Koraal word bedreig en sterf uit
NÊRENS is die see helderder as in die trope nie. Kristalhelder. Kristalblou. Die wit sanderige bodem 15 meter onder jou lyk of dit so naby is dat jy daaraan kan raak! Trek paddavoete aan en sit ’n duikbril op. Verstel jou snorkel terwyl jy in die warm water inglip en borrels vir ’n oomblik die uitsig belemmer. Kyk dan ondertoe. Daar! Kyk na die groot rooi en blou papegaaivis wat aan koraal byt en stukkies uitspoeg, wat dan ’n deel van die sanderige bodem word. Skielik flits ’n silwerige reënboog van tropiese visse verby—rooi, geel, blou, oranje, pers. Daar is oral lewe. Dit is asemrowend.
Dit is die koraaloerwoud. Met duisende lewende arms verrys dit uit die sanderige bodem daar onder. ’n Entjie verder is ’n pragtige hertshoringkoraal, meer as ses meter hoog en amper net so breed. Ongeveer 23 meter verder is ’n takbokkoraal, wat kleiner is as die hertshoring, en hulle dunner takke vul die gebied soos ’n woud. Hoe gepas is hierdie korale se name tog nie—hulle lyk net soos diere se horings! Visse en ander seelewe vind voedsel en skuiling in hulle takke.
Hoewel daar voorheen gedink is dat korale uit plante bestaan, weet ons nou dat dit ’n kalksteenformasie is wat gevorm word deur kolonies diere wat poliepe genoem word. Die meeste poliepe is klein, minder as 2,5 sentimeter in deursnee. Die koraalpoliep met sy sagte liggaam heg homself aan sy buurman met slymbedekte weefsel. Die koraal lyk bedags soos klip, aangesien die poliepe in hulle skelette terugtrek. Maar dit verander snags wanneer hulle uitgespreide tentakels liggies wieg en ’n sagte, donserige voorkoms aan die rif gee. Die klipagtige “boom” wat die poliepe deel, is hulle gekombineerde skelet, wat saamgebind is deur kalsiumkarbonaat wat uit die seewater verkry word.
Elke soort koraalkolonie bou sy eie unieke skeletvorm. Daar is meer as 350 koraalsoorte regoor die wêreld, met verbasende vorms, groottes en kleure. Hulle algemene name herinner ons aan dinge op land—boom-, pilaar-, tafel- of sambreelkoraal—of aan plante—angelier-, blaarslaai-, aarbei- of swamkoraal. Sien jy daardie groot breinkoraal? Dis maklik om te sien hoe hy sy naam gekry het!
Hierdie onderwateroerwoud wemel van lewe, van mikroskopiese plante en diere tot pylstertvisse, haaie, groot bontpalings en seeskilpaaie. En hier is ’n paar visse waarvan jy miskien nog nooit gehoor het nie—heldergeel narvisse, pers Beau Gregories, swart en wit Moorse afgode, oranje trompetvisse, donkerblou doktervisse, indigo klipkabeljoue of bruin en taan koraalduiwels. En wat van barbiergarnale, gevlekte krewe of skarlaken valkvisse? Alle kleure, alle groottes, alle vorms. Party pragtig, party vreemd—maar almal interessant. Kyk, daar kruip ’n seekat agter daardie pilaarkoraal weg! Hy eet ’n gapermossel wat hy oopgemaak het. Soos in oerwoude op land is daar ’n ontsaglike verskeidenheid van lewe in hierdie marieneomgewing, wat almal van die verskeidenheid daarin afhanklik is. Korale se voortplantingskringloop en vermoë om in seestrome voort te beweeg om nuwe rifkolonies te bou, is breedvoerig bespreek in die Ontwaak! van 8 Junie 1991.
Koraalriwwe vorm die grootste biologiese strukture op die aarde. Een hiervan, die Groot Barrière-rif, naby die noordoostelike kus van Australië, strek 2010 kilometer ver en beslaan ’n gebied wat so groot is soos Engeland en Skotland tesame. ’n Koraal kan ’n paar ton weeg en meer as nege meter bo die seebodem uitrys. Koraalriwwe groei in vlak tropiese water tot op ’n diepte van 60 meter. Hulle het kenmerke wat van gebied tot gebied verskil, en daarom kan deskundiges deur ’n stuk koraal te ondersoek, sê in watter oseaan en selfs watter plek dit gegroei het. Koraalriwwe het nie ’n omgewing met baie voedingstowwe in die water nodig om te groei nie, wat verklaar waarom die see in hulle omgewing gewoonlik helder is. Voeding vir die koraal word voorsien deur alge (met die wetenskaplike naam zooxanthellae), wat in die poliep se deursigtige liggaam woon, en ook deur mikroskopiese diertjies wat in die koraal se tentakels gevang word. Die eindresultaat is ’n koraalrif wat ’n groot verskeidenheid van seelewe huisves in oseane wat andersins geen beskutting bied nie.
Koraalriwwe is ook die biologies produktiefste van alle mariene-ekosisteme. U.S.News & World Report het dit soos volg beskryf: “Riwwe is die mariene-ekwivalent van tropiese reënwoude, wat wemel van lewensvorme: golwende seewaaiers, veeragtige seelelies, helderkleurige visse en sponse, garnale, krewe en stervisse sowel as vreesaanjaende haaie en reusebontpalings. Hulle is almal afhanklik van die voortdurende vervaardiging van koraal vir ’n habitat.” Koraalriwwe onderhou ook lewe op land deur ’n versperring tussen brekende golwe en die kuslyn te voorsien en deur die fondament vir duisende tropiese eilande te lê.
Gesonde koraal is bruin, groen, rooi, blou of geel, na gelang van die soort alg wat in die deursigtige koraalpoliepgasheer woon. Die mikroskopiese alge gebruik die sonlig wat deur hulle dieresimbionte skyn en absorbeer die poliep se afvalprodukte, wat koolstofdioksied insluit, om hulleself te voed. Op hulle beurt voorsien die alge deur middel van fotosintese suurstof, voedsel en energie aan die koraalweefsel. Hierdie vennootskap met die alge stel die koraal in staat om vinniger te groei en in die tropiese water met so min voedingstowwe te bly leef. Albei word dus hierdeur bevoordeel. Wat ’n meesterlike en wyse ontwerp!
Verbleikte skelette sonder enige lewe
Dit is geen wonder dat daar soveel lewe daar onder is nie! Maar wat is dit daardie? Verbleikte skelette sonder enige lewe. Takke is afgebreek en besig om te verkrummel. Party het al heeltemal verbrokkel. Hierdie deel van die koraalwoud is dood of besig om uit te sterf. Geen visse. Geen garnale. Geen krewe. Niks. Dis ’n onderwaterwoestyn. Jy staar in ongeloof. Wat ’n skok! Jou idilliese ondervinding is bederf. Selfs wanneer jy terug is in die boot, is daar steeds vrae wat jou kwel. Wat kon sulke verwoesting veroorsaak het? ’n Ongeluk? Siekte? Natuurlike oorsake? Jy wil graag antwoorde hê.
Alhoewel steenkoraal hard lyk, breek dit baie maklik. As ’n mens daaraan raak, kan dit skade veroorsaak, daarom raak verstandige duikers glad nie daaraan nie en gooi versigtige booteienaars nie daar anker nie. Ander gevare vir koraal is chemiese besoedeling, oliestortings, rioolvullis, houtkappery, plase se afloopwater, baggerwerk, afsetting en die indringing van vars water. As die kiel van ’n boot die koraal tref, rig dit verwoesting aan. En temperatuuruiterstes kan koraal beskadig en doodmaak. Wanneer daar spanning is, werp die koraal sy alge in digte wolke uit, en visse eet dit vinnig op. As spanningsvolle toestande weke of maande voortduur, verbleik en sterf die koraal. En wanneer die koraal uitsterf, gaan die omgewing om die rif ook tot niet. Die lewe wat hier onderhou is, verdwyn.
Verbleiking is iets algemeens in al die tropiese oseane. Gevolglik is seewetenskaplikes in alle wêrelddele daaroor verontrus. Wanneer verbleiking op groot skaal plaasvind, is die skade onherstelbaar. Die omvang van koraalverbleiking en die gevolglike dood daarvan is pynlik onder die wêreld se aandag gebring deur wat in onlangse jare in die wêreld se tropiese seë gebeur het. Hoewel koraalverbleiking baie jare lank van tyd tot tyd en op bepaalde plekke plaasgevind het, is die huidige gevalle die ernstigste nog en vind dit op ’n wêreldwye skaal plaas. Iets het die lewende korale van die meeste soorte regoor die wêreld begin aanval, en dit veroorsaak die vernietiging van die riwwe.