Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 4/22 bl. 24-27
  • Vloede in Mosambiek—Hoe Christene na slagoffers omgesien het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vloede in Mosambiek—Hoe Christene na slagoffers omgesien het
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die aanvanklike skade word vasgestel
  • Die situasie versleg
  • Die Getuies se vlugtelingkamp
  • Afgesonderde broers word opgespoor
  • Volgehoue sorg word voorsien
  • Iets wat geen storm kon wegspoel nie
    Ontwaak!—2003
  • God is ons helper
    Ontwaak!—1999
  • Liefde lei tot ’n hegter band van eenheid
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Mianmar se sikloonslagoffers ontvang hulp
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 4/22 bl. 24-27

Vloede in Mosambiek—Hoe Christene na slagoffers omgesien het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MOSAMBIEK

VROEG verlede jaar was televisiekykers verstom oor beeldmateriaal van mense in Mosambiek wat aan boomtakke vasgeklou het terwyl vloedwaters hulle bedreig het. ’n Vrou het in ’n boom geboorte gegee, en mense het gesien hoe sy saam met haar baba opgehys en na veiligheid geneem is. Maar duisende was dae lank gestrand—party saam met slange—totdat die water gesak het of hulle deur helikopters gered is.

Die tragedie het begin met stortreën in Mosambiek se hoofstad, Maputo. Binne ure was woongebiede heeltemal oorstroom. Op party plekke het water tot by die dakke van huise gestyg. Paaie het in bruisende riviere verander. Groot slote het gevorm, en huise, motors en omtrent enigiets is weggespoel. Maar die ergste het nog voorgelê.

Die reën het voortgeduur en die hele suidelike deel van die land oorstroom. Reën het ook in die naburige Suid-Afrika, Zimbabwe en Botswana uitgesak. Omdat die Incomati-, Limpopo- en Zambezirivier van hierdie lande af deur Mosambiek na die see vloei, is uitgestrekte gebiede van Mosambiek verwoes toe hierdie riviere hulle walle oorstroom het. Hoe Christene gedurende hierdie ramp na mekaar omgesien het, is ’n geloofversterkende verhaal.

Die aanvanklike skade word vasgestel

Op 9 Februarie verlede jaar het twee verteenwoordigers van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Maputo vertrek om die noorde te besoek. Ongeveer nege-uur die oggend het hulle verby die stad Xinavane gegaan, waar die vlak van die Incoluanerivier baie hoog was. Hulle het besluit om tot by Xai-Xai, die hoofstad van die provinsie Gaza, te gaan. Hulle het egter opgemerk dat daar naby die stad Chókwè, waar die ergste vloede gewoonlik gedurende storms voorkom, geen tekens van probleme was nie. Daarom het hulle besluit om na Maputo terug te keer.

Maar met hulle terugkeer na Xinavane is hulle by ’n polisieversperring voorgekeer. “Die vloedwaters van Suid-Afrika het ons bereik en die nasionale pad oorstroom”, het die polisie gewaarsku. “Busse en vragmotors kan nie die pad oorsteek nie.” Dieselfde deel van die pad wat hulle in die oggend oorgesteek het, was nou heeltemal onder water! Aangesien riviere verder noord ook besig was om te styg, was die gebied van die res van die land afgeskei.

Die twee het besluit om die nag in die nabygeleë Macia deur te bring. Gedurende daardie nag het die situasie vererger. Die hele stad Xinavane is oorstroom, en die mense daar het alles verloor. Reëlings is getref om Getuies in die gebied te help om na ’n Koninkryksaal in Macia te gaan, waar ’n tydelike vlugtelingkamp opgerig is. Getuies het onmiddellik na winkels toe gegaan en basiese artikels soos rys, boontjies, meel en olie gekoop.

Daarna het hulle hulle aandag toegespits op mede-Christene in Chókwè en die nabygeleë stede. Die opsieners in gemeentes in Chókwè het byeengekom en gereël dat almal hulle huise ontruim. Die boodskap is versprei: “Vertrek onmiddellik, en gaan na Macia toe!” Daar is egter gou vasgestel dat baie van Xinavane nie daar opgedaag het nie. Getuies is dus gestuur om te gaan kyk wat aangaan. Hulle het ook verneem dat ’n Christen- ouer man in sy huis verdrink het. Sy begrafnis is gereël, en die res van die Getuies, party bo-op dakke, is opgespoor en gehelp om na Macia toe te gaan.

Nadat hierdie reëlings getref is, het die verteenwoordigers van die tak na Bilene gegaan, ’n dorpie langs die kus, waar hulle ’n vliegtuig na Maputo gehuur het. So ver as wat hulle uit die lug kon sien, was die streek oorstroom. Daar is berig dat 600 000 mense in net die provinsie Gaza getref is.

Die situasie versleg

Gedurende die volgende paar dae het die reën toegeneem, en die provinsies in die sentrale deel van Mosambiek is ook verwoes. Toe het ’n geweldige tropiese sikloon met die naam Eline gevorm. Op 20 Februarie het die sikloon verwoestende reën op die provinsies Inhambane, Sofala en Manica laat val. Dit het tot nog oorstromings, sterftes en verwoesting gelei.

Toe, aan die einde van Februarie, is die stad Chókwè en die hele omliggende streek oorstroom soos daar nog nooit vantevore gesien is nie. Om en by middernag op Saterdag, 26 Februarie, het vloedwaters skielik verskyn en alles in die pad daarvan weggespoel. “Ons is deur ’n buurvrou wakker gemaak wat deur die venster geskreeu het”, vertel Luis Chitlango, ’n 32-jarige Getuie.

Chitlango het verduidelik: “Toe ons uit die bed spring, kon ons die harde gedreun van die water hoor. Terwyl ons gevlug het, het ons baie slange teëgekom. Teen sesuur het ons hoërliggende grond bereik, maar later die oggend toe die vloedwaters aan al die kante gestyg het, moes ons in die bome klim. Ons groepie het uit 20 mense bestaan.

“Die mans het eers in die bome geklim. Daarna het die vroue die kinders vir hulle aangegee, en hulle is aan die boomtakke vasgemaak. Die vroue het dan met hulle babas gevolg. Elke nou en dan het ons uit die bome geklim en na grondboontjies in die grond onder die water gesoek, wat ons geweet het in die gebied groei.

“Ná drie dae is daar besluit dat ons almal na Chókwè moes loop. Die water het tot by ons bors gekom, en ons het teen sterk strome gesukkel. Langs die pad het ons baie mense in bome en op huise se dakke gekry. Die volgende dag het die vloedwaters genoeg gesak sodat vragmotors die stad kon bereik en mense na Macia kon neem.”

Die Getuies se vlugtelingkamp

Op 4 Maart het die takkantoor van Jehovah se Getuies ’n vliegtuig gehuur waarmee verteenwoordigers na die rampgebied gevlieg is. ’n Groot deel van die bevolking het na Macia toe gevlug, wat in ’n ontsaglike kamp vir vlugtelinge verander is. Talle vloedslagoffers het griep gehad en aan ondervoeding, malaria en ander kwale gely.

Dit het soos ’n slagveld gelyk. Helikopters wat deur verskeie lande gestuur is, het die lug bo die stad deurkruis en op tydelike landingsterreine geland om voorrade af te laai. Toe die Getuies se noodlenigingspan in Macia opdaag, het hulle nie net reëlings getref om slagoffers van kos te voorsien nie, maar ook ’n sieke-afdeling opgerig. Hulle het egter eers die toestemming van die plaaslike owerheid gekry, wat hulle vir hulle inisiatief geprys het.

Daar is elke oggend in die Getuiekamp, wat byna 700 Getuies en ander gehuisves het, ’n Bybelteks om 6:30 vm. bespreek. Wanneer die kos gereed was wat deur Christensusters voorberei is, is die name van familiehoofde uitgeroep. Elkeen het met sy vingers gewys hoeveel borde hy nodig gehad het, en dan is die kos vir hulle gegee.

Die lewe in die kamp was in elke opsig goed georganiseerd. Party mense moes die kos gaan koop; en ander moes die drinkwater skoonhou, toilette skoonmaak, en so meer. Die goeie organisasie het nie ongemerk by staatsamptenare verbygegaan nie, wat gesê het: ‘Dit is die moeite werd om hier te wees. Niemand ly honger nie, en daar is geen gestryery nie.’ ’n Plaaslike amptenaar het gesê: ‘Almal moet na die kamp van die Getuies gaan kyk om te sien hoe dinge moet werk.’

Op ’n dag het die noodlenigingskomitee die Christen- ouer manne bymekaargeroep en hulle ingelig dat die takkantoor reëlings getref het om huise en Koninkryksale te herbou sowel as om ander basiese benodigdhede aan vloedslagoffers te voorsien. Die volgende oggend gedurende die bespreking van die dag se Bybelteks is hulle van hierdie reëlings in kennis gestel. Die broers het lank handegeklap.

Selfs al het die owerheid twee groot tente geskenk, het baie in die kamp nog steeds in die buitelug geslaap. ’n Span is dus onder die vloedslagoffers georganiseer om ’n groot Koninkryksaal te bou op die stuk grond wat aan die plaaslike gemeente behoort het. Dit is gebou van riete en sinkplate—Mosambiekse styl—om 200 mense te huisves. Dit is in net twee dae voltooi!

Afgesonderde broers word opgespoor

Intussen, op 5 Maart, nadat die vloedwaters ietwat gesak het, is ’n noodlenigingspan gevorm om na die stad Aldeia da Barragem te gaan, in een van die eerste gebiede wat deur die vloed getref is. Daar was ’n gemeente van ongeveer 90 Getuies, en niks is van hulle gehoor nie.

Op pad soontoe het die span verby Chihaquelane gegaan, ’n groot vlugtelingkamp met ongeveer 100 000 mense. Aan weerskante van die pad, wat op party plekke weggespoel is, is die gebied so ver as wat die oog kon sien, oorstroom. ’n Lid van die span het gesê: “Toe ons in Chókwè aankom, het ’n verlate toneel ons begroet. Waar die stad begin, het baie huise nog steeds water tot by hulle dakke gehad. Die meeste van die huise het onder die vloedwaters verdwyn. Dit het donker begin word, en ons moes nog 25 kilometer verder gaan voordat ons Aldeia da Barragem sou bereik.”

Die span het hulle bestemming uiteindelik gedurende die nag bereik. ’n Lid van die span vertel: “Ons het gestop en gewonder wat om volgende te doen.” Toe het mense verskyn en geskreeu: “Broers!” en almal het hard en lekker gelag. Toe hulle die ligte van die twee motors gesien het, het die plaaslike Getuies onmiddellik gedink dat dit dalk hulle broers kon wees, en hulle het dit vir ander vertel. Diegene wat dit gesien het, was baie beïndruk en het gesê: ‘Hierdie mense betoon werklik liefde. Hulle bring kos en kom kuier selfs!’

Volgehoue sorg word voorsien

Die broers van Aldeia da Barragem is gehelp om die kamp in Macia te bereik, waar hulle kos, slaapplek en mediese behandeling gekry het. Die situasie in Macia het intussen kritiek begin raak. Kos, medisyne en brandstof was skaars, aangesien dit met vliegtuie gebring is. Dit was dringend nodig om weer tot Maputo toegang te hê. Dit is op 8 Maart gedoen.

Die groot stad Xai-Xai was heeltemal oorstroom. Die sentrale deel was op party plekke tot drie meter onder water! Die Getuies het ’n noodlenigingskomitee gevorm om daar vir hulle broers te sorg. Daarbenewens is komitees georganiseer om na behoeftiges in die provinsie Sofala en Manica om te sien.

Noodlenigingsvoorrade het van Getuies in ander lande gekom. Die Suid-Afrikaanse takkantoor het byvoorbeeld gereël dat tonne klere, komberse en ander artikels soontoe gestuur word. En die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, in Brooklyn, New York, het fondse beskikbaar gestel om vir diegene te sorg wat deur die ramp getref is.

Toe die vloedwaters genoeg gesak het en daar bepaal is wie hulle huise verloor het, het die werk begin om huise en Koninkryksale te herbou. ’n Komitee is gestig om oor die herbouingswerk toesig te hou, en hulle is deur tientalle vrywilligers ondersteun wat onmiddellik aan die werk gespring het. Sedertdien is meer as 270 huise sowel as ten minste vyf Koninkryksale herbou.

Toe die eerste huise, wat deur vrywillige Getuies gebou is, vorm begin aanneem het, het mense dit opgemerk. Een buurvrou het gesê: ‘Julle aanbid ’n lewende God. Ons herders vergeet hulle skape wat swaarkry. Maar julle kry hierdie pragtige huise.’ In hierdie gebiede was baie ontvanklik vir die Koninkryksboodskap wat deur Jehovah se Getuies verkondig word, en verskeie Bybelstudies is al begin.—Matteus 24:14; Openbaring 21:3, 4.

Hoewel baie Getuies al hulle materiële besittings verloor het, het niemand sy geloof verloor nie. Hulle geloof in Jehovah God en in hulle wêreldwye gemeenskap van medegelowiges is eerder versterk. Hulle is dankbaar teenoor hulle liefdevolle internasionale broederskap, wat onmiddellik op hierdie verskriklike ramp gereageer het. Hulle het op ’n persoonlike manier Jehovah se tere sorg en beskerming ervaar, en hulle sal altyd die Bybelse uitdrukking onthou: “Jehovah is groot.”—Psalm 48:1, NW.

[Prent op bladsy 24, 25]

Modderige water het die stad Xai-Xai oorstroom

[Prent op bladsy 25]

Noodlenigingsvoorrade word met vliegtuie gebring

[Prent op bladsy 26]

Die Getuies se noodlenigingspan het ’n sieke-afdeling opgerig

[Prent op bladsy 26]

Nuwe huise word nog steeds gebou

[Prent op bladsy 26]

Die grootste vlugtelingkamp het 100 000 mense gehuisves

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel