Ons beskou die wêreld
Moet godsdiensgeskiedenis ’n skoolvak word?
In ’n onlangse meningsopname wat deur die koerant Le Monde en die tydskrif Notre Histoire gedoen is, het net 57 persent van die Franse gesê dat hulle ten gunste van godsdiensgeskiedenis as vak in staatskole is. “Dit is opmerkenswaardig dat al hoe meer daarteen beswaar maak”, sê Notre Histoire. “Dit toon dat mense óf skepties is teenoor proselitisme óf verkies dat ’n skool geen godsdiensonderrig gee nie.” Die paradoks is dat die meeste mense meen dat sulke vakke verdraagsaamheid onder leerlinge sal bevorder. Volgens die meningsopname is Islam, met viermiljoen volgelinge, nou die grootste godsdiens naas Katolisisme in Frankryk, terwyl Protestante, Jode, Boeddhiste, Ortodokse Christene en Jehovah se Getuies ook deel uitmaak van die land se “godsdiensverskeidenheid”.
Die verspreiding van infeksies
“Aansteeklike siektes kan van persoon tot persoon oorgedra word deur eenvoudig ’n kraan oop te draai of die telefoon op te tel”, sê The Guardian van Londen. Volgens wetenskaplikes by die Universiteit van Arizona, Tucson, VSA, kan iemand met ’n kwaai verkoue wat sy neus blaas en dan ’n kraan oopdraai, “meer as 1 000 virusse op die handvatsel” agterlaat. Baie hiervan kan die volgende persoon besmet wat aan die kraan raak, veral as hy dan aan sy mond, neus of oë raak. Toetse waarby ’n bakterie en ’n bakteriese virus betrokke was, het getoon dat “gehoorbuise 39% van die bakterieë en 66% van die virusse oorgedra het, terwyl krane onderskeidelik 28% en 34% oorgedra het”. Meer as ’n derde van hierdie patogene sal oorgedra word as ’n mens met ’n besmette vinger aan jou onderlip raak. Siektes wat deur rotavirusse veroorsaak word en diarree wat deur salmonella veroorsaak word, kan maklik op hierdie wyse deur ongewaste hande oorgedra word.
Oplossing vir sprinkaanplaag
“’n Leër van 700 000 eende en hoenders is spesiaal opgelei om China se grootste sprinkaanplaag in 25 jaar te help bestry”, berig The Daily Telegraph van Londen. In die somer van 2000 het swerms sprinkane 1,6 miljoen hektaar gesaaides in die noorde en ooste van die land en 3,9 miljoen hektaar grasland in die verre westelike Xinjiang vernietig. Die eende en hoenders is opgelei om die insekte te jaag en te eet sodra hulle die geluid van ’n fluitjie hoor. Zhao Xintsjoen, die adjunkhoof van die Sprinkaan- en Rotbestrydingsburo in Xinjiang, waar die voëls opgelei en gebruik word, verduidelik: “Boere het geweet dat hoenders baie daarvan hou om sprinkane te eet, en daarom het ons toetse gedoen [en] gevind dat eende meer as hoenders kan eet [tot 400 sprinkane elk per dag], geharder teen slegte weer is as hoenders en nie deur arende of wesels geëet word nie. . . . Ons laat die voëls in die graslande los, blaas fluitjies, en hulle eet die sprinkane.” Die voëls maak deel uit van ’n program wat gewasbespuiting deur vliegtuie insluit, asook mikro-organismes wat sprinkane doodmaak.
Slaap is nie ’n luuksheid nie
“Ten minste ’n kwart van Suid-Afrikaners funksioneer teen slegs die helfte van hulle vermoë weens te min slaap of slaapafwykings”, sê die koerant The Natal Witness. Volgens dr. James Maas, ’n slaapnavorser, stel slaap die brein in staat om noodsaaklike neurotransmittors aan te vul, en daarom is genoeg slaap onontbeerlik vir ’n goeie geheue, kreatiwiteit, die vermoë om probleme op te los en leervermoë. Die gevolge van te min slaap is onder meer depressie, geïrriteerdheid, angs, ’n slegte sin vir humor, minder sosiale vaardighede, ’n afname in die vermoë om te konsentreer en te onthou, verminderde kommunikasie- en besluitnemingsvaardighede, blootstelling aan meer gevare, verminderde produktiwiteit en ’n swakker lewensgehalte. Mense wat vyf uur of minder slaap, verlaag ook hulle weerstand teen virusse. “Vir die beste werkverrigting”, sê Maas, “moet ons ’n derde van ons lewe in slaap belê, wat op gemiddeld agt uur per nag neerkom.”
Diepseekoraal
“Koraalriwwe is in die diep, donker, koue water van Noordelike Europa ontdek—riwwe met net so ’n groot konsentrasie en verskeidenheid van seelewe as wat kenmerkend is van tropiese koraalriwwe”, berig Kanada se National Post. Die koraal onderhou honderde spesies, insluitende sponse, seewaaiers en “’n groot aantal seewurms, waarvan baie nog nooit deur wetenskaplikes geïdentifiseer is nie”. Talle klein diertjies is in sedimentmonsters van die seebodem gekry, “waarvan omtrent die helfte nuut was vir die wetenskap”, sê Alex Rogers van Southampton-universiteit se Oseanografiese Sentrum in die Verenigde Koninkryk. “Ons moet hierdie riwwe beskerm, nie soseer ter wille van die koraal self nie—dit bestaan in afsonderlike kolonies elders—maar ter wille van die habitat van die ander diertjies wat daar lewe.” Hy skat dat ongeveer 900 spesies tussen die koraal lewe. Daar word ook vermoed dat die koraal die habitat is van “die onvolwasse stadium van party visse wat belangrik vir die visbedryf is”, sê die koerant.
Gesinsverbrokkeling in Brittanje
Brittanje het die hoogste egskeidingsyfer in Europa en ’n selfs hoër syfer van paartjies wat saamleef en dan uitmekaar gaan. “Die tol wat gesinsverbrokkeling eis”, ’n verslag oor ’n studie wat in opdrag van die regering gedoen is, waarsku: “Die hoofrede waarom kinders al hoe slegter vaar, is gesinsverbrokkeling—veral die verbrokkeling van die eenheid waar daar ’n moeder en ’n vader is wat hulle kinders grootmaak.” Die direkte gevolge jaag die Britse belastingbetaler gemiddeld £11 (R123) per week uit die sak, maar die indirekte koste sluit die ekstra huise wat nodig is vir gebroke gesinne, en die gevolglike skade aan die omgewing in. Sonder om ’n sedeles te probeer gee, sê die berig: “Ons glo dat daar deur die jare heen bewys is dat die huwelik die beste grondslag voorsien vir ’n stabiele gemeenskap en die grootmaak van kinders.”
Onhebbelike jong olifante
Jong olifantbulle is verantwoordelik vir 36 opgetekende renostersterftes sedert 1991 in die Hluhluwe-Umfolozi-park in KwaZulu-Natal, sê ’n berig van African Wildlife met die titel: “Wie die slurp spaar, bederf die kind.” Die buitengewoon aggressiewe jong olifante is in werklikheid olifantwesies wat hervestig is na aanleiding van die Nasionale Krugerwildtuin se beleid om olifante uit te dun, en hulle het op ’n baie jonger ouderdom as gewoonlik bronstig geword. Navorsers glo dat die afwesigheid van die olifante se normale sosiale struktuur verantwoordelik is vir hulle ongewone gedrag. Daarom is tien olifantbulle van die Nasionale Krugerwildtuin af gebring om die onhebbelike jonges te dissiplineer. ’n Ander wildtuin, waar hierdie program in 1998 in werking gestel is, het tot dusver geen verdere renostersterftes aangemeld nie.
China se terracotta-leër word aangeval
“Een van China se beroemdste toeriste-aantreklikhede, die 2 200 jaar oue terracotta-leër, het ’n nuwe vyand gekry”, berig The Guardian van Londen. Veertig fungussoorte het oor die 1 400 van die meer as 8 000 lewensgroot soldate, boogskutters en perde aangeval wat naby die graf van China se keiser Tsjien Sji Hoeang-ti buite Xi’an, die land se eertydse hoofstad, opgegrawe is. Hierdie pragtige versameling, wat vir die eerste keer in 1974 ontdek is en nou in ’n ondergrondse grafkelder bewaar word, word ook bedreig deur “die wasem en liggaamshitte van die nagenoeg 4 300 dagbesoekers wat die eens diep kleur van die beelde laat verdof”, sê The Times van Londen. Xi’an se owerheid het ’n Belgiese maatskappy ingeroep wat in die behandeling van fungusse spesialiseer, om te keer dat die skimmel na al die beelde versprei.
Winter—Vriend of vyand?
Koue en nat weer hoef nie noodwendig skadelik vir jou gesondheid te wees nie, berig die Duitse gesondheidsnuusbrief Apotheken Umschau. Inteendeel, as ’n mens gereeld in winterweer gaan stap, kan dit goeie oefening vir jou hart en bloedsomloop wees en kan dit die hele liggaam versterk, sê die mediese klimatoloog dr. Angela Schuh. Deur gedurig in verhitte vertrekke te bly, kan die liggaam sy vermoë verloor om behoorlik by temperatuurveranderinge aan te pas. Dit kan blykbaar vatbaarheid vir infeksies, moegheid en hoofpyne verhoog. Maar ’n liggaam wat deur gereelde oefening in “slegte” weer versterk word, word dalk minder gevoelig vir koue en bou dalk meer stamina op.