Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 5/8 bl. 22-23
  • Tsjerrapoendsji—Een van die natste plekke op aarde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tsjerrapoendsji—Een van die natste plekke op aarde
  • Ontwaak!—2001
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat het van al die water geword?
    Ontwaak!—2001
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
  • Wees dankbaar vir die reën
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Waarom die reënwoude red?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 5/8 bl. 22-23

Tsjerrapoendsji—Een van die natste plekke op aarde

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

EEN van die natste plekke op aarde? Maar hoe kan dit wees? Waterskaarstes is redelik algemeen hier in Indië, en die meeste van die tyd het jy nie eers ’n sambreel nodig nie! Watter interessante plek beskryf ons? Tsjerrapoendsji—’n dorp in Meghalaja, ’n noordoostelike staat van Indië, wat aan Bangladesj grens. Omdat Meghalaja so mooi is, is dit al “die Skotland van die Ooste” genoem. Die naam beteken “woning van die wolke”. Maar waarom word Tsjerrapoendsji al lank as een van die natste plekke op aarde beskou? Kom ons gaan op ’n kort uitstappie na hierdie interessante natuurwonder.a

Ons begin ons reis in Shillong, die hoofstad van die staat Meghalaja. Ons klim op ’n toerbus en reis suidwaarts. Terwyl ons verby golwende heuwels en uitgestrekte grasvelde ry, sien ons die saamgepakte wolke voor ons, wat ons onmiddellik daaraan herinner dat die naam Meghalaja gepas is.

Die pad klim en kronkel al langs die rand van ’n diep kloof wat toegegroei is met bome. Watervalle tuimel van ’n ontsaglike hoogte af en voed die rivier wat deur die vallei vloei. Toe die bus in Mawkdok stilhou, sien ons hoe wolke laag tussen die heuwels deur beweeg. Skielik word ons uitsig belemmer deur die wolke, wat dan net so vinnig lig sodat alles weer duidelik sigbaar is. Ons word ook vir net ’n oomblik deur die wolkmassa omring en raak verlore in ’n sagte wit kombers van onsigbaarheid. Maar die wolke waai gou weg, en die son verlig die asemrowende uitsig.

Tsjerrapoendsji is 1 300 meter bo seevlak. Wanneer ons die dorp bereik, is daar nie ’n reënwolkie in sig nie, en niemand dra ’n sambreel nie. Net ons as besoekers is gereed vir ’n stortbui! Wanneer val die reën dan?

Tropiese gebiede kry swaar neerslae wanneer die son ’n groot hoeveelheid water uit die warmer dele van die oseane laat verdamp. Wanneer vogbelaaide winde van die Indiese Oseaan teen die suidelike hange van die Himalajas waai en opwaarts gedwing word, veroorsaak dit stortreëns. Die Meghalaja-plato is ’n groot opvanggebied. Aangesien die tropiese son boonop gedurende die dag met sy volle krag op hierdie hoogliggende gebied skyn, lyk dit of die reënwolke styg en bo die plato hang totdat die lug teen die aand se kant afkoel. Dit verduidelik moontlik waarom die meeste reën gedurende die nag val.

Gedurende Julie 1861 het Tsjerrapoendsji ’n verstommende 9 300 millimeter reën gehad! En 26 460 millimeter reën het gedurende die tydperk van 12 maande vanaf 1 Augustus 1860 tot 31 Julie 1861 geval. Deesdae reën dit gemiddeld 180 dae per jaar in Tsjerrapoendsji. Neerslae is die swaarste vanaf Junie tot en met September. Aangesien die meeste reën gedurende die nag uitsak, kan besoekers hulle besigtigingstoer geniet sonder om papnat te reën.

Met soveel reën is dit moeilik om te glo dat daar ooit in hierdie streek ’n waterskaarste kan wees. Tog is dit gedurende die wintermaande dikwels die geval. Wat word van al die moesonreën? Weens uitgebreide ontbossing net buite Tsjerrapoendsji stroom die meeste reën van die hoë plato af en maak dit die riviere op die vlaktes vol, wat hoofsaaklik na Bangladesj vloei. Projekte word oorweeg om strome op te dam en opgaardamme te bou. Maar volgens die stamkoning van Mawsynram, G. S. Malngiang, is nog “geen ernstige pogings aangewend om die waterprobleem op te los nie”.

Die besoek aan Tsjerrapoendsji was voorwaar opwindend en leersaam. Watter asemrowende natuurskoon bied hierdie plek tog! En daar is pragtige blomme, insluitende ongeveer 300 orgideesoorte en ’n unieke spesie van die vleisetende bekerplant. Boonop is daar ’n groot verskeidenheid natuurlewe om te bewonder, en daar is kalksteengrotte om te verken en megaliete om te ondersoek. Die gebied se uitgebreide lemoenboorde lewer hierdie sappige vrug en maak ook die natuurlike vervaardiging van heerlike lemoenheuning moontlik. Dit alles wag op besoekers aan Meghalaja, die “woning van die wolke”, en aan Tsjerrapoendsji, een van die natste plekke op aarde.

[Voetnoot]

a Die berg Waialeale op die Hawaise eiland Kauai en Mawsynram—’n dorpie ongeveer 16 kilometer van Tsjerrapoendsji af—het al soms ’n hoër gemiddelde reënval as Tsjerrapoendsji gehad.

[Kaart op bladsy 22]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

INDIË

Tsjerrapoendsji

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 23]

Watervalle voed die rivier wat deur die vallei vloei

[Prent op bladsy 23]

Hierdie spesie van die vleisetende bekerplant kom net in hierdie uithoek van die aarde voor

[Erkenning]

Photograph by Matthew Miller

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel