Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 8/8 bl. 10-15
  • Iets wat geen storm kon wegspoel nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Iets wat geen storm kon wegspoel nie
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gewillige hande in Duitsland
  • Oostenryk—vinnige reaksie op die ramp
  • Isidore tref Mexiko
  • ’n Tifoon tref Korea
  • Liefde lei tot ’n hegter band van eenheid
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Christelike liefde te midde van rampe in Mexiko
    Ontwaak!—1996
  • Die noodlenigingsbediening
    God se Koninkryk regeer!
  • Jehovah se reddingsdade vandag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 8/8 bl. 10-15

Iets wat geen storm kon wegspoel nie

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKERS IN DUITSLAND, OOSTENRYK, MEXIKO EN KOREA

GEDURENDE die jaar 2002 het die weer in baie lande rampe veroorsaak. Die een verwoestende oorstroming na die ander het Europa getref. In ander wêrelddele is Mexiko deur ’n vernietigende orkaan getref en Korea deur ’n tifoon. Hoewel hierdie gebeure tragies was, het dit die bande van liefde onder ware Christene versterk.

Ná die oorstromings in 2002 in Europa is die voormalige kanselier van Wes-Duitsland, Helmut Schmidt, gevra watter soort hulp slagoffers nodig het. Hy het geantwoord: “Mense het kos, blyplek, ’n bietjie kontant en geestelike sorg nodig.” Jehovah se Getuies het ’n groot rol daarin gespeel om stormslagoffers fisies en geestelik te help. Dink byvoorbeeld aan die noodlenigingswerk wat hulle in Duitsland, Oostenryk, Mexiko en Korea gedoen het.

Gewillige hande in Duitsland

Toe die gevaar van die naderende vloedramp bekend geword het, het baie van Jehovah se Getuies in Duitsland die algemene publiek gehelp om voorsorgmaatreëls teen die vloedwater te tref. Die 19-jarige Kathleen, wat in Dresden bly, sê: “Ek kon nie net sit en niks doen nie. Toe ek hoor dat party mense die gevaar loop om alles te verloor, moes ek eenvoudig gaan help.”

Duitse Getuies het reëlings begin tref om gou doeltreffende bystand te verleen. As Christene het hulle gevoel dat hulle ’n spesiale verpligting het om hulle geestelike broers en susters te help. Maar hulle het ook aan hulle naaste liefde betoon (Markus 12:31). Meer as 2 000 vrywilligers is dus in spanne van tussen 8 en 12 verdeel, en elke groep het ’n spesifieke taak in die rampgebied gekry. By die takkantoor van Jehovah se Getuies in Selters, Duitsland, is 13 telefoonlyne oopgehou om duisende oproepe te ontvang van mense wat oor die ramp navraag gedoen en hulp aangebied het.

Ronnie en Dina is voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies, wat hulle tyd daaraan bestee om vriende en bure te help om Bybelwaarhede te leer. Toe hulle van die naderende vloedwater hoor, het hulle eers na die middestad van Dresden gegaan om te help met die naarstige pogings om die geskiedkundige geboue te red. Nadat die vloedwater gesak het, het Ronnie en Dina saam met ander Getuies begin werk om die Koninkryksaal in Freital, wat deur vuil water oorstroom is, skoon te maak. Die groep het toe hulle bure begin help. Die eienaar van ’n restaurant oorkant die saal het gesug van verligting toe die Getuies die puin en modder uit sy kelder en grondverdieping verwyder het.

Siegfried en Hannelore woon in Colmnitz, ’n dorpie sowat 40 kilometer suidwes van Dresden. Die spruit wat gewoonlik deur die dorpie loop, het ’n sterk vloeiende rivier geword wat hulle huis en tuin oorstroom het. Nadat die water gesak het, was die bure verbaas om te sien dat omtrent 30 Getuies, vreemdelinge in die gebied, opdaag om Siegfried en Hannelore se huis te help skoonmaak. Daarna het die groep die bure se tuine begin skoonmaak. Verskeie mense in die dorp het gevra wat hulle beweeg het om 100 kilometer ver te reis om mense te help wat hulle glad nie ken nie. Die Getuies kon toe die slagoffers in Colmnitz geestelik aanmoedig.

Die buitewyke van die dorp Wittenberg is ook deur die oorstromings getref. ’n Getuie-egpaar, Frank en Elfriede, het etlike dae voor die oorstroming saam met hulle bure gewerk om sandsakke vol te maak en op mekaar te pak om die rivieroewers te versterk. Nadat die vloedwater gesak het, het Frank en Elfriede die slagoffers besoek om vir hulle kos te neem en vertroosting te bied. Frank vertel: “Een dame wat ons besoek het, kon nie glo dat ons, as vreemdelinge, vir haar ’n ete gebring het sonder om geld te vra nie. Sy het vir ons gesê dat niemand van haar kerk haar besoek het nie. En die organisasie wat vir haar etes gebring het, het haar elke keer geld gevra. Die mense was verbaas om Jehovah se Getuies met ’n warm bord kos in die hand te sien, en nie met Bybellektuur nie.”

Oostenryk—vinnige reaksie op die ramp

Vloedwater het ook in die buurland Oostenryk verwoesting aangerig. Drie komitees is aangestel om oor die noodlenigingswerk toesig te hou. Voorkeur is gegee aan die herstel van drie Koninkryksale wat erg beskadig is. Nagenoeg 100 Getuiegesinne is ook deur die oorstromings geraak, en 50 huise is oorstroom. Party het alles verloor behalwe die klere wat hulle aangehad het. Die takkantoor in Oostenryk het die plaaslike gemeentes omtrent die situasie ingelig, en ’n noodlenigingsfonds is gestig. Teen September is meer as R275 000 bygedra.

Een ma het geskryf: “My agtjarige seuntjie werk baie versigtig met geld en het omtrent R115 gespaar. Maar toe hy hoor dat van ons broers al hulle besittings verloor het, was hy gewillig om al sy spaargeld tot die rampfonds by te dra.”

Onder leiding van Streekboukomitees (SBK), wat gewoonlik oor die bou van Koninkryksale van Jehovah se Getuies toesig hou, is spanne georganiseer om huise te help herstel wat deur die oorstromings beskadig is. “Koerante behoort verslag te lewer oor wat julle hier doen”, het een waarnemer gesê. Party het selfs hulle siening van Jehovah se Getuies verander. “Tot nou toe”, sê een Getuie-ouer, “het my kinders, wat nie Getuies is nie, geweier om na my te luister wanneer ek met hulle oor my geloof probeer praat het. Maar nou luister hulle vir die eerste keer!”

’n Poging is ook aangewend om baie te help wat nie Getuies is nie. Byvoorbeeld, een vrou was diep getref toe ’n Getuie om 7:30 vm. na haar huis toe gekom en gevra het of sy hulp nodig het. Die vrou moes na veiligheid gebring word, aangesien die water reeds in haar huis begin inloop het. Maar toe sy terugkeer, het sy ’n nota van die Getuies op haar tuinhekkie gekry. Dit het gesê: “As jy hulp nodig het, moet jy ons dadelik laat weet.” Die Getuies het haar gehelp om die modder en puin uit haar huis en van haar erf af te verwyder.

’n Span van 100 Getuies het na die dorpsgebied van Au gegaan om die plaaslike Getuies en hulle bure te help. Spanleiers het van deur tot deur gegaan en die inwoners gevra of hulle hulp nodig het. Mense was verbaas om te sien hoe die Getuies met toerusting soos pompe, besems en grawe opdaag om die huise skoon te maak en die water te verwyder. Werk wat huiseienaars gewoonlik ’n week sou neem om te doen, was binne ure klaar. Mense het met trane in hulle oë gestaan en toekyk.

Ongeveer 400 plaaslike Getuies was betrokke by die noodlenigingswerk—en hulle het dikwels dag en nag gewerk. Vir waarnemers was dit ’n treffende bewys van die krag van ware Christelikheid.

Isidore tref Mexiko

Isidore het as ’n tropiese storm noord van Venezuela begin. Op 22 September 2002 het Isidore Mexiko se Yucatan-skiereiland as ’n kategorie-3-orkaan getref. Met winde van 190 kilometer per uur en swaar reën het dit van die ergste skade in die geskiedenis van die Mexikaanse state Yucatan en Campeche aangerig, sowel as skade in die staat Quintana Roo. In Yucatan alleen is ongeveer 95 000 huise erg beskadig, wat sowat 500 000 mense geraak het.

Jehovah se Getuies het so ’n belangrike rol in noodlenigingspogings in Yucatan gespeel dat ’n koerantopskrif in noordelike Mexiko gesê het: “Jehovah se Getuies snel slagoffers te hulp.” Voordat die storm die gebied bereik het, is ’n noodlenigingskomitee gestig. Noodreëlings is getref om ’n paar honderd plaaslike Getuies te huisves. Nabygeleë gemeentes het geld tot die noodlenigingsfonds bygedra. Klere, medisyne en meer as 22 ton kos is uitgedeel aan diegene wat die storm oorleef het, insluitende baie wat nie Getuies is nie. Plaaslike ouere manne is aangewys om slagoffers van Isidore te besoek en aan te moedig.

Ná die storm is plaaslike noodlenigingskomitees gestig om vermiste Getuies te help opspoor. Baie was tot drie dae lank sonder kos of drinkwater in die bos en op ander plekke afgesny. In party gebiede het die water hoër as die lamppale gestyg! Daarom is motorbote bekom en gebruik om na slagoffers te soek, vir hulle kos te neem en hulle na veiliger gebiede te bring.

Plaaslike owerhede het bote en ander toerusting geleen aan die Getuies, wat aangebied het om te help in gebiede waarheen min mense dit gewaag het om te gaan. Aanvanklik wou ’n leëroffisier die Getuies nie toelaat om so ’n gevaarlike soektog te onderneem nie. Maar toe hy hulle vasbeslotenheid sien, het hy gesê: “Ek is oortuig dat julle met helikopters sal gaan, indien nodig, om julle mense te red. Ons voertuie is beskikbaar om julle te neem waarheen julle ook al wil gaan.”

Een winkeleienaar wou weet waarom party Getuies soveel gebottelde water koop. Hulle het verduidelik dat dit vir hulle geestelike broers is, asook vir ander wat dit nodig het. Die man het besluit om al die gebottelde water wat hy gehad het, vir hulle te gee—verniet. Die volgende dag het hy nog ’n klomp water geskenk. By ’n ander winkel het ’n klant vir die Getuies gevra waarom hulle soveel kos koop. Toe hy hoor dat dit vir die vloedslagoffers is, het hy vir hulle ’n bydrae gegee om nog te koop.

Hoewel amper 3 500 Getuiegesinne materiële verliese as gevolg van Isidore gely het, is nie een van Jehovah se Getuies vermis of dood nie. Maar aangesien 331 huise van Getuies beskadig of vernietig is, was ’n herbouingsprogram nodig. Getuies met ondervinding in die boubedryf het elke huis en Koninkryksaal besoek om die omvang van die skade te bepaal. Tot op hede is sowat 258 huise herstel en 172 nuwes gebou om dié wat vernietig is, te vervang. Die 19 beskadigde Koninkryksale word ook tans herbou.

’n Ouer man in ’n gemeente in die staat Yucatan is beweeg om te sê: “Ek het in ons publikasies gelees van die noodlenigingswerk wat in ander lande gedoen word. Maar om dit self te ondervind, is iets heeltemal anders. My geloof sowel as dié van baie broers is versterk deurdat ons gesien het hoe vinnig en met watter besorgdheid Jehovah se organisasie en ons geliefde broers ons te hulp snel.”

Een vrou het gesê: “Ek sou daarvan gehou het as my kerk mense gehelp het soos Getuies gedoen het.” En ’n ander vrou, wat deur die Getuies gered is, het gesê: “Danksy die pogings van Jehovah se Getuies is ons nie dood nie. Hulle het hulle liefde betoon deur hulle lewens te waag om ons te red toe ons huis onder water was.”

’n Tifoon tref Korea

Op 31 Augustus en 1 September 2002 het Tifoon Rusa oral in Korea groot verwoesting aangerig. Song-pil Tsjo, ’n gemeentelike ouer man, het gesê: “Dit het gevoel asof ons onder ’n stort staan. En dit het net aanhou reën en reën en reën.” Meer as 870 millimeter reën het in minder as 24 uur geval—die swaarste neerslag wat nog ooit in een dag daar opgeteken is.

Volgens The Korea Herald was 28 100 huise en 85 000 hektaar landbougrond regoor die land onder water. Sowat 70 000 mense moes noodgedwonge die gebied verlaat. Die tifoon het 301 000 stuks vee gedood, 126 skepe laat sink en honderde elektriese kragpale omgewaai. Meer as 180 mense is as dood of vermis aangemeld. Onder hulle was twee van Jehovah se Getuies.

Net soos in Europa en Mexiko het Jehovah se Getuies vinnig gereageer. Bydraes van Getuies het van regoor die land ingestroom. Dit het klere, komberse en ander noodsaaklikhede ingesluit. Party gemeentelede het egter in gebiede gewoon wat afgesny was. Paaie is vernietig en brûe is weggespoel. Daar was geen elektrisiteit of telefoondiens nie. Spanne is dus georganiseer om te voet daarheen te gaan en die nodige hulp te verleen. Song-pil Tsjo, wat saam met een van die noodlenigingspanne gewerk het, beskryf een gebied waar hulle gehelp het: “Sewe brûe en groot dele van die pad is weggespoel. Toe ons uiteindelik die dorp bereik, was baie van die huise beskadig en verwoes. Dit het vreeslik gestink, en daar het oral dooie diere gelê. Maar hoe verheug was ons tog toe ons ons ses Christenbroers en -susters ontmoet! Hulle het hulle materiële besittings verloor, maar hulle was almal veilig.”

Jehovah se Getuies was eintlik goed voorbereid op hierdie ramp. Aangesien oorstromings gedurende die moesonseisoen nie ongewoon is nie, het hulle SBK in die Seoel-gebied reeds vroeër voorbereidings vir toekomstige noodleniging begin tref. Van 1997 af het hulle jaarlikse oefensessies gehou sodat vrywilligers gereed kon wees om in ’n noodgeval te reageer.

Op 2 September het die SBK se noodlenigingswerkers in die stad Kangnoeng aan die ooskus aangekom en die plaaslike Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies as hoofkwartier gebruik. Wat was hulle eerste prioriteit? Om skoon water by die oorlewendes te kry. Tydens hewige oorstromings word waterpype gewoonlik beskadig; vloedwater is baie besoedel. Die SBK het gereël dat tenkvragmotors vol water na die geteisterde gebiede gestuur word.

Ná oorstromings is alles oortrek met stinkende, dik modder. ’n Doeltreffende skoonmaakmetode is nietemin ontwikkel. Aangesien amper al die huise se mure gepleister is, kan die kamers skoongemaak word deur die muurpapier en linoleum af te trek en dit dan met hoëdrukwater af te spuit.

Oorstromings maak die meeste elektriese toestelle onbruikbaar. Maar as toestelle soos yskaste en verwarmingsketels deur gekwalifiseerde elektrisiëns uitmekaargehaal, goed skoongemaak, drooggemaak en weer aanmekaargesit word, sal dit in die meeste gevalle nog steeds werk. Die SBK is georganiseer om hierdie soort werk te doen. Die verwarmingsketels wat nie vervang hoef te word nie, word gebruik om die huise droog te maak. Hierdie proses duur tussen twee en drie weke.

Vloedbeskadigde klere en komberse moet ook binne ’n paar dae deeglik gewas word as ’n mens dit weer wil gebruik. Vrywilligers van ’n plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies het gehelp om die vuil besittings van hulle Christenbroers bymekaar te maak. Dit was moeilik om die modder uit hierdie klere te was—en hulle moes dit met die hand in ’n yskoue spruit was. Nadat ’n koerantverslaggewer van hierdie liefdeswerk gehoor het, het ’n groot foto van die Getuies wat die werk doen, in die plaaslike koerant verskyn.

Die verwoestende oorstromings in Europa, Noord-Amerika en Asië het huise, besittings en tallose onskuldige menselewens weggespoel. Hoewel sulke gebeure tragies is, is dit algemeen gedurende die “laaste dae” van hierdie stelsel van dinge, wat gekenmerk word deur “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Sulke rampe kan ook ’n treffende herinnering wees aan hierdie feit: Ware Christene het liefde vir mekaar en vir hulle naaste. Hierdie onselfsugtige liefde is iets wat geen storm kan wegspoel nie.

[Prent op bladsy 10]

DUITSLAND—’n Huis wat deur die storm verwoes is

[Prente op bladsy 11]

DUITSLAND—Meer as 2 000 vrywilligers het gou hulp verleen

[Prente op bladsy 12]

OOSTENRYK—’n Koninkryksaal in Ottensheim word herstel

Links: ’n Span vrywilligers keer terug van Au, waar hulle die plaaslike Getuies en hulle bure gehelp het

[Prente op bladsy 13]

MEXIKO—Regs: ’n Noodlenigingskomitee voorsien drinkwater aan mense wat die storm oorleef het

Onder: ’n Nuwe huis word gebou

[Prente op bladsy 15]

KOREA—Van links na regs: ’n Oorstroomde deel van die stad; mure word met hoëdrukwater afgespuit; klere word in ’n nabygeleë spruit gewas

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel