyds ’n bondgenoot van die Sowjetunie was, Pole ingeval en sodoende die Tweede Wêreldoorlog begin. Binne ’n jaar het die Sowjetunie die laaste 4 van sy 15 republieke by hom ingelyf—naamlik Letland, Litaue, Estland en Moldowa. Maar in Junie 1941 het Duitsland ’n massiewe aanval teen die Sowjetunie geloods, wat Stalin heeltemal onverhoeds betrap het. Teen die einde van die jaar het Duitse troepe die buitewyke van Moskou bereik, en dit het gelyk of die Sowjetunie enige oomblik sou val.
Stalin het ’n desperate poging aangewend om die volk te mobiliseer vir wat die Russe die Groot Patriotiese Oorlog genoem het. Stalin het besef dat hy toegewings aan die kerk moes maak om die volk se ondersteuning vir die oorlogspoging te wen, aangesien miljoene van hulle nog steeds godsdienstig was. Wat was die gevolg van die dramatiese verandering van Stalin se godsdiensbeleid?
Met die samewerking van die kerk is die Russiese volk vir die oorlogspoging gemobiliseer, en teen 1945 het die Sowjetunie ’n dramatiese oorwinning oor die Duitsers behaal. Nadat die Sowjetaanval op godsdiens tydelik beëindig is, het die aantal Ortodokse kerke tot 25 000 en die aantal priesters tot 33 000 toegeneem.
’n Hernieude aanval
Maar in werklikheid het die doel van die Sowjetleiers om die konsep van God uit die verstande van hulle mense uit te wis, nie verander nie. The Encyclopædia Britannica verduidelik: “’n Nuwe antigodsdienstige beweging is in 1959-64 deur die eerste minister Nikita Chroestjof begin, wat die aantal oop kerke tot onder 10 000 verminder het. Patriarg Pimen is in 1971 ná Aleksis se dood verkies, en hoewel miljoene nog steeds lojaal aan die kerk was, het die toekoms daarvan onseker gebly.”b
Later sal ons bespreek hoe die Russies-Ortodokse Kerk daarin geslaag het om die hernieude Sowjetaanval te oorleef. Maar hoe het ander godsdienste in die Sowjetunie gevaar? Watter een het die vernaamste teiken van die aanval geword, en waarom? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Die volgende 15 onafhanklike lande was voorheen Sowjetrepublieke: Armenië, Aserbaidjan, Belaroes, Estland, Georgië, Kazakstan, Kirgizstan, Letland, Litaue, Moldowa, die Oekraïne, Oesbekistan, Rusland, Tadjikistan en Toerkmenistan.
b Aleksis I was die Russies-Ortodokse patriarg van 1945 tot 1970, en sedert 1990 was dit Aleksis II.
[Prent op bladsy 3]
Lenin het ‘enige konsep van God onbeskryflik walglik’ genoem
[Erkenning]
Musée d’Histoire Contemporaine—BDIC